Poësie (vanaf Grieks poiesis – – wat "maak" of "skep" beteken, meer spesifiek, die skep van poësie) of digkuns (vanaf Latyn "dictâre" – wat "om op te skryf" of "om saam te stel" beteken, in Middelnederlands "dichten" - "om te dig") is 'n literêre kunsvorm wat van estetiese en ritmiese eienskappe of vermoëns van 'n taal gebruik maak – soos eufonie, klanksimboliek en metrum – vir die vooropstelling van betekenisse addisioneel tot, of in die plek van, prosaïes ooglopende betekenisse.

Poësie het 'n lang geskiedenis en dateer terug na die Sumeriese Gilgamesjepos. Vroeë gedigte ontwikkel uit volksliedere soos die Sjinese boek van liedere, of uit die behoefte om mondelinge heldedigte oor te vertel, soos in die geval van die Sanskrit Vedas, Zoroastriese Gathas en die Homeroseposse die Ilias en Odussee. Pogings uit die oudheid om poësie te definieer, soos Aristoteles se Poëtica fokus op die gebruik van spraak in retoriek, drama, liedere en komedie. Latere pogings fokus op kenmerke soos herhaling, versvorm en rym, en lig die estetika uit wat poësie onderskei van meer objektiewe informatiewe prosaïese skryfvorme. Sedert die middel van die twintigste eeu is poësie meer algemeen beskou as 'n fundamentele kreatiewe daad in die aanwend van taal.

Poësie implementeer vorme en konvensies om verskillende interpretasies tot woorde voor te stel, of om emotiewe reaksies uit te lok. Stylmiddele of verdigtings soos assonansie, alliterasie, onomatopee en ritme word soms gebruik om 'n musikale of betowerende effek na vore te bring. Die gebruik van dubbelsinnigheid, simboliek, ironie en ander poëtiese stilistiese elemente laat 'n gedig dikwels oop vir veelvuldige interpretasies. Insgelyks skep metafore, vergelykings en metonimie 'n weerklank of resonansie tussen andersins ongelyksoortige beelde – 'n belaging van betekenisse wat skakels vorm tussen wat voorheen onwaarneembaar was. Verwante resonansievorme kan tussen versreëls, in hul rympatrone of ritme voorkom.

Sekere soorte poësie is spesifiek tot 'n kultuur en genre en is vatbaar vir die karakteristieke van die taal waarin die digter skryf. Lesers wat in die gewoonte is om digkuns met Dante, Goethe, Mickiewicz en Rumi te assosieer kan dit beskou as in versreëls geskryf gebaseer op rym en reëlmatige metrum; daar is egter tradisies soos Bybelse digkuns wat ander metodes gebruik om ritme en eufonie te skep. Heelwat moderne poësie weerspieël kritiek op poëtiese tradisie, en speel met, of toets, onder andere, die beginsels van eufonie self – soms sonder enige inagname van rym of vasgestelde ritme. Met die hedendaagse toenemend kleinerwordende wêreld, is digters geneig om vorme, style en tegnieke vanuit ander kulture en tale aan te pas.

Geskiedenis duimnael|upright|Aristoteles Poësie as kunsvorm gaan geletterdheid moontlik vooruit. Epiese digkuns van die Indiese Vedas (1700 – 1200 v.C.) en Zoroaster se Gathas tot die Odussee (800 – 675 v.C.) blyk asof dit saamgestel is in poëtiese formaat as hulpmiddel vir memorisering en mondelinge oordrag binne prehistoriese en antieke samelewings.. Ander stel voor dat poësie nie noodwendig skryfkuns vooraf gaan nie. Ander vorme van poësie ontwikkel regstreeks uit volksliedere. Die vroegste inskrywings uit die antieke geskrif Shijing is oorspronklik liedere en gaan latere inskrywings vooraf wat bedoel is om gelees te word. Die oudste oorblywende heldedig is die Gilgamesjepos uit Sumer (in Mesopotamië, nou Irak), wat dateer uit die 3de millennium v.C. en in wigskrif op kleitablette en later papirus geskryf is. Ander antieke heldedigte sluit die twee Griekse eposse, Ilias en Odussee in; asook die Oudbaktriese boeke, die Gathas en Yasna; die Romeinse nasionale epos, Vergillius se Aeneis; en die Indiese eposse Ramayana en Mahabharata.

