Homo ergaster is ’n uitgestorwe spesie van Homo wat tydens die vroeë Pleistoseen in Oos- en Suider-Afrika geleef het. Of H. ergaster 'n spesie op sy eie vorm en of dit in die spesie H. erectus opgeneem moet word, is 'n deurlopende en onopgeloste dispuut tussen paleoantropoloë. Voorstanders van 'n gesamentlike spesie praat gewoonlik van H. ergaster as "Homo erectus uit Afrika" of "Homo erectus ergaster".

Die naam Homo ergaster kan rofweg vertaal word as "werkende man", 'n verwysing na die meer gevorderde gereedskap wat die spesie gebruik het in vergelyking met dié van hulle voorouers. Die fossielomvang van H. ergaster strek van sowat 1,7 miljoen tot 1,4 miljoen jaar gelede, hoewel 'n groter omvang moontlik is.

Hoewel fossiele uit die hele Oos- en Suider-Afrika bekend is, is die meeste H. ergaster-fossiele aan die oewers van die Turkanameer in Kenia ontdek. Daar is latere Afrika-fossiele, waarvan sommige jonger as 'n miljoen jaar is, wat dui op langtermyn- anatomiese kontinuïteit, maar dit is onseker of hulle amptelik beskou kan word as H. ergaster-spesimens. As 'n aaneenlopende spesie kon H. ergaster gelewe het tot so laat as 600 000 jaar gelede, toe nuwe linies van Homo in Afrika ontstaan het.

Dié wat glo H. ergaster moet in H. erectus opgeneem word, reken daar is te min verskille tussen die twee om hulle as aparte spesies te beskou. Voorstanders van twee aparte spesies haal morfologiese verskille aan tussen die fossiele van Afrika en dié van Asië, en reken verder dat vroeë Homo-evolusie veel ingewikkelder is as om die twee spesies as een te beskou. Daarbenewens kan morfologiese verskille tussen spesimens wat almal as H. ergaster beskou word, daarop dui dat H. ergaster self nie 'n samehangende spesie verteenwoordig nie. Ongeag die beste klassifikasie vir hulle, toon H. ergaster primitiewe weergawes van eienskappe wat later in H. erectus voorgekom het en hulle is dus dalk die direkte voorouers van die latere H. erectus-bevolkings in Asië. Hulle is ook waarskynlik die voorouers van die latere hominiene in Europa en Afrika, soos die moderne mense en die Neanderdallers.

Verskeie eienskappe onderskei H. ergaster van Australopithecus, sowel as van vroeëre, meer basale Homo-spesies, soos H. habilis. Daaronder tel groter liggaamsmassa, relatief lang bene, verpligte tweevoetigheid, relatief klein kakebene en tande (wat dui op 'n groot verandering in eetgewoontes), sowel as liggaamsafmetings en lewenstyle wat meer met dié van die moderne mens ooreenstem as met dié van vroeëre of kontemporêre hominiene. Daarom beskou sommige navorsers H. ergaster as die vroegste ware verteenwoordiger van die genus Homo. Richard Dawkins het dit verkies en bygevoeg: "Ek sal hulle Ergasts eerder as Erects noem, deels omdat ek glo die meeste van ons gene kom van die Afrika-vorm en deels omdat hulle nie enigsins meer regop as hulle voorouers was nie".R. Dawkins, The Ancestor's Tale, 2004, p.59.

H. ergaster het op die savanne van Afrika gewoon, 'n unieke omgewing wat tot die behoefte aan nuwe en unieke gedrag kon gelei het. Vroeë Homo-lede het waarskynlik, nes moderne primate, van teenaanvalstegnieke gebruik gemaak om roofdiere weg te hou. Teen die tyd van H. ergaster het dié gedrag moontlik gelei tot die ontwikkeling van ware jagter-versamelaarsgedrag, 'n eerste onder primate. H. ergaster was 'n toproofdier. Nog gedrag wat eerste in dié spesie kon begin het, sluit in die verdeling van mans en vroue in kosversameling en ware monogame bande tussen pare. H. ergaster het ook gevorderder Acheuleense gereedskap gebruik, onder meer die eerste bekende handbyle. Hoewel onbetwiste bewyse ontbreek, kon H. ergaster ook die eerste hominien gewees wat vuur beheer het.

Taksonomie

Navorsingsgeskiedenis links|duimnael|240px|'n Replika van KNM ER 992, die holotipespesimen van Homo ergaster.

