’n Geestesteuring of geestesversteuring, ook onder baie ander name bekend, van sielsiekte tot geestesongesteldheid, is ’n geestelike gedragspatroon of aandoening wat lei tot óf lyding óf ’n mindere vermoë om in die alledaagse lewe te funksioneer, en wat nie as "normaal" beskou word wat betref persoonlikheidsontwikkeling of sosiale aanvaarbaarheid nie. Geestesteurings word gewoonlik gedefinieer deur ’n kombinasie van hoe ’n persoon voel, optree, dink of dinge waarneem. Dit kan verbind word met sekere streke of funksies van die brein of die res van die senustelsel, gewoonlik in ’n sosiale konteks. Geestesteurings is een aspek van geestesgesondheid. Die wetenskaplike studie daarvan word psigopatologie genoem.

Die oorsake van geestesteurings is uiteenlopend en in sommige gevalle onduidelik, en teorieë kan bevindinge van ’n verskeidenheid terreine insluit. Dienste word in psigiatriese hospitale of as deel van gemeenskapsdienste aangetref en ondersoeke word gedoen deur psigiaters, kliniese sielkundiges en kliniese maatskaplike werkers met die gebruik van verskeie metodes soos veral waarneming en ondervraging. Behandelings word verskaf deur verskeie professionele geestesgesondheidswerkers. Psigoterapie en medikasie is twee belangrike behandelingsopsies, asook maatskaplike ingryping, steun deur vriende en familie, en selfhelp. In ’n minderheid gevalle kan daar ook onvrywillige opneming in ’n instelling of onvrywillige behandeling wees as die reg dit toelaat. ’n Stigma en diskriminasie kan bydra tot die lyding en beperkings wat met geestesteurings verbind word, daarom is daar verskeie sosiale bewegings wat ’n begrip daarvoor aanwakker. Voorkoming is nou deel van sommige gesondheidstrategieë.

Klassifikasie Die definisie en klassifikasie van geestesteurings is ’n sleutelkwessie vir navorsers en diensverskaffers, asook vir dié wat daarmee gediagnoseer word. Vir ’n geestestoestand om as ’n steuring geklassifiseer te word, moet dit gewoonlik ’n disfunksie veroorsaak.

Daar is tans twee algemeen gevestigde stelsels wat geestesteurings klassifiseer: Hoofstuk V van die Internasionale Statistiese Klassifikasie van Siektes en Verwante Gesondheidsprobleme (huidige uitgawe ICD-10), sedert 1949 deel van die internasionale klassifikasie van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO), Die Diagnostiese en Statistiese Handleiding van Geestesteurings (tans DSM-5), wat sedert 1952 deur die Amerikaanse Psigiatriese Vereniging (APA) opgestel word.

Albei lys kategorieë van steurings en verskaf gestandaardiseerde kriteria vir diagnose. Die twee handleidings se kodes is in onlangse hersienings by mekaar aangepas sodat maklike vergelykings moontlik is, hoewel daar steeds aansienlike verskille is. Ander klassifikasies word soms in nie-Westerse beskawings gebruik, soos die Chinese Klassifikasie van Geestesteurings, en ander gidse bestaan vir alternatiewe terreine, soos die Psigodinamiese Diagnostiese Handleiding. In die algemeen word geestesteurings apart geklassifiseer van neurologiese steurings, leerprobleme en intellektuele aandoenings.

Soorte steurings Daar is baie verskillende kategorieë geestesteurings en baie verskillende fasette van menslike gedrag en persoonlikhede wat ’n steuring kan word.Gazzaniga, M.S., & Heatherton, T.F. (2006). Psychological Science. New York: W.W. Norton & Company, Inc.WebMD Inc (1 Julie 2005). Mental Health: Types of Mental Illness. Besoek op 19 April 2007, by http://www.webmd.com/mental-health/mental-health-types-illnessUnited States Department of Health & Human Services. (1999). Overview of Mental Illness. Besoek op 19 April 2007NIMH (2005) Teacher's Guide: Information about Mental Illness and the Brain Curriculum byvoegsel tot The NIH Curriculum Supplements Series

Angstigheid of vrees wat inmeng met normale werksaamheid kan as ’n angssteuring geklassifiseer word. Algemeen erkende kategorieë sluit in spesifieke fobies, algemene angssteuring, sosiale angssteuring, panieksteuring, agorafobie, obsessief-kompulsiewe en posttraumatiese stressteuring.