Die pogings van denkers uit die oudheid om te bepaal wat poësie as vorm eiesoortig maak, en wat goeie van slegte poësie onderskei, loop uit op "poëtika" (digkunde) – die studie van die estetika van poësie. Sekere antieke poëtiese tradisies soos, kontekstueel, Klassieke Sjinese digkuns in die geval van die Shijing (Boek van liedere), beskryf die ontwikkeling van poëtiese kanons met rituele en estetiese belange. Meer onlangs worstel denkers daarmee om 'n definisie te kry wat die formele verskille omarm, selfs die so groot soos tussen Chaucer se Canterbury Tales en Matsuo Basho se Oku no Hosomichi, asook die konteksverskille wat strek vanaf Tenakse Bybelse poësie tot liefdespoësie en sover as kletsrym.

Westerse tradisies duimnael|links|80px|John Keats

Klassieke denkers maak gebruik van klassifikasie as 'n metode om die kwaliteit van poësie te definieer en assesseer. Dit is merkbaar dat die oorblywende fragmente van Aristoteles se Poëtika drie poësie-genres beskryf – die epiek, komedie en tragedie – en reëls ontwikkel het om tussen die hoogste-kwaliteit poësie in die onderskeie genres te onderskei, gebaseer op die onderliggende oogmerk van die genre. Latere estetici onderskei tussen drie belangrike genres: epiek, liriek en versdrama, en behandel komedie en tragedie as subgenres van versdrama.

Aristoteles se werk het gedurende die Islamitiese goue era regdeur die Midde-Ooste 'n groot invloed gehad, asook in Europa tydens die Renaissance. Latere digters en estetici onderskei dikwels poësie van, en definieer dit teenoor prosa, wat algemeen begryp is as skryfkuns met 'n neiging tot logiese ontwikkeling en 'n lineêre verhaalstruktuur. Kant argumenteer dat die wese van poësie as 'n selfbewuste abstrakte en skone vorm dit ophef tot die hoogste vlak onder die verbale kunste, met toon en musiek daarnaas, en dan eers daarna die meer logiese en verhalende prosa.

Dit impliseer nie dat poësie onlogies is of tekort skiet aan narratief nie, maar eerder dat poësie 'n poging is tot die aanbied van die skone of verhewe sonder die las van die logiese en narratiewe denkprosesse. Engelse romantiese digter John Keats noem hierdie ontsnapping van logika Negative Capability. Die romantiese benadering beskou vorm as 'n sleutelelement tot suksesvolle digkuns aangesien vorm abstrak is en apart lê van die onderliggende veronderstelde logika. Die benadering bly invloedryk tot in die 20ste eeu.

Tydens die tydperk is daar ook aansienlik meer interaksie tussen die onderskeie digterlike tradisies, deels as gevolg van die invloed via Europese kolonialisme en die gepaardgaande styging in wêreldhandel. Te same met 'n opbloei in vertaling is talle antieke werke in die romantiese tydperk herontdek.

Geskille in die20ste eeu duimnael|upright|Archibald MacLeish

Sommige 20ste-eeuse literatuurteoretici steun minder op die verskille tussen prosa en poësie en fokus eenvoudig op die digter as iemand wat skep deur taal, en op poësie as dit wat die digter skep. Die onderliggende konsep van die digter as skepper is nie so ongewoon nie en sekere modernistiese digters onderskei in essensie nie tussen die skep van 'n gedig met woorde en kreatiewe pogings in ander media nie. Ander moderniste daag egter weer die einste poging tot die definiëring van poësie uit as misleidend.

Die verwerping van tradisionele poëtiese vorme en strukture wat in die eerste helfte van die 20ste begin het, val saam met die bevraagtekening van die doel en betekenis van tradisionele definisies van digkuns en verskille tussen prosa en poësie, veral in die geval van poëtiese prosa en prosaïese poësie. Talle modernistiese digters skryf in nietradisionele vorme of in wat as tradisioneel as prosa beskou sal word, hoewel hulle skryfwerk gewoonlik besiel is met poëtiese diksie, en dikwels ook ritme en toon, wat vasgestel is deur nie-metriese metodes. Hoewel daar 'n beduidende formalistiese reaksie was binne die modernistiese skool tot die afbreek van struktuur, fokus die reaksie net soveel op die ontwikkeling van nuwe formele strukture en sintese as op die herlewing van ouer vorme en strukture.

