Hierdie artikel handel oor die Duitse hoofstad. Vir ander gebruike, sien Berlyn (dubbelsinnig). Berlyn 280px Kaart Wapen 180px|senter 75px|senter Vlag 90px|raam|senter Land Deelstaat 20px Berlyn Koördinate Administratiewe verdeling 12 stadsdistrikte Stigting 1237 Stadstatus 1240 Oppervlakte: - Totaal 891,12 vk km Hoogte bo seevlak 29,9–115 m statistik-berlin-brandenburg.de (PDF) Bevolking: - Totaal (31 Desember 2023) 3 632 853 - Bevolkingsdigtheid 4 077/vk km - Metropolitaanse gebied 6 216 845 Tydsone UTC +1 (MET) - Somertyd UTC +2 (MEST) Klimaat - Tipe Gematigde klimaat - Gemiddelde jaarlikse temperatuur 8,9 °C - Gem. temp. Januarie/Julie −0,6 / 18,5 °C - Gemiddelde jaarlikse neerslae 581 mm Burgemeester Kai Wegner (CDU) Amptelike webwerf berlin.de
Berlyn (Duits: Berlin, [bɛɐ̯ˈliːn], ) is die hoofstad van Duitsland en is die grootste stad in dié land wat sowel oppervlakte as bevolking betref. Die stad het 'n bevolking van 3,62 miljoen van binne die stadsgrense en sowat 6,2 miljoen in die metropolitaanse gebied wat onder meer Potsdam insluit. Die getal buitelandse inwoners het op 31 Desember 2020 789 076 beloop (oftewel 20,9 persent van die land se totale bevolking). Die grootste Turks- en Russiessprekende gemeenskappe word hier in Europa aangetref. Berlyn is tans die grootste stad in die Europese Unie met een van die grootste metropolitaanse gebiede. Administratief bestaan Berlyn tans uit twaalf distrikte wat verder verdeel word in 96 stadsdele.
duimnael|links|Die westelike middestad van Berlyn duimnael|links|Die oostelike middestad van Berlyn duimnael|links|Die stadsgebied word omring deur bosse en mere: Krumme Lanke in die distrik Steglitz-Zehlendorf in die suidweste van Berlyn duimnael|links|Die meer Müggelsee in die distrik Köpenick, Suidoos-Berlyn duimnael|links|Grunewald in die westelike distrik Charlottenburg-Wilmersdorf met seilbote op die Havel Berlyn is in die noordooste van Duitsland geleë en word in sy geheel omring deur die deelstaat Brandenburg. Die stad het in die verloop van sy geskiedenis meermale as die hoofstad van Duitse state soos die Keurvorstedom Brandenburg (1417 tot 1618), Brandenburg-Pruise (1618 tot 1701), die Koninkryk Pruise (1701 tot 1918), die Duitse Keiserryk (1871 tot 1918), die Republiek van Weimar (1918/1919 tot 1933), Nazi-Duitsland (1933 tot 1945) en die Duitse Demokratiese Republiek (DDR, 1949 tot 1990) gedien. Met die ontbinding van die ou provinsie, Pruise, deur die geallieerde magte in 1947, het Berlyn 'n afsonderlike deelstaat geword.
Ná die hereniging van die twee Duitse state op 3 Oktober 1990 het Berlyn sy ou funksie as hoofstad van die hele Duitsland herwin en dien sedert 1999 ook weer as regerings- en parlementsetel. Hoewel die stad sy vroeëre rol as ekonomiese en finansiële spilpunt van Duitsland lankal kwytgeraak en aan Wes-Duitse metropole soos Frankfurt am Main afgestaan het, is dit as regeringsetel van Europa se voorste ekonomie een van die invloedrykste hoofstede van die Europese Unie en het veral, danksy sy ryk kulturele erfenis, tot een van die gewildste toeristebestemmings in Europa ontwikkel. Saam met die val van die Ystergordyn het Berlyn ook sy tradisionele rol as Europese vervoerspilpunt hervat.
