Buiteaardse of buiteruimtelike lewe is lewe met ’n oorsprong elders as die Aarde. Daar word ook van buiteaardse wesens gepraat as verwys word na relatief komplekse individue. In ’n breë sin is buiteaardse lewe tot nog toe hipotetiese lewensvorme wat kan wissel van bakterie-agtige organismes tot wesens wat veel meer kompleks as die mens is. Die moontlikheid dat virusse buite die Aarde kan bestaan, is ook al voorgestel.
Die ontwikkeling en toets van hipoteses oor buiteaardse lewe is bekend as astrobiologie, hoewel dit ook handel oor aardgebaseerde lewe in ’n astronomiese verband. Baie wetenskaplikes glo buiteaardse lewe is moontlik, maar daar is geen direkte bewys dat dit wel bestaan nie. Sedert die middel van die 20ste eeu is daar ’n voortdurende soeke na tekens van buiteaardse lewe, van radio's wat ontwerp is om seine uit die heelal te bespeur tot teleskope wat soek na moontlike bewoonbare eksoplanete. Dit speel ook ’n groot rol in werke van wetenskapsfiksie.
Agtergrond ’n Hipotese bestaan dat buiteaardse lewe soos bakterieë in die res van die Sonnestelsel en die res van die heelal voorkom. Dié hipotese is gegrond op die grootte en die konsekwente fisiese wette van die sigbare heelal. Wetenskaplikes wat dit voorstaan, soos Carl Sagan en Stephen Hawking, glo dit is onwaarskynlik dat lewe nie buite die Aarde bestaan nie. Die argument berus op die Koperniese beginsel, waarvolgens die Aarde nie ’n spesiale posisie in die heelal beklee nie, en die beginsel van middelmatigheid, waarvolgens daar niks buitengewoons aan lewe op Aarde is nie. Lewe kon tegelykertyd op baie plekke regdeur die heelal ontstaan het. ’n Alternatiewe teorie is dat lewe minder algemeen voorkom, maar tussen bewoonbare planete versprei kon gewees het deur middel van panspermia of eksogenese.
duimnael|links|Lewe op Aarde kon reeds in die Son se protoplanetêre skyf ontstaan het. Volgens rekenaarsimulasies kon komplekse organiese molekules wat nodig is vir lewe, gevorm gewees het in die protoplanetêre skyf of ruimtestof om die Son voor die vorming van die Aarde. Volgens dié studies kon dieselfde proses voorgekom het om ander sterre waar planete gevorm het.
Voorgestelde hemelliggame waar lewe sou kon ontstaan het, sluit in die planete Venus en Mars, asook Jupiter se maan Europaen Saturnus se mane Titaan en Enkelados. In Mei 2011 het wetenskaplikes van Nasa berig Enkelados "lyk al hoe meer soos die mees bewoonbare plek in die Sonnestelsel buite die Aarde vir lewe soos ons dit ken".
Wetenskaplikes glo sedert die 1950's die bewoonbare sone om sterre is die mees waarskynlike plek waar lewe kan voorkom. Verskeie ontdekkings sedert 2007 in hierdie sones het gelei tot skattings dat daar miljarde aardagtige habitats is. In 2013 was daar nog net ’n paar planete in bewoonbare sones ontdek. Op 4 November 2013 het sterrekundiges egter aangekondig daar kan tot 40 miljard aardgrootte-eksoplanete in die bewoonbare sones van sonagtige sterre of rooidwerge in die Melkweg voorkom, gebaseer op data van die Kepler-ruimteteleskoop. Van hulle kan 11 miljard om sonagtige sterre voorkom. Die naaste sodanige planeet kan volgens die wetenskaplikes minder as 12 ligjare van die Aarde af wees.
Geen algemeen aanvaarde bewyse van buiteaardse lewe is al gevind nie; heelwat omstrede bewerings daarvan is egter al gemaak. Die oortuiging dat vreemde vlieënde voorwerpe ’n buiteaardse oorsprong het, asook bewerings van ontvoering deur buiteaardse wesens, word deur die meeste wetenskaplikes verwerp. Die verskynsel word toegeskryf aan veral waarnemings van aardgebaseerde vliegtuie of sterrekundevoorwerpe, of aan poetse.