Meer onlangs het postmodernisme begin om meer volledig prosa en poësie as unieke entiteite te beteken, en ook onder poësie-genres as om slegs betekenis te besit as kultuurvoorwerpe. Postmodernisme strek verby modernisme se klem op die kreatiewe rol van die digter, deur die rol van die leser van 'n teks (Hermeneutiek) uit te lig, en om die ingewikkelde kulturele web te beklemtoon waarbinne 'n gedig gelees word. Deesdae inkorporeer poësie dikwels wêreldwyd poëtiese vorm en diksie uit ander kulture en vanuit die verlede, wat pogings tot definiëring en klassifisering verder bemoeilik. Iets wat eens as verstandig beskou was binne 'n tradisie soos die Westerse kanon.

Elemente Prosodie Prosodie is die studie van metrum, ritme en intonasie van 'n gedig. Ritme en metrum verskil, hoewel dit nou verwant is. Metrum is die bepalende vasgelegde patroon van 'n vers (soos 'n jambiese pentameter), terwyl ritme die eintlike klank is wat volg uit 'n versreël. Prosodie kan gebruik word om meer spesifiek te verwys na die skandering van versreëls om metrum te toon.

Ritme duimnael|links|upright|Robinson Jeffers

Die metodes wat gebruik word om poëtiese ritme te verkry verskil tussen tale en digterlike tradisies. Tale word dikwels beskryf as in besit van tydmate wat eerstens vasgelê word deur aksente, sillabes en mora’s, afhangende van hoe ritme vasgestel word, hoewel 'n taal deur meer as een benadering beïnvloed kan word. Japannees is 'n mora-ritmiese taal. Lettergreep-ritmiese tale sluit Latyn, Katalaans, Frans, Leonees, Galicies en Spaans in. Engels, Russies, Nederlands, Afrikaans en grotendeels Duits is aksent-ritmiese tale. Wisselende intonasie beïnvloed ook hoe ritme waargeneem word. Tale kan steun op toonhoogte soos Vediese Sanskrit of Antieke Grieks, of op toon. Toontale sluit Sjinees, Viëtnamees, Litous, en meeste Niger-Kongo tale in.

Metriese ritme behels meer algemeen die presiese ordening van aksent of sillabe in herhalende patrone binne 'n versreël wat 'n versvoet genoem word. In moderne Engelse verse onderskei die patroon van aksente algemeen die versvoete, dus word ritme wat op metrum gebaseer is in tale soos moderne Engels en Afrikaans, meestal gevind in die patroon van swakker en sterker beklemtoonde sillabes (alleen of uitgelaat). Met die klassieke tale, aan die anderkant, is die metriese eenhede dieselfde maar vokaallengte bepaal die metrum eerder as wat aksente dit bepaal. Oudengelse digkuns maak gebruik van metriese ritme bepaal deur 'n wisselende aantal sillabes met 'n vaste aantal sterk aksente in elke versreël.

Die vernaamste stylfiguur van Hebreeuse Bybelse poësie, onder meer meeste van die psalms, is parallelisme, 'n retoriese struktuur waarin opeenvolgende versreëls mekaar weerspieël in grammatikale- of klankstruktuur asook veronderstelde inhoud, of al drie. Parallelisme leen homself tot antifoniese of roep-en-antwoord optredes, wat versterk kan word deur intonasie. Daarom steun Bybelse poësie minder op versvoete om ritme te bewerkstellig, maar skep eerder ritme deur die groter klankeenhede van versreëls, frases en sinne. Sekere klassieke poësievorme, soos Venpa uit Tamil, besit rigiede grammatika (tot die punt waar dit as konteksvrye grammatika uitgedruk kan word) wat ritme waarborg. In die geval van Sjinese poësie skep toon asook aksente die ritme. Klassieke Sjinese poëtika identifiseer vier tone: die gelyke toon, stygende toon, vertrekkende toon en inkomende toon.

Die formele patrone van metrum wat in moderne Engels gebruik word om ritme te bewerkstellig domineer glad nie meer kontemporêre Engelse poësie nie. In die geval van vrye vers word ritme dikwels gerangskik volgens losser eenhede van kadans eerder as reëlmatige metrum. Robinson Jeffers, Marianne Moore en William Carlos Williams is drie belangrike digters wat die idee verwerp het dat reëlmatige geaksentueerde metrum kritiek is tot Engelse poësie. Jeffers eksperimenteer met geveerde ritme as 'n alternatief tot geaksentueerde ritme.

Metrum