Die Neanderdallers of Neanderdalmense is ’n uitgestorwe spesie van argaïese mense in die genus Homo, moontlik ’n subspesie van Homo sapiens, wat tot omtrent 40 000 jaar gelede in Eurasië voorgekom het.

Hoewel daar konsensus is dat die redes vir hulle uitsterwing "hoogs betwisbaar" is, word demografiese faktore soos klein bevolkings, verbastering en lukrake skommelings as waarskynlike faktore beskou. Ander redes wat aangevoer word, is opname in die moderne menslike samelewing, groot klimaatsveranderings, siektes of 'n kombinasie van dié faktore.

Hulle word gewoonlik geklassifiseer as die spesie Homo neanderthalensis, maar sommige wetenskaplikes beskou hulle as Homo sapiens neanderthalensis, ’n subspesie van Homo sapiens. Dit is onduidelik wanneer die Neanderdallers van die menslike lyn afgeskei het; studies dui op verskillende intervalle wat wissel van 315 000 jaar tot meer as 800 000 jaar gelede. Die tyd toe hulle van hulle voorouer H. heidelbergensis afgeskei is, is ook onduidelik. Die oudste moontlike Neanderdallerbene dateer van 430 000 jaar gelede, maar die klassifikasie is onseker. Neanderdallers is bekend van talle fossiele, veral van ná 130 000 jaar gelede. Die tipespesimen, "Neanderthal 1", is in 1856 in die Neanderdal in die hedendaagse Duitsland ontdek. Vir 'n groot deel van die 20ste eeu het navorsers die Neanderdallers uitgebeeld as primitief, onintelligent en dierlik. Hoewel kennis en die persepsie van hulle sedertdien aansienlik verander het in die wetenskaplike gemeenskap, is die beeld van die onontwikkelde grotman-argetipe steeds gewild in die volkskultuur.

duimnael|180px|links|’n Neanderdallerskelet (Amerikaanse Museum van Natuurgeskiedenis). Die Neanderdallers se tegnologie was taamlik gesofistikeerd. Dit sluit in die kultuur van steengereedskap en die vermoë om vuur te maak, asook die bou van vuurherde, om boombasteer en minstens eenvoudige klere soos komberse en poncho's te maak, te weef en op die Middellandse See te vaar. Hulle het ook medisinale plante gebruik en ernstige beserings behandel, kos gestoor en verskeie kookmetodes gebruik soos die braai, kook en rook van vleis. Neanderdallers het 'n groot verskeidenheid kos geëet, veral ewehoewiges, maar ook ander diere van die Pleistoseen, plante, klein soogdiere, voëls en seediere. Hoewel hulle moontlik roofdiere aan die bopunt van die voedselketting was, het hulle nog met grotbere, grotleeus, grothiënas en ander groot roofdiere meegeding.

'n Aantal voorbeelde van simboliese gedagtes en kuns word onbeslis aan Neanderdallers toegeskryf, soos moontlike ornamente wat gemaak is van voëlkloue en vere of skulpe, asook versamelings ongewone voorwerpe soos kristalle en fossiele. Hulle het blykbaar musiek met 'n soort fluit en Spaanse grotkuns gemaak wat uit voor 65 000 jaar gelede dateer. Sommige bewerings van godsdiensoortuigings is al gemaak. Neanderdallers kon moontlik praat, maar dit is nie bekend hoe ingewikkeld hulle spraak was nie.

In vergelyking met die mens het Neanderdallers 'n robuuste liggaamsbou gehad met proporsioneel kort ledemate. Navorsers skryf dit dikwels toe aan aanpassing om hitte in 'n koue klimaat te bewaar, maar dit kon ook aanpassings gewees het om te hardloop in die warmer woudstreke waar hulle dikwels voorgekom het. Hulle het egter wel aanpassings vir die koue gehad, soos gespesialiseerde vetstoring en 'n vergrote neus om lug warm te maak. Die mans was gemiddeld 165 cm lank en vroue 153 cm, nes moderne mense voor die industriële tydperk. Die breinholtes van mans en vroue was onderskeidelik sowat 1 640 cm3 en 1 460 cm3, wat binne die omvang van moderne menslike breine is.

