München 280px Kaart Wapen 180px|senter 75px|senter Vlag 90px|senter Land Deelstaat 20px Beiere Koördinate Gestig op 14 Junie 1158 Stadstatus 1175 Oppervlakte: - Totaal 310,7 vk km Hoogte bo seevlak 519 m Bevolking: - Totaal (31 Desember 2024) 1 505 005 - Bevolkingsdigtheid 4 844/vk km - Metropolitaanse gebied 2 700 000 - Metropolregion 6 000 000 Tydsone UTC +1 (MET) - Somertyd UTC +2 (MEST) Klimaat - Tipe Gematigde klimaat - Gemiddelde jaarlikse temperatuur 9,7 °C - Gem. temp. Januarie/Julie 0,3 / 19,4 °C - Gemiddelde jaarlikse neerslae 944,0 mm Burgemeester Dominik Krause (Grüne) Amptelike webwerf muenchen.de
München (Duits: [ˈmʏnçn̩], of [ˈmʏnçən]; Beiers: Minga, [ˈmɪŋ(ː)ɐ], ; Latyn: Monacum, byvoeglike naamwoord: monacensis) aan die Isarrivier is die administratiewe hoofstad van die Duitse deelstaat Vrystaat Beiere. Met 'n bevolking van 1,5 miljoen en 'n oppervlakte van meer as 310 km² is München die grootste stedelike nedersetting in dié deelstaat volgens sy inwonertal en sy oppervlakte, asook die derde grootste stad in Duitsland ná Berlyn en Hamburg en die elfde grootste stedelike nedersetting in die Europese Unie. Vanweë sy kleiner oppervlakte in vergelyking met ander Duitse metropole word München deur 'n relatief hoë bevolkingsdigtheid gekenmerk.
duimnael|links|HighLight Towers in Schwabing, 'n gebouekompleks van staal en glas met twee wolkekrabbers. Die 9de, 10de en 20ste verdieping van die twee torings word deur drie brûe, wat ewenens uit staal en glas bestaan, met mekaar verbind Muenchenarchitektur.com: HighLight Munich Business Towers. Besoek op 3 Oktober 2020 Die sogenaamde Metropolregion München, wat naas München se metropolitaanse gebied ook stede soos Augsburg, Ingolstadt, Landshut, Rosenheim, Kaufbeuren en omliggende landelike distrikte insluit, het 'n oppervlakte van 27 700 vierkante kilometer en 'n bevolking van sowat ses miljoen.
Die stad is 'n kulturele sentrum met universiteite, talle historiese geboue en meer as 12 000 ondernemings in die media- en rolprentbedryf. Sedert die sewentigerjare het die stad tot een van die welvarendstes in Europa ontwikkel; die stad huisves 'n bloeiende ekonomie met groot transnasionale korporasies soos Siemens, BMW, MAN en Allianz. Ander belangrike nywerhede is in die lug- en ruimtevaart, brouerye, elektroniese ingenieurswese en wetenskaplike gereedskap.
Etimologie duimnael|links|Die eerste verwysing ná München (munichen) in die Augsburger Schied van 14 Junie 1158 Die naam München word gewoonlik uitgelê as bei den Mönchen ("by die monnike") en afgelei van die Latynse verwysing apud Munichen in die eerste historiese dokument uit die jaar 1158. Munichen gaan waarskynlik terug op die Oudhoogduitse vorm munich ("monnik"). Reeds voor die stigting van München het sedert die 8ste eeu 'n afstigting van die klooster Tegernsee by die Petersberg in die huidige stadsgebied bestaan.
Geografie duimnael|links|Die Isarrivier München vorm een van die 23 Oberzentren (belangrike administratiewe, ekonomiese en kulturele sentrums) van die Vrystaat Beiere. Met 4 307 inwoners per vierkante kilometer het München die hoogste bevolkingsdigtheid van alle Duitse stede met meer as 100 000 inwoners.
Die hoogste bergpiek in die stadsgebied is die Warnberg op 579 meter bo seevlak, die laagste punt lê in die stadswyk Feldmoching (482 meter bo seevlak).
Die Isarrivier vloei oor 'n lengte van 13,7 kilometer vanuit die suidweste in noordoostelike rigting deur die stadsgebied; sy bekendste eilande is die Museumeiland met die Duitse Museum en die nabygeleë Pratereiland. 'n Aantal bekende mere is in die omgewing van München geleë, waaronder die Ammer-, Wörth- en Starnbergmeer.
München beslaan 'n oppervlakte van 310,7 vierkante kilometer en is ten opsigte van sy oppervlakte die sesde grootste stad in Duitsland na Berlyn, Hamburg, Keulen, Dresden en Bremen.
