Ds. Carl Arnoldus Bamberger (Kaapstad, 22 November 1822 – Kaapstad, 21 April 1892) was 'n predikant in die Nederduitse Gereformeerde Kerk en die eerste leraar van die NG gemeente Fraserburg, wat hy 28 jaar lank bedien het van 1854 tot 1882.
Ds. Bamberger se dienstermyn is van groot belang vir die dorp en gemeente Fraserburg omdat hy amper drie dekades aan die hoof van die gemeente gestaan het en in 'n groot mate die fondamentlêer van kerklike, maatskaplike en opvoedkunidge instellings was en dit bestendig het wat later as tradisie erken en bestempel is. Daar word algemeen aanvaar ds. Bamberger was van Duitse herkoms. Hiervan en van sy kinderjare is blykbaar niks meer bekend nie. Hy het nie Nederlands of destydse Afrikaans met Duitse of Nederlandse aksent gepraat nie, hoewel hy in Europa studeer het, maar "hy het net soos ons Afrikaans gepraat", het 'n ou grysaard en lidmaat van die gemeente wat by hom gedoop is en hom baie jare van naby geken het, omstreeks 1950 verklaar. Hierdie getuienis is gestaaf deur die weduwee Anna Wilhelmina Erasmus (gebore Hugo) tydens die honderdjarige bestaansvieringe waarskynlik die gemeente se oudste lidmaat. Haar moeder was 'n suster van ds. Bamberger en sy self het op sewentienjarige ouderdom lidmaat by hom geword.
Volgens oorlewering was Bamberger 'n groot, breë en frisgeboude man. Hy het deurgegaan vir 'n man met buitengewone opleiding, of soos mense destyds gesê het: "Hy was 'n man van groot geleerdheid." Wat geaardheid betref, was hy nie iemand wat toenadering aangemoedig het nie — miskien onbewus — al sou hy dan nie, soos te kenne gegee word, van hovaardigheid verwyt kon word nie. 'n Ou lidmaat, wat nog gelewe het met die eeufeesviering, het hom beskryf hom as "'n man wat 'n baie heerskappyvoerende houding ingeneem het". Van hom as prediker kan met sekerheid gesê word dat hy moeilik tot die diepste behoeftes van sy kudde deurgedring het. Hy kon hulle hart moeilik raak; daarom het hy en sy kerkraad dikwels in godsdiensstate gekla oor gebrek aan vrug op die prediking van die evangelie. Deurdat hy baie geleerd was, was dit miskien vir hom moeilik om tot die eenvoudige geloofsbegrippe van die pioniersgeslag deur te dring. Aan sy opregtheid en roepingsgevoel was daar egter nie die minste te twyfel nie.
Ds. Bamberger se vrou, Susanna Francisca Theodora D'Heil (Bad Kreuznach, Rynland-Palts, 4 Oktober 1823 – Ceres, 9 Julie 1904) was 'n Duitse meisie met wie hy kennis gemaak het terwyl hy op die vasteland studeer het. Van die predikantsvrou is gesê dat sy "dierbaar" was. Sy kon ook goed Nederlands en Engels praat, hoewel Duits haar moedertaal was. Uit hulle huwelik is drie dogters gebore. Die oudste, Jacobine Johanna Josephine, was getroud met ds. Radloff van die NG gemeente Bloemfontein. Die tweede, Isabella Alida Anna, was getroud met die heer Cormack wat 'n sakeonderneming op Fraserburg bedryf het, terwyl die derde, Aletta Sophia D'Heil, met mnr. Gracie, die bankbestuurder, getroud was.
Op 10 Julie 1882 het die kerkraad sy akte van demissie geteken nadat hy die beste gedeelte van drie dekades in die gemeente Fraserburg gearbei het. Op 21 April 1892 is hy oorlede en lê begrawe op Stellenbosch. "Afgesien van die geestelike werk waartoe hy hier was, was hy die grondlêer van die dorp, die saal, die pastorie en die kerk. Almal staan nog ewe vas!" Met dié woorde het iemand, wat die werk en sorge van 'n dienskneg van die Heer kon waardeer, 'n paar opmerkings oor ds. Carel Bamberger se lewe afgesluit, waarskynlik in die Jaarboek van die NG Kerk, hoewel dit nie in die bron vermeld word nie.
