Hierdie artikel handel oor die Kanadese provinsie. Sien gerus Quebec (dubbelsinnig) vir 'n lys van artikels wat met dieselfde titel geassosieer word.
Quebec (Frans: Québec, [kebɛk], ) is een van die tien provinsies van Kanada, met 'n landoppervlakte van 1 540 687 vierkante kilometer en 'n merendeels Franssprekende bevolking wat op 1 Julie 2019 op 8 484 965 beraam is. Dit is die enigste van Kanada se provinsies waar uitsluitlik Frans erkenning geniet as ampstaal. Met sy eie taal, kultuur, tradisies en instellings, vorm Quebec 'n afsonderlike Franssprekende nasie in Kanada. Hoogste Hof van Kanada – Opposisie Quebec verwysing na 'n resolusie om wysiging van die Grondwet in 1982 – "Ons moet erken dat die twee volke wat Kanada gestig het, gelykwaardig is, en dat Quebec binne die Kanadese Federasie 'n selfstandige samelewing vorm wat deur oor sy eie taal, kultuur, instellings en al die eienskappe van 'n afsonderlike nasionale gemeenskap beskik", vertaling van: « On devra reconnaître que les deux peuples qui ont fondé le Canada sont foncièrement égaux et que le Québec forme à l’intérieur de l’ensemble fédéral canadien une société distincte par la langue, la culture, les institutions et qui possède tous les attributs d’une communauté nationale distincte. »
duimnael|links|Noorderlig oor Saguenay-Lac-Saint-Jean duimnael|links|Land van water, ingenieursvernuf en hoëtegnologie: Grootskaalse hidroëlektriese projekte soos die Complexe de la Baie-James (die foto toon die La Grande 4-aanleg) voorsien Quebec en dele van die VSA van krag duimnael|links|St-Clément, 'n klein nedersetting in die administratiewe streek Bas-Saint-Laurent Die provinsie het grense met die Verenigde State in die suide, die provinsie Ontario in die weste en die provinsie Nieu-Brunswyk (Frans: Nouveau-Brunswick) in die ooste. Sowat die helfte van die grondgebied bestaan uit mere en riviere – die provinsie besit 16 persent van die wêreld se varswaterreserwes. Die noorde (Grand-Nord québécois) is arkties en yl bevolk, terwyl die vlaktes van die Sint-Laurensrivier (Frans: Fleuve Saint-Laurent) tot die gematigde sone behoort.
Quebec is Kanada se tweede mees bevolkte provinsie na Ontario. Die grootste deel van die bevolking is in stedelike gebiede langs die Sint-Laurensrivier tussen Montreal as die provinsie se ekonomiese en industriële spilpunt en die administratiewe hoofstad Quebecstad saamgetrek. Meer as die helfte van die Québécois, soos die bewoners in Frans genoem word, woon in die metropolitaanse gebied van Groter Montreal op en rondom Montrealeiland.
Groter gemeenskappe Engelssprekendes is in die weste van Montrealeiland saamgetrek, terwyl belangrike anglofone minderhede ook in streke soos die Outaouais, Estrie (ook die Eastern Townships genoem) en Gaspé aangetref word. Die uiterste noorde, die Nord-du-Québec-streek wat sowat die helfte van Quebec se oppervlakte beslaan, is yl bevolk en word merendeels deur Indiaanse en Inuït- gemeenskappe bewoon.
Alhoewel Kanada op federale vlak Engels en Frans as amptelike tale erken, bly die status van ampstaal in Quebec beperk tot Frans. As 'n gebied wat sy historiese en kulturele oorsprong in die eertydse Franse kolonies in Noord-Amerika het, is die provinsie tans die enigste gebied op die vasteland met 'n Franssprekende meerderheid en provinsiale regering en 'n Franse regstelsel, die Code civil.
Selfregering speel 'n belangrike rol in die politiek van Quebec – die amptelike opposisie, die Sosiaal-Demokratiese Parti Québécois, is 'n voorstander van nasionale onafhanklikheid. Regeringspartye, wat die wegbreek van Kanada as politieke agenda verkondig het, het al twee referendums (in 1980 en 1995) oor hierdie saak gehou, tog het 'n klein meerderheid Québécois teen die voorstel gestem. In 2006 het die Kanadese Laerhuis 'n simboliese mosie aanvaar waardeur die Franssprekende Québécois as 'n "nasie binne die verenigde Kanada" erken is. Parliament of Canada: Hansard of 39th Parliament, 1st Session; No. 087. Routine Proceedings: The Québécois
Etimologie Die naam "Quebec" is ontleen aan 'n Algonkin-woord wat "smal gang" of "straat" beteken. Die naam het oorspronklik verwys na die gebied rondom Quebecstad waar die Sint-Laurensrivier vernou tot 'n krans-omlynde kloof. Van die vroeë spellingsvariasies sluit in Québecq en Kébec. In 1608 het die Franse ontdekkingsreisiger Samuel de Champlain die naam Quebec gekies vir die koloniale buitepos wat hy as die administratiewe setel vir Nieu-Frankryk gestig het.
