duimnael|300px|Beelde van Nasa se Shuttle Radar Topography Mission STS-99 wys ’n deel van die 180 km wye ring van die Chicxulub-krater. Die Chicxulub-krater (uitspraak: /tʃikʃuˈlub/) is ’n prehistoriese slagkrater in die see onder die Yucatán-skiereiland in Mexiko.Earth Impact DB URL besoek op 2008-12-30 Sy middelpunt lê naby die dorp Chicxulub Puerto, waarna dit genoem is. Die ouderdom van die asteroïedbotsing en die Kryt-Paleogeen-grens (K-Pg-grens) stem presies ooreen. Die krater is 180 km breed en 20 km diep, en dit is dus een van die grootste impakkraters op Aarde. Die hemelliggaam wat dit veroorsaak het, se deursnee was minstens 10 km.

Die krater is in die 1970's ontdek deur twee geofisici wat petroleum op Yucatán gesoek het. Die ouderdom van die rotse wat deur die impak geraak is, wys die krater dateer uit sowat 66 miljoen jaar gelede, die einde van die geologiese periode Kryt en die begin van die Paleogeen-periode. Dit val saam met die K-Pg-grens, die geologiese grens tussen die Kryt en Paleogeen. Dit dui daarop dat die impak verantwoordelik was vir die Kryt-Paleogeen-uitwissing, waarin onder meer al die nievlieënde dinosourusse uitgesterf het.;

Ontdekking In die laat 1970’s het die geoloog Walter Alvarez en sy pa, die Nobelprys-wetenskaplike Luis Walter Alvarez, hulle teorie voorgestel dat die Kryt-Paleogeen-uitwissing deur ’n botsvoorval veroorsaak is. Die hoofbewys van so ’n botsing was vervat in ’n dun kleilaag wat by die K-Pg-grens in Gubbio, Italië, voorkom. Die Alvareze en kollegas het berig dit bevat ’n abnormaal hoë konsentrasie iridium, ’n chemiese element wat skaars op die Aarde is, maar algemeen in asteroïede voorkom.; ; Iridiumvlakke in dié laag was tot 160 keer dié van ander lae. Die hipotese is gestel dat die iridium in die atmosfeer versprei is toe die impaktor verdamp is en oor die Aarde se oppervlak neergesak het saam met ander materiaal wat deur die impak opgeskiet is, en dit het die iridiumverrykte kleilaag gevorm. Destyds was daar geen konsensus oor wat die Kryt-Paleogeen-uitsterwing en die grenslaag veroorsaak het nie. Teorieë het ingesluit ’n nabygeleë supernova, klimaatsverandering of ’n geomagnetiese omkering. Die Alvareze se botsingshipotese is deur baie paleontoloë verwerp, want hulle het geglo die gebrek aan fossiele wat naby die K-Pg-grens gevind is, dui op ’n geleideliker afsterwe van spesies.

Die Alvareze, saam met Frank Asaro en Helen Michel van die Universiteit van Kalifornië, Berkeley, het hulle artikel oor die iridiumanomalie in Junie 1980 in die tydskrif Science gepubliseer. Min of meer gelyktydig het Jan Smit en Jan Hertogen hulle iridiumbevindings van Caravaca, Spanje, in Mei 1980 in die tyskrif Nature gepubliseer. Dié artikels is gevolg deur ander verslae van soortgelyke iridiumpieke by die K-Pg-grens oor die wêreld heen en het wye belangstelling in die oorsaak van die K-Pg-uitsterwing ontketen; meer as 2 000 artikels is in die 1980’s oor die onderwerp gepubliseer. Daar was geen bekende slagkraters van die regte ouderdom en grootte nie, wat ’n soektog na ’n geskikte kandidaat aangespoor het. Met erkenning van die omvang van die werk het Lee Hunt en Lee Silver in 1981 ’n kruisdissiplinêre vergadering in Snowbird, Utah, gereël. Onbekend aan hulle is bewyse van die krater waarna hulle gesoek het dieselfde week aangekondig, en dit sou grootliks deur die wetenskaplike gemeenskap misgekyk word.

thumb|260px|links|'n Kunstenaar se voorstelling van die asteroïed wat die tropiese, vlak see van die swaelryke Yucatán-skiereiland tref in wat vandag Suidoos-Mexiko is. Die nasleep van die asteroïedbotsing, wat ongeveer 66 miljoen jaar gelede plaasgevind het, is vermoedelik die massauitsterwing van nievlieënde dinosourusse en baie ander spesies op Aarde. Die slag het honderde miljarde ton swael die atmosfeer in gespoeg, wat ’n wêreldwye verduistering en vriesende temperature veroorsaak het wat minstens ’n dekade lank voortgeduur het.