Die eerste gedeelte van sy dienstermyn duimnael|320px|regs|Fraserburg se eerste kerkgebou is in 1852 opgerig en in 1966 gesloop. In dié kerk het ds. Bamberger die Woord bedien van 1854 tot 1868.
duimnael|links|200px|Ds. Bamberger was konsulent van die naburige gemeente Sutherland van 1858 tot 1868. Dié foto is in daardie tyd geneem.
duimnael|regs|230px|Die tweede kerkgebou is op 8 September 1868 ingewy en vanaf Maandagoggend 15 Augustus 1955 gesloop om plek te maak vir die huidige kerkgebou.
Ds. Bamberger is op 8 Oktober 1854 "in syn gewigtig ambt als Leeraar van Fraserburgh voorgesteld en ingehuldigd". Dieselfde dag nog neem hy die boeke en papiere in ontvangs ooreenkomstig artikel 202. Die konsulent, ds. Fraser, het aangemerk dat, aangesien dit 'n nuwe gemeente is, daar geen behoorlike doop-, lidmaat- of huweliksregisters was nie. Die nuwe predikant het dadelik met sy werksaamhede van meer permanente aard begin.
Daar was in die eerste instansie geen behoorlike woning vir die leraar nie. Op 'n vergadering gehou op 6 November 1854 is die saak deur die kerkraad bespreek en het hulle besluit om van ouderling G.J. Meyburgh 'n huis te huur as verblyfplek vir die pastoriegesin tot 'n behoorlike pastorie gebou kon word. Dit sou die kerkraad 120 riksdalers per jaar kos. Ses maande hierna was die kerkraad besig om 'n geskikte stuk grond aan te wys ten einde 'n pastorie daarop te bou. Ná lang en deeglike oorweging "besloot men twee natte erven annex de tegenwoordige Kerkgebou No. 21 en 23 met de droge erf No. 22 daartoe te bepalen" vir pastorietuin en pastoriegebou onderskeidelik. Die raad het ook besluit om die tuinerwe te ommuur. Binne nog drie maande is daar reeds 'n behoorlike kontrak met die bouaannemer H. Burnett opgetrek. Hy sou die gebou teen die bedrag van £1 100 voltooi. Daar is ook gespesifiseer dat hy honderd geelhoutplanke vir die gebou moes gebruik. Die Kerkraad moes die kontrakteur £300 gee met sy aankoms hier en met die aanvang van die werk. In Desember het hy weer £200 tot voortsetting van die bou van die pastorie ontvang.
Ses maande later het die kerkraad besluit om 'n kollekte te hou om die skuld op die gebou te delg nadat dit klaar en in gebruik geneem was. Aan hierdie gebou is in later jare talle veranderinge aangebring. Onder meer is die lokaal wat as studeerkamer gebruik is, later bygevoeg. Volgens oorlewering is dit sonder 'n binnedeur vir direkte deurgang na die woongedeelte aangebou omdat die destydse predikantsvrou 'n soort hedendaagse Xantippe was, en die liewe dominee dit gerade geag het om die les van die kwaad wat vermy moet word, op homself van toepassing te maak en dus 'n ongeskonde muur tussen hom en sodanige kwaad te hou, aldus D.A. Kotzé in die gemeente se eeufees-gedenkboek. Later is daar wel 'n binnedeur gebou. Die veranda, wat tydens restourasie verwyder is, is eers in die 20sdte eeu aangebring. 'n Uitsonderlike kenmerk van dié gebou is dat vier van die binnemure gerond is. Die gemeente het omstreeks die sestigerjare 'n nuwe pastorie by Rowanstraat 4 aangekoop. Die ou pastorie dien nou as dorpsmuseum en huisves onder meer 'n fossieluitstalling en enkele items uit die tweede kerk soos die kanselkleed.