Ander gemoedsprosesse kan ook ’n steuring word. ’n Gemoedsteuring wat ongewoon intense en langdurige hartseer, swaarmoedigheid of wanhoop insluit, is unipolêre gemoedsteurnis (ook bekend as kliniese depressie). ’n Minder intense depressie wat ook lank aanhou, kan gediagnoseer word as distimie. Bipolêre gemoedsteuring (ook bekend as maniese depressie) sluit in abnormale "hoë" gemoedstoestande (bekend as manie of hipomanie), afgewissel deur normale of depressiewe gemoedstoestande. Die mate waarin unipolêre en bipolêre gemoedsteuring verskillende kategorieë verteenwoordig of vermeng in ’n spektrum van gemoedsteurnisse, is die onderwerp van wetenskaplike bespreking.

duimnael|links|Borduurwerk deur ’n pasiënt met skisofrenie. Patrone van geloof, taalgebruik en die persepsie van die werklikheid kan ’n steuring word (bv. delusie, denksteurnis of hallusinasies). Psigotiese steurnisse in hierdie domein sluit in skisofrenie en waansteuring.

Persoonlikheidsontwikkeling – die fundamentele karaktertrekke van ’n persoon wat sy gedagtes en gedrag beïnvloed in verskillende situasies en oor tye – kan as ’n steuring beskou word as daar gereken word dit is abnormaal rigied of wanaangepas. ’n Aantal verskillende persoonlikheidsteurings word gelys, insluitende dié wat gewoonlik as "eksentriek" beskryf word soos paranoïese, skisoïede en skisotipiese persoonlikheidsteurings; soorte wat as "dramaties" of "emosioneel" beskryf word soos antisosiale, histrioniese (melodramatiese) en narsistiese steurings; en dié wat as angsverwant beskryf word soos angsvermydende, onafhanklike of obsessief-kompulsiewe steurings. Die persoonlikheidsteurings ontstaan gewoonlik in die kinderjare, of minstens teen adolessensie of vroeë volwassenheid.

Daar is toenemende konsensus dat dié steurings, in ooreenstemming met persoonlikhede in die algemeen, eintlik ’n mengsel insluit van akute disfunksionele gedrag wat in ’n kort tyd kan verdwyn en wanaangepaste temperamentele eienskappe wat meer blywend is.

Eetsteurings behels ’n belangstelling in kos en gewig wat buite verhouding is. Kategorieë sluit in anoreksie, bulimie, ’n beheptheid met oefening en ooreet. Slaapsteurings soos slapeloosheid behels ’n steuring in gewone slaappatrone of ’n gevoel van moegheid al lyk die slaappatroon normaal.

Seksuele en gendersteurings sluit in dispareunie, gender-identiteitsteuring, egodistoniese seksuele oriëntasie en seksuele stimulering deur voorwerpe, situasies of individue wat skadelik of abnormaal is.

Mense met ’n besondere onvermoë om sekere impulse en drange te onderdruk wat vir hulle of vir ander skadelik kan wees, kan gediagnoseer word met impulsbeheersteuring, of steurings soos kleptomanie (steel) of piromanie (brandstigting). Verskeie soorte gedrag soos dobbelverslawing kan as ’n steuring geklassifiseer word. Obsessief-kompulsiewe steurings is soms ’n onvermoë om sekere gedrag te weerstaan, maar word apart geklassifiseer as ’n angssteuring.

Die gebruik van dwelmmiddels (wettig of onwettig, insluitende alkohol) kan as ’n steuring geklassifiseer word as dit voortduur ondanks aansienlike probleme wat daardeur veroorsaak word. Die woord "dwelmverslawing" word nie tans gebruik nie, eerder middelafhanklikheid en middelmisbruik.

Mense wat kwaai steurnisse ondervind met betrekking tot selfidentiteit, geheue of algemene bewustheid van die self en die omgewing, kan gediagnoseer word met dissosiatiewe steurings soos ontverpersoonlikingsteuring of dissosiatiewe steuring self (wat ook al "gesplete persoonlikheid" genoem is). Ander geheuesteurings sluit in geheueverlies of verskeie soorte ouderdomsdemensie.