In 1978 het die geofisici Glen Penfield en Antonio Camargo vir die Mexikaanse staatsbeheerde oliemaatskappy Petróleos Mexicanos (Pemex) gewerk as deel van ’n lugmagnetiese opname van die Golf van Mexiko noord van die Yucatán-skiereiland. Penfield se taak was om geofisiese data te gebruik om moontlike liggings vir olieboorwerk te verken. In die magnetiese data het Penfield afwykings opgemerk waarvan hy die diepte beraam en gekarteer het. Hy het toe swaartekragdata uit die 1940’s verkry. Toe die swaartekragkaarte en magnetiese afwykings vergelyk is, het Penfield ’n vlak “kol” met 'n deursnee van 180 km beskryf wat in die andersins niemagnetiese en eenvormige omgewing verskyn – vir hom 'n duidelike bewys van ’n slagkrater. ’n Dekade vroeër het dieselfde kaart ’n krater aan die kontrakteur Robert Baltosser uitgewys, maar Pemex se korporatiewe beleid het hom verhinder om sy gevolgtrekking bekend te maak.

Penfield het sy bevindinge aan Pemex voorgelê, wat die kraterteorie verwerp het en eerder steun verleen het aan bevindings wat die kenmerk aan vulkaniese aktiwiteit toegeskryf het. Pemex het die vrystelling van spesifieke data verbied, maar het Penfield en Camargo toegelaat om die resultate in 1981 op 'n konferensie vir geofisici aan te bied. Dié jaar se konferensie is swak bygewoon en hulle verslag het min aandag getrek, aangesien baie kenners oor slagkraters en die K-Pg-grens eerder die Snowbird-konferensie bygewoon het.

Hoewel Penfield oor baie geofisiese datastelle beskik het, het hy geen boorkerne of ander fisiese bewys van ’n impak gehad nie. Hy het geweet Pemex het verkennende putte in die streek geboor. In 1951 het een put deurgedring tot in wat beskryf is as ’n dik laag andesiet ongeveer 1,3 km diep. Dié laag kon die gevolg gewees het van die intense hitte en druk van ’n aardimpak, maar ten tyde van die boorwerk is dit afgemaak as ’n lawakoepel – ’n kenmerk wat nie tipies van die streek se geologie is nie. Penfield is deur William C. Phinney, kurator van maanrotse by die Johnson-ruimtesentrum, aangemoedig om dié monsters te vind om sy hipotese te ondersteun. Penfield het probeer om terreinmonsters te bekom, maar is meegedeel dat hulle verlore geraak of vernietig is. Toe pogings vrugteloos was om na die boorplekke terug te keer om bevestigende rotse te soek, het Penfield sy soektog laat vaar, sy bevindings gepubliseer en na sy Pemex-werk teruggekeer. Nadat hy die 1980-Science-artikel gesien het, het Penfield aan Walter Alvarez oor die Yucatán-struktuur geskryf, maar geen antwoord ontvang nie.

Alvarez en ander wetenskaplikes het hulle soektog na die krater voortgesit, maar hulle het in oseane gesoek op grond van foutiewe ontledings wat daarop gedui het dat die impaktor in oop water geland het. Onbewus van Penfield se ontdekking het 'n nagraadse student aan die Universiteit van Arizona, Alan R. Hildebrand, en sy studieleier, William V. Boynton, na ’n krater naby die Brazosrivier in Texas gesoek. Hulle bewyse het groen-bruin klei met 'n oormaat iridium ingesluit, wat geskoktekwartskorrels en klein verweerde glasballetjies bevat het wat soos tektiete gelyk het. Dik, deurmekaar afsettings van growwe rotsfragmente was ook teenwoordig, wat vermoedelik deur ’n impakgebeurtenis van een plek afgeskuur en elders neergelê is. Sulke afsettings kom op baie plekke voor, maar het gekonsentreerd gelyk in die Karibiese Bekken by die K-Pg-grens. Toe die Haïtiaanse professor Florentine Morás ontdek wat hy gedink het bewys van ’n antieke vulkaan op Haïti was, het Hildebrand voorgestel dat dit ’n kenmerkende teken van ’n nabygeleë impak kon wees. Toetse op monsters wat van die K-Pg-grens verkry is, het meer tektietglas onthul, wat slegs in die hitte van asteroïedbotsings en kernontploffings gevorm word.