Op 14 April 1862 het die leraar die Kerkraad versoek om die pastorie te verseker "doch de meerderheid stemt er teegen". Op dieselfde vergadering is besluit dat 'n put in die pastorietuin gemaak sou word. Die nuwe leraar het die bedanking van die voorleser Abraham Pieter Echard op 9 Julie 1855 aan die raad voorgelê. Voorlopig is niks aan die saak gedoen nie. Eers ses maande later oorweeg die kollegie van kerkrade sekere aansoeke om die voorleserspos. Die raad besluit dat dit gerade sou wees om persoonlike onderhoude met die applikante te voer. Briewe is toe aan hulle geskrywe. Daar is egter nie weer van hulle verneem nie. En presies 'n jaar later behandel die kerkraad 'n skrywe van ene Hoffman wat aansoek gedoen het om die voorleserspos. Hulle besluit dat dié man hulle te onbekend is, en dat hulle hom onmoontlik ter goedertrou kon aanneem. Die dominee kon hom egter nie weerhou van te kla nie dat hy beswaarlik ook die werke en poste van koster en voorleser kon behartig. Hy het gevra dat 'n diaken aangewys word om hom by te staan. Die raad het blykbaar nie gewaag om uit eie geledere 'n keuse te maak nie, en die leraar mooi versoek om nog 'n tydjie voort te sukkel, want hopelik was die uitkoms nie meer veraf nie. Die aandrang van ds. Bamberger by die raad op die aanstelling van 'n voorleser is goed te begryp. Hy het die onderwys en opvoeding van sy gemeente op die hart gedra. Hy het gewet watter behoefte die allergrootste van die baie behoeftes was. Hy het ook goed besef waar hy moes begin om uiteindelik sy gemeentelike akker ten beste voor te berei op ontvangs van die suiwerste geestelike saad. Hy was bewus van die feit dat kennis en wysheid beter as korale is. Daarom wou hy van die kerkraad weet "hoe hy te handelen heeft met het school", want tot dusver is bloedweinig aan die onderwys van kinders in die gemeente gedoen. 'n Hand vol bruin kinders het onderrig ontvang in die kerkgebou agter die banke of liewer stoele. Dit was al. So het dit gebly tot die begin van die sestigerjare van die 19de eeu.
In Desember 1860 het die kerkraad die aansoek, om die betrekking as onderwyser van die heer A. Strobos behandel. Hy was voorheen voorleser van die gemeente Zwartland op Malmesbury en het sy dienste hier aangebied as voorleser, koster, voorsinger en onderwyser. Die raad het besluit om hom aan te stel teen £130 per jaar. Sowat 'n maand hierna het die kerkraad spesiaal vergader om "over de school en onderwyzer te raadplegen". Die vergadering is bygewoon deur ouderling F.A. Smit, diakens C.J. Immelman, C.F. Marais, O. van Sckalkwyk en die leeraar. Belangrike besluite is geneem wat die grondslag gevorm het van die skoolwese vir minstens die daaropvolgende 15 jaar, dit wil sê tot die oprigting van die eerste publieke skool in 1874.
Die tweede kerk duimnael|230px|regs|'n Geraamde foto van die binneruim van die tweede kerk hang in die museum wat gehuisves word in die Ou Pastorie, waarvan ds. Bamberger en sy gesin die eerste bewoners was. Die orrel het eers op die galery by die toring gestaan (aand ie suidekant van die gebou), maar is later op 'n stellasie oorgeskuif na die nuwe galery agter die preekstoel (aan die noordekant).
duimnael|links|200px|O.G. van Schalkwyk van die plaas Gansfontein was met onderbrekings ouderling van Fraserburg van 1860 tot 1890 en het ook in die boukommissie van die tweede kerk gedien. Sy vrou se naam word nie vermeld nie.
In 1861 was die skuld op die kerkgebou van die gemeente nog nie alles vereffen nie. Met die eerste Nagmaalsviering in genoemde jaar, so besluit die kerkraad, sou aan die gemeente bekendgemaak word hoeveel skuld daar nog was en die Raad "sou dan er op aandringe voor de afbetaling". Nieteenstaande hierdie toedrag van sake was die predikant en kerkraad nie tevrede met die gebou nie omdat dit geensins vir die behoeftes van die gemeente toereikend was nie. Buitendien is die kerkie gebou as 'n tydelike noodhulp, die raad het dit self bestempel en beskou as "provisioneel". Daarom is daar nou reeds sprake van 'n nuwe kerk.
In die ringsverslag van 1860 verklaar die Kerkraad dat die kerkgebou, veral by geleentheid van die avondmaal, die gemeente nie kan bevat nie "en er behoefte aan een ruimen Kerkgebouw gevoeld wordt." Die Raad het dan onder aanvoerderskap van die leraar van nou af nie gras onder hulle voete laat groei nie. Daar is tenders uitgeskryf vir die bou van 'n nuwe kerk. Reeds op 2 Julie 1865 behandel die kerkraad die tenders. Daar was die tenders van A. Cormack, Lamb en Broers, Hand en Fischer en die van Burnett voor die raad. Aangesien hulle almal na die smaak van die raad te hoog was, besluit die raad om opnuut tenders te vra. Hierdie keer het hulle besluit om af te sien van die oorspronklik beoogde plankvloer. Dit kom neer op aansienlike besparing. Van verskeie planne het die raad ook finaal die sogenaamde "toornplan" gekies. Hierdie keer moes die tenders op 16 September in wees.