Simbole van die provinsie duimnael|links|Die sneeu-uil is die nasionale voël van Quebec Quebec se vlag, die fleurdelisé, is 'n wit kruis op 'n blou agtergrond (die simbool van 'n christelike nasie) met vier lelies (Fleur de Lys) wat die Franse monargie versinnebeeld. Dit is die koninklike vlag wat die leër van generaal Montcalm, Marquis de Saint-Véran by hulle oorwinning in die slag van Carillon in 1758 gebruik het. Aangesien dit die simbool van die voormalige koningshuis van die Bourbone is, word dit in Frankryk sedert die Franse Rewolusie as kontrarewolusionêr beskou.
Die fleurdelisé-vlag het op 21 Januarie 1948 die ou Britse Union Jack op die toring van die parlementsgebou vervang as amptelike vlag van die provinsie.
Die Nasionale Leuse is "Je me souviens" (Ek herinner my) – 'n trotse verwysing na die provinsie se kleurryke geskiedenis. Gilles Vigneault se lied "Gens du pays" word dikwels as die nie-amptelike volkslied van die provinsie beskou.
Die nasionale blom is die Iris versicolor (blouvlag-iris), en die nasionale voël is die sneeu-uil.
Die Heilige Anna en Johannes die Doper is die beskermheiliges van Frans-Kanada. 24 Junie, la Saint-Jean, is Quebec se nasionale fees en word sedert 1977 amptelik Fête nationale du Québec genoem.
Geografie duimnael|links|'n Welkomsgroet aan die grens duimnael|L'Île-aux-Basques naby Trois-Pistoles, een van die eilande in die Sint-Laurensrivier Quebec lê in die ooste van Kanada en word deur die Engelstalige provinsie Ontario en die Hudsonbaai in die weste, die Atlantiese Oseaan met die Labradorsee, die provinsie Newfoundland en Labrador (Frans: Terre-Neuve) en die provinsie Nouveau-Brunswick in die ooste, die Verenigde State (met die deelstate Maine, New Hampshire, Vermont en New York) in die suide en die Arktiese Oseaan in die noorde begrens.
Quebec is Kanada se grootste provinsie en beslaan 15,5 persent van die land se totale oppervlakte en sowat drie keer die oppervlakte van Frankryk. Die provinsie vorm 'n reusagtige landmassa, wat van die 45ste noordelike breedtegraad tot by die Arktiese See strek. Die grootste deel van die gebied, veral die noordelike gebiede van Nouveau-Québec, is egter yl bevolk. Meer as 90 persent van Quebec se oppervlakte lê binne die Kanadese Skild, 'n baie ou geologiese gebied, wat geskiedkundig ook as die Ungava-gewes bekend staan. Die Laurentides-gebergte noord van Montreal is die oudste bergreeks ter wêreld.
In die jare 1898 en 1912 besluit die Kanadese Parlement om die groot noordelike gebiede, Le Grand Nord Québécois, by die provinsie te voeg. 'n Groot deel van die noord-oostelike gebiede maak oorspronklik deel uit van die Noordwes-Territorium. Hierdie gebiede sluit ook die Jamesbaai in, waar sommige van die grootste Kanadese hidrokragsentrales teen die La Granderivier opgerig is. Hulle word deur die maatskappy Hydro-Québec beheer, 'n onderneming in besit van die provinsie.
Die gebied noord van die 55ste breedtegraad, Nunavik, is die tuisland van die Inuït.
Die Sint-Laurensrivier is die lewensaar van die provinsie. Langs die rivier lê die digbevolkte sentrale gedeelte van die povinsie met die stede Montreal en Quebecstad. Die Sint-Laurens verbind danksy die Sint-Laurenswaterweg sedert 1959 die Groot Mere tussen Kanada en die Verenigde State met die Atlantiese Oseaan. Naas die Sint-Laurens beskik Quebec met sy een miljoen mere en riviere oor enorme reserwes van varswater.