In November 2011 het die Amerikaanse Withuis amptelik gereageer op twee petisies waarin die regering gevra word om amptelik te erken dat buiteaardse wesens die Aarde al besoek het en om enige doelbewuste geheimhouding van interaksies tussen die regering en buiteaardse wesens te onthul. Volgens die regering se verslag "het die Amerikaanse regering geen bewyse dat lewe buite ons planeet bestaan of dat ’n buiteaardse teenwoordigheid al enige kontak gemaak het met enige lid van die menslike geslag nie". Daarvolgens is daar ook "geen geloofbare inligting wat daarop dui dat enige bewyse van die publiek weerhou word nie". Volgens die verslag is daar pogings, soos SETI, die Kepler-ruimteprogram en Nasa se Mars-wetenskaplaboratorium, om tekens van lewe te soek. Die kans is "redelik groot" dat daar lewe op ander planete kan wees, maar die kans om met hulle kontak te maak – veral met intelligente wesens – is bitter klein as ’n mens die afstande in ag neem wat ter sprake is.
Moontlike grondslag Verskeie hipoteses is al voorgestel vir die moontlike grondslag van buiteaardse lewe uit ’n biochemiese, morfologiese en evolusie-oogpunt.
Biochemie duimnael|260px|Die ses chemiese elemente noodsaaklik vir lewe op Aarde: koolstof, waterstof, stikstof, suurstof, fosfor en swawel. Alle lewe op Aarde is gebaseer op 26 chemiese elemente. Sowat 95% van lewe is egter afhanklik van net ses van dié elemente: koolstof, waterstof, stikstof, suurstof, fosfor en swawel, afgekort as KWSSFS. Hulle vorm die basiese boustene van feitlik alle lewe op Aarde, terwyl die meeste van die ander elemente net in klein hoeveelhede aangetref word.
Lewe op Aarde vereis water as die oplosmiddel waarin biochemiese reaksies plaasvind. Genoegsame hoeveelhede koolstof en die ander elemente kan saam met water die vorming van lewende organismes moontlik maak op ander planete met ’n soortgelyke chemiese samestelling en temperatuurgrense. Aardplanete vorm in ’n proses wat ’n soortgelyke samestelling as die Aarde s’n moontlik maak. Die kombinasie van koolstof, waterstof en suurstof in die chemiese vorm van koolhidrate (m.a.w. suiker) kan ’n bron van chemiese energie wees waarvan lewe afhanklik is, en kan die strukturele elemente vir lewe verskaf (soos ribose in die molekules DNS en RNS, en sellulose in plante). Plante verkry energie deur die omskakeling van ligenergie in chemiese energie deur fotosintese. Lewe soos ons dit ken, vereis koolstof in beide gereduseerde (metaan-derivate) en gedeeltelik geöksideerde (koolstofoksiede) toestande. Stikstof is nodig as ’n gereduseerde ammoniak-derivaat in alle proteïene, swawel as ’n derivaat van waterstofsulfied in sommige noodsaaklike proteïene, en fosfor geöksideer tot fosfate in genetiese materiaal en in energieoordrag.
Suiwer water het ’n neutrale pH danksy die voortgesette dissosiasie tussen hidroksied- en hidronium-ione. Daarom kan dit positiewe metaliese ione en negatiewe niemetaliese ione ewe doeltreffend oplos. Verder skep die feit dat organiese molekules óf hidrofobies (afgestoot deur water) óf hidrofilies (oplosbaar in water) kan wees, die vermoë van organiese samestellings om hulself te oriënteer om wateromsluitende membrane te vorm. Boonop gee die waterstofbindings tussen watermolekules dit die vermoë om energie te stoor met verdamping, waarop kondensasie vrygestel word. Dit help om die klimaat matiger te maak – om die tropiese gebiede af te koel en die pole warmer te maak. So word die termodinamiese stabiliteit gehandhaaf wat nodig is vir lewe.
Koolstof is noodsaaklik vir aardse lewe vanweë die groot buigsaamheid daarvan in die skepping van kovalente chemiese bindings met ’n verskeidenheid niemetaliese elemente, veral stikstof, suurstof en waterstof. Koolstofdioksied en water maak saam die berging van sonenergie moontlik in suikers en stysels, soos glukose. Die oksidasie van glukose stel biochemiese energie vry wat nodig is vir alle ander biochemiese reaksies.
