Bartholomeus Jacobus "Bartho" Smit (1924–1986) was 'n Afrikaanse skrywer, digter, dramaturg, regisseur en een van die sogenaamde Sestigers.Biografiese inligting op nb.co.za , besoek op 15 Julie 2014 Hy is oor sy lewe met 'n Hertzogprys, Perskorprys en 'n Encyclopaedia Britannica Award bekroon.
Hy het ook onder die skuilnaam Herman Smal geskryf.
Lewe en werk
Vroeë lewe en herkoms Bartholomeus Jacobus Smit is op 15 Julie 1924 op Klerkskraal langs die Mooirivier in die distrik Potchefstroom gebore as seun van ’n polisiesersant.Esat: http://esat.sun.ac.za/index.php/Bartho_Smit> Sy ouers is Hermanus Johannes Smit en Gerta Jacoba Christina Smal. Hy is die middelste van drie kinders en het ’n ouer suster Stienie en ’n jonger broer Pieter (Petrus JohannesMy Heritage: https://www.myheritage.com/names/bartholomeus_smit>). As gevolg van die vader se werk verhuis hulle baie. Van Klerkskraal trek hulle Delareyville toe en daarvandaan na Kliprivier, dan Heidelberg en eindelik Standerton in die Oos-Transvaalse Hoëveld, waar hy sy hoërskooljare deurbring en matrikuleer. In standerd ses doen hy rumatiekkoors op, wat veroorsaak dat hy feitlik ’n hele jaar nie kan skoolgaan nie. As jong seun is sy begeerte om ’n beroepsbokser te word en hy is ook ’n kranige atleet wat die junior Suid-Afrikaanse kampioen is in paalspring en werpskyf.
Sy eerste kortverhale en gedigte word reeds op skool in tydskrifte gepubliseer, terwyl hy reeds in standerd agt ook sy eie toneelvereniging stig, wat sy eie verwerking van ’n roman van J.H.H. de Waal opvoer. Op skool begin hy ook met beeldhouwerk en maak ’n beeld van Langenhoven, maar by finale afronding breek ’n stukkie van Langenhoven se snor af, waarna hy die beeld stukkend kap en nie weer beeldhouwerk doen nie.
Opleiding en begin van loopbaan Vanaf 1944 studeer hy aan die Universiteit van Pretoria waar hy in 1947 die B.A.-graad verwerf. Op universiteit stig hy ook sy eie toneelvereniging en voer stukke op wat hy self skryf, onder andere ’n vroeë weergawe van “Moeder Hanna”, wat op hierdie stadium nog hoofsaaklik gebaseer was op Mère sauvage, ’n kortverhaal van Guy de Maupassant.
Sedert Augustus 1946 is hy verbonde aan die redaksie van Die Vaderland, waar hy om die beurt algemene versalggewer, hofverslaggewer, subredakteur en resensent vir die teater, kuns en musiek is. Hy bly in hierdie tyd vir ’n ruk in Brixton, waar hy vir sowat ses maande ’n kamer met Jan Rabie deel en ook gereeld kontak het met Peter Blum.
Op 29 Januarie 1949 trou hy met Kita Redelinghuys, toe nog onderwyseres maar late baie bekend as toneelspeelster. Hierdie huwelik is kinderloos.
Deur buitemuurse studie verwerf hy die M.A.-graad in 1951 aan die Universiteit van Pretoria en skryf hom dan by die Universiteit van Stellenbosch in vir ’n doktorsgraad.
Na die buiteland Hy besluit om oorsee te gaan navorsing doen vir sy proefskrif oor die krisis in die mens se werklikheidsbeeld soos uitgebeeld in drama en epiek, wat hy uiteindelik nie voltooi nie. Op 26 Desember 1952 vertrek hy met die Carnarvon Castle na Europa, waar hy aan die Sorbonne in Parys, Frankryk verder studeer in die hedendaagse letterkunde en wysbegeerte, maar nie sy doktorale graadkursus voltooi nie.
Binne enkele maande leer hy Frans praat en skryf, wat vir hom ’n wonderlike kultuurwêreld oopsluit. In Parys knoop hy ’n hegte vriendskap aan met Jan Rabie en Marjorie Wallace, wat daardie tyd in Parys woonagtig is. Verskeie Afrikaners besoek in hierdie jare Parys en so ontmoet hy vir Uys Krige, Etienne Leroux, Jannie Coetzee, Elsa Joubert en Anna Neethling-Pohl. Hier het hy ook kontak met die Nederlandse Vijftigers, waaronder Lucebert, Gerrit Kouwenaar, Hugo Claus, Simon Vinkenoog en Rudy Kousbroek.
