Lina Spies (*6 Maart 1939 – ) is ’n Afrikaanse skrywer, digter en vertaler. Sy het die Eugène Maraisprys en die Ingrid Jonkerprys in 1972 vir haar publikasie, Digby Vergenoeg gewen.Kortlys vir die Ingrid Jonker-prys 2013 , besoek op 16 Februarie 2014 Sy het ook Anne Frank se dagboek, bekend as Die Agterhuis, in Afrikaans vertaal wat aan haar die Nedbank-Akademieprys vir Vertaalde Werk-prys besorg het. Spies het die grootste deel van haar loopbaan Afrikaanse en Nederlandse letterkunde gedoseer. Haar laaste betrekking was by die Universiteit van Stellenbosch.Lina Spies op stellenboschwriters.com, besoek op 16 Februarie 2014

Lewe en werk

Vroeë lewe en herkoms Carellina Pieternella Spies is op 6 Maart 1939 op Harrismith in die Vrystaat gebore.Stellenbosch Writers: http://www.stellenboschwriters.com/spiesl.html Sy is die oudste van drie dogters en haar jonger sussies Elmien en Cornelia is onderskeidelik ses en tien jaar jonger as sy. Haar vader is Joachim Frederik (Joggie) Spies, hoof van die plaaslike laerskool en self digter van kinderrympies, en haar moeder is Cornelia Jacoba (Babsie) de Jager. Toe sy drie jaar oud is, gaan die gesin vir twee jaar na Stellenbosch, waar haar pa verder gaan studeer.

Opleiding Lina gaan skool op haar geboortedorp en matrikuleer in 1957 aan die Hoërskool Harrismith. Van 1958 tot 1962 studeer sy verder aan die Universiteit van Stellenbosch en behaal in 1960 die B.A.-graad en in 1961 die B.A. Honneurs-graad in Afrikaans-Nederlands. In 1962 behaal sy die M.A.-graad in met ’n verhandeling oor Die bewerende en beeldende vers in die poësie van Elisabeth Eybers. By Stellenbosch speel D.J. Opperman ’n groot rol in haar besluit om haar nagraadse studies nie in Filosofie nie, maar wel in Afrikaans en Nederlands, voort te sit. Sy is dan ook lid van die heel eerste klas van Opperman se letterkundige laboratorium en is in 1962 Opperman se persoonlike assistent. In 1963 verwerf sy die Universiteits Onderwysdiploma (U.O.D.) aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat.

Akademiese loopbaan Sy hou hierna vir twee jaar (1964 en 1965) skool aan die Sentrale Hoërskool in Bloemfontein en van 1966 tot einde 1967 is sy lektrise in Afrikaanse en Nederlandse letterkunde aan die Universiteit van Port Elizabeth. Sy onderbreek haar betrekking en studeer vir twee jaar aan die Vrije Universiteit van Amsterdam (1968 tot 1970) en lê die doktorale eksamen in die Nederlandse taal- en letterkunde in November 1970 af met ’n proefskrif oor Die religieuse moment in die poësie van Martinus Nijhoff met spesiale verwysing na sy sonnette-siklus ‘Voor dag en dauw’. Terug in Suid-Afrika hervat sy in 1971 haar betrekking by die Universiteit van Port Elizabeth en word dan in 1972 aangestel as lektrise in die Afrikaanse letterkunde aan die Universiteit van Stellenbosch.

Sy is lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en van die Nederlandse Kultuurhistoriese Instituut aan die Universiteit van Pretoria. In Januarie 1982 word sy bevorder tot senior lektrise en in April 1982 behaal sy haar D.Litt.-graad aan die Universiteit van Pretoria onder leiding van A.P. Grové met ’n studie oor die werk van D.J. Opperman. Hierdie proefskrif, oorspronklik getitel Weefsel en web: ‘Heilige beeste’, ‘Negester oor Ninevé’ en ‘Komas uit ’n bamboesstok’ van D.J. Opperman binne die verband van sy oeuvre, word later onder die titel Kolonnade gepubliseer. Ook in 1982 word sy tot diaken van die NG Gemeente Stellenbosch verkies. In Julie 1983 sluit sy haar as senior lektrise by die Universiteit van Pretoria aan en word medeprofessor op 1 Januarie 1986. Op 1 Julie 1987 word sy aangestel as hoogleraar in die Afrikaanse letterkunde by die Universiteit van Stellenbosch,Anoniem. Lina Spies hoogleraar in Afrikaans aan U.S. Die Burger, 26 Maart 1987 ’n posisie wat sy tot met haar aftrede in 1999 beklee.

