Hierdie artikel handel oor die land in Europa, wat deel uitmaak van die Koninkryk van die Nederlande, vir ander gelyknamige state, sien Nederland (dubbelsinnig).
Nederland (Nederlands: [ˈneːdərlɑnt], ; Wes-Fries: Nederlân), informeel Holland, is 'n land in die noordweste van die Europese vasteland en bestaan uit twaalf provinsies. Dit word begrens deur die Noordsee in die noorde en weste, België in die suide en Duitsland in die ooste; in die Noordsee grens Nederland ook aan die Verenigde Koninkryk. Die hoofstad is Amsterdam en die regeringsetel is Den Haag. Die Karibiese eilande Bonaire, Saba en Sint Eustatius maak ook deel van Nederland uit. Saam met die Karibiese eilande Aruba, Curaçao en Sint Maarten vorm Nederland die Koninkryk van die Nederlande. Die land se amptelike taal is Nederlands, met Wes-Fries as 'n tweede ampstaal in die provinsie Friesland, en Engels en Papiaments as sekondêre ampstale in die Karibies Nederland. Nederlandse Nedersaksies en Limburgs is erkende streekstale (gebesig onderskeidelik in die (noord)ooste en suidooste), terwyl Romani en Jiddisj erkende minderheidstale is.
duimnael|links|Nasa-satellietbeeld van Nederland Nederland se vier grootste stede is Amsterdam, Rotterdam, Den Haag en Utrecht. Amsterdam is die land se mees bevolkte stad en amptelike hoofstad, terwyl Den Haag die Stategeneraal, die Kabinet en die Hooggeregshof huisves. Die Rotterdamse hawe is die besigste beide in Europa en buite Asië, net ná die Volksrepubliek China en Singapoer. Die Amsterdamse Lughawe Schiphol is die belangrikste in Nederland en die derde besigste in Europa net ná Londen se Heathrow en Parys se Charles de Gaulle. Nederland is 'n stigtingslid van die Europese Unie, Eurosone, G10, NAVO, OESO en WHO, maar ook deel van die Schengengebied en die trilaterale Benelux. Dit huisves 'n aantal interregeringsorganisasies en internasionale howe, waarvan die meeste in Den Haag, wat vervolgens die "wetlike hoofstad van die wêreld" genoem word.
Nederland beteken letterlik "Lae Lande" en verwys na sy lae hoogte en plat topografie, waarvan net sowat 50% 1 meter bo seevlak geleë is, en naastenby 26% benede seevlak. Die meeste gebiede benede seevlak, bekend as polders, is tydens landherwinning verkry wat in die 14de eeu begin het. In die omgangstaal of informeel word na Nederland as Holland verwys. Met 'n bevolking van sowat 18 miljoen in 2026 op 'n oppervlakte van omtrent 41 500 km² — waarvan die landoppervlakte omtrent 33 600 km² — maak van Nederland met 'n bevolkingsdigtheid van 437/km² (totaal) en 536/km² (land) die twaalfde digsbevolkte land in die wêreld en die vyfde digsbevolkte in Europa. Nogtans is Nederland die wêreld se tweede belangrikste uitvoerder van voedsel en landbouprodukte (na die Verenigde State), danksy sy vrugbare grond, gematigde klimaat, intensiewe landbou en vindingrykheid.
Nederland handhaaf sedert 1848 'n unitêre parlementêre grondwetlike monargie. Die land beskik oor 'n tradisie van Verzuiling en 'n lang geskiedenis van sosiale verdraagsaamheid; hulle het aborsie, prostitusie en genadedood gewettig en 'n liberale dwelmbeleid. Nederland het in 1870 die doodstraf in die burgerlike reg afgeskaf, hoewel dit eers heeltemal verwyder is totdat 'n nuwe grondwet in 1983 goedgekeur is. Nederland het reeds in 1917 die stemreg vir vroue ingevoer en in 2001 die eerste land geword om selfdegeslaghuwelike te wettig. Sy gemengde mark binne 'n gevorderde ekonomie het die elfde hoogste per kapita-inkoms wêreldwyd. Nederland beklee wêreldwyd die eerste plekke wat persvryheid, ekonomiese vryheid, menslike ontwikkeling, lewenskwaliteit en geluk betref. In 2019 het Nederland die tiende grootste ekonomie volgens BBP per capita gehad, die tiende plek van menslike ontwikkeling en die vyfde plek op die Wêreldgelukindeks beklee.
Etimologie Mense verwys dikwels na Nederland as Holland — die naam van die ou provinsie Holland en die gesamentlike naam van die twee huidige provinsies Noord- en Zuid-Holland, maar Holland is net 'n deel van Nederland, soos Engeland net 'n deel van die Verenigde Koninkryk is.
