John Miles (*1 Augustus 1938, Port Elizabeth -) is 'n bekroonde Afrikaanse skrywer en digter. In 1992 ontvang hy die CNA-, M-Net- en die Helgaard Steyn-prys vir sy roman, Kroniek uit die doofpot (). Hy was ook een van die stigterslede van Taurus Uitgewers gewees.CNA-prys vir John Miles Tweede bekroning vir 'Kroniek uit die Doofpot', Die Burger, 7 Augustus 1992NB-Uitgewers: http://www.nb.co.za/authors/649
Biografie Johannes Daniel Miles is op 1 Augustus 1938 in Port Elizabeth gebore. Hy is sy ouers se middelste kind, met ’n broer Michael Henry wat tien jaar ouer is en ’n suster, Monica, wat sewe jaar jonger is. Sy pa is die dorpsbakker en hy word vernoem na sy oupa aan moederskant, Johannes Daniel Smith. As kind word hy groot in Port Elizabeth, Jansenville en Kingwilliamstown. Hy gaan hoofsaaklik skool op Kingwilliamstown in die Oos-Kaap, waar hy standerd agt slaag. Dan matrikuleer hy in 1955 aan die Erasmus Hoërskool op Bronkhorstspruit. Hierna studeer hy vanaf 1956 verder aan die Universiteit van Pretoria.Esaach: http://www.esaach.org.za/index.php?title=Miles,_John_(Johannes_Dani%C3%83%C2%ABl) Aanvanklik is hy ’n student in die Teologie, maar hy verander spoedig van studierigting en behaal ’n B.A. Honneurs-graad in Filosofie en in 1964 ’n M.A.-graad in Sosiologie. Vakansies werk hy in die myne, in ’n prokureurskantoor en in ’n fietswinkel en hy bestuur ook ’n lykswa en ’n ambulans. Later werk hy as klerk in die Staatsdiens en as navorsingsbeampte in die Departement Onderwys, Kuns en Wetenskap.
Hy begin weer studeer en behaal sy B.A. Honneurs-graad in Afrikaans. Dan word hy dosent in Afrikaans aan die Universiteit van Natal in Pietermaritzburg, waarna hy in 1967 dosent word in die Departement Afrikaans-Nederlands aan die Universiteit van die Witwatersrand. Hy word later bevorder tot professor en voor sy aftrede in 1998 is hy vir drie jaar hoof van hierdie departement. Hy woon in hierdie tyd in Johannesburg, maar het ook ’n plasie, Enkelverstuit, in die Waterberg. Vir 35 jaar is hy getroud met die kunstenaar en kunskenner Elza Botha en die egpaar het drie kinders, ’n dogter Elske en twee seuns, Paul en Karel. Hulle skei later. Na sy aftrede vestig hy hom in 1998 op die plaas Katstaartlaagte naby Nieuwoudtville in die Noord-Kaap, waar hy met rooibostee, skape en olywe boer en Saar Steenkamp, ’n skilderes, sy lewensmaat is.Biografie op humanrousseau.com , besoek op 1 Augustus 2014 In 2001 is hy betrokke in ’n ernstige ongeluk wanneer ’n trekker op sy plaas omslaan en op hom val. Hy doen veelvuldige beenbreuke op en al sy ribbes behalwe een is ook gebreek.
Hy speel ’n beduidende rol in die tydperk van streng sensuur. In 1973 kry hy saam met Chris Barnard, Ampie Coetzee en Bartho Smit beheer van die Johannesburgse tak van die Afrikaanse Skrywerskring. Met die verbod op André P. Brink se Kennis van die aand vroeg in 1974 stig hulle ’n fonds vir die verdediging van die boek en reik sterk bewoorde verklarings oor die aangeleentheid uit. Wanneer die ander lede beswaar aanteken teen hulle standpunte, bedank hulle, ’n aksie wat indirek in 1975 lei tot die stigting van die Afrikaanse Skrywersgilde. In 1975 is hy saam met professors Ernst Lindenberg en Ampie Coetzee stigterslid van die onafhanklike uitgewery Taurus, wat hom daarop toelê om werke uit te gee wanneer ander uitgewers skrikkerig is vir ’n verbod. Somtyds is die inhoud van die boeke so kontroversieel vir sy tyd dat die fisiese druk van die boeke by drukkers gedoen word wat die Afrikaanse inhoud nie verstaan nie. Die eerste uitgawe van hierdie uitgewery is André P. Brink se ’n Oomblik in die wind, uitgegee kort na die historiese verbod op Kennis van die aand”. Miles se eie werk loop ook onder die sensors deur en Donderdag of Woensdag en die “alternatiewe leesboekie” Stanley Bekker en die boikot word albei deur die sensors verbied en laasgenoemde kry selfs ’n besitsverbod. Hy dien na sy aftrede op die redaksie van Vrye Afrikaan, ’n Internetpublikasie, en sluit ook aan by die Afrikaanse vertakking van die internasionale skrywersorganisasie PEN in Pretoria.