Klimaat duimnael|Die Starnbergse Meer in die omgewing van München met die Zugspitze, Duitsland se hoogste bergpiek, in die agtergrond München lê in die oorgangsgebied tussen die vogtige Atlantiese en die droë kontinentale klimaat. Ander belangrike invloedfaktore ten opsigte van weersomstandighede in München is die Alpe as die Sentraal-Europese en die Donaurivier as die plaaslike weerkundige grens. Hierdie konstellasie het 'n wisselvallige weer tot gevolg. Die temperatuurskommelings tussen dag en nag en tussen somer en winter is soms baie groot.
Die winters duur van Desember tot Maart en is relatief koud met 'n gemiddelde temperatuur van −2 °C in Januarie. Sneeuval kom dikwels voor. Die somers in München duur van Mei tot September en is gewoonlik warm met 'n gemiddelde temperatuur van 19 °C in Julie, die warmste maand van die jaar.
Die föhn ('n warm val- of bergwind) bring dwarsdeur die jaar skielik warm en droë lugstromings na München en verander weerstoestande binne enkele ure heeltemaal, maar dra ook by tot die uitstekende sig oor groot afstande (die Beierse Alpe kan danksy die föhnweer dikwels vanuit München gesien word) en die beroemde blou Beierse hemel.
Die hoogste temperatuur wat ooit in die Duitse Weerdiens se amptelike weerstasie in München-Nymphenburg aangeteken is, was 35,8 °C. Beiere is die Duitse deelstaat met die meeste donderbuie, en ook München word soms deur 'n swaar onweer soos dié van 12 Julie 1984 getref toe 'n haelstorm met sterk wind skade van 3 miljard DM (1,5 miljard €) aangerig het. Vanweë München se ligging naby die Alpe word hier ook meer sneeuvalle as in ander groot Duitse stede aangeteken.
Volgens weerkundige statistiek is die suidelike stadsgebied die sonnigste deel van München, terwyl die noordelike buurte meer newel kry. Die westelike dele is droër as die ooste van München. Hierdie verskillende mikroklimate word onder meer deur die topografie en die Isar se rivierloop beïnvloed.
Geskiedenis Vroeë geskiedenis Argeologiese opgrawings in die geskiedkundige stadsentrum dui daarop dat die eerste menslike nedersettings reeds teen die einde van die Jonger Steentydperk (omtrent 2000 v.C.) ontstaan het. Die enigste heuwel in die middestad, Petersbergl, was dan ook die bakermat van die huidige stad. Onder die kerk Sankt Peter op die Petersbergl het argeoloë 'n gewelfde kamer ontdek wat uit die Voor-Merowingiese tydperk tussen die antieke oudheid en die vroeë Middeleeue dateer.
Middeleeue duimnael|Die kerkgebou van Sankt Peter met sy toring Alter Peter (links) is vandag vlakby die Marienplatz geleë duimnael|Die Frauenkirche, soos gesien vanuit die kerk Sankt Peter Aangesien geen presiese datums ten opsigte van die eerste nedersettings beskikbaar is nie, is die jaar van die eerste historiese verwysing na München as sy stigtingsjaar aanvaar: 'n Dokument uit die jaar 1158 verwys na die Villa Munichen en 'n brug oor die Isar (naby die huidige Ludwigsbrücke en die Isar-eilande) wat Hendrik die Leeu, hertog van Beiere en Sakse, naby die monniksdorp rondom die Sint-Pieterskerk laat oprig het. Tevore het die hertog 'n brug naby Oberföhring, wat verder noordwaarts geleë was en aan die biskop van Freising behoort het, verniel, om self voordeel te trek uit die winsgewende southandel met die stad Augsburg. Danksy die nuwe brug en die southandel het keiser Frederik Barbarossa op die Ryksdag van Augsburg die mark-, munt- en doeanereg aan München toegeken. Net twintig jaar later het München in 1175 ook stadstatus verkry en sy eerste versterking gebou.
Toe hertog Hendrik in 1180 deur die keiser geban is, het Beiere onder die heerskappy van die huis Wittelsbach en die biskop van Freising gekom. In 1240 het ook München 'n besitting van die Wittelsbach-dinastie en in reeds in 1255 – ná die eerste opsplitsing van die hertogdom – die hertoglike hoofstad geword.