Hy en Kita gaan in Desember 1954 vir ’n reis deur Brittanje. Voor sy vertrek gee hy sy bruin pak klere vir Jan Rabie sodat dié op 4 Januarie 1955 met Marjorie Wallace kan trou. Sy jonger broer Pieter en ses weke later sy pa is beide oorlede terwyl hy in Londen is, maar dit is nie vir hom moontlik om die begrafnisse by te woon nie. Sy moeder is in 1964 oorlede.
Vanaf Julie 1955 tot aan die einde van 1956 studeer hy in München in Duitsland. Hier werk hy onder andere ook as ’n leerlingregisseur by die Kammerspiele. Sy bestaan in Europa verdien hy as buitelandse korrespondent vir Dagbreek en Sondagnuus. Daarna bring hy tyd deur in Londen, waar hy verder studeer in die filosofie, voordat hy in Julie 1957 terugkeer na Suid-Afrika.
Terugkeer na Suid-Afrika Terug in Suid-Afrika is hy kunsredakteur van Dagbreek en Sondagnuus, terwyl hy in sy vakansies regiewerk doen vir opvoerings van die Nasionale Toneelorganisasie. Hy is ook per geleentheid beoordelaar vir die jaarlikse FATSA-toneelkompetisie. Die eerste regie wat hy doen is vroeg in 1959 vir die opvoering van Moeder Hanna. Met die samesmelting van Dagbreekpers en die ou Afrikaanse Pers word hy vanaf Julie 1962 aangestel as hoof van algemene publikasies by die nuwe maatskappy, Afrikaanse Pers (1962) Beperk (later Perskor). In hierdie pos is hy ’n belangrike rolspeler wat kontroversiële werke publiseer waarvoor geen ander uitgewer van daardie tyd kans sien nie, soos Breyten Breytenbach se Die ysterkoei moet sweet, Ingrid Jonker se Rook en oker, Adam Small se Sê sjibbolet en Jan Rabie se Mens-alleen. Hierdie standpunt bring hom in botsing met sy werkgewers, wat hom byvoorbeeld verbied om André P. Brink se Orgie uit te gee, nadat die setwerk reeds gedoen is.
Mondstuk vir 'n nuwe geslag skrywers Hy is in die vroeë sestigerjare die dryfveer agter die oprig van ’n mondstuk vir die nuwe geslag skrywers en lei die onderhandelings met Abel Coetzee, destyds redakteur van Tydskrif vir Letterkunde, om hierdie tydskrif as mondstuk te gebruik. Bartho is dan ook hulpredakteur van die letterkundige tydskrif 60, wat slegs een keer verskyn as ’n vernuwing van Tydskrif vir Letterkunde en daarna weens politieke druk sneuwel. Daar is dreigemente dat die tydskrif sy subsidie sal verloor as dit nie onmiddellik die vernuwing staak nie en Afrikaanse Pers, wat die tydskrif gedruk het, vernietig alle eksemplare wat nie reeds uitgestuur is nie. Bartho word ook vertroulik ingelig dat sy rol in die publikasie daarvoor gesorg het dat die Veiligheidspolisie ’n lêer vir hom geopen het. Hierna is hy grootliks verantwoordelik vir die stigting van die tydskrif Sestiger. Weens sy werk by die Afrikaanse Pers en die teenkanting van sy konserwatiewe base kan hy nie amptelik op die redaksie van hierdie tydskrif dien nie en is dan die ondergrondse redakteur van die eerste paar uitgawes voor hy die redakteurskap oordra aan André P. Brink. Later is Bartho ook redakteur van Kol en speel met hierdie bedrywighede ’n belangrike rol in die vestiging van die Sestiger-beweging in ons letterkunde.
In die begin van 1964 word hy bevorder tot Bestuurder van die Algemene Boekhandel van Afrikaanse Pers en hy stel vir Chris Barnard onder hom aan as uitgewer van letterkundige publikasies. Die voortdurende politieke druk waaronder hy moet funksioneer in ’n maatskappy waarvan dr. Hendrik Verwoerd die voorsitter was, veroorsaak egter dat hy in 1968 bedank. Hierna skryf hy voltyds en behartig die Afrikaanse Pers Boekhandel se boekklubs op ’n vryskutbasis. In 1974 tree hy weer voltyds in diens van Perskor as uitgewer van letterkundige publikasies en bly in hierdie posisie tot met sy aftrede aan die einde van Julie 1983.
Hy speel veral ’n beduidende rol in die tydperk van streng sensuur. In 1973 kry hy saam met Chris Barnard, Ampie Coetzee en John Miles beheer van die Johannesburgse tak van die Afrikaanse Skrywerskring. Met die verbod op André P. Brink se Kennis van die aand vroeg in 1974 stig hulle ’n fonds vir die verdediging van die boek en reik sterk bewoorde verklarings oor die aangeleentheid uit. Wanneer die ander lede beswaar aanteken teen hulle standpunte, bedank hulle. Die begeerte van die jonger skrywers om ook ’n meer doelgerigte skrywersliggaam te hê word dan in 1975 ’n werklikheid met die stigting van die Afrikaanse Skrywersgilde, met Bartho as die eerste voorsitter.