’n Verskeidenheid ontwikkelingsteurings wat aanvanklik in die kinderjare ontstaan, kan gediagnoseer word soos outismespektrumsteurings, teenstanduitdagingsteuring, gedragsteuring en aandaggebrek-hiperaktiwiteitsteuring (AGHS), wat tot in volwassenheid kan voortduur.

Gedragsteurings wat tot in volwassenheid voortduur, kan gediagnoseer word as antisosiale of dissosiale persoonlikheidsteuring. Etikette wat dikwels gebruik word soos "psigopaat" (of "sosiopaat") word nie in die DSM of ICD gebruik nie, maar word deur sommige verbind met hierdie steurings.

Somatoforme steurings behels probleme wat lyk of dit in die liggaam ontstaan en vermoedelik manifestasies van ’n geestesteuring is soos somatisasiesteuring. Daar is ook steurings met betrekking tot die manier waarop ’n persoon sy liggaam beskou soos liggaamsdismorfiesteuring. Neurastenie is ’n ou diagnose wat somatiese klagtes behels, asook moegheid en depressie. Dit word nie meer erken nie.

Faktiewe steurings soos Munchausensteuring het te doen met simptome wat met opset geskep (voorgegee) word vir persoonlike gewin.

Daar is pogings om ’n kategorie vir verhoudingsteurings te skep, waar die diagnose van ’n verhouding gemaak word eerder as van ’n individu in ’n verhouding. Die verhouding kan tussen kinders en hul ouers wees, tussen pare of tussen ander mense. Daar is reeds onder die kategorie psigose ’n diagnose van gedeelde psigotiese steuring, waar twee of meer individue ’n sekere delusie deel weens hul hegte verhouding.

Daar is ’n aantal ongewone psigiatriese sindrome wat dikwels genoem is na die persoon wat dit die eerste beskryf het, soos Capgras-, De Clerambault-, Othello-, Ganser-, Cotard- en Ekbom-sindroom.

Verskeie nuwe soorte geestesteurings word gereeld voorgestel. Onder die omstrede voorstelle wat tans deur die amptelike komitees van die diagnostiese handleidings oorweeg word, is selfverydelingsteuring, sadistiese persoonlikheidsteuring, passief-aggressiewe steuring en premenstruele disforiesteuring.

Tekens en simptome Verloop Die waarskynlike verloop en gevolge van geestesteurings verskil. Dit hang af van verskeie faktore wat op die steuring self betrekking het, die individu as geheel en die sosiale omgewing. Sommige steurings is van verbygaande aard, terwyl ander meer chronies is.

Selfs die steurings wat dikwels as die ernstigste en minste beheerbaar beskou word, verloop verskillend, soos skisofrenie, psigotiese steurings en persoonlikheidsteurings. Internasionale langtermynstudies van skisofrenie het bevind meer as die helfte van die individue het herstel wat simptome betref en sowat ’n vyfde tot ’n derde wat simptome en funksionering betref; van hulle het geen medikasie nodig gehad nie. Terselfdertyd het baie van hulle jare lank ernstige probleme en ondersteuningsbehoeftes gehad, hoewel ’n "laat" herstel steeds moontlik was. Die Wêreldgesondheidsorganisasie het tot die gevolgtrekking gekom dat die studies se bevindings saamwerk met ander studies "om pasiënte, versorgers en kliniekwerkers te verlig van die chronisiteitsparadigma wat denke deur die grootste deel van die 20ste eeu oorheers het."

Sowat die helfte van mense wat aanvanklik met bipolêre gemoedsteuring gediagnoseer word, herstel binne ses weke wat simptome betref (en voldoen dus nie meer aan die kriteria vir die diagnose nie), en feitlik almal binne twee jaar. Feitlik die helfte kry hul beroeps- en woonstatus in dié tyd terug. Amper die helfte ondervind egter ’n nuwe episode van manie of ernstige depressie binne die volgende twee jaar. Funksionering verskil; dit is swak tydens periodes van ernstige depressie of manie, maar andersins redelik tot goed, en moontlik uitstekend tydens periodes van hipomanie in Bipolêr II.

Ongeskiktheid duimnael|Die voorkoms van neuropsigiatriese toestande wêreldwyd per 100 000 inwoners in 2004. duimnael|Die voorkoms van bipolêre gemoedsteuring wêreldwyd per 100 000 inwoners in 2009.