duimnael|regs|300px|Kaart van die Kaapkolonie in 1809.
Ná die oorlog weer uitgebreek het, word 'n Britse mag weereens gestuur na die Kaap. Na die Slag van Blaauwberg, wat naby Kaapstad op 8 Januarie 1806 geveg is, is Britse heerskappy in Suid-Afrika gevestig. Die Nederlandse vesting om die Kasteel en die res van die kolonie is aan die Britte onder Sir David Baird oorgegee. In 1814 word die kolonie permanent afgestaan deur Nederland aan die Britse kroon. Teen daardie tyd het die kolonie gestrek tot teen die berge voor die groot sentrale plato, toe genoem "Boesmansland", en het 'n oppervlak van sowat 194 000 vierkante kilometers en 'n bevolking van sowat 60 000 gehad, waarvan 27 000 blank, 17 000 vrye Khoikhoi, en die res slawe was. Hierdie slawe was meestal ingevoerde swart mense, Indiërs en Maleiers.
Die Eerste en Tweede Grensoorloë Die eerste van vele oorloë met die Xhosas was reeds geveg teen die tyd wat die Kaapkolonie aan die Verenigde Koninkryk afgestaan is. Die Xhosas wat die koloniale grens oorgesteek het, is verjaag uit die distrik tussen die Sondagsrivier en die Groot-Visrivier, bekend as die Zuurveld, en wat 'n tipe neutrale gebied geword het. Vir 'n geruime tyd voor 1811 het die Xhosas reeds besit van die Zuurveld ingeneem en koloniste aangeval; in 'n poging om hulle uit te dryf het kolonel John Graham die area met 'n gemengde-ras leër ingeval in Desember 1811, en uiteindelik is die Xhosas tot verby die Visrivier gedryf. Op die ligging van Graham se hoofkwartier het 'n dorp met sy naam verrys, Graham's Town, wat later die stad Grahamstad (tans Makhanda) geword het.
Verdere opstand van die Xhosas het in 1817 gevolg, direk as gevolg van 'n poging deur die koloniale owerhede om terugbetaling te eis vir gesteelde vee. Op 22 April 1817, onder leiding van die profeet-stamhoof Makana, het hulle Grahamstad aangeval, toe deur 'n handvol blanke troepe beset; hulp het betyds aangekom en die vyand is teruggedryf. Daar is toe ooreengekom dat die land tussen die Vis- en Keiskammariviere neutrale gebied sou wees.
Die Britse Setlaars van 1820 Die oorlog van 1817 – 1819 het gelei tot die eerste golf Britse immigrante van 'n merkbale hoeveelheid, 'n gebeurtenis wat verreikende gevolge sou hê. Die goewerneur, Lord Charles Somerset, wie se verdragsooreenkomste met die Xhosahoofde nie onderhou kon word nie, het gesmag om 'n skeiding op te rig teen die Xhosas deur blanke koloniste in die grensgebied te vestig. In 1820, op aanbeveling van Lord Somerset, stem die parlement in om £50 000 te spandeer om emigrasie na die Kaap te bemark, waarna 4000 Britte - die sogenaamde 1820-Setlaars - oortuig is om te trek. Hierdie immigrante het die Albanie-nedersetting gestig (later Port Elizabeth) en Grahamstad hulle hoofkwartier gemaak. Alhoewel dit eerstens bedoel was, deur Lord Somerset, as veiligheidsmaatreël van die grens en, deur die Britse regering, as 'n manier om werk vir 'n paar duisend werklose Britte te bied, het hierdie immigrasieskema se implikasies veel wyer gestrek as wat hulle bedoel het: Die nuwe setlaars, wat afkomstig was vanuit alle dele van die Britse Eilande en vanuit elke vlak van die samelewing, tesame met hul nageslag, het steeds hul lojaliteit aan Brittanje behou. Met die verloop van tyd het hulle 'n teenvoeter teen die Nederlandse koloniste gevorm.
Die aankoms van hierdie immigrante het ook die Kaap aan die Engelse taal blootgestel. Engelse taalwette is vir die eerste keer in 1825 afgekondig, en in 1827 is die gebruik daarvan uitgebrei na geregtelike handelinge. Maar Nederlands was nooit onttroon nie, en die koloniste het grootliks tweetalig geword.
