Choefoe (Engels: Khufu, Grieks: Cheops) was die tweede Egiptiese farao van die 4de Dinastie tydens die eerste helfte van die Ou Ryk van Egipte (26ste eeu v.C.). Hy het sy pa of stiefpa, farao Snofroe, opgevolg. Daar word algemeen aanvaar hy het die Groot Piramide van Giza laat bou wat een van die Sewe Wonders van die Antieke Wêreld is, maar baie ander aspekte van sy bewind is swak aangeteken.Thomas Schneider. Lexikon der Pharaonen. Albatros, Düsseldorf 2002, , ble. 100–104Aidan Dodson. Monarchs of the Nile. American Univ in Cairo Press, 2000, , ble. 29–34

Die enigste heeltemal bewaarde portret van die koning is 'n klein ivoorbeeldjie wat in 1903 by Abudos ontdek is in die ruïne van 'n tempel uit 'n latere tydperk. Alle ander reliëfs en beelde is in fragmente ontdek, en baie van sy geboue het verlore gegaan. Alles wat van Choefoe bekend is, kom uit inskripsies in sy nekropolis by Giza en latere dokumente.

Choefoe se nekropolis en piramide is in die noordoostelike deel van die Gizaplato opgerig, dalk oor die gebrek aan bouruimte en die los gruis by Dahsjoer, waar Snofroe se drie piramides staan. Die klippe is buite glad gepoleer en het geblink. Binne is daar drie kamers: die begrafnis-, beeld- en 'n ondergrondse kamer. 'n Pad van sowat 'n 3/4 km verbind die dodetempel met die valleitempel. Die vorm en grootte van dié tempel is onbekend, want nie eens die fondament is oor nie. Aan die oostekant van die piramide lê die oostelike begraafplaas met die mastabas van prinse en prinsesse. Drie klein satellietpiramides van koninginne is ook daar opgerig. 'n Moontlike deel van Choefoe se begrafniskompleks is die Groot Sfinks, maar dis moeilik om te sê omdat geen perfek bewaarde portret van Choefoe bewaar gebly het om dit te vergelyk nie.

Die meeste dokumente wat koning Choefoe noem, is omstreeks 300 v.C. deur antieke Egiptiese en Griekse historici geskryf. Choefoe se doodsberigte is weersprekend: Terwyl die koning 'n lang kulturele erflating gehad het tydens die Ou en Nuwe Ryk, is die antieke Griekse historici Manetho, Diodorus en Herodotos se beskrywings van sy karakter baie negatief. Vanweë dié dokumente bestaan 'n obskure en kritiese beeld van Choefoe se karakter.

Choefoe se naam Choefoe se naam is opgedra aan die god Chnoem, wat kan dui op 'n toename in Chnoem se gewildheid en godsdienstige belangrikheid. Verskeie koninklike en godsdienstige titels uit dié tyd kan daarop dui dat Egiptiese farao's hulle goddelike oorsprong en status probeer beklemtoon het deur hulle cartouchename (amptelike koninklike name) aan sekere gode op te dra. Choefoe het homself dalk as 'n goddelike skepper beskou, 'n rol wat gegee is aan Chnoem, die god van die skepping en van groei. Choefoe se volle naam (Chnoem-choef) beteken "Chnoem beskerm my".Rosalie F. Baker, Charles F. Baker: Ancient Egyptians: People of the Pyramids (= Oxford Profiles Series). Oxford University Press, 2001, , page 33. Hoewel sy naam volgens moderne Egiptologiese uitspraak "Choefoe" was, is dit tydens sy bewind waarskynlik uitgespreek as Kha(w)yafwi(y), en tydens die Hellenistiese tydperk as Khewaf(w).Gundacker, Roman (2015) “The Chronology of the Third and Fourth Dynasties according to Manetho’s Aegyptiaca” in Towards a New History for the Egyptian Old Kingdom, bl. 114–115.

Die farao het amptelik twee weergawes van sy geboortenaam gebruik: Chnoem-choef en Choefoe. Die eerste, volle naam dui op Choefoe se godsdienstige lojaliteit jeens Chnoem, maar die tweede, korter naam nie. Dit is onbekend hoekom die koning die korter weergawe gebruik het. Dit kan wees dat die tweede naam nie aan enige god gekoppel moes wees nie.

Choefoe is goed bekend onder sy Hellenistiese naam Χέοψ (Kéops of Cheops) deur Diodorus en Herodotos, maar minder bekend onder sy ander Hellenistiese naam, Σοῦφις (Sóéfis), deur Manetho. Flavius Josephus het 'n skaars vorm van sy naam, Σόφε (Sófe), gebruik.Flavius Josephus, Folker Siegert: Über Die Ursprünglichkeit des Judentums (Contra Apionem), Volume 1, Flavius Josephus. From: Schriften Des Institutum Judaicum Delitzschianum, Westfalen Institutum Iudaicum Delitzschianum Münster). Vandenhoeck & Ruprecht, Göttingen 2008, , page 85.