Die sistematiek en taksonomie van Homo in die vroeë tot middelste Pleistoseen is een van die mees betwiste gebiede van paleoantropologie. In vroeë paleoantropologie en tot laat in die 20ste eeu is algemeen aanvaar Homo sapiens is die eindresultaat van geleidelike veranderings binne 'n enkele linie van die hominien se evolusie. Toe al hoe meer fossiele van die waargenome oorgangsvorm tussen vroeë hominiene en moderne mense, H. erectus, wat aanvanklik beskou is as argaïese menslike fossiele in Asië, ontdek word, het die uiteenlopendheid binne H. erectus daaroe gelei dat sommige mense begin vra het wat die spesie definieer en wat die omvang daarvan moet wees. Sommige navorsers, soos die paleoantropolooog Ian Tattersall het H. erectus in 2013 bevraagteken omdat dit 'n ongelooflike getal fossiele behels het met "aansienlik verskillende vorme".

In die 1970's het Richard Leakey en Alan Walker 'n reeks hominienfossiele aan die oostelike oewer van die Turkanameer in Kenia beskryf. Die merkwaardigste vondste was twee gedeeltelike skedels: KNM ER 3733 en KNM ER 3883, wat by Koobi Fora gevind is. Leakey en Walker het die skedels aan H. erectus toegeskryf en aangeteken dat hulle breinvolumes (onderskeidelik 848 en 803 cm3) goed vergelyk met dié van die veel jonger tipespesimen van H. erectus (950 cm3). Nog 'n belangrike fossiel was 'n fossiele kaak met die naam KNM ER 992 wat in 1972 by Ileret ontdek is en deur Leaky beskryf is as "Homo van onbepaalde spesie".

duimnael|links|240px|’n Rekonstruksie van die Turkana-seun se gesig. In 1975 het Colin Groves en Vratislav Mazák die fossiel KNM ER 992 beskryf as die holotipespesimen van 'n aparte spesie, wat hulle Homo ergaster genoem het. Die naam "ergaster" is afgelei van die antieke Griekse ἐργαστήρ (ergastḗr, "werker" of "werksman"). Groves en Mazák het ook baie van die Koobi Fora-fossiele, soos KNM ER 803 ('n gedeeltelike skelet en 'n paar geïsoleerde tande) ingesluit in die nuwe spesie, maar het geen vergelyking met die Asiatiese fossielrekord van H. erectus in hulle beskrywing ingesluit nie. Dit het 'n deel van die taksonomiese verwarring oor die spesie veroorsaak.

'n Byna volledige fossiel, wat as 'n jong man beskou is (hoewel die geslag eintlik nooit vasgestel is nie) is in 1984 deur die Keniaanse argeoloog Kamoya Kimeu aan die westelike oewer van die Turkanameer ontdek. Leakey en Walker, saam met Frank Brown en John Harris, het dit in 1985 beskryf as KNM-WT 15000 (met die bynaam "Turkana-seun"). Hulle het die feitlik volledige skelet as lid van H. erectus beskou. Die Turkana-seun was die eerste goed bewaarde spesimen van H. ergaster/erectus wat ontdek is en is 'n belangrike fossiel in die vasstelling van die verskille en ooreenkomste tussen vroeë Homo en moderne mense. Die paleoantropoloog Bernard Wood het die Turkana-seun in 1992 in H. ergaster geplaas. Dit word vandag, saam met ander fossiele in Afrika, wat vroeër as H. erectus gereken is, algemeen beskou as verteenwoordigend van H. ergaster deur diegene wat die twee as aparte spesies beskou.

Klassifikasie H. ergaster word maklik van vroeëre en meer basale spesies van Homo, veral H. habilis en H. rudolfensis, onderskei deurdat verskeie eienskappe en hulle lewenstyl nader aan dié van die moderne mens was as aan vroeëre en kontemporêre hominiene. In vergelyking met hulle verwante, was H. ergaster se liggaamsproporsies meer soortgelyk aan die latere lede van die genus Homo. Hulle het relatief lang bene gehad, wat hulle verpligtend tweevoetig gemaak het. Hulle tande en kake was ook kleiner as dié van H. habilis en H. rudolfensis, wat dui op 'n groot verandering in eetgewoontes. In 1999 het die paleoantropoloë Bernard Wood en Mark Collard gesê die konvensionele kriteria wat gebruik word om spesies aan die genus Homo toe te ken, is foutief en dat vroeë en basale spesies soos H. habilis en H. rudolfensis dalk herklassifiseer moet word as voorouers van Australopithecus. Volgens hulle was H. ergaster die eerste ware verteenwoordiger van Homo.