Sy is verantwoordelik vir die omdigting van enkele Psalms en Gesange wat in die nuwe Liedboek van die Kerk opgeneem word. In Maart 2006 word sy verkies tot lid van die Raad van die Universiteit van Stellenbosch. Sy publiseer gereelde resensies en artikels oor die Afrikaanse en Nederlandse poësie.

In 1990 onderneem sy ’n uitgebreide reis deur Nederland en Amerika en bring ook onder andere besoek aan Amherst in New England, waar Emily Dickinson gebly het. Wanneer die Afrikaanse Skrywersgilde in 1990 ’n kulturele boikot bepleit met die doel om die aftakeling van apartheid te bespoedig, bedank sy uit protes uit hierdie liggaam omdat “selfs sy skrywers en literatore nóg hul land, nóg hul moedertaal, nóg hul letterkunde in wêreldkonteks sien”Spies, Lina.  Spies bedank uit die Skrywersgilde. Die Burger, 24 November 1990 en nie verstaan nie dat ’n kulturele boikot meer skade sal doen as goed en mure afbreek eerder as opbou.

As pleitbesorger vir die vrou se posisie in die poësie vra sy in 1982 tydens die Universiteit van Stellenbosch se Herfsskool of spesifieke norme vir die geslag van die digter gebruik word vir beoordeling van hulle gedigte. By die Hoofkongres van die Afrikaanse Letterkundevereniging in Bloemfontein in 1996 betoog sy dat die inherente eienskappe van die verskillende geslagte neerslag vind in hulle poësie. Verskeie kere tree sy in die openbaar op om lesings te gee of haar gedigte voor te lees. By die Versindaba van 2007 op Stellenbosch lewer sy die Dana Mouton-gedenklesing oor Wat is poësie?

Sy dien op die kerklike kommissie vir die omdigting van die Psalms. In 2013 bedank sy egter in ’n openbare brief uit die NG Kerk, waarin sy haar jarelange geloofsreis uiteensit en die redes waarom sy haar nie langer binne hierdie gemeenskap tuis voel nie.Spies, Lina. Ek los nou die kerk. Rapport, 24 Maart 2013

Sy is nooit getroud nie, maar haar liefde en bewondering vir katte is byna legendaries.De Lange, Johann. Oor die digter Lina Spies se katte. Insig, Desember 2000

Skryfwerk

Poësie Wanneer sy tien jaar oud is, word haar eerste gediggies in Die Kinderstem, die skoolkoerant van die Noordoos-Vrystaat, gepubliseer. Haar eerste volwaardige gedig is Vir Anne Frank van Het Achterhuis, wat in Inset verskyn. Haar gedigte word gereeld in Standpunte gepubliseer en ook in ander letterkundige tydskrifte soos Tydskrif vir Letterkunde, Sestiger en Kol, van wie sy in 1969 die Politiekprys vir Letterkunde ontvang vir haar gedig Widmung – Breyten Breytenbach. Hierdie gedig is geskryf na aanleiding van die toekenning van die Reina Prinsen Geerligsprys aan Breytenbach en word later in haar debuutbundel opgeneem. In 1965 word van haar gedigte deur D.J. Opperman en Fred le Roux in Stiebeuel 2 opgeneem.

Haar debuutbundel Digby vergenoeg skep die indruk van persoonlike ervarings (in hierdie geval van ’n verblyf in Holland en ’n liefdeservaring) en ontgin op voortreflike wyse die moontlikhede van die kinderlike, die godsdienstige en die ironie in die poësie.Coetzee, A.J. Standpunte. Nuwe reeks 102, Augustus 1972 Ook haar kinderjare in die Vrystaat vind neerslag in van die verse. Die gedigte word in vyf ongetitelde afdelings verdeel. Die bundel verwerf in 1972 die Eugène Marais-prys en in 1973 die Ingrid Jonker-prys.

Winterhawe is anders van aard as haar indrukwekkende debuut, wat haar een van die min digters maak wat so vroeg in hulle loopbaan bewys lewer van die vermoë tot selfvernuwing. Hierdie bundel bevat by uitstek liefdesverse waarin daar oop-oog gevaar word maar met die begeerte na ’n plek om vas te meer en te oorwinter. Hierdie bundel toon ’n verstegniese vooruitgang op haar debuut en die gedigte word oor die algemeen weergegee met ’n groter strakheid en soberheid.Olivier, Fanie. Rapport, 9 Desember 1973Brink, André P. Voorlopige Rapport.  Human & Rousseau Kaapstad en Pretoria Eerste uitgawe 1976Coetzee, A.J. Die Huisgenoot, 24 Mei 1974

