duimnael|regs|320px|Franschhoek se NG kerk is in 1847 ingewy, in 1883 vergroot en in 1967/'8 deeglik gerestoureer.
Die NG gemeente Franschhoek is 'n gemeente van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in die Sinode van Wes-en-Suid-Kaapland. Dit is in 1847 gestig as die 32ste gemeente in dié kerkverband.
Agtergrond Die naam van die gemeente, Franschhoek, herinner aan die koms en vestiging van die Franse Hugenote in hierdie vallei. Vandag nog is hier baie wat spreek van dié betekenisvolle toevoeging tot die Kaapse bevolking in 1688, naamlik familie- en plaasname, grafte, asook die Hugenotemonument wat in April 1948 onthul is. Die eerste inwoners van die vallei, vroeër genoem Olifantshoek, het in kerklike verband met Simondium en Drakenstein gestaan, en op eersgenoemde plek is selfs vir 'n tyd deur ds. Pierre Simond in die Franse taal gepreek. Mettertyd het hul afstammelinge vermeng met die Hollanders en vanaf die stigting van Paarl-gemeente in 1691 het Franschhoek 'n wyk van daardie gemeente uitgemaak.
Stigting duimnael|regs|160px|Ds. Pieter Ham, van 1845 tot 1864 Franschhoek se eerste NG predikant. Reeds in 1833 is 'n kapel hier gebou en deur ds. Van der Lingen van die Paarl ingewy. Eerw. Jacob Verhaag het vanaf 1837 geestelike werk op Franschhoek gedoen en sowel wit as bruin mense bearbei. Die afstigting tot 'n afsonderlike gemeente het eers in 1845 plaasgevind, nadat prop. P.N. Ham reeds in September 1844 hier as hulpprediker georden is. Die kerkgebou, wat in 1883 vergroot en in 1967/'68 deeglik gerestoureer is, is op 18 April 1847 ingewy. Die eerste leraar, ds. Pieter Ham, het hier gestaan tot 1865. Die beginjare van die klein gemeente was moeilik, beide vanweë die finansiële swakheid van die gemeente en die gedurige stryd tussen die leraar en 'n deel van die gemeente. Ds. Ham moes sy ontslag aanvra nadat die saak selfs voor die Sinode gedien het.
Tydperk tot 1900 duimnael|links|200px|Ds. J.A. Beyers was predikant alhier van 1884 tot 1889. Dié portret van hom hang in die konsistorie.
Ná die vertrek van ds. Ham moes die gemeente 'n vakature van vyf jaar deurmaak waarin, soos kan verstaan word, sake op kerklike gebied beslis nie gevorder het nie. Gedurende die volgende 30 jaar word die gemeente deur sewe ernstige en toegewyde leraars bearbei en was daar kenlike groei, hoewel nie een baie lank hier gebly het nie. Hulle was: Di. J.G. Olivier (1869–1873), J.G.J. Krige (1873–1881), P.D. Rossouw (1881–1883), J.A. Beyers (1884–1889), A.F. Malan (1889–1890), dr. P.J. Cruse (1892–1894) en ds. S.J. Perold (1895–1898). In Maart 1899 het ds. A.F. Malan teruggekeer om die gemeente twintig jaar lank met vrug te bedien. In sy bediening het hier in 1905 'n geseënde herlewing plaasgevind en in 1917 het die gemeente 'n groot verantwoordelikheid bygekry deurdat die bosbounedersetting by La Motte ook bearbei moes word.
Eerste helfte van die 20ste eeu Weens swakke gesondheid moes ds. Malan in 1919 sy emeritaat aanvaar en op 17 Julie 1919 is ds. A.J. van Wyk as sy opvolger hier bevestig. Ds. en mev. Van Wyk het die gemeente met groot getrouheid en toewyding gedien en op elke gebied van die gemeentelike werksaamhede hul plek ingeneem. Op breër kerklike gebied het ds. Van Wyk ook treffende dienste gelewer en was van 1928 tot 1936 Scriba van die Sinode en daarna Moderator, totdat hy in 1943 sy emeritaat aanvaar het. Vanaf 1943 tot 1947 het ds. Z.B. Loots die gemeente bedien en sedert Oktober 1947 ds. M.S. Louw.
Ds. P.D. Rossouw duimnael|links|200px|Ds. P.D. Rossouw was leraar van Franschhoek van 1881 tot 1883 toe hy vertrek na sy vierde en laaste gemeente, Fraserburg. Dié portret van hom hang in die konsistorie van Franschhoek se kerk.
duimnael|regs|300px|'n Gedenksteen aan die kerkgebou aangebring met die viering van die gemeente se 150-jarige bestaan in 1995.