Klimaat duimnael|links|Goue herfskleure duimnael|'n Wintertoneel in Quebec: die windmeul van Pointe-Claire op Montreal-eiland Quebec kan in drie verskillende klimaatstreke verdeel word. Die suide en weste van die provinsie, waar die grootste deel van die bevolking gekonsentreer is, het 'n vogtige kontinentale klimaat met warm somers en lang, koue winters met sneeuval. Die belangrikste klimatiese invloede is lugmassas wat vanuit Wes- en Noord-Kanada in oostelike rigting en vanuit die suidelike en sentrale Verenigde State in noordelike rigting beweeg.
Vanweë die invloed van stormstelsels, wat hulle oorsprong in die sentrum van die Noord-Amerikaanse vasteland en in die Atlantiese Oseaangebied het, kom hoë neerslae dwarsdeur die jaar voor. Die meeste gebiede kry jaarliks meer as 1 000 millimeter, met sneeuvalle van meer as 300 sentimeter in baie streke. Uiterste weerstoestande soos tornado's en swaar donderbuie kom soms gedurende die somermaande voor.
Die meeste streke in die hartland van Quebec het 'n subarktiese klimaat. Die winters is hier lank, terwyl ook die laagste temperature in Oos-Kanada hier aangeteken word. Die somers is warm, maar baie kort vanweë die gebied se noordelike ligging en die groter invloed van Arktiese lugmassas. Afgesien van 'n aantal hoër geleë streke kry die sentrale gedeelte van Quebec ietwat minder neerslae as die suide.
Die noordelike geweste van Quebec word deur 'n Arktiese klimaat gekenmerk wat baie koue winters en kort koel somers behels. Die hoofsaaklike klimatiese invloede in hierdie gebied is die seestromings in die Arktiese Oseaan (soos die Labrador-stroming) en kontinentale lugmassas uit die hoë Arktiese noorde.
Bevolking duimnael|links|Franse setlaars moes hul voete in 'n geheel nuwe omgewing kom vind. Die koloniale boukuns is aangepas by die vereistes van Quebec se strawwe winters: Maison Morisset het in 1678 in Sainte-Famille, 'n nedersetting in die administratiewe streek Capitale-Nationale, ontstaan duimnael|Fêtes de la Nouvelle-France ("Nieu-Frankryk-fees") in Quebecstad duimnael|Die museumdorp Village Québécois d'Antan in Drummondville gee 'n indruk van die alledaagse lewe in 19de eeuse Quebec Die bevolking van die Province du Québec bestaan uit die afstammelinge van die Franssprekende en Engelssprekende setlaars en die Eerste Nasies (Premières Nations of Amerindians, veral Iroquois en Hurone, en Inuïete). Die Franssprekende bevolking van ses miljoen is merendeels afstammelinge van die oorspronklike Franse setlaarbevolking van sowat 10 000 siele. Alhoewel hulle 'n Noord-Amerikaanse leefstyl volg, word hul politieke kultuur en denke deur Europa bepaal.
Daarbenewens het immigrante van dwarsoor die wêreld hulle in Quebec gevestig. Sedert 1945 het 650 000 immigrante uit 80 lande 'n nuwe tuiste in Quebec gevind. 83% van die totale bevolking praat Frans, sowat 12% is Engelstalig. Daar is minderhede van Han-Sjinese, Portugees-, Grieks- en Italiaanstaliges. Die grootste deel van die Québécois leef langs die Fleuve Saint-Laurent (Saint-Laurentrivier).
Voor die aankoms van die Franse setlaars was die gebied van die huidige provinsie die tuiste van 'n aantal Indiaanse stamme – die Eerste Nasies. Die Provinsie Quebec erken vandag elf nasies op sy gebied – die Inuït, die Mohawks (Irokese of Iroquois), die Innus, die Cri's, die Algonkins, die Atikamekw, die Micmacs, die Hurone, die Abenaki's, die Malesiete en die Naskapi's.
Die elf stamme van die Eerste Nasies het vandag sowat 70 000 lede en streef daarna om hul eie taal en kultuur te bewaar. Die Iroquois en Hurone is albei lede van die Irokese taalfamilie. Die naam "Huroon" is afgelei van die eienaardige kapsels van die mans. Die Franse woord l'huire, wat eintlik die opgesette borstels van 'n vark beskryf, word tot "Huroon" vervorm.