Berlyn se aanspraak op wêreldstadstatus is in Duitsland nie onomstrede nie, Spiegel Online – Berliner Ambitionen: Die eingebildete Weltstadt. Besoek op 25 Mei 2015 maar sy kulturele en politieke lewe, sy medialandskap en wetenskapsbedryf is nogtans van wêreldformaat. Global Power City Index 2011 CNN: Cities that rule the world – and those on the rise GaWC Research Bulletin 146: Leading World Cities: Empirical Evaluations of Urban Nodes in Multiple Networks. Besoek op 25 Mei 2015 Die stad se sportgebeurtenisse, tersiêre onderwys- en navorsingsinstellings, museums, boukuns, feeste, naglewe en veelvuldige leefstyle geniet wêreldfaam. sportsbusiness.com: London crowned as SportBusiness’ 2012 Ultimate Sports City. Besoek op 25 Mei 2015 Teen die begin van die 21ste eeu het Berlyn in 'n trekpleister vir jong entrepreneurs, kreatiewes en immigrante ontwikkel. Los Angeles Times, 6 Julie 2007: A wild art scene now stays within the lines. Besoek op 25 Mei 2015 Berlyn is die enigste Duitse stad wat drie Unesco-wêrelderfenisgebiede huisves: Paleise en tuine van Potsdam en Berlyn (1990, saam met Potsdam ), die Museumsinsel (1999 ) en Modernistiese Woonbuurte in Berlyn (2008 ).
Etimologie Die stadsnaam van Berlyn, wat in die Hoog-Middeleeue gestig is, het sy oorsprong in die Oud-Polabiese woord Birlin of Berlin wat "plek in 'n moerasagtige gebied" beteken. In die stadsdeel Neu-Hohenschönhausen is daar 'n meer met die naam Berl. Die naam bestaan uit die Oud-Polabiese birl-, berl- "moeras", "vlei" en die Slawiese agtervoegsel -in vir plekname. Die verwysing in dokumente met 'n artikel (der Berlin, "die Berlyn") dui op 'n veldnaam wat deur die stadstigters oorgeneem is. Soos al die Duitse plekname met 'n Slawiese oorsprong in Noordoos-Sentraal-Europa wat op 'n -in eindig (Schwerin, Stettin, Eutin, Templin, Küstrin, ens.) word ook Berlyn op die laaste lettergreep beklemtoon.
Die naam Kölln is glo oorgeneem van die stad Köln langs die Ryn wat sy oorsprong het in Latyn colonia en "geplante stad in 'n verowerde gebied" of "kolonie" beteken. 'n Ontlening aan 'n Oud-Polabiese naam *kol’no wat afgelei is van kol, "paal", kan egter nie uitgesluit word nie.
Die stadsnaam Berlyn is nóg aan die beweerde stadstigter, Albrecht die Beer, nóg aan die Berlynse wapendier ontleen. Dit is egter 'n "sprekende wapen" wat die stadsnaam in 'n Duitse vertolking probeer daarstel. Aldus is die wapendier van die stadsnaam ontleen, nie andersom nie.
Van Berlyn se twaalf distrikte het vyf 'n naam met 'n Slawiese oorsprong: Pankow, Steglitz-Zehlendorf, Marzahn-Hellersdorf, Treptow-Köpenick en Spandau. Van Berlyn se 96 stadsdele dra 22 'n naam met 'n Slawiese oorsprong: Altglienicke, Alt-Treptow, Britz, Buch, Buckow, Gatow, Karow, Kladow, Köpenick, Lankwitz, Lübars, Malchow, Marzahn, Pankow, Prenzlauer Berg, Rudow, Schmöckwitz, Spandau, Stadtrandsiedlung Malchow, Steglitz, Tegel en Zehlendorf.
Geografie en klimaat Ligging duimnael|Topografiese kaart van Berlyn duimnael|Kaart van Berlyn se 12 stadsdistrikte duimnael|Departement van Buitelandse Sake aan die oewer van die Spreerivier duimnael|Die stadsdeel Schmöckwitz in die suidooste van Berlyn As 'n deelstaat van die Federale Republiek van Duitsland vorm Berlyn 'n enklawe in die deelstaat Brandenburg. Die Duitse hoofstad beslaan 'n totale oppervlakte van sowat 891 vierkante kilometer (waarvan 22,9 persent bosgebiede en 6,6 persent water) en is sodoende een van die beduidendste metropolitaanse gebiede van Duitsland asook een van die grootste stede ter wêreld. Die digbevolkte stadskern word omring deur 'n voorstadgordel met 'n landelike karakter. Groot mere soos die Havel (wat deur die gelyknamige rivier gevorm word), Wannsee en Müggelsee maak deel uit van die stadsgebied. Die grootste wydte van die stadsgebied beloop 45, die grootste lengte 38 kilometer. Berlyn is een van die grootste metropolitaanse gebiede van Duitsland.
Die stadsentrum is tussen die platos van Barnim en Teltow in 'n landskap geleë wat gedurende die laaste koueperiode van die Ystydperk, die sogenaamde Weichsel-ystydperk, deur 'n gletserrivier gevorm is. Sowat 20 000 jaar gelede was die stadsgebied nog deur ysmassas bedek wat vanuit die Skandinawiese Skiereiland tot by Sentraal-Europa gestrek en 'n dikte van enkele honderd meter bereik het. Saam met die afsmelting van die gletser sowat 18 000 jaar gelede het die sogenaamde Berlynse Urstromtal ontstaan, 'n magtige glasiale riviervallei.
