duimnael|280px|Die kerkgebou van die NG gemeente Graaff-Reinet is een van die sierlikste kerkgeboue in Suid-Afrika en 'n uitstekende voorbeeld van wat bekendstaan as die Neogotiese styl of Gotiese herlewingstyl. Dié styl het die Kaaps-Hollandse boustyl van die middel van die 19de eeu heeltemal verdring, en die meeste van die ou kerke op tallose dorpe moes plek maak vir Neogotiese geboue. Die argitek was James Bisset.

Afrikaanse kerkbou in die Karoo is die argitektuur van die kerkgeboue van veral die drie gereformeerde Afrikaanse kerkgenootskappe, naamlik die Nederduitse Gereformeerde Kerk, die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika en die Nederduitsch Hervormde Kerk, in die meer as 40 landdrosdistrikte in die provinsies Wes-, Noord- en Oos-Kaap asook vier suidwestelike landdrosdistrikte van die Suidwes-Vrystaat wat gewoonlik as die Karoo beskou word. Dié landdrosdistrikte beslaan 395 200 km2, meer as die helfte van die destydse Kaapprovinsie en amper 'n derde van Suid-Afrika se grondgebied, hoewel die grense nie met sekerheid vasgestel kan word nie.

Die hele spektrum van Afrikaanse kerkboustyle is in die Karoo te sien, van die eenvoudige, toringlose kerkgeboutjies uit die vroeë tye tot die katedraalagtige, Neogotiese of Neoklassieke kerkgeboue op dorpe soos Aberdeen, Beaufort-Wes, Graaff-Reinet en Cradock. In die meeste gevalle is die NG kerk vandag nog die grootste of dan wel indrukwekkendste gebou op die meeste van dié dorpe. In sommige gevalle, soos Fraserburg en Aberdeen wat as kerkdorp ontstaan het, is aan die kerk 'n plein in die middel van die dorp afgestaan wat die oorheersing van die omliggende geboue beklemtoon het. Net enkele moedergemeentes in die Karoo aanbid vandag nog in hul oorspronklike kerk, want in die meeste gevalle is die eerste kerk deur 'n tweede en selfs 'n derde vang. In sommige gevalle was dit omdat die eerste kerk te klein vir die groeiende gemeente geword het; in ander gevalle was die ou kerk nie deftig genoeg vir 'n gemeente wat welvarend geword het nie; in nog gevalle het die ou kerk bouvallig of gevaarlik geword en het die gemeente die herstelkoste ontsien en liewer 'n nuwe gebou laat oprig.

Die landstreek duimnael|links|300px|Die Karoo het van Suid-Afrika se mees afgeleë dorpe. 300px|regs|duimnael|Veral plantegroei bepaal die grense van die Karoo en namate tipiese Karooplante veral ooswaarts versprei, word die Karoo geleidelik groter. Die Khoi, wat honderde jare deur dié dorre gebied geswerf het, het die naam "Karoo" aan die landstreek gegee wat die Hollandse nedersetters die Droogeveld genoem het. Die vroegste benaming beteken "hard" en daaruit kom die begrip "droog". Raper, P.E. 1972. Streekname in Suid-Afrika en Suidwes. Kaapstad: Tafelberg (vir die SA Naamkundesentrum van die raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing). Voor dit gestandaardiseer is, het die naam ook voorgekom as onder meer Carro, Caro, Carrow, Karo, Karroo, Kuru en Xhaeruh. Raper, P.E., Dictionary of South African Place Names, Lowry Publishers, Johannesburg, 1987. Die huidige benaming is 'n kompromis tussen die vroeë Engelse vorm Caro en die Afrikaanse Karroo.

Dit is amper onmoontlik om 'n presiese beskrywing te gee van óf die aard óf die grense van die Karoo. Die streek word as 'n eenheid beskou op grond van onder meer die topografie, die geologie en veral die klimaat, wat gekenmerk word deur lae reënval, fel sonskyn en droë lug, met uiterste koue en hitte. Dié faktore het saam bygedra tot omstandighede waarin die xerofitiese plantegroei van die Karoo ontwikkel het om te oorleef in die strawwe klimaat. Veral dié plantegroei bepaal die Karoo se grense, maar egte Karooplantegroei kom in die aanliggende grasveldstreke voor en omgekeerd, sodat dit moeilik word om dié gebiede se presiese grense te bepaal. Boonop versprei tipiese Karooplante algaande ooswaarts en neem streke in waar hulle enkele honderde jare gelede heeltemal onbekend was. Vernietigende boerderymetodes dra by tot dié verspreiding wat dié agteruitgang en soms vernietiging van 'n groot deel van die oorspronklike plantegroei. Na raming het die Karoo teen 1970 reeds 240 km ooswaarts geskuif en dié uitbreiding duur gedurig voort. Potgieter, D.J. (hoofred.) Standard Encyclopaedia of Southern Africa. Cape Town: Nasionale Opvoedkundige Uitgewery Ltd., 1973.