Die vermoë om organiese sure (-COOH) en amienbasisse (-NH2) te skep, lei tot die vorming van die lang polimeer-peptiedes en katalitiese proteïene van monomeer-aminosure. Wanneer dit met fosfate gekombineer word, kan hierdie sure die inligtingbergende molekule van erflikheid, DNS, en die hoof-energieoordragmolekule van sellulêre lewe, adenosientrifosfaat, bou.
Vanweë hul oorvloed en vermoë om lewe te onderhou, is daar ’n hipotese dat lewensvorme elders in die ruimte dieselfde basiese materiale sal nodig hê. Ander elemente en oplosmiddels sou egter ’n grondslag vir lewe kon verskaf. Lewensvorme in ammoniak (eerder as water) is al voorgestel, hoewel hierdie oplossing minder gunstig lyk as water.
Uit ’n chemiese standpunt is lewe basies ’n selfrepliserende reaksie, maar een wat kan ontstaan in baie verskillende omstandighede en met talle moontlike bestanddele. Dit lyk egter of koolstof-suurstof binne die vloeistof-temperatuurgrense van water die bevordelikste is.
Evolusie en morfologie duimnael|220px|Buiteaardse wesens word dikwels in wetenskapsfiksie uitgebeeld met ’n groen of grys vel en groot kop. Benewens die biochemiese grondslag, is evolusie en morfologie ook terreine wat in ag geneem word wanneer buiteaardse lewe ter sprake is. In wetenskapsfiksie het buiteaardse wesens dikwels halfmenslike of reptielvorms. Hulle word dikwels uitgebeeld met ’n groen of grys vel, ’n groot kop en vier arms en bene – dus as mensagtig – maar soms ook as katagtiges, insekte, vormlose massas, ens.
’n Onderskeid is al voorgestel tussen universele en parogiale (meer beperkte) eienskappe. Universele eienskappe is dié wat vermoedelik meer as een keer onafhanklik op Aarde ontwikkel het. Hulle is dus nie te moeilik om te ontwikkel nie en is so nuttig dat spesies hulle noodwendig sal ontwikkel. Die algemeenste hiervan is waarskynlik simmetrie, maar ander wat net so basies maar ingewikkelder is, sluit in sig, fotosintese, ledemate en die vermoë om te vlieg – hulle het almal vermoedelik verskeie kere op Aarde ontwikkel. Daar is byvoorbeeld ’n groot verskeidenheid oë en baie van hulle werk op heeltemal verskillende maniere en het verskillende visuele fokusse: die sigbare spektrum, infrarooi, polarisasie en akoestiek. Intelligente buiteaardse wesens sal op verskeie ander maniere kan kommunikeer: deur gebare (soos doofstom mense), klanke wat op ander maniere as met asemhaling voortgebring word (soos krieke) of bioluminesensie (liguitstraling).
Pogings om parogiale eienskappe te definieer lei tot baie idees uit oor watter eienskappe noodsaaklik is en watter nie. Skelette, wat volgens baie kenners noodsaaklik is vir groot aardse lewensvorme, sal waarskynlik elders in die een of ander vorm herhaal word. Die aanname dat buiteaardse wesens radikaal van mekaar sal verskil, is geensins vanselfsprekend nie. Terwyl baie bioloë klem lê daarop dat die enorme heterogene aard van lewe op Aarde daarop dui dat daar in die res van die heelal ’n nog groter diverse verskeidenheid sal wees, wys ander daarop dat konvergente (ooreenstemmende) evolusie dalk tot gevolg kan hê dat daar groot ooreenkomste tussen aardse en buiteaardse wesens is. Dié twee gedagterigtings word onderskeidelik "divergionisme" en "konvergionisme" genoem.
Bewoonbaarheid van planete duimnael|160px|links|Die Antieke Griekse filosoof Anaxagoras. Daar was al voorstelle dat sommige planete in die Sonnestelsel die potensiaal het om lewe te huisves, veral dié met oseane onder die oppervlak. Astrobioloë glo egter as lewe elders in die Sonnestelsel ontdek word, sal dit waarskynlik ekstremofiele mikroörganismes wees (klein organismes wat in ekstreme toestande voorkom wat skadelik vir lewe op Aarde sal wees).
Die planete Venus en Mars, verskeie mane van Jupiter en Saturnus en selfs komete bevat vermoedelik nisomgewings waar lewe kan voorkom. ’n Mariene omgewing onder die oppervlak van Jupiter se maan Europa kan die mees geskikte habitat in die Sonnestelsel wees vir meersellige lewe.