Die totale Neanderdalbevolking was klein. Tog is daar bewyse van streekkulture en dus gereelde kommunikasies tussen gemeenskappe. Hulle kon in grotte gelewe het na gelang van die seisoen. Die Neanderdalgenoomprojek van 2010 het bewyse gevind van verbastering tussen Neanderdallers en moderne mense. Dit het moontlik tussen 316 000 en 219 000 jaar gelede voorgekom, maar waarskynliker sowat 100 000 jaar gelede en weer 65 000 jaar gelede. Dit lyk ook of Neanderdallers in Siberië met Denisova-hominiene, 'n ander groep argaïese mense, verbaster het. Neanderdallergene kom ook in ander bevolkings voor en sowat 20% van dié gene het oorleef. Dit het blykbaar die mens se immuunstelsel beïnvloed en word ook genoem ten opsigte van verskeie ander biologiese funksies en strukture.

Taksonomie Etimologie thumb|220px|links|Die Kleine Feldhofer-grot, waar Neanderthal 1 ontdek is.

Neanderdallers is genoem na die Neandertal in Duitsland (voorheen gespel Neanderthal). Die dal self is genoem na Joachim Neander, 'n Duitse teoloog en liedjieskrywer wat die streek dikwels besoek het.

Neanderthal 1, die tipespesimen, was in antropologiese geskrifte bekend as die "Neanderdalskedel" en die rekonstruksie wat op die skedel gegrond is, is die "Neanderdalmens" genoem. Die hele spesie is Homo neanderthalensis genoem, en dit onderskei dit is apart van mense, soos in 1863 die eerste keer voorgestel is deur die Ierse geoloog William King.

thumb|220px|Ernst Haeckel se stamboom van die primate dui H. stupidus (Neanderdallers) aan as die voorsaat van H. sapiens. thumb|220px|links|Die bokant van die skedel van Neanderthal 1, die tipespesimen, in die Musée de l'Homme, Parys. links|thumb|220px|Le Moustier deur Charles R. Knight, 1920.

Navorsingsgeskiedenis Die eerste Neanderdalleroorblyfsel, 'n skedel, is in 1829 deur die Nederlandse naturalis Philippe-Charles Schmerling in die Grottes d'Engis in België, ontdek. Hy het egter gedink dit behoort aan 'n moderne mens. In 1848 is "Gibraltar 1" van die Forbes-groefsteen aan Gibraltar se wetenskapvereniging voorgelê, maar hulle het ook geglo dit is 'n moderne menslike skedel.

In 1856 het die plaaslike onderwyser Johann Carl Fuhlrott besef bene van die Kleine Feldhofer-grot in die Neanderdal, Neanderthal 1, is iets anders as dié van 'n moderne mens. Hy het dit in 1857 aan die Duitse antropoloog Hermann Schaaffhausen gegee om te bestudeer. Dit het bestaan uit die skedel, bene van die bobeen, regterarm, heupbeen, skouerblad, ribbes en ander bene. Ná die publikasie van Charles Darwin se On the Origin of Species het Fuhlrott en Schaaffhausen gemeen die bene behoort aan 'n antieke moderne mens. Fuhlrott en Schaaffhausen het teenstand gekry van veral die patoloog Rudolf Virchow, wat gereken het 'n mens kan nie 'n nuwe spesie definieer op grond van 'n enkele ontdekking nie. In 1872 het Virchow Neanderdallereienskappe verkeerdelik vertolk as tekens van seniliteit, siektes en misvorming. Dit het die navorsing oor die Neanderdaller vertraag tot aan die einde van die 19de eeu.

Teen die vroeë 20ste eeu is nog talle ander ontdekkings van Neanderdalleroorblyfsels gemaak, en daar is bepaal H. neanderthalensis is 'n wettige spesie. Die invloedrykste spesimen was La Chapelle-aux-Saints 1 ("Die Ou Man") uit La Chapelle-aux-Saints, Frankryk. Die Franse paleoantropoloog Marcellin Boule het verskeie geskrifte geskryf, onder meer die eerste een wat paleoantropologie as 'n wetenskap gevestig het, en het die spesimen beskryf. Hy het hom egter as krom en aapagtige gerekonstrueer, en net verreweg verwant aan die moderne mens. Boule het die gewilde beeld van Neanderdallers aangevuur as barbaars, krom, knuppelswaaiend en primitief. Dié beeld is verskeie dekades lank nageboots.