Nederlandse teenkanting teen Britse Regering Alhoewel die kolonie vooruitstrewend was, was baie Nederlandse boere ongelukkig met Britse regering, net soos hulle was met díé van die VOC, alhoewel hul griewe nie dieselfde was nie. In 1792 is Morawiese sendings vir die Khoikhoi se voordeel gestig, en in 1799 het die Londense Sendinggenootskap begin om beide die Khoikhoi en Xhosas te bekeer. Die oplos van Khoikhoi-griewe deur die sendelinge het baie ongelukkigheid onder die meerderheid van die koloniste veroorsaak, wie se konserwatiewe uitkyke tydelik geseëvier het omdat daar in 1812 'n wet afgekondig was wat magistrate die mag gee om Khoikhoikinders as ambagsleerlinge te bind onder omstandighede wat min verskil het van slawerny. Intussen het die beweging vir die afskaffing van slawerny baie gegroei in ondersteuning in Engeland, en die sendelinge het ellelange appèl aangeteken van die koloniste na Brittanje.
'n Opslag van 1815 tot 1816 het baie bygedra tot die permanente vyandigheid van Nederlandse grensbewoners teenoor die Britte: 'n Boer genaamd Bezuidenhout het geweier om 'n dagvaarding na te kom wat teen hom uitgereik is ná 'n klagte van 'n Khoikhoi ontvang is. Hy het op die inhegtenisnemingsparty geskiet, en is gedood in die terugvuur. Dit het 'n klein rebellie veroorsaak, en in die onderdrukking daarvan is vyf ringleiers in die publiek gehang by Slagtersnek, waar hulle oorspronklik saamgesweer het om "die Engelse tiranne" uit te dryf. Die teensin wat die teregstelling teweëgebring het was nóg meer verdiep deur die omstandighede van die dag: die stellasie waarop die rebelle tegelyk gehang is het gebreek onder hul gesamentlike gewig, en die mans is een-vir-een daarna gehang. 'n Wet in 1827 afgekondig het die ou Nederlandse "landroost" en "heemraden"-howe verbied, en eerder inwonende magistrate aangestel. Die wet het verder bepaal dat alle geregtelike handelinge van toe af in Engels gevoer moet word. 'n Verdere wet in 1828 het gelyke regte aan die Khoikhoi en ander vry kleurlinge as díé van blankes gegee, as gevolg van die versoeke van die sendelinge. Nóg 'n wet in 1830 het swaar boetes opgelê vir die harde behandeling van slawe, en die vrystelling van slawe was uiteindelik in 1834 afgekondig. Elkeen van hierdie wette het verdere vyandigheid van die boere teenoor die regering gebring. Meer nog het die onvoldoende vergoeding wat aan slawe-eienaars gebied was en die wantroue wat deur die betalingsmetode geskep is baie afkeer veroorsaak, en in 1835 het die neiging van boere wat wegtrek na onbekende dele van die land om van 'n gehate regering te ontsnap weer begin. Emigrasie verby die koloniale grense was eintlik deurlopend vir 150 jaar gewees, maar het nou groot mates begin aanneem.
Die Derde Grensoorlog Verdere probleme het op die oosgrens tussen die regering en die Xhosas ontstaan. Die regering in die Kaap se beleid oor die aangeleentheid is aanvanklik gekenmerk deur heelwat sloerdery. Op 11 Desember 1834, het 'n kommando 'n hoofman met 'n hoë rang doodgemaak wat die Xhosas ontstoke gemaak het: 'n leër van 10 000 manskappe gelei deur Macomo, 'n broer van die hoofman wat doodgemaak is, het oor die grens gestroom, plaashuise geplunder en aan die brand gesteek en die wat weerstand gebied het doodgemaak. Onder die slagoffers wat die ergste lyding ondergaan het was 'n kolonie bevryde Khoikhoi wat in 1829 deur die Britse owerheid in die Katriviervallei gevestig is. Hoewel daar nie baie soldate in die kolonie beskikbaar was nie, het die goewerneur sir Benjamin D'Urban vinnig opgetree en alle beskikbare magte onder kolonel sir Harry Smith saamgesnoer. Die het Grahamstad op 6 Januarie 1835 bereik, ses dae na nuus van die opstand Kaapstad bereik het. Die Britte het vir nege maande lank teen die Xhosas geveg tot vyandighede op 17 September 1838 beëindig is met die ondertekening van 'n nuwe vredesverdrag in terme waarvan al die grond tot by die Groot-Keirivier as Brits erken is en die inwoners as Britse onderdane verklaar is. Die regeringsetel is gekies en King William's Town gedoop.