Nederland en die Lae Lande duimnael|links|Die Leo Belgicus ("Belgiese leeu") deur Famiano Strada in 1647 duimnael|Die Lae Lande tussen 1556 en 1648 Beide die streek Lae Lande (bestaande uit België, Nederland en Luxemburg) en die land Nederland het dieselfde toponiem. Plekname met Neder (of lage), Nieder, Nether (of low) en Nedre (in Germaanse tale) en Bas of Inferior (in Romaanse tale) word dwarsdeur Europa gebruik. Hulle word soms in 'n deiktiese verhouding tot 'n hoër grond wat vervolgens Upper, Boven, Oben, Superior of Haut genoem word, geplaas. In die geval van die Lae Lande/Nederland is die geografiese ligging van die laer streek min of meer stroomaf en naby die see. Die geografiese ligging van die boonste streek het oor die tyd heen egter aansienlik verander, afhangende van die ligging van die ekonomiese en militêre mag wat die Lae Lande oorheers het. Die Romeine het tussen die Romeinse provinsies stroomaf Germania Inferior (hedendaags dele van België en Nederland) en stroomop Germania Superior (hedendaags dele van Duitsland) onderskei. Die benaming "laag" vir die streek het in die 10de eeu weer verskyn, toe die Hertogdom Neder-Lotharinge die meeste van hierdie gebied beslaan het. Maar hierdie keer is die ooreenstemmende "boonste" streek Opper-Lotharinge in die hedendaagse Noord-Frankryk geleë.
Die hertoë van Boergondië, wat die Lae Lande in die 15de eeu beheer het, het die term les pays de par deçà ("die lande hier") vir die Lae Lande in teenoorstelling van les pays de par delà ("die lande daar") vir hul oorspronklike tuisland Boergondië in die hedendaagse sentraal-oostelike Frankryk gebruik. Onder Habsburgse heerskap het Les pays de par deçà in pays d'embas ("land hieronder") verander, 'n deiktiese uitdrukking in verhouding tot ander Habsburgse besittings soos Hongarye en Oostenryk. Dit is in Nederlandse kontemporêre amptelike dokumente as Neder-landen vertaal. Vanuit 'n streeksoogpunt was Niderlant in die laat Middeleeue ook die gebied tussen die riviere Maas en Ryn. Die gebied Oberland ("Hoogland") was in hierdie deiktiese konteks die gebied rondom Keulen.
Vanaf die middel-16de eeu het die "Lae Lande" en "Nederland" hul oorspronklike deiktiese betekenis verloor. Albei was nes Vlaandere waarskynlik die mees gebruikte benamings 'n pars pro toto vir die Lae Lande, veral in die Romaanse tale van Europa. Die Tagtigjarige Oorlog (1568–1648) het die Lae Lande in 'n onafhanklike noordelike Nederlandse Republiek (of verlatyns as Belgica Foederata, "Federale Nederland", die voorloper van Nederland) en 'n Spaansbeheerde Suidelike Nederlande (verlatyns as Belgica Regia, "Koninklike Nederland", die voorloper van België) verdeel. Die Lae Lande verwys nou in sy geheel na die drie lande Nederland, België en Luxemburg, alhoewel dié term in die meeste Romaanse tale na Nederland verwys. Dit word sinoniem met die meer neutrale en geopolitiese term Benelux gebruik.
Holland duimnael|links|In sokker word die Nederlandse nasionale span gewoonlik "Holland" genoem; hier hemde by die Amsterdamse Lughawe Schiphol In verskeie tale, insluitende Afrikaans, word na Nederland soms as Holland verwys. Die streek Holland bestaan uit Noord- en Zuid-Holland, twee van die land se twaalf provinsies, voorheen 'n enkele provinsie, nog vroeër, die County Holland, 'n oorblyfsel van die ontbinde Friese Koninkryk. Ná die agteruitgang van beide die Hertogdom Brabant en die County Vlaandere het Holland die ekonomies en polities leidende county in die Lane Lande geword. Die klem op Holland tydens die stigting van die Nederlandse Republiek, die Tagtigjarige Oorlog en die Anglo-Nederlandse oorloë van die 16de, 17de en 18de eeue het van Holland die pars pro toto van die hele land gemaak, wat nou as informeel of selfs inkorrek beskou word. Die gebruik van die term Holland vir die hele Nederland word deur die meeste Nederlanders verwerp. Nogtans word die naam "Holland" vir die Nederlandse nasionale sokkerspan, insluitende in Nederland gebruik, en die Nederlandse regering se internasionale webwerwe vir beide toerisme en handel lui "holland.com" en "hollandtradeandinvest.com". Netherlands Tourism "Holland vs Netherlands – Is the Netherlands the same as Holland?" In 2020 het die Nederlandse regering egter aangekondig dat hulle in die toekoms net as "Nederland" sal optree.
Geskiedenis
Voorgeskiedenis