In 1911 het die Skotse antropoloog Arthur Keith Chapelle-aux-Saints 1 as 'n onmiddellike voorsaat van die moderne mens gerekonstrueer wat langs 'n vuur sit en gereedskap maak. Dit het egter nie wetenskaplikes oortuig nie en in 1915 het Keith van sy teorie afgesien.

thumb|220px|Die rekonstruksie van Neanderthal 1 deur Hermann Schaaffhausen, 1888. Teen die middel van die eeu het wetenskaplikes 'n poging aangewend om die Neanderdaller beter te verstaan. Idees soos die Neanderdaller se gedrag, intelligensie en kultuur is bespreek, en daaruit het 'n mensagtiger beeld te voorskyn gekom. In 1939 het die Amerikaanse antropoloog Carleton Coon die Neanderdaller gerekonstrueer in 'n moderne sakepak en hoed om te beklemtoon dat hy min of meer ononderskeidbaar van die moderne mens sou gewees het as hy tot vandag oorleef het. William Golding se roman van 1955 The Inheritors beeld Neanderdallers uit as veel emosioneler en beskaafder. Boule se beeld het egter werke tot in die 1960's beïnvloed. Deesdae is rekonstruksies van Neanderdallers mensliker.

'n Verbastering tussen Neanderdallers en moderne mense is al vroeg vermoed, soos in 1800 voorgestel deur die Engelse paleoantropoloog Thomas Huxley, in 1907 deur die Deense etnograaf Hans Peder Steensby en in 1962 deur Coon. In die vroeë 2000's is vermeende kruisingspesimens ontdek. Eenderse anatomie kan egter toegeskryf word aan aanpassing by dieselfde soort omgewing eerder as verbastering.

Neanderdallergene is in 2010, met die eerste genoomvolgordebepaling van Neanderdallers, in moderne bevolkings aangetref. Dit is gegrond op drie spesimens in die Vindijagrot in Kroasië wat amper 4% argaïese DNS bevat het.

Klassifikasie

Neanderdallers is hominiede in die genus Homo (mense) en word gewoonlik geklassifiseer as 'n aparte spesie, H. neanderthalensis, hoewel soms as 'n subspesie van moderne mense soos H. sapiens neanderthalensis. Dan word die mens geklassifiseer as H. sapiens sapiens.

'n Groot deel van die omstredenheid spruit uit die vaagheid van die term "spesie", want dit beteken gewoonlik twee geneties geïsoleerde bevolkings, maar 'n kruising tussen mense en Neanderdallers het plaasgevind. Die afwesigheid van vaderlike Y-chromosome en moederlike mitochondriale DNS (mtDNS) in moderne mense wat van Neanderdallers af kom, asook die onderverteenwoordiging van Neanderdalse X-chromosoom-DNS, kan dui op 'n afname van vrugbaarheid of gereelde steriliteit van sommige kruisings, en dit verteenwoordig 'n gedeeltelike biologiese voortplantingsblokkade tussen die groepe, en dus spesie-uitsterwing.

In 2014 het die genetikus Svante Pääbo sulke "taksonomiese oorloë" as onoplosbaar beskryf, "want daar is geen definisie van spesie wat die geval perfek beskryf nie".

Neanderdallers was vermoedelik nader verwant aan Denisova-hominiene as aan moderne mense. Neanderdallers deel ook 'n meer onlangse laaste gemeenskaplike voorsaat (LGV) met die Denisovas as met moderne mense, volgens kern-DNS (nDNA). Tog deel Neanderdallers en moderne mense 'n meer onlangse mitochondriale LGV (waarneembaar wanneer mtDNS bestudeer word). Dit stam waarskynlik uit 'n verbastering ná die skeiding van die Neanderdallers en Denisovas, wat 'n ander mtDNS-lyn daargestel het. Dit behels óf die introgressie van 'n ander argaïese mens en Denisovas, óf die introgressie van 'n vroeëre, ongeïdentifiseerde moderne mens uit Afrika en die Neanderdallers.

Evolusie

Baie kenners dink H. heidelbergensis was die laaste gemeenskaplike voorsaat van die Neanderdallers, Denisovas en moderne mense voordat bevolkings in onderskeidelik Europa, Asië en Afrika afgesonder geraak het. Die taksonomiese onderskeid tussen H. heidelbergensis en die Neanderdallers is hoofsaaklik gebaseer op 'n fossielgaping in Europa tussen 300 000 en 243 000 jaar gelede. "Neanderdallers word gewoonlik beskou as fossiele wat van ná dié gaping dateer. Bene van 430 000 jaar oud by Sima de los Huesos kan egter vroeë Neanderdallers of 'n nabyverwante groep verteenwoordig, en die 400 000 jaar oue Aroeira 3 kan 'n oorgangsfase wees. Voorsaat- en afstammende vorme kon saam voorgekom het. Dit is ook moontlik dat daar 'n geenvloei tussen Wes-Europa en Afrika was tydens die Middel-Pleistoseen wat Neanderdallereienskappe in sommige spesies verberg.

Die fossielrekord is baie vollediger vanaf minder as 130 000 jaar gelede, en spesimens uit dié tydperk maak die grootste deel van die bekende Neanderdallerskelette uit.