duimnael|400px|Internasionale erkenning van die Kerk van Sciëntologie: Sciëntologie (afgelei van die Latynse scire «weet» en die Griekse logos «die studie van iets; die woord») is 'n filosofies-religieuse beweging wat deur die Amerikaanse filosoof, ontdekkingsreisiger en wetenskapsfiksieskrywer L. Ron Hubbard (1911–1986) ontwikkel is en vir sy volgelinge na bewering 'n presiese pad wys wat hulle in staat stel om hul ware natuur as geestelike wesens en hul verhouding tot hulself, hul familie, ander groepe mense, die mensheid in sy geheel, alle lewensvorme, die materiële heelal, die spirituele heelal en die Opperste Wese of Oneindigheid te ontsleutel. Sciëntologie stel kerklede in staat om langs die sogenaamde Brug na Totale Vryheid te beweeg en sodoende geestelike verligting en die status van 'n sogenaamde Operating Thetan met hoër vlakke van bewussyn te bereik. duimnael|links|Die publiek kom met Sciëntologie onder meer deur sogenaamde persoonlikheids- en strestoetse met E-meters in aanraking wat - soos hier in Berlyn - dikwels gratis op straat aangebied word om belangstelling vir Sciëntologiese dienste, media en die Kerk van Sciëntologie as religieuse organisasie te wek duimnael|links|'n Scientology Volunteer Minister verskaf in 2010 mediese behandeling aan 'n Haitiaan wat tydens 'n aardbewing beserings opgedoen het. Honderde geneeskundiges is na die eilandstaat ontbied en geneesmiddels en ander benodigde goedere vanuit die VSA na Haiti vervoer. Die VM-program is danksy 'n inisiatief van L. Ron Hubbard gestig. Honderde Sciëntoloë het die slagoffers van die terreuraanval op die Wêreldhandelsentrum in New York in 2001 bygestaan of omgesien na die slagoffers van aardbewings, tsoenami's, orkane en oorstromings Die beweging het in 1950 in die Verenigde State met die publikasie van L. Ron Hubbard se boek Dianetics: The Modern Science of Mental Health ontstaan, waarin Hubbard Dianetiek as 'n alternatief tot tradisionele terapieë voorgestel het. Dianetiek het op nuwe meganismes vir die oorlewing van die individu en nuwe vorme van selfuitdrukking gekonsentreer. Baie van die leerstellings is uit die moderne psigologie oorgeneem. Hubbard het onder meer beweer dat traumatiese ervarings uit die verlede as sogenaamde engramme gestoor word en die oorsaak van irrasionele en afwykende gedrag kan wees. Deur die sogenaamde proses van auditing het aanhangers die moontlikheid gekry om hulle engramme onder die toesig van 'n praktisyn en met behulp van die sogenaamde e-meter op te spoor en uit te wis.
Hubbard het ná sy sukses met Dianetics (Dianetika), waarvan miljoene eksemplare verkoop is en wat ook vyf jaar ná sy afsterwe (of, soos die Kerk dit gestel het, nadat Hubbard van sy liggaam ontslae geraak het om sy navorsing op 'n ander vlak voort te sit) weer sy verskyning op Amerikaanse blitsverkoperlyste gemaak het, meer navorsing oor die wese en die sin van die menslike lewe gedoen, en so is Dianetiek geleidelik uitgebrei totdat dit 'n religieuse dimensie gekry het – Scientology. Die resultaat van Hubbard se navorsing en Kerkaanhangers se geloofsoortuiging is dat elke mens naas sy liggaam en gees ook uit 'n onsterflike spirituele wese, die sogenaamde Thetan, bestaan, wat oor talle menslike lewens strek en die mag het om die basiese elemente van die bestaan soos materie, energie, ruimte en tyd self te skep. Sodoende beweeg die leerstellings van Sciëntologie, net soos dié van tradisionele godsdienste en religieus-filosofiesxe stelsels, buite alle limiete van wetenskaplike ervaring en kennis.
Die leerstellings van Sciëntologie baseer op en word uiteengesit in die uiters omvangryke materiaal wat deur Hubbard gepubliseer is - agttien grondleggende geskrewe werke en 280 begeleidende toesprake en lesings, soos toeganklik vir die publiek in elke Sciëntologiese kerk en sending. 'n Klein deel geskrifte bly beperk tot die hoogste vlakke van spirituele bewussyn. Van hierdie tekste, onder meer Hubbard se kosmologie of ontstaansmite van die menslike lewe op aarde, is deur internet-randgroepe gepubliseer met die doelwit om Sciëntologie te diskrediteer. Die outentisiteit daarvan kan deur buitestaanders nie beoordeel word nie.