Dagreis ontgin die moontlikhede van ’n reis vanaf die self na verskillende bestemmings soos die religieuse, die liefde en die kuns. Soos die titel aandui, is dit nie ’n reis te ver die vreemde in nie, maar ’n naby reis wat onderneem word in die lig, voor die donker kom. Die vertrekpunt is die self en die terugkeer dieselfde, sodat die impak van wat ondersoek word eindelik aan die self gemeet word. Die bundel is in drie tematiese afdelings verdeel.Brink, André P. Rapport, 27 November 1976Brink, André P. Tweede Voorlopige Rapport. Human & Rousseau Kaapstad Pretoria Johannesburg Eerste uitgawe 1980Cloete, T.T. Tydskrif vir Geesteswetenskappe. Jaargang 17 no.2, Junie 1977

Oorstaanson ontgin reeds bekende temas in haar werk verder en kom die reismotief, die eggo van die self in ander en die eggo van die Bybelse in die alledaagse in fyn gekonstrueerde gedigte aan die bod. Ander kunsvorme (veral musiek en skilderkuns) en hulle invloed op die poësie en die lewe en die liefde word ook as tema ontgin.Brink, André P. Rapport. 5 Desember 1982Cloete, T.T. Tydskrif vir Letterkunde. Jaargang 21 no. 3, Augustus 1983Cloete, T.T. Tydskrif vir Geesteswetenskappe. Jaargang 23 no. 4, Desember 1983

Van sjofar tot sjalom beskryf die spanning tussen vernietiging en vergaan (die sjofar of ramshoring wat vernietiging oor die mure van Jerigo afroep) en vrede en welbehae (die sjalom) en verwoord dit onder andere deur Pretoria en Stellenbosch teen mekaar af te speel. Die bundel bevat ’n aantal liefdesgedigte en bekende sprokies word gereeld betrek as verdigtingsraamwerk, terwyl ook die godsdiens in party gedigte aangeraak word.Rabie, Jan. Cape Times, 26 Maart 1988Brink, André P. Rapport, 22 November 1987 Hierdie bundel is in 1989 op die kortlys vir die Ou Mutual-prys vir die digkuns.Roodt, P.H. ‘Van sjofar tot sjalom: kritiek, repliek en ’n nawoord’. Tydskrif vir Letterkunde. Jaargang 27 no. 2, Mei 1989

Hiermaals is ’n loflied op die hier en nou en die menigvuldige skoonheid en vreugde van aardse dinge, met die aksent op die “hier” en die eenmaligheid van die nou. In die titel word hierdie begrip goed uiteengesit in kontras met die gesuggereerde “hiernamaals” (die toekoms). Die bundel word opgedra aan die filosoof Johan Degenaar, wat haar inspireer en het ook veel te danke aan die lewensuitkyk van G.K. Chesterton, veral soos hy dit in sy werk Orthodoxy uiteensit. Standhoudende temas in haar gehele oeuvre (Bybelse figure, kunstenaars, minnaars, kinders, katte en dorpe en stede waar sy reeds gewoon het) word hier weer ontgin en baie van hierdie gedigte word liefdesgedigte rondom hierdie temas.Cloete, T.T. Insig, Junie 1992Hugo, Daniel. Die Burger, 9 Junie 1992Van der Elst, Jacques. Rapport, 1 November 1992Kannemeyer, J.C. Op weg na 2000, Tafelberg-Uitgewers Beperk Eerste uitgawe 1998 Hiermaals word in 1993 genomineer vir die Rapportprys en is in 1994 op die kortlys vir die toekenning van die Ou Mutual-prys.

Die skaduwee van die son gaan oor die wonder van die lewe en oor die dood, waar dit juis die verganklikheid en die herfs van die lewe is wat dit kosbaar en dus vreugdevol maak. Die oorheersende tema van lyding en dood word so aangebied dat die vreugde, lig en helder kleure nie agterweë bly nie. Reeds die titel stel hierdie tema van verganklikheid en afskeid aan die bod. Die bundel is in vyf afdelings gerangskik.Cloete, T.T. Rapport, 8 November 1998Pieterse, H.J. Beeld, 11 Januarie 1999

Duskant die einders se titel hou verband met haar eerste bundel, Digby vergenoeg, met “duskant” wat ooreenstemming toon met “digby” en “einders” met “vergenoeg”. Die einders in die titel suggereer ook horisonne en eindes, lewe en dood. In die bundel word ou bekende landskappe ondersoek, soos die Bolandse en Nederlandse, maar ander einders ook verken, soos die Vrystaat, Karoo en Kalahari.Hugo, Daniel. Rapport, 23 Mei 2004Olivier, Fanie. Beeld, 17 Mei 2004