Hierdie artikel handel oor die fenotipiese kenmerk. Vir die taksonomiese groepering, sien genus. duimnael|200px|Die twee geslagte van die mens, man en vrou. Geslag is die fenotipiese kenmerk van ’n organisme wat geslagtelik voortplant en wat daarin bestaan dat dit gamete (geslagselle) van een van twee verskillende groottes of vorme voortbring, manlike of vroulike gamete. Baie organismes op Aarde word volgens die meeste mense op hierdie wyse in twee geslagte verdeel wat onderling vir voortplanting deur middel van geslagsomgang kombineer. Ook ongeslagtelike of aseksuele voortplanting kom voor.

Tydens geslagtelike voortplanting versmelt ’n manlike en ’n vroulike gameet om ’n sigoot te vorm, wat tot ’n nakomeling ontwikkel wat eienskappe van albei ouers erf. Volgens konvensie word organismes wat die kleiner gamete (spermselle) voortbring manlik genoem, en dié wat die groter gamete (eierselle) voortbring vroulik. Die vroulike geslag van ’n organisme word dus as die geslag met die grootste geslagselle gedefinieer. ’n Organisme wat albei soorte gamete voortbring, is ’n hermafrodiet.

By spesies wat nie hermafrodities is nie, word die geslag van ’n individu deur een van verskeie biologiese geslagsbepalingstelsels bepaal. Die meeste soogdierspesies het die XY-geslagsbepalingstelsel, waar die mannetjie gewoonlik een X- en een Y-chromosoom (XY) dra en die wyfie gewoonlik twee X-chromosome (XX). In die mens word die vroulike geslag dus deur XX-chromosome gevorm, en die manlike geslag deur XY-chromosome. Ander chromosomale geslagsbepalingstelsels by diere sluit die ZW-stelsel by voëls en die XO-stelsel by sommige insekte in. Omgewingstelsels sluit onder meer temperatuurafhanklike geslagsbepaling by reptiele en skaaldiere in.

Die mannetjie en die wyfie van ’n spesie kan fisies eenders lyk (geslagsmonomorfie) of fisiese verskille toon (geslagsdimorfie). By geslagsdimorfiese spesies, waaronder die meeste voëls en soogdiere, word die geslag van ’n individu gewoonlik deur waarneming van daardie individu se geslagskenmerke bepaal. Seksuele seleksie of paarmaatkeuse kan die evolusie van verskille tussen die geslagte versnel.

Sommige organismes wat geslagtelik voortplant, soos swamme en die meeste eensellige organismes, het nie gamete van verskillende groottes nie. Individue van hierdie spesies word gevolglik nie as manlik of vroulik geklassifiseer nie; hul funksionele verskille word eerder paringstipes genoem. Skimmels en sommige ander organismes het meer as twee geslagte, maar plante kom ook in pare van twee geslagte voor. Sommige diere, soos sekere soorte akkedisse, kan ook aseksueel voortplant en sommige, soos erdwurms, is hermafrodiete (met eienskappe van albei geslagte).

Geslagtelike voortplanting

duimnael|links|Die lewensiklus van ’n spesie wat geslagtelik voortplant, wissel tussen haploïede en diploïede stadiums.

Geslagtelike voortplanting, waarin twee individue ’n nakomeling voortbring wat ’n keur van die genetiese eienskappe van elke ouer besit, kom uitsluitlik by eukariote voor. Genetiese eienskappe word in die deoksiribonukleïensuur (DNS) van chromosome gekodeer. Die eukariotiese sel het ’n stel gepaarde homoloë chromosome, een van elke ouer, en hierdie dubbelchromosoomstadium word diploïed genoem. Tydens geslagtelike voortplanting bring ’n diploïede organisme deur meiose gespesialiseerde haploïede geslagselle voort wat gamete genoem word, en elkeen daarvan het ’n enkele stel chromosome. Meiose sluit ’n stadium van genetiese rekombinasie deur chromosoomoorkruising in, waarin dele van die DNS tussen ooreenstemmende pare chromosome uitgeruil word om nuwe chromosome te vorm wat elk ’n nuwe kombinasie van die ouers se gene dra. Daarna word die chromosome in enkele stelle in die gamete verdeel. Wanneer gamete tydens bevrugting versmelt, het die sigoot wat ontstaan die helfte van die moeder se genetiese materiaal en die helfte van die vader s’n. Die kombinasie van chromosoomoorkruising en bevrugting, wat die twee enkele stelle chromosome bymekaarbring om ’n nuwe diploïede sigoot te maak, lewer ’n nuwe organisme met ’n ander stel van elke ouer se genetiese eienskappe.