In sy georganiseerde vorm, die Kerk van Sciëntologie, wat in 1954 in Los Angeles gestig is en vinnig na ander lande uitgebrei het, het die nuwe geloof tot een van die welvarendste en invloedrykste Nuwe Religieuse Bewegings van die 20ste en 21ste eeue gegroei. Die kerk beywer hom met sy verskillende instellings in meer as eenhonderd lande vir religieuse vryheid, die opleiding van praktisyns en maatskaplike en politieke hervorming. Van die Kerk se publikasies en oudiovisuele media word in Afrikaans aangebied. Deur sy invloed op welbekende persoonlikhede uit die vermaaklikheidsbedryf het Sciëntologie baie aandag in die media gekry – tot 'n punt waar die meeste publikasies daaroor kommersieel van aard, sensasiegedrewe en onakkuraat is.
Tot dusver is daar min serieuse wetenskaplike navorsing oor Sciëntologie gedoen sodat net 'n beperkte aantal neutrale verslae en werke oor Sciëntologie beskikbaar is.www.beliefnet.com: Mind over Matter Nie alle bydraes was serieus nie, terwyl die Kerk aanvanklik druk op navorsers geplaas en met regtelike stappe gedreig het wanneer omstrede materiaal gepubliseer is.Ruth Graham: Are Academics Afraid to Study Scientology? In: JSTOR Daily, 5 November 2014. Besoek op 21 Julie 2020 Akademiese bydraes fokus onder meer op een van die opvallendste aspekte in die persepsie van Sciëntologie - die bogenoemde invloed van media, veral die sensasiepers en sensasietelevisie, op die openbare waarneming van nuwe religieuse bewegings.University of California Press: Nova Religio (2014) 17 (3): 38–63. Gratis aflaaibaar. Besoek op 15 Julie 2020
Geskiedenis duimnael|Die Kerk van Sciëntologie se internasionale hoofkwartier in East Hollywood, Los Angeles duimnael|Die E-meter In 1950 het L. Ron Hubbard in sy werk Dianetics (Afrikaans: "Dianetiek") 'n stelsel van psigoterapeutiese selfhulp-tegnieke ontwikkel wat hy twee jaar later in Scientology 8-80 tot 'n algemene lewens- en wêreldbeskouing uitgebou het. Sciëntologie het nou ook aanspraak daarop gemaak om 'n religieuse beweging te wees.Beckford, James A.: Cult Controversies: The Societal Response to New Religious Movements. Tavistock, Londen/Engeland 1985, bl. 51 In die periode tussen 1950 en 1954 was daar 'n aantal verskillende groepe – waarvan sommige ook as formele organisasies bestaan het – wat pogings onderneem het om Hubbard se leerstellings in die praktyk toe te pas.Willms, Gerald: Scientology. Kulturbeobachtungen jenseits der Devianz. Bielefeld: transcript 2005, bl. 74
Hubbard het die Kerk van Sciëntologie (Church of Scientology) as 'n handelsmerk laat registreer en in Februarie 1954 die eerste filiaal in Kalifornië gestig (Church of Scientology of California).Willms (2005), bl. 74 Hubbard het die sciëntologiese geloofstelsel vervolgens verder uitgebou met kosmologiese en metafisiese elemente, die religieuse ideologie stelselmatig ontwikkel en 'n hiërargiese organisasiestruktuur aan die beweging gegee.Gusfield, Joseph R.: Review of "The Road To Total Freedom" by Roy Wallis. In: Sociology (1979) 13 (1): 157-159, bl. 158. Aanlyn beskikbaar: soc.sagepub.com
In die periode tot 1967 het Hubbard van sy Kerk van Sciëntologie die eksklusiewe verteenwoordiger van Sciëntologie as 'n religieuse filosofie gemaak en naas die VSA ook in oorsese lande soos die Verenigde Koninkryk, Australië, Nieu-Seeland, Suid-Afrika en die destydse Rhodesië gevestig.Willms (2005), bl. 75 In die laat 1960's het die uitbreiding van Sciëntologie sy voorlopige hoogtepunt bereik.Willms (2005), bl. 76