Familie Choefoe se oorsprong duimnael|links|160px|Uitbeelding van Snofroe. Choefoe se koninklike familie was taamlik groot. Dit is onseker of hy Snofroe se biologiese seun was. Baie Egiptoloë glo so, maar bloot omdat dit tradisie was dat die oudste seun of ’n aangewese afstammeling die troon geërf het.

In 1925 is die grafkelder van koningin Heteferes I (G 7000x) oos van Choefoe se piramide ontdek. Daarin was verskeie inskripsies wat haar "moeder van ’n koning" (Moet-nesoet) noem, saam met die naam van farao Snofroe. Dit het dus aanvanklik gelyk of Heteferes die vrou van Snofroe was, en dat hulle Choefoe se ouers was. Daar word egter nou daaroor getwyfel omdat dit nie bekend is dat Heteferes die titel "vrou van die koning" (Hemet-nesoet) gehad het nie, en dit is noodsaaklik om haar status as koningin te staaf.Silke Roth. Die Königsmütter des Alten Ägypten von der Frühzeit bis zum Ende der 12. Dynastie (= Ägypten und Altes Testament 46). Harrassowitz, Wiesbaden 2001, , ble. 354 – 358 & 388

In plaas van die koningsvrou se titel, het sy die titel "biologiese dogter van ’n god" (Sat-netjer-chetef) gehad en dit laat navorsers dink Choefoe was dalk nie Snofroe se biologiese seun nie, maar dat Snofroe Choefoe se rang en familieposisie gewettig het met ’n huwelik en dat hy Choefoe se ma die titel dogter van ’n lewende god gegee het. Dié teorie word versterk deur die feit dat Choefoe se ma naby hom begrawe is en nie in die dodeakker van haar man, soos die gebruik was, nie.Porter, Bertha and Moss, Rosalind: Topographical Bibliography of Ancient Egyptian Hieroglyphic Texts, Statues, Reliefs and Paintings, Volume III: Memphis, Part I Abu Rawash to Abusir. 2de uitgawe

Stamboom Hier onder volg van die name van mense wat beslis familie van Choefoe was.Ouers:Aidan Dodson & Dyan Hilton: The Complete Royal Families of Ancient Egypt. Thames & Hudson, 2004, pp. 52–53 Snofroe: Waarskynlik sy pa, maar moontlik sy stiefpa. Beroemde farao en die bouer van drie piramides. Heteferes I: Heel waarskynlik sy ma. Vrou van farao Snofroe en bekend vir haar waardevolle grafgoedere wat by Giza ontdek is.

thumb|170px|Portret van prins Rahotep. thumb|170px|Stele van prinses Nefertiabet. Vroue: Meritites I: Eerste vrou van Choefoe. Henoetsen: Tweede vrou van Choefoe.

Broers en susters: Heteferes: Vrou van Anchaf Anchaf: Oudste broer. Sy neef sou later farao Chafra word. Nefermaat: Halfbroer. Rahotep: Oudste broer of halfbroer.

Seuns van Choefoe: Kawab: Waarkynlik die oudste seun en kroonprins, maar hy is voor Choefoe dood. Djedefre: Ook bekend as Radjedef en Ratoises. Was die eerste troonopvolger. Chafra: Waarskynlik die tweede troonopvolger. Djedefhor: Ook bekend as Hordjedef. Baoefra: Dalk 'n seun van Choefoe. Babaef I: Ook bekend as Chnoem-baef I Choefoechaf I: Ook bekend as Kaefchoefoe I Minchaf I Horbaef

Dogters:Grajetzki: Ancient Egyptian Queens: A Hieroglyphic Dictionary. Golden House Publications, London, 2005, Nefertiabet: Bekend vir haar mooi stele. Heteferes II: Vrou van prins Kawab, later getroud met farao Djedefre Meresanch II Meritites II: Getroud met Achetotep. Chamerernebti I: Vrou van farao Chafra en ma van Menkaoere

Bewind thumb|170px|'n Granietfragment met Choefoe se horusnaam, Medjedoe, daarop.

Lengte van sy bewind Dit is nog onduidelik hoe lank Choefoe oor Egipte regeer het, omdat historiese dokumente mekaar weerspreek en moderne bronne skaars is. Datums van sy laaste jare dui aan hy het amper sy 30ste herdenking bereik, maar dit dalk net-net misgeloop.