Die Groot Trek
Die Britse regering het nie die aksies van d'Urban goedgekeur nie en die Britse Sekretaris vir die Kolonies, Lord Charles Glenelg, het in 'n brief aan sy Koning verklaar dat "the great evil of the Cape Colony consists in its magnitude" en daarop aangedring dat die grens teruggeskuif word na die Visrivier. Hy het d'Urban ook in 1837 uit sy pos geskop. Lord Glenelg se veslag van 26 Desember het gemeen dat die Xhosas meer as genoeg gronde gehad het om oorlog te voer en dat hulle wou wraak neem vir 'n reeks grondoortredings. Die houding teenoor die Xhosas was een van vele redes wat die Trekboere aangevoer het vir hul verlating van die Kaapkolonie. Die Groot Trek het van 1836 tot 1840 geduur. Die trekkers, wat omtrent 7 000 getel het, het gemeenskappe met 'n republikeinse regeringsvorm anderkant die Oranje en Vaalriviere en in Natal gestig. Van toe af was die Kaapkolonie nie meer die enigste Europese gemeenskap in Suid-Afrika nie – dit het egter vir baie jare die vernaamste gebly.
Aansienlike probleme het aan beide kante van die Oranjerivier ontstaan met die trek van die Voortrekkers uit die Kaapkolonie. Die trekkers, Basoetoes en ander inheemse stamme het 'n magstryd gevoer teen die Griekwas, terwyl die Kaapse regering gepoog het om die regte van die inheemse bevolking te beskerm. Op die advies van sendelinge wat heelwat invloed gehad het op almal behalwe die Nederlandssprekende bevolking is 'n aantal inheemse state erken en deur die Kaapse regering gesubsidieer met die oogmerk om vrede aan die noordelike grens te bewerkstellig. Die eerste van die "Verdragstate" wat erken is was Griekwaland-Wes van die Griekwas. Ander state is tussen 1843 en 1844 erken. Hoewel die noordelike grens meer stabiel geraak het, het probleme aan die Oos-grens voortgeduur en die regering was nie in staat (of soms onwillig) om boere teen die Xhosas te beskerm.
Die Kaapkolonie het egter goed vooruitgegaan elders. Die verandering van slawearbeid na vrye arbeid het voordelig geblyk vir die boere in die westelike dele van die kolonie. 'n Doeltreffende onderwysstelsel, wat ingestel is deur Sir John Herschel, 'n sterrekundige wat in die Kaapkolonie gewoon het van 1834 tot 1838, is aangeneem. Padrade is gestig en hulle het uitgeblink in die bou van nuwe paaie. 'n Nuwe stabiele nywerheid, skaapskeer, is bygevoeg tot die oorspronklike stel koringverbouing, teel van beeste en wynmakery. Teen 1846 het wol die kolonie se waardevolste uitvoerproduk geword. 'n Wetgewende Raad is in 1835 gevestig waarmee koloniste seggenskap in die regering bekom het.
Die Oorlog van die Byl Nog 'n oorlog met die Xhosas, bekend as die Oorlog van die Byl, het in 1846 uitgebreek toe 'n Khoikhoi begeleier wat aan 'n Xhosa verdagte geboei is vermoor is terwyl die man na Grahamstad vervoer is om verhoor te word vir die steel van 'n byl. 'n Groep Xhosas het die begeleier aangeval en dood gemaak. Nadat die opgee van die moordenaar geweier is, is oorlog in Maart 1846 verklaar. Die Ngqikas, ondersteun deur die Tambukies, was die hoofstam betrokke in die oorlog. Die Xhosas is op 7 Junie 1846 deur Lord Somerset op die Gwangu, 'n paar myl van Fort Peddie verslaan. Die oorlog het egter aangehou totdat Sandile, die hoofman van die Ngqika, oorgegee het. Ander hoofmanne het geleidelik die voorbeeld gevolg en teen die begin van 1848 is die Xhosas na een-en-twintig maande van gevegte onder bedwang gebring.
Uitbreiding van Britse Soewereiniteit