By diere kom die haploïede stadium net in die gamete voor, die geslagselle wat versmelt om ’n sigoot te vorm wat regstreeks tot ’n nuwe diploïede organisme ontwikkel. By ’n plantspesie bring die diploïede organisme deur meiose ’n soort haploïede spoor voort wat herhaaldelik kan deel om ’n meersellige haploïede organisme te vorm. In albei gevalle kan die gamete uiterlik eenders wees (isogamie), soos by die groenalg Ulva, of in grootte en ander opsigte verskil (anisogamie). Die grootteverskil is die grootste by oögamie, ’n vorm van anisogamie waarin ’n klein, beweeglike gameet met ’n veel groter, onbeweeglike gameet kombineer.

By anisogame organismes word die groter gameet (die eiersel) volgens konvensie as vroulik beskou en die kleiner gameet (die spermsel) as manlik. ’n Individu wat groot gamete voortbring, is vroulik, en een wat klein gamete voortbring, is manlik. ’n Individu wat albei soorte gamete voortbring, is ’n hermafrodiet. By sommige spesies kan ’n hermafrodiet homself bevrug en op sy eie ’n nakomeling voortbring.

Diere duimnael|Simosyrphus grandicornis tydens paring.

Die meeste diere wat geslagtelik voortplant, bring hul lewe as diploïede organismes deur, met die haploïede stadium beperk tot eensellige gamete. Die gamete van diere kom in manlike en vroulike vorme voor, onderskeidelik spermselle en eierselle. Hierdie gamete kombineer om embrio’s te vorm wat tot nuwe organismes ontwikkel.

Die manlike gameet, ’n spermsel (wat by werweldiere in die testikels voortgebring word), is ’n klein sel met ’n enkele lang sweepstert wat dit voortdryf. Spermselle is uiters gereduseerde selle wat baie van die selkomponente mis wat vir embrionale ontwikkeling nodig sou wees. Hulle is gespesialiseerd vir beweging, om ’n eiersel op te spoor en met dié sel te versmelt in ’n proses wat bevrugting genoem word.

Vroulike gamete is eierselle. By werweldiere word hulle in die eierstokke voortgebring. Hulle is groot, onbeweeglike selle wat die voedingstowwe en selkomponente bevat wat ’n ontwikkelende embrio nodig het. Eierselle word dikwels met ander selle geassosieer wat die ontwikkeling van die embrio ondersteun en saam ’n eier vorm. By soogdiere ontwikkel die bevrugte embrio eerder binne die wyfie en ontvang voeding regstreeks van sy moeder.

Diere is gewoonlik beweeglik en soek ’n maat van die teenoorgestelde geslag op om mee te paar. Diere wat in die water leef, kan deur eksterne bevrugting paar, waar die eiers en sperma in die omringende water vrygestel word en daar kombineer. Die meeste diere wat buite die water leef, gebruik egter interne bevrugting en dra die sperma regstreeks in die wyfie oor om te verhoed dat die gamete uitdroog.

By die meeste voëls vind sowel uitskeiding as voortplanting deur ’n enkele agterste opening plaas, die kloaak. Manlike en vroulike voëls raak aan mekaar se kloake om sperma oor te dra, ’n proses wat "kloaaksoen" genoem word. By baie ander landdiere gebruik mannetjies gespesialiseerde geslagsorgane om die vervoer van sperma te help; hierdie manlike organe staan as intromitterende organe bekend. By die mens en ander soogdiere staan hierdie manlike orgaan as die penis bekend, wat die vroulike voortplantingskanaal (die vagina) binnedring om inseminasie te bewerkstellig, ’n proses wat geslagsomgang genoem word. Die penis bevat ’n buis waardeur semen (’n vloeistof wat sperma bevat) beweeg. By vroulike soogdiere verbind die vagina met die baarmoeder, ’n orgaan wat die ontwikkeling van ’n bevrugte embrio daarbinne regstreeks ondersteun (’n proses wat dragtigheid of swangerskap genoem word).

Omdat diere beweeglik is, kan dierlike seksuele gedrag dwang insluit. Traumatiese inseminasie word byvoorbeeld deur sommige insekspesies gebruik om wyfies deur ’n wond in die buikholte te insemineer, ’n proses wat vir die wyfie se gesondheid skadelik is.