'n Inskripsie is in die Dakhla-oase in die Libiese Woestyn ontdek. Choefoe se serechnaam is in "Hor-Medjedoe" se 27ste jaar in 'n rots uitgegrawe.R. Kuper en F. Forster: Khufu's 'mefat' expeditions into the Libyan Desert. In: Egyptian Archaeology, vol. 23, Autumn 2003, bl. 25-28 Foto van die inskripsie

Verskeie papirusdokumente, bekend as die Dagboek van Merer, is by Choefoe se hawe by Wadi al-Jarf ondek. Daarin is die vervoer van kalksteenblokke van Toera na die Groot Piramide van Giza in die "jaar ná die 13de beestelling onder Hor-Medjedw" aangeteken.

Die laaste bekende datum van Choefoe se bewind hou verband met sy begrafnis. Vier graffiti uit 'n rots gekap aan die suidekant van die Groot Piramide vertel van die 28ste of 29ste bewindsjaar van Choefoe: die 14de sensus, maand 1 van die oesseisoen, sjemoe.

Volgens die Turynse Koningslys uit die 19de Dinastie het Choefoe 23 jaar lank regeer.Michael Haase: Eine Stätte für die Ewigkeit: der Pyramidenkomplex des Cheops aus baulicher, architektonischer und kulturgeschichtlicher Sicht. von Zabern, Mainz 2004, , p. 12-13. Volgens die historikus Herodotos was dit 50 jaar en volgens die antieke historikus Manetho 63 jaar. Dié laasgenoemde getalle word nou as oordrewe of 'n misverstand beskou.

Politieke bedrywighede Daar is net 'n paar verwysings na Choefoe se politieke bedrywighede in en buite Egipte. In Egipte word hy in verskeie inskripsies op geboue en standbeelde genoem. Choefoe se naam verskyn in inskripsies op die terrein Elkab en die eiland Elefantyn, en in steengroewe by Hatnoeb en Wadi Hammamat. By Saqqara is twee terracottabeeldjies van die godin Bastet ontdek waarop Choefoe se horusnaam op die voetstukke voorkom. Hulle is in die tyd van die Middelryk by Saqqara gelaat, maar hulle skepping kan na Choefoe se bewind teruggespeur word.Sakuji Yoshimura: Sakuji Yoshimura's Excavating in Egypt for 40 Years: Waseda University Expedition 1966–2006 – Project in celebration of the 125th Anniversary of Waseda University. Waseda University, Tokyo 2006, page 134–137, 223.

Wadi Maghareh thumb|220px|'n Tekening van Choefoe van die Wadi Maghareh.Karl Richard Lepsius: Denkmaler Abtheilung II Band III Aanlyn beskikbaar, sien ble. 2, 39

By Wadi Maghareh in Sinai is ’n rotsinskripsie wat Choefoe met die dubbelkroon uitbeeld. Hy het verskeie ekspedisies daarheen gestuur om turkoois- en kopermyne te vind. Nes ander konings wie se name ook daar in inskripsies voorkom, soos Sechemchet, Snofroe en Sahoere, was hy op soek na dié twee edelstowwe.James Henry Breasted: Ancient Records of Egypt: The first through the seventeenth dynasties. University of Illinois Press, New York 2001, , page 83–84.

Hy het ook kontak met die stad Bublos in Libanon gehad. Hy het verskeie ekspedisies daarheen gestuur in ’n poging om kopergereedskap en wapens te ruil vir waardevolle Libanese sederhout. Dié hout was nodig om groot, stabiele begrafnisbote te bou, en die bote in die Groot Piramide was inderdaad van dié hout gemaak.Toby A. H. Wilkinson: Early Dynastic Egypt: Strategies, Society and Security. Routledge, Londen 2001, , page 160–161.

Wadi al-Jarf Nuwe getuienis oor Choefoe se politieke bedrywighede is sowat 'n dekade gelede gevind op die plek van die antieke hawe Wadi al-Jarf aan die Rooiseekus oos van Egipte. Ná verskeie vroeëre pogings in 1823 en 1954 om daar uitgrawings te doen, het ’n span argeoloë onder leiding van die Franse Egiptoloë Pierre Tallét en Gregory Marouard in Junie 2011 weer opgrawings daar begin doen. Van die materiaal wat hulle in 2013 gevind het, was ’n versameling van honderde papirusfragmentePierre Tallet, Gregory Marouard: Wadi al-Jarf – An early pharaonic harbour on the Red Sea coast. In: Egyptian Archaeology, vol. 40, Cairo 2012, p. 40-43. van 4 500 jaar gelede. Die dokumente word tans in die Egiptiese Museum in Kaïro uitgestal.