Die gemeente was ná die vertrek van ds. Jacobus George Joubert Krige (1873–1881) ses maande vakant totdat ds. P.D. Rossouw, indertyd die leraar van Steynsburg, hier verwelkom is. Op 8 September 1881 het 'n groot aantal gemeentelede die nuwe leraar 'n paar myl buite die dorp tegemoet gegaan en op feestelike wyse ingebring. Op 9 September het die bevestiging plaasgevind in 'n goed gevulde kerk, waar 'n hele aantal predikante teenwoordig was, naamlik di. J.H. Neethling (konsulent), J.G.J. Krige (vorige leraar), E.Z.J. de Beer, A. Murray, J. Stegmann en prof. J. Marais. Ds. Neethling, wat die bevestigingsrede gehou het, het oor die visvangs in Lukas 5 gespreek en die intreepreek het gegaan oor Eksodus 3:14 (Statebybel): "En God zeide tot Mozes: IK ZAL ZIJN, Die IK ZIJN ZAL! Ook zeide Hij: Alzo zult gij tot de kinderen Israëls zeggen: IK ZAL ZIJN heeft mij tot ulieden gezonden!". Statenvertaling.net.
In die tyd het 'n mens van Steynsburg nog met 'n seereis na Franschhoek gekom. Ds. Rossouw is per wa na Port Elizabeth en van daar per boot, die Nubian, na Kaapstad. Die hele reis het byna £70 gekos, en omdat ds. Rossouw nie volle vier jaar op Steynsburg gebly het nie, moes daar 'n gedeelte van sy reiskoste van Uniondale na Steynsburg, naamlik £25 vergoed word. Met die vertrek van ds. Krige het die gemeente ook die regeringstoelaag tot die salaris van die predikant verloor. Tog het die gemeente nie daaraan getwyfel dat alle verpligtinge in verband met die instandhouding van die eredienste nagekom sou word nie. Ten spyte van die verlies van die toelaag was die gemeente vol moed en het die saak van die vergroting van die kerkgebou waarvan daar reeds sprake was in die tyd van die vorige predikant, dadelik aandag geniet. Op 3 Oktober 1881 het die kerkraad besluit om 'n gemeentevergadering te belê wat op 20 Oktober gehou sou word. Op hierdie vergadering is 'n boukommissie aangestel om op sake in te gaan. Toe die verslag van die kommissie voor die kerkraadsvergadering van 15 November gelê is, het dit geblyk dat daar by die gemeentelede groot verskil van gevoele was omtrent die wyse waarop die kerk vergroot moes word. Die kerkraad besluit dus om die saak nogeens voor 'n gemeentevergadering op 21 November te lê. Wat die uitslag van die vergadering was, is moeilik om vas te stel, maar na alle waarskynlikheid is daar ooreengekom om die gebou met twee vleuels te vergroot en kon die werk begin.
Weer het die water vir die pastorie aandag vereis. Daar is 'n skikking met die munisipaliteit gemaak waarby 3/4 duim water onafgebroke, en die volle straal gedurende ses uur op twee dae in die week vir die pastorie afgestaan sou word. Om die saak finaal af te handel is G.J. Kriel uit die kerkraad benoem om saam met iemand uit die munisipaliteit die saak met die goewerment te beslis. Jac. Hugo, wat weer die saak van die water tussen hom en die kerkraad aangeroer het, moes wag op die uitslag van genoemde kommissie. Volgens verslag is die water aan die munisipaliteit gegee op voorwaarde dat die pastorie 'n genoegsame aandeel sou kry. Die kerkraad het darem ten einde die pastorie van drinkwater te voorsien op sy vergadering van 2 Oktober 1882 besluit om pleks van 'n pyp aan te lê 'n put op die pastoriegrond te maak om te sien of water gekry sou word, en indien die put beantwoord, om dan 'n pomp op te sit. In 1882 kon die godsdiensverslag sê dat hoewel die goewermentstoelaag gemis word, die Here gesorg het selfs waar die algemene omstandighede nie te goed was nie. Die verslag deel mee dat in weerwil van "de gedruktheid in den handel, de aanwezigheid van de pokken in de Kaapstad en de algemene schaarsheid der tijden" wat op Franschhoek miskien meer gevoel is as op ander plekke, die kollektes by die eredienste net soveel was as die vorige jaar en veel meer as die twee vorige jare. Die dankfees was ook besonder goed en die sustentasiefonds is opgebou tot 'n bedrag van £758 6s. 8d.