Persoonlike lewe Na hulle terugkeer van oorsee in 1957 bly hy en sy vrou aanvanklik vanaf 1959 vir sowat nege jaar in ’n woonstel in Westcliff en trek daarna vir sowat elf jaar na Kilkennyweg 46 in Parkview. In 1978 verhuis hulle na ’n skakelhuis in Melville. Hy tree in Augustus 1983 af. Vroeg in die jare tagtig begin sy gesondheid agteruitgaan en sy sig word sodanig aangetas dat hy operasies aan albei oë moet ondergaan.Korrespondent “Bartho Smit ernstig siek” “Die Burger” 31 Desember 1986
Hy is op 31 Desember 1986 in sy huis in Melville weens longkanker oorledeKorrespondent “Bartho Smit aanstaande week begrawe” “Die Burger” 3 Januarie 1987Gomes, Lucia “Skrywers in rou oor Smit” “Rapport” 4 Januarie 1987Barnard, Chris “Die gordyn het gesak…” “Rapport” 4 Januarie 1987 en sy vrou Kita is in 1994 aan hartversaking oorlede.
Skryfwerk
Poësie Reeds op skool word ’n prosaskets van hom in Naweek geplaas (Outa Lukas, die natuurkind op 27 Maart 1941) en van sy gedigte word ook gepubliseer, terwyl hy in standerd agt sy eie toneelvereniging stig. In die veertigerjare publiseer hy verhale en gedigte in Die Ruiter, Die Brandwag en Die Huisgenoot.
As digter word van sy gedigte in 1946 deur D.J. Opperman en Fred le Roux in die aanmoedigingsbundel Stiebeuel opgeneem.Louw, W.E.G. “Van die stiebeuel in die saal” “Standpunte” Jaargang 2, no. 1, 1946Van Heerden, Ernst “Rekenskap” Tafelberg-Uitgewers Bpk. Kaapstad Eerste uitgawe Tweede druk 1971
Hierna debuteer hy in 1949 met die digbundel Mure, wat verse bevat wat grootliks in sy hoërskool- en studentedae geskryf is. Die gedigte staan nog sterk onder die invloed van die Dertigers en skiet veral tekort in die woordkeuse en ooraanbod van woorde soos “stort”, “bleek”, “teer” en “helder”, wat die inhoud verduister eerder as belig. Die hoofmotief van hierdie bundel is die pyn van eensaamheid, waaruit die vrou en die gemeenskap met haar slegs tydelike, maar belangrike, ontsnapping bied. Die mure, soos in die titel, simboliseer die afskeiding en eensaamheid van die mens. Bevryding kom slegs na die dood wanneer die mens God leer ken en een word met alle dinge in die ewigheid. Die bundel bestaan uit ’n voorspel en vier afdelings waarin die “mure”-tema in afdelings een en vier oorheers.Antonissen, Rob “Standpunte” No. 21, Oktober 1951
Hoewel hy nie hierna weer ’n digbundel publiseer nie, skryf hy steeds gedigte waarvan sommige in Standpunte, Sestiger en Kol gepubliseer is.
Van sy gedigte word ook in versamelbundels opgeneem, insluitende Die Afrikaanse poësie in ’n duisend en enkele gedigte, Junior verseboek en Uit ons digkuns.
Drama Bartho Smit was by uitstek die dramaturg wat vernuwing gebring het in die Afrikaanse drama. Hy poog om die moontlikhede van die verhoog optimaal te benut en om die boodskap so aan te bied dat dit op geen ander wyse en ander kunsvorm so effektief sou gewees het nie. Sy dramas spreek ook deurentyd aktuele vraagstukke aan en hy het nie geskroom om omstrede temas aan te roer nie. Sy dramas is derhalwe gereeld getref deur ’n verbod van een of ander aard.
Don Juan onder die Boere is in 1959 gekies deur die Nasionale Toneelorganisasie (NTO) vir die opening van die Bloemfonteinse Stadskouburg, maar is vanweë die verset van die stadsvaders afgestel. Geen redes is verskaf nie, maar die verbod was vermoedelik vanweë die “ontmanningstoneel”. Die studente van die Universiteit van Pretoria, onder leiding van Chris Barnard, doen egter daarna in 1960 ’n opvoering van die stuk, waarmee hulle ook deur die platteland toer.Antonissen, Rob “Standpunte” Nuwe reeks 34, April 1961Antonissen, Rob “Kern en tooi” Nasou Beperk Eerste uitgawe Eerste druk Elsiesrivier 1963