In 1990 het Hildebrand van Penfield se vroeëre ontdekking van ’n moontlike slagkrater gehoor. Hildebrand het Penfield gekontak en die paar het spoedig twee boormonsters uit die Pemex-putte verkry wat vir dekades in New Orleans gestoor is. Hildebrand se span het die monsters getoets, wat duidelik skokmetamorfiese materiale getoon het. ’n Span Kaliforniese navorsers wat satellietbeelde ondersoek het, het ’n sinkgatring ontdek wat op die dorp Chicxulub Pueblo gesentreer is en ooreengestem het met die een wat Penfield vroeër gesien het.

Meer onlangse bewyse dui daarop dat die krater 300 km breed is en dat die waargenome ring van 180 km ’n binnemuur van die groter krater is. Hildebrand, Penfield, Boynton, Camargo en ander het in 1991 hulle artikel gepubliseer waarin die krater geïdentifiseer is.

In Maart 2010 het 41 kundiges uit baie lande die beskikbare bewyse hersien: 20 jaar se data wat ’n verskeidenheid velde dek. Hulle het tot die gevolgtrekking gekom dat die impak by Chicxulub die massauitsterwings by die K-Pg-grens veroorsaak het. ’n Studie uit 2013 het isotope in impakglas van die Chicxulub-krater vergelyk met isotope in as van die K-Pg-grens, en tot die gevolgtrekking gekom dat hulle uit byna presies dieselfde tyd dateer en binne eksperimentele foutmarges val.

Impakbesonderhede thumb|250px|Vryelug-swaartekraganomalie oor die Chicxulub-struktuur (kuslyn en staatsgrense as swart lyne aangedui).

’n Studie uit 2013 wat in Science gepubliseer is, het die ouderdom van die impak geraam op 66 043 000 ± 11 000 jaar gelede, gebaseer op verskeie bewyse, insluitend argon-argon-datering van tektiete uit Haïti en bentoniethorisonne wat bo die impakhorison in Noordoos-Montana lê. Dié datum is ondersteun deur ’n studie uit 2015 wat op argon-argon-datering gebaseer is van tefra wat in lignietlae in die Hell Creek- en oorliggende Fort Union-formasies in Noordoos-Montana gevind is. ’n Studie uit 2018 wat op argon-argon-datering van sferules van Gorgonilla-eiland, Colombia, gebaseer is, het ’n effens ander resultaat van 66 051 000 ± 31 000 jaar gelede opgelewer. Die impak is vertolk as dat dit gedurende die Noordelike Halfrond se lente plaasgevind het, gebaseer op jaarlikse isotoopkrommes in steur- en roeivisbene wat in ’n uitwerpselhoudende sedimentêre eenheid op die Tanis-terrein in suidwestelike Noord-Dakota gevind is. Daar word vermoed dat hierdie sedimentêre eenheid binne ure ná die impak gevorm het.

Die terrein van die krater ten tyde van die impak was ’n mariene karbonaatplatform. Die waterdiepte op die impakterrein het gewissel van 100 m aan die westelike rand van die krater tot meer as 1 200 m aan die noordoostelike rand, met ’n geraamde diepte by die middelpunt van die impak van ongeveer 650 m. Die seebodemgesteentes het bestaan uit ’n opeenvolging van mariene sedimente uit die Jura en Kryt van 3 km dik. Hulle was oorwegend karbonaatgesteente, insluitend dolomiet (35-40% van die totale opeenvolging) en kalksteen (25-30%), saam met evaporiete en klein hoeveelhede skalie en sandsteen (3-4%), onderlê deur ongeveer 35 km kontinentale kors. Die kors was saamgestel uit gesteente soos graniet.

Die impaktor was ongeveer 10 km in deursnee – groot genoeg dat, indien dit op seevlak geplaas is, dit hoër sou reik as die berg Everest. ’n Studie uit 2021 het beraam dat die impaktor ’n snelheid van 20 km/s gehad het, met ’n helling van 45-60° teenoor die horisontaal, en dat dit die Aarde uit die noordooste getref het.

Gevolge thumb|’n Animasie wat die Chicxulub-impak en daaropvolgende kratervorming toon.

Die kinetiese energie van die impak is geskat op sowat 72 teraton TNT. Die impak het winde van vinniger as 1 000 km/h naby die middel van die ontploffing gegenereer, en ’n kortstondige holte van 100 km breed en 30 km diep geskep wat later ineengestort het. Dit het ’n krater gevorm wat hoofsaaklik onder die see lê en tans deur ongeveer 1 000 m sediment bedek is. Die impak, die uitbreiding van water nadat die krater gevul is en verwante seismiese aktiwiteit het megatsoenami’s van meer as 100 m hoog veroorsaak, met een simulasie wat voorstel dat die onmiddellike golwe van die impak moontlik tot 1,5 km hoog kon gereik het.