In 1314 is hertog Lodewyk IV as koning van die Duitse Ryk en in 1328 ook as keiser gekroon, en München is as sy regeringsetel aansienlik uitgebrei en van 'n nuwe stadsmuur voorsien. Sedert hierdie tydperk gebruik München in sy heraldiek ook die kleure van die ou Heilige Romeinse Ryk – swart en goud.
Vanaf die laat 14de eeu het die burgery van München verskeie kere in opstand teen die hertoë gekom wat hulle regeringsetel vanuit die Alter Hof na 'n nuwe gebou aan die stadsrand verskuif het. Vanweë die bedreiging deur Hussiete is die stadsmuur in 1429 met 'n nuwe buitemuur versterk. In 1442 is alle Joodse burgers uit München verdryf. Die hoeksteen van die nuwe Vrouekerk (Frauenkirche) is in 1468 gelê, en die kerk is slegs twintig jaar later voltooi.
Vroeë moderne tydperk duimnael|links|München in 1642. Gravure deur Mathhäus Merian Ná sy nuwe kulturele bloeitydperk in die Laat-Gotiese periode is München ná die hereniging van Beiere deur Albrecht IV in 1506 tot hoofstad van die hele land verklaar. In die volgende dekades het die burgery hul invloed op die plaaslike politiek geleidelik kwytgeraak, en die ontwikkeling van München is deur die Wittelsbach-dinastie oorheers. Die stad het onder die heerskappy van Willem IV en Albrecht V tot 'n sentrum van die Renaissance en Kontrareformasie ontwikkel. In 1589 het Wilhelm V die beroemde brouery Hofbräuhaus gestig.
Onder hertog Maksimiliaan I van Beiere het München in 1623 die setel van die keurvorstelike hof geword. Slegs nege jaar later is die stad tydens die woelinge van die Dertigjarige Oorlog deur Sweedse troepe beset en moes 'n hoë losprys betaal en gyselaars beskikbaar gestel word om aan die dreigende verwoesting te ontkom. Nogtans is München 'n ruk later deur 'n pesepidemie getref waaraan sowat 'n derde van die bevolking beswyk het. Ná die oorlog het München vinnig herstel en het danksy die invloed van keurvors Ferdinand Maria 'n sentrum van die Italiaanse Barokstyl in Duitsland geword.
In 1704 het München tydens die Spaanse Opvolgingsoorlog enkele jare lank onder die bewind van die huis Habsburg gekom, aangesien keurvors Maksimiliaan II Emanuel 'n bondgenoot van Frankryk was. 'n Opstand van plaaslike burgers en boere is in die sogenaamde Sendlinger Mordweihnacht ("Moordkersfees van Sendling") bloedig afgeweer. Nadat keurvors Karel Albrecht tot Duitse keiser gekroon is, het Habsburgse troepe die stad in 1742 weereens twee jaar lank beset.
duimnael|Die winkelstraat Maximilianstraße in 2006 duimnael|Die Olimpiese kwartier van 1972 duimnael|Die Franz Josef Strauß-lughawe is net buite München geleë duimnael|München se binnestad in 2013 Maksimiliaan III het die beleid van sy voorgangers, wat van Beiere 'n Europese groot moondheid wou maak, uiteindelik laat vaar en hom met binnelandse hervorming besig gehou. Danksy sy inisaitief is die Beierse Akademie van Wetenskappe in 1759 in München gestig. In 1789 is die bekende Engelse Tuin van München in opdrag van Karel Theodor aangelê en die Middeleeuse versterkings afgebreek.
19de tot 21ste eeu Alhoewel München reeds sedert 1328 as keiserlike setel gefungeer het, het sy vinnige groei tot 'n beduidende metropool eers 450 jaar later 'n aanvang geneem. Hierdie groei is in 1806 verder versterk toe München tot hoofstad van die Napoleonse Koninkryk Beiere verklaar is. Terwyl daar in 1700 slegs 24 000 inwoners was, het die bevolking nou elke dertig jaar verdubbel. In 1871 het die bevolking tot 170 000 en in 1933 tot 840 000 inwoners gegroei.
Onder die regering van koning Lodewyk I van Beiere (1825–1848) het München tot 'n belangrike kunssentrum ontwikkel. Die Klassistiese argitekte Leo von Klenze en Friedrich von Gärtner het die Ludwigstraße, die Koninklike Plein (Königsplatz) en die uitbreiding van die koninklike woonplek beplan. Lodewyk se seun Max II (1848–1864) het veral die geesteswetenskappe bevorder, maar ook 'n aantal bekende geboue in die nuwe Maksimiliaanse styl laat oprig soos die geboue in die Maximilianstraße, wat vandag as een van die mees eksklusiewe en duurste winkelstrate in Europa bekend staan.