Skryfwerk
Kortverhaalskrywer Aanvanklik skryf hy gedigte, wat onder andere vanaf 1963 opgeneem word in die tydskrif Standpunte en in 1965 in die versamelbundel “Stiebeuel 2” onder redaksie van D.J. Opperman en Fred le Roux. Dit is egter as prosaskrywer wat hy naam maak. Hy is ’n sterk en rigting aanduidende stem in die jare sewentig wat begin met kortverhale in die tydskrif Kol, waarvan sommige in sy kortverhaalbundel Liefs nie op straat nie verskyn. In hierdie meestal kort-kortverhale demonstreer hy sy woordvernuf en uitsonderlike tegniese vermoë, waardeur hy daarin slaag om ’n wye wêreld in ’n enkele gebeurtenis of beeld vas te vang. Hy belig gebeure uit verskillende gesigspunte om sodoende die interpretasiemoontlikhede te verveelvoudig en hierdie gesigspunte sluit in die bonatuurlike teenoor die natuurlike, die wêreld van die kind teenoor die volwassene, die lewe teenoor visioene van die dooie. Geweld is inherent aan vele van die verhale en die dood word soms gerelativeer as alledaags en onpersoonlik.Aucamp, Hennie. Dagblad. HAUM-Literêr Uitgewers Pretoria Eerste uitgawe Eerste Druk 1987Brink, André P. Voorlopige Rapport. Human & Rousseau Kaapstad en Pretoria Eerste uitgawe 1976 Nakkie, my oom Nakkie gebruik kursiewe druk om die daad van moord binne die verhaal te herhaal, wat spanning laat oplaai. Hierdie verhaal is suggestieryk, met oom Nakkie se blas seun Bertie, sy nagtelike besoeke aan die lokasie en die Kleurlinge se reaksie na sy dood wat moontlik die motief vir die moord aandui. Die gemeenskap se reaksie op die skokkende aard van die moord en die gemeenplase wat hulle uiter, is tiperend van hulle onpersoonlike reaksie. Direk hierna lewer die surrealistiese Wie het nog oom Nakkie gesien? verdere kommentaar op hierdie moord. In Toe hulle op Gus gewag het word die leser deur die suggestie van die kruisiging en glas wat blits voorberei op onheil, net om in ’n goeie voorbeeld van dramatiese ironie uit te vind die mans in die kafee wag slegs op Gus en Gus het reeds die opdrag uitgevoer. Nog ’n hoogtepunt is “Gustav gaan speel”, waar die verhaal rondom die spel-motief opgebou word, met die surrealistiese einde besonder treffend. Gustav se jeugherinneringe van speletjies wat hy gespeel het, roep ’n menswaardiger bestaan as sy huidige problematiek en sinloosheid voor die gees. Sy selfdood kan dus gesien word as ’n terugkeer na sy kinderdae en vryheid. Die titelverhaal, Liefs nie op straat nie lewer vernuftig kommentaar op die gaping tussen die werklikheid en verwerkte of vervalste werklikheid, waar die skrywer die werklikheid nie durf verwerk nie uit vrees vir die publiek se reaksie, maar die joernalis wel sy “koerantfeite” op straat kan uitstal. Die verloop van die verhaal illustreer egter hoe die joernalis self staatmaak op verdraaiing en verbeelding. Voorgevoel is ’n filmiese verhaal, waar die plasing van die figure en voorwerpe ’n belangrike rol speel in die oordra van betekenis. Só speel die geringste beweging dan ’n betekenisvolle rol en verander dit die perspektief. Van Miles se kortverhale en sketse word in versamelbundels opgeneem, insluitende Sewe sondes, nee meer en Vuurslag, beide onder redaksie van Hennie Aucamp, Die Afrikaanse kortverhaalboek van Abraham H. de Vries, Vertellers 2 van Merwe Scholtz en Heildronk onder redaksie van André P. Brink.
