Klas 32 is 'n tipe diesellokomotief - tegnies 'n diesel-elektriese lokomotief - wat eers deur die Suid-Afrikaanse Spoorweë gebruik was vir werk op die spoorlyne van die destydse Suidwes-Afrika. Om te verseker dat die aslading binne die beperking bly is spesiale draaistelle ontwerp met ponies - twee ekstra wiele - voor en agter. Dit is dus 'n 1-Co-Co-1 (Co-Co: twee drie-as draaistelle met 'n elektriese motor elk per as) ontwerp. Daar is twee reekse van Klas 32-lokomotiewe bestel by General Electric in die VSA. Die eerste bestelling van 115 van die 32-000 reeks is afgelewer van 1959 tot 1961 terwyl 'n verdere 10 eksemplare van reeks 32-200 in 1966 afgelewer is. Die eerste aflewering staan as U18C1 by die vervaardiger bekend en die tweede as U20C1. Daar is ooglopende verskille tussen die twee reekse, die eerste het 'n hoër neus voor die kajuit as die tweede.
Hulle is elk toegerus met 'n vierslag V12 turboaangedrewe en na-verkoelde dieselenjin wat 'n gelykstroomgenerator en ses traksiemotors, wat op die aste geïnstalleer is, aandryf. Dinamiese remme is nie toegerus nie. Drie lokomotiewe kan in serie verbind word om as een eenheid te werk.
'n Paar lokomotiewe van die reeks 32-200 het tydelik diens gedoen op die Amabele-Mthathatrajek totdat Klas 35-diesels in 1972 afgelewer is. Party van reeks 32-000 het ook diens gedoen in die Waterval-Bovengebied van 1971 to 1976.
Eksterne skakels
Verwysings
Kategorie:Spoorvervoer in Suid-Afrika Kategorie:Treine