Plante duimnael|Blomme bevat die geslagsorgane van blomplante. Hulle is gewoonlik hermafrodities en bevat sowel manlike as vroulike dele. Nes diere het landplante gespesialiseerde manlike en vroulike gamete. By saadplante word manlike gamete deur gereduseerde manlike gametofiete wat in stuifmeel vervat is, voortgebring. Die stuifmeel het harde doppe wat die selle wat die manlike gameet vorm, beskerm terwyl hulle van die helmknoppe na die stempel vervoer word. Die vroulike gamete van saadplante is in saadknoppe vervat. Sodra hulle bevrug is, vorm dié saadknoppe saad, wat soos eiers die voedingstowwe bevat wat vir die aanvanklike ontwikkeling van die embrionale plant nodig is.

Die blomme van blomplante bevat hul geslagsorgane. Die meeste blomplante is hermafrodities, met manlike sowel as vroulike dele in dieselfde blom, of in enkelgeslagblomme op dieselfde plant. Sowat 5% van plantspesies het individuele plante wat die een of die ander geslag is. Die vroulike dele, in die middel van ’n hermafroditiese of vroulike blom, is die stampers, wat elk uit ’n vrugblaar, ’n styl en ’n stempel bestaan. Twee of meer van hierdie voortplantingseenhede kan saamsmelt om ’n enkele saamgestelde stamper te vorm, waarvan die versmelte vrugblare die vrugbeginsel vorm. Binne die vrugblare is saadknoppe wat ná bevrugting tot sade ontwikkel. Die manlike dele van die blom is die meeldrade: dit bestaan uit lang drade wat tussen die stamper en die kroonblare gerangskik is en wat stuifmeel in helmknoppe aan hul punte voortbring. Wanneer ’n stuifmeelkorrel op die stempel bo-op ’n vrugblaar se styl beland, ontkiem dit en vorm ’n stuifmeelbuis wat deur die weefsel van die styl in die vrugblaar afgroei, waar dit manlike gameetkerne aflewer om ’n saadknop te bevrug wat mettertyd tot ’n saad ontwikkel.

Sommige hermafroditiese plante is selfvrugbaar, maar plante het verskeie meganismes van self-onversoenbaarheid ontwikkel om selfbevrugting te vermy. Dit sluit opeenvolgende hermafroditisme, molekulêre herkenningstelsels en morfologiese meganismes soos heterostilie in.

By dennebome en ander naaldbome word die geslagsorgane in keëls voortgebring wat manlike en vroulike vorme het. Manlike keëls is kleiner as vroulike keëls en bring stuifmeel voort wat deur die wind na vroulike keëls vervoer word. Die groter en langlewender vroulike keëls is gewoonlik taaier en bevat saadknoppe wat ná bevrugting tot sade ontwikkel.

Omdat saadplante onbeweeglik is, is hulle van passiewe metodes afhanklik om stuifmeelkorrels na ander plante te vervoer. Baie van hulle, waaronder naaldbome en grasse, bring liggewig stuifmeel voort wat deur die wind na naburige plante gedra word. Sommige blomplante het swaarder, klewerige stuifmeel wat gespesialiseerd is vir vervoer deur insekte of groter diere soos kolibries en vlermuise, wat deur blomme aangelok kan word wat nektar en stuifmeel as beloning bied. Hierdie diere vervoer die stuifmeel terwyl hulle na ander blomme beweeg wat ook vroulike voortplantingsorgane bevat, en so vind bestuiwing plaas.

Swamme duimnael|Sampioene word as deel van swamme se geslagtelike voortplanting voortgebring.

Die meeste swamspesies kan geslagtelik voortplant en het lewensiklusse met sowel haploïede as diploïede fases. Hierdie swamspesies is gewoonlik isogaam, dit wil sê sonder manlike en vroulike spesialisasie. Een haploïede swam groei tot teen ’n ander aan, en dan versmelt hulle hul selle. In sommige gevalle is die versmelting asimmetries, en die sel wat net ’n kern bydra (sonder meegaande selmateriaal) sou as manlik beskou kon word. Swamme kan ook meer ingewikkelde alleliese paringstelsels hê, met ander geslagte wat nie akkuraat as manlik, vroulik of hermafrodities beskryf kan word nie.

Sommige swamme, waaronder bakkersgis, het paringstipes wat verenigbaarheid bepaal. Gisselle met dieselfde paringstipe sal nie met mekaar versmelt om diploïede selle te vorm nie, maar slegs met gis wat ’n ander paringstipe dra.