Die huidige grense is die Langeberg-reeks in die suide en sy noordwaartse uitlopers in die distrikte Montagu, Ladismith, Oudtshoorn en Willowmore. In die ooste, waar die Karoo algaande uitbrei, sluit dit die distrikte Pearston, Somerset-Oos, Cradock en Venterstad in met 'n verlenging oor die Oranjerivier tot in die suidweste van die Vrystaat, onder meer die distrikte Philippolis en Bethulie. Die Karoo bestaan uit talle onderverdelings, soos die Hantam-Karoo (rondom Calvinia), die Klein-Karoo ('n gebied van sowat 480 km lank en 128 km breed tussen die Witte- en Swartberge in die noorde en die Langeberge in die suide en wat strek van Worcester in die weste tot by Oudtshoorn in die ooste), die Moordenaarskaroo (noord van die N1 tussen Prins Albertweg en Laingsburg en sluit Sutherland en Middelpos in), die Tankwa-Karoo (tussen die Ceres- of Bokkeveld-Karoo en die Klein-Roggeveldberg in die noorde, die dorp Ceres uitgesluit), die Koup (Laingsburg, Leeu-Gamka, Matjiesfontein en Beaufort-Wes), die Kamdeboo (met Graaff-Reinet in die middel en dorpe Nieu-Bethesda, Aberdeen, Jansenville en Pearston daaromheen), die sentrale Bo-Karoo (wat dorpe insluit soos Richmond, Hanover en Drie Susters aan die N1, maar strek tot by De Aar, Britstown, Victoria-Wes en Murraysburg), die oostelike Karoo (Somerset-Oos en Cradock), die Koup-Kamdeboo-Karoo (Steytlerville en Willowmore), die oostelike Bo-Karoo (Middelburg, Colesberg en Noupoort) en die westelike Bo-Karoo (die driehoek wat gevorm word deur Williston, Fraserburg en Carnarvon). Nell, Leon. 2008. The Great Karoo. Cape Town: Struik Publishers.

Karoogemeentes duimnael|regs|320px|Op feitlik elke Karoodorp is die NG kerkgebou die indrukwekkendste bousel waarvan die toring bo die omliggende huise en sakegeboue uittroon. Die toneel is in Rossouwstraat op Fraserburg. Vir die doeleindes van dié artikel, beslaan die Karoo die volgende gemeentes van die Nederduitse Gereformeerde Kerk. In die Sinode van Wes-en-Suid-Kaapland: Barrydale, Beaufort-Wes, Calitzdorp, Calvinia, Calvinia-Hantam, De Rust, Fraserburg, Gamka-Oos, Gamkavallei, Kangovalleie, Ladismith, Laingsburg, Leeu-Gamka, Loeriesfontein, Merweville, Montagu, Nieuwoudtville, Oudtshoorn, Oudtshoorn-Noord, Oudtshoorn-Park, Oudtshoorn-Suid, Oudtshoorn-Welgeluk, Oudtshoorn-Wes, Prins Albert, Richmond, Sutherland, Touwsrivier, Uniondale, Vanwyksdorp, Victoria-Wes en Volmoed. In die Sinode van Oos-Kaapland: Aberdeen, Colesberg, Cradock, Cradock-Noord, Cradock-Oos, Graaff-Reinet, Hofmeyr, Jansenville, Klipplaat, Middelburg Karoo, Murraysburg, Nieu-Bethesda, Noupoort, Nuwekerk, Graaff-Reinet, Pearston, Rietbron, Somerset-Oos, Steytlerville, Venterstad, Waterford, Willowmore. In die Sinode van Noord-Kaapland: Brandvlei, Britstown, Carnarvon, De Aar, De Aar-Noord, Hanover, Hopetown, Loxton, Orania, Petrusville-Uitsig, Petrusville, Philipstown, Prieska, Strydenburg, Vanderkloof, Van Wyksvlei, Vosburg, Williston. In die Vrystaatse Sinode: Philippolis en Bethulie.

Die Gereformeerde Kerk het die volgende gemeentes in die Karoo: Bethulie, Colesberg, Philipstown, Venterstad, Westdene, Lyciumville, Strydenburg (ontbind in 2014), De Aar, Orania, Oranjerivier, Middelburg, Cradock/Somerset-Oos, Rhenosterberg, Graaff-Reinet en Oudtshoorn.

Van die Nederduitsch Hervormde Kerk is net twee gemeentes in die Karoo geleë: Vanderkloof (sluit in De Aar, Philipstown, Petrusville, Vanderkloof, Luckhoff, Orania, Hopetown, Strydenburg) en Cradock (sluit in Cradock, Graaff-Reinet, Middelburg, Noupoort, Hofmeyr, Tarkastad en Somerset-Oos).