Sedert die beskrywing van H. ergaster as 'n aparte spesie in 1975, word die klassifikasie van fossiele daarin betwis. H. ergaster is dadelik verwerp deur Leakey en Walker en baie ander invloedryke navorsers, soos die paleoantropoloog G. Philip Rightmire, wat in 1990 'n uitgebreide verhandeling oor H. erectus geskryf het. Hy het 'n inklusiewer H. erectus verkies.

Oor die algemeen is daar min twyfel dat die groep fossiele wat H. erectus en H. ergaster uitmaak, die fossiele van 'n min of meer samehangende stel nabye verwante van argaïse mense verteenwoordig. Die vraag is eerder of hierdie fossiele verskillende spesies verteenwoordig of 'n enkele, hoogs uiteenlopende spesie oor die verloop van byna twee miljoen jaar. Dié deurlopende debat bly onopgelos. Navorsers gebruik gewoonlik die term "Homo erectus sensu stricto" vir die Asiatiese H. erectus en "Homo erectus sensu lato" vir die groter spesie wat beide die Afrika-weergawe (H. ergaster) en die Asiatiese weergawe insluit.Antón, S. C. (2003), Natural history of Homo erectus. Am. J. Phys. Anthropol., 122: 126–170.

Om vanselfsprekende redes deel H. ergaster baie eienskappe met H. erectus, soos lang, vooruitstekende kakebene, groot wenkbrouriwwe en 'n kop wat skuins na agter loop. Baie eienskappe van H. ergaster is duidelik primitiewer weergawes van eienskappe wat later in H. erectus voorgekom het, en dit verduister die verskille tussen die twee effens. Daar is subtiele, moontlik belangrike, verskille tussen die fossiele van Oos-Afrika en dié van Oos-Asië. Twee daarvan is H. ergaster se kopbene met 'n ietwat hoër koepel en dunner wande, en die selfs groter wenkbrouriwwe en gesigte van H. erectus.

Die vraag word bemoeilik omdat dit betref hoe groot die verskille in 'n enkele spesie kan wees voordat dit in meer spesies verdeel moet word, en daarvoor is daar nie 'n duidelike antwoord nie. In 'n ontleding in 2008 deur die antropoloog Karen L. Baab van fossiele van verskeie H. erectus-subspesies, asook ander wat in H. ergaster val, is bevind die intraspesifieke verskille in H. erectus is groter was wat verwag kan word vir 'n enkele spesie wanneer dit vergelyk word met moderne mense en sjimpansees. As dit met gorillas vergelyk word, val dit binne die verwagte variasie, en ook binne die omvang van 'n enkele subspesie wanneer dit met die orangoetang vergelyk word (hoewel dit deels vanweë die groot geslagsdimorfie in gorillas en orangoetangs is). Baab het tot die gevolgtrekking gekom H. erectus s.l. is óf 'n enkele, maar veranderlike spesie óf verskeie subspesies wat deur tyd en geografie verdeel is óf verskeie geografies verstrooide, maar nabyverwante spesies.

In 2015 het die paleoantropoloë David Strait, Frederick Grine en John Fleagle H. ergaster gelys as een van sewe "algemeen erkende" spesies van Homo, saam met H. habilis, H. rudolfensis, H. erectus, H. heidelbergensis, H. neanderthalensis en H. sapiens. Hulle het bygevoeg ander spesies, soos H. floresiensis en H. antecessor, is minder bekend.

Variasie in die fossielmateriaal

Toe Ian Tattersall in 2013 verskeie fossiele van H. ergaster vergelyk met dié van H. erectus, veral die tipespesimen, het hy tot die gevolgtrekking gekom om na die materiaal in Afrika as H. ergaster te verwys eerder as na die "H. erectus uit Afrika", is 'n "aansienlike verbetering", omdat daar baie eienskappe is wat die materiaal van die twee kontinente onderskei. Tattersall het geglo dit is passend om die term H. erectus net vir Oos-Asiatiese fossiele te gebruik in plaas van vir fossiele in Asië én Afrika. Hoewel hy gereken het die H. ergaster-materiaal verteenwoordig die fossiele van 'n aparte klade van Homo, het hy ook bevind daar is aansienlike diversiteit binne die klade: KNM ER 992 se kaak stem goed ooreen met ander fossiele kake uit die streek, soos dié van OH 22 van Olduvai en KNM ER 3724 van Koobi Fora, maar stem nie noodwendig ooreen met die skedels nie, soos dié van KNM ER 3733 en KNM ER 3883, en ook nie met die kaak van die Turkana-seun nie omdat die tande grootliks verskil.