Kinderboek Hy skryf ook die kinderboek Stanley Bekker en die boikot, waarin politieke kommentaar gelewer word oor die aktuele gebeurtenisse van die vroeg tagtigerjare. Die gebeure word gesien uit die gesigspunt van ’n bruin seun op die minderwaardige onderwysstelsel van die apartheidsera en die skole-boikot wat in die laat sewentigerjare pos gevat het. Die boekie is geskryf in die tipiese trant van eerste leesboekies vir kinders, waarin die karakters voorgestel word en telkens nuwe begrippe bygevoeg word sodat die kind ontdek en onderrig word. Hierdie grafiese boekie vir kinders word deur die Sensuurraad as so gevaarlik geag dat dit nie net ’n verbod kry op die verkope daarvan nie, maar ook ’n besitsverbod op die lyf loop!
Romans Hierna spits hy hom toe op die roman. Sy werk beeld merendeels geweld en boosheid uit en die uitwerking daarvan op die individu wat slagoffer is van die noodlot en ten spyte van sy eie pogings, nie daaruit kan ontsnap nie.Swanepoel, P.H. en Kruger, Estelle Koersjournal: http://www.koersjournal.org.za/index.php/koers/article/view/1245 Hoewel die romans meestal plaaslik in Suid-Afrika gesitueer is (behalwe vir Die buiteveld), slaag hy daarin om die gegewe bo die plaaslike te laat uitstyg en dit universeel van toepassing te maak. Die reisgegewe wat inherent aan sy werk is, word dus ook ’n lewensreis.
Okker bestel twee toebroodjies lei die prosa van die sewentigs in, waarin die individu meegesleur word in ’n sinlose meedoen aan ’n golf van geweld. Die mens vat met geweld wat hy wil hê om sodoende te probeer oorlewe in ’n wêreld wat hy nie begryp nie. Die staatsaanklaer Okker Smit, wat pas uit sy werk bedank het en wie se vrou Chrissie hom verlaat het, bestel een Vrydagaand in die winter in die dorpie Carnarvon twee toebroodjies in die plaaslike kafee. Hy is hier om ’n vriend van sy kinderdae, Ben Venter, te ontmoet. Dan word hy teen sy sin ingetrek in ’n lang reeks gewelddadige gebeurtenisse saam met Ben en sy geheimsinnige Tante. Die aksie gaan van Carnarvon na Johannesburg, waar verskeie geweldsdade plaasvind en dan na ’n Bosveldplaas. Wanneer Okker kortstondig daarin slaag om van Ben ontslae te raak, ontmoet hy vir Jenny, die meisie met die wit hare wat haar protes teen oordadige tekens van geweld demonstreer deur aanhoudend met die vuis teen die vernielde bak van ’n Lincoln Continental te slaan.Swanepoel, Petrus. Rapport, 29 Julie 1973 Okker word in die roman stereotipe van die gewone mens wat met rus gelaat wil wees en met sy eie klein lewe voortgaan, maar dan teen sy wil ingesleep word by dinge wat hy nie verstaan nie en hoe meer hy hom wil loswikkel uit die gemors, hoe minder verstaan hy. Terselfdertyd is hy nie vry te spreek van aandadigheid in die toedrag van sake nie en speel die gebeure wat in sy jong dae tot Radue se dood gelei het, ’n belangrike rol. Waar die prosa van die Sestig gewerk het met mites en seks met ’n religieuse konnotasie, skets Miles hier ’n realistiese wêreld, waar wreedheid en geweld die botoon vier en seks beleef word ter wille van seks, met geen religieuse konnotasie of selfs liefde nie. Tesame met die kritiek en fokus op geweld en seks ondersoek die roman veral die konsepte van aandadigheid en skuld. Die verlede is ’n ewigheid wat die hede in ’n hel omskep, met die vooruitsigte vir die toekoms ’n ewigheid van uitsigloosheid. Die einde in so ’n uitsiglose wêreld is verstandelike disintegrasie.Botha, Elize. Tydskrif vir Geesteswetenskappe. Jaargang 15 no. 2, Junie 1975