Vroeë kerke duimnael|links|280px|Die NG gemeente Cradock se kerkgebou is een van net drie of wat in die Karoo uit die 19de eeu wat in die Neoklassieke styl opgerig is, pleks van die Neogotiese. Die vroegste kerkgeboue in die Karoo was eenvoudige, langwerpige geboue wat meer aan 'n saal as 'n kerkgebou herinner, met 'n spitsdak van riet en 'n eenvoudige gewel aan elke end van die gebou. Dit is gewoonlik gebou van bakstene en dan witgekalk of van sandsteen. Enkele Gereformeerde gemeentes in die Karoo het vandag nog so 'n onopgesmukte, langwerpige kerkgebou, onder meer Colesberg en Venterstad (1876). Die Gereformeerde kerkgebou op Noupoort is in dieselfde styl opgerig, hoewel dit van die eerste helfte van die 20ste eeu dateer, terwyl NG kerkgeboue op dorpies wat klein gebly en dus nie 'n groot kerk kon bekostig nie, ook vandag nog so lyk, onder meer Klipplaat, Vanwyksvlei en Venterstad. Namate die gemeentes se lidmate toegeneem het en die landelike lidmate vooruit geboer het, kon hulle dit bekostig om deftiger kerke op te rig. Beaufort-Wes het in 1831 reeds 'n kerkgebou gekry wat groter en sierliker was as baie van die kerkgeboue wat selfs nog dekades later opgerig sou word. Dié vlaag deftiger toringkerke was gewoonlik die tweede kerkgebou van een van die eerste ses Karoo-gemeentes: Graaff-Reinet (1792, die sesde NG gemeente landwyd), Cradock (1818, 11de), Beaufort-Wes (1820, 12de), Somerset-Oos (1825, 15de) en Colesberg (1826, 18de), of die eerste of tweede kerkgebou van die menigte Karoo-gemeentes wat ná 1850 afgestig is.

Terwyl daar tussen die stigting van die eerste Karoo-gemeente, Graaff-Reinet in 1792 en die stigting van die tiende gemeente, Calvinia, 55 jaar verloop het, is daar in die 15 jaar tussen 1851 en 1866 'n volle 16 gemeentes in die Karoo afgestig. Hiervan was vier in die Klein-Karoo, twee in die Vrystaatse Karoo, vyf in die Oos-Kaapse Karoo, en vyf in die teenswoordige Wes- of Noord-Kaap.

Kerke in die Gotiese herlewingstyl duimnael|290px|Die kerkgebou van die NG gemeente Somerset-Oos is ontwerp deur die Duits gebore argitek Carl Otto Hager, Suid-Afrika se grootste eksponent van die Neogotiese boukuns. Van hom het nog vier Karookerke behoue gebly: Pearston, Ladismith, Oudtshoorn (hy moes die gebou voltooi en in 'n mate herontwerp) en Jansenville, maar drie is gesloop: Willowmore (onseker of hy dit wel ontwerp het), Fraserburg en Carnarvon.

Daar word soms na die 19de eeu verwys as jare van argitektoniese ballingskap, in Suid-Afrika sowel as in die buiteland, want vergeleke met die swier en staatsie van die 18de eeu, lyk die voortbrengsels van die tydperk tussen 1830 en 1880 soms op die oog af na 'n insinking. Wat die boukuns is Suid-Afrika se binneland betref, was dit wel te wyte aan ekonomiese agteruitgang en aanpassing by die primitiewe leefwyse wat die harde pionierslewe aan die trekkers voorgeskryf het. Die hele ontwikkeling van die beskeie wonings van die vryburgers in die skadu van Tafelberg tot die prag en praal van Vergelegen, moes hom nou op die vlaktes van die Vrystaat en Transvaal herhaal. Maar in die Karoo was daar 'n voortsetting van die ou tradisies, 'n voortbouing op al die swaar verworwe kennis van drie eeue se koloniale boukuns.Biermann, Barry in Pienaar, prof. dr. P. de V. 1968. Kultuurgeskiedenis van die Afrikaner. Kaapstad: Nasionale Boekhandel Bpk.

Teen 1850 het 'n groot golf nuwe afstigtings in die NG Kerk begin. Dit het gestalte gekry in die nuwe dorp wat rondom die gemeentes ontstaan het. Die verhouding tussen die woonhuisies en sakegeboutjies, enersyds, en die katedraalagtige kerk van die tipiese Karoodorp, kon 'n mens laas in die Middeleeuse stede van die Nederlande waarneem, waar die hoë kerktoring ook myle oor die plat landskap bokant die lae dakke van die gemeentelike huise sigbaar was. Heelwat ander kenmerke skakel die nagmaaldorpe van die Karooboere by die tradisies van hul Europese voorouers aan.