Gedurende ds. Rossouw se tyd is daar 'n aanvang gemaak met die aanddienste pleks van in die namiddag, en dit word meegedeel dat die jongmense die dienste goed bywoon. Hoewel ds. Rossouw nie lank op Franschhoek gebly het nie is daar met deeglikheid voortgebou. Aan die einde van 1882 het hy 'n beroep na Fraserburg aangeneem en op 28 Januarie 1883 het hy afskeid geneem. Omdat ds. Rossouw nie 'n volle vier jaar op Franschhoek was nie, het Fraserburg nou aan die beurt gekom om reisonkoste aan Franschhoek te vergoed.
Ds. J.G. Olivier, 1869–1873 duimnael|links|170px|Ds. J.G. Olivier as jong predikant op Franschhoek. Hy het gehoop sy gesondheid sou verbeter danksy die droë lug van die Vrystaat nadat hy in 1873 die beroep na die NG gemeente Bethulie aangeneem het. duimnael|regs|300px|Die kerkgebou in die winter van 2017.
Ds. J.G. Olivier het sy proponentseksamen op 12 Maart 1869 in Kaapstad met goeie gevolg afgelê en op 18 of 19 Augustus van dieselfde jaar is hy as leraar van Franschhoek georden en bevestig. Aan dié gemeente het hy voorkeur gegee bo die ander drie gemeentes wat hom beroep het, naamlik Piketberg, Philadelphia en Nazareth (in die Zuid-Afrikaansche Republiek). Ds. Olivier is 10 km buite die dorp ontmoet van waar 10 rytuie hom na die dorp begelei het. By die skool het die kinders 'n lied gesing en hierna is 'n adres aan hom oorhandig. Die volgende dag is hy bevestig. Daar was sowat 700 mense teenwoordig toe prof. John Murray van die Kweekskool die bevestigingsrede lewer en die ordening waarneem. Die nuwe leraar het sy intreepreek gelewer na aanleiding van Rom. 1:6: "Onder welken gij ook zijt, geroepenen van Jezus Christus" (Statebybel).
Tydens sy eerste vyf maande op Franschhoek het ds. Olivier by D. Hugo tuisgegaan. Skaars 'n jaar ná sy bevestiging, op 4 Februarie 1870, het ds. Olivier op Richmond in die Bo-Karoo in die huwelik getree met Martha Catharina van der Merwe, 'n dogter van P.J. van der Merwe, 'n ouderling van die NG gemeente Richmond, waarna hulle in die pastorie gaan woon het. Hul 14 jaar lange huwelik was blykbaar liefdevol en gelukkig. Drie kinders is uit die huwelik gebore.
Ds. Olivier het net drie jaar op Franschhoek gearbei, maar dit was met veel ywer en liefde en tot groot seën vir vele. Hy is in dié tyd deur die Kaapse Sinode as lid van die admissie-eksamenkommissie benoem en het die Kerk in dié betrekking belangrike dienste bewys. Tydens sy dienstyd is op Franschhoek 'n begin gemaak om een keer per maand in Engels te preek. In 1874 is besluit dat ernstige pogings aangewend sou word om geld in te samel vir die leraar se salaris. Dit het goeie resultate gelewer en bydraes is selfs van Stellenbosch ontvang.
Maar reeds op Franschhoek het hy aan 'n hoes begin ly wat sy vriende bekommerd gemaak het. Hulle was dus bly toe hy in 1873 beroep word na die NG gemeente Bethulie in die Suid-Vrystaat, en het die hoop gekoester dat die droë klimaat van die Vrystaat hom volkome sou help herstel. In dié hoop het hy die beroep aangeneem.
Ds. S.J. Perold 1895–1898 duimnael|regs|170px|Ds. S.J. Perold, Franschhoek se leraar van 1895 tot 1898. Ds. Perold is op 16 Mei 1895 in die gemeente bevestig ná ’n vakature van ses maande. Die aand voor die dag van die plegtige bevestiging is daar 'n konferensie met die gemeente gehou oor die onderwerp: “De gemeente des Heeren.” By die geleentheid sowel as by die bevestiging was 'n hele aantal predikante teenwoordig. Hulle was di. M.C. Botha, die konsulent, J.H. Neethling, A. D. Lückhoff, Malherbe, De Beer, F.X. Roome en prof. De Vos van die Kweekskool. Laasgenoemde het die bevestigingsrede uitgespreek na aanleiding van 2 Korintiërs 2:16: “Dezen wel een reuk des doods ten dode; maar genen een reuk des levens ten leven. En wie is tot deze dingen bekwaam?” Ds. Perold se intreepreek het gegaan oor die woorde : “Zie ik kom om uwen wil te doen, o God.”
Op 6 Oktober 1895 is die nuwe preekstoel ingewy wat 'n kosbare geskenk was van die heer Gideon Hugo en sy eggenote. By geleentheid van die inwyding was prof. Marais die feesredenaar.