In die volgende dekade het dié groei begin verstadig; in die Deense hoofstad Kopenhagen is 'n filiaal vir kontinentale Europa gestig, terwyl die Kerk van Sciëntologie ook probeer het om meer aanhangers in Skandinawië, Duitsland en die Benelux-lande te wen.Willms 2005), bl. 77 Terwyl die aantal filiale 'n stewige groei getoon het (in die Verenigde State en in die Verenigde Koninkryk is in die periode tussen 1971 en 1977 honderd sendingstasies geopen, en 'n verdere dertig het in kontinentale Europa ontstaan),Townsend, Eric: The Sad Tale of Scientology: A Short History 1950–1985. Stockport: Anima Publishing 1985, bl. 49) het Hubbard se Sea Organization, wat in 1967 gestig is en tot die magsentrum van Sciëntologie ontwikkel het, steeds verder wegbeweeg van die basis van ander sciëntologiese organisasies.Willms (2005), bl. 79 Die Sea Organization was tot 1975 op 'n skip in die Stille Oseaan gesetel. Tegelykertyd het Hubbard se leierstyl steeds meer outokraties geword. 'n Aantal leidende lede van die Kerk van Sciëntologie het die organisasie en Hubbard se leierstyl uiteindelik as té outoritêr beskou en van die kerk weggebreek om vanaf 1982 onafhanklike groepe, waaronder die "Vrye Sone" (Free Zone), te stig.Chagnon, Robert: Religion et santé: le cas de l'Église de Scientologie. In: Social Compass (1987) 34 (4): 495-507, bl. 504 Aanlyn beskikbaar: scp.sagepub.com Tussen 1982 en 1984 het 'n groter aantal lede die kerk verlaat.Willms (2005), bl. 80
Ná Hubbard se afsterwe in 1986 het die organisasie onder die leiding van die Religious Technology Center, wat deur David Miscavige in die lewe geroep en bestuur is, begin stabiliseer.Willms (2005), bl. 81 Onder die leierskap van Miscavige het Sciëntologie sy produkte en dienste gedifferensieer en 'n aantal nuwe suborganisasies gestig. Die beweging het ook pogings onderneem om in geografiese opsig uit te brei. Met die val van die Ystergordyn het Sciëntologie die postkommunistiese Oos-Europa by sy sendinggebied ingesluit, tog het hierdie pogings gemengde resultate opgelewer.Barker, Eileen: But Who's Going to Win? National and Minority Religions in Post-communist Society. In: Facta Universitas 2 (4): 49-74, bl. 50, 60. Aanlyn beskikbar: facta.junis.ni.ac.yu
In Rusland het Sciëntologie wél daarin geslaag om 'n groter aantal aanhangers te wen, tog het die plaaslike owerhede ferm opgetree teen die kerk.Reeves, Phil: PM linked to Scientology. In: The Independent, 22 April 1998, bl. 13 In die nuwe Oos-Duitse deelstate was Sciëntologie se sukses minder as wat verwag is.Davidson-Schmich, L.K.; K. Hartmann en U. Mummert: You Can Lead a Horse to Water, But you Can't Always Make it Drink: Positive Freedom in the Aftermath of German Unification. In: Communist and Post-Communist Studies 35 (3): 325-352, bl. 342. Aanlyn beskikbaar: www.ingentaconnect.com
Die Agt Dinamieke duimnael|Die Sciëntologiekruis: die agt punte van die kruis verteenwoordig die Agt Dinamieke van Sciëntologie Die grondbeginsels vir enige lewensvorm baseer volgens Sciëntologie op sy oorlewensdrang. Hierdie grondbeginsels word onderverdeel in agt dinamieke waarvan die eerste vier deur Dianetiek en die ander vier deur Sciëntologie gedek word.
Die Eerste Dinamiek: Self Die Eerste Dinamiek is die oorlewensdrang as 'n individu. Dit sluit liggaam en gees in en beskryf die drang om vir jouself die hoogste vlak van oorlewing vir die langste moontlike tydperk te bereik. Hierdie dinamiek het betrekking tot die individu en sy onmiddellike besittings, maar sluit geen ander mense in nie. Dit is die drang om as jouself te oorleef en volle uitdrukking aan jou individualiteit te gee.
Die Tweede Dinamiek: Kreatiwiteit
Kreatiwiteit beteken om dinge en werke vir die toekoms te skep. Sodoende behels die tweede dinamiek enige vorm van kreatiwiteit. Dit sluit die familie of lewensgemeenskap in, die grootmaak van kinders en enige ander aktiwiteit in hierdie verband. Ook geslagsomgang mag hierby ingesluit word as 'n meganisme waardeur oorlewing vir toekomstige generasies moontlik gemaak word.