Die historiese stadsentrum is by die nouste punt van hierdie riviervallei geleë. Die Spreerivier vloei in 'n oos-westelike rigting deur die vallei. In die mees westelike stadsdistrik Spandau mond die Spreerivier in die Havel uit, 'n rivier wat in die weste van Berlyn in noord-suidelike rigting vloei. Die Havel se rivierloop was oorspronklik 'n glasiale rivierbed en lyk op sommige plekke soos 'n meerlandskap met die Tegelse Meer (Duits: Tegeler See) en die Große Wannsee as sy grootste mere.
Groot dele van Berlyn is buite die glasiale riviervallei op die Barnim- en Teltowplato geleë wat in die noorde en suide aan die vallei grens en hoofsaaklik uit grondmorenes bestaan. Die administratiewe distrik Spandau strek sowel oor 'n gedeelte van die riviervallei asook oor die sogenaamde Nauense Plaat wes van Berlyn.
Die hoogste heuwels in Berlyn is die Groot Müggelberg (115,4 meter bo seevlak) in die distrik Treptow-Köpenick, die Teufelsberg ('n rommelhoop wat uit die bouvalle van die Tweede Wêreldoorlog ontstaan het, 114,7 meter hoog) in die distrik Charlottenburg-Wilmersdorf en die Ahrensfelder Berge (112,1 meter hoog) in die landskapspark Wuhletal in die distrik Marzahn-Hellersdorf. Die Havelmere is die laagste punte van die stadsgebied op 32 meter bo seevlak.
Klimaat Berlyn is in 'n oorgangsgebied tussen die gematigde en kontinentale sone geleë waar die klimaat geleidelik kontinentale trekke begin aanneem; in die vroeë 21ste eeu was somers gereeld droog en warm, terwyl in die wintermaande dikwels gematigde temperature aangeteken is. Die gemiddelde jaarlikse temperatuur in Berlyn-Dahlem is 9,5 °C, met 'n gemiddelde jaarlikse reënval van 591 mm.
Die wind waai in die Duitse hoofstad meestal uit die noord- en suidweste (en hier veral in die wintermaande teen hoër snelhede) sodat vars en skoon seelug ooswaarts beweeg, of uit die suidooste en ooste. Die laasgenoemde windrigtings word hoofsaaklik as gevolg van hoëdrukstelsels gemeet wat, afhangende van die seisoen, baie koue of baie warm lugmassas laat instroom.
Geskiedenis Wêreldfabriek Berlyn duimnael|Berlyn – wêreldfabriek en eksperimenteerruimte Berlyn se geskiedenis verskil opvallend van dié van ander groot Europese metropole soos Athene, Rome, Londen en Parys – dit is relatief kort en vol breuklyne. Sy ontwikkeling is eerder baseer op 'n verbreking van tradisies as op die hou daarby. Dit het steeds weer 'n skielike draai geneem waarby die stad heeltemal herstruktureer is.
In 1871 is Berlyn tot hoofstad van 'n vinnig groeiende nywerheidsland verhef – die Duitse Keiserryk wat ná die oorwinning oor Frankryk in die Frans-Pruisiese Oorlog 'n ongekende ekonomiese opswaai beleef het. Dié groeifase het met die wêreldresessie van 1873 skielik tot stilstand gekom.
Voor en ná die Eerste Wêreldoorlog was Berlyn 'n laboratorium van die moderne tyd en sy tegnologiese, ekonomiese, kulturele en sosiale omwentelinge – "'n sirkelende wêreldfabriek", soos die digteres Else Lasker-Schüler Berlyn genoem het. Vir Karl Scheffler was die stad, soos hy reeds in 1910 opgemerk het, verdoem "om steeds te word en nooit te wees nie". Matthias Harder & Almut Hille (reds.): Weltfabrik Berlin. Eine Metropole als Sujet der Literatur. Würzburg: Königshausen & Neumann 2006, bl. 7 en 10
Die Nasionaalsosialistiese magsoorname in 1933 het alle dinamiese ontwikkelinge stopgesit en Berlyn as hoofstad van 'n fascistiese diktatuur in isolasie gedompel. Adolf Hitler se gigantomaniese plan om dit in 'n "Germania wêreldhoofstad" om te skep is nooit verwesenlik nie. Die stad is tydens die Tweede Wêreldoorlog deur bomaanvalle verwoes, deur geallieerde magte beset en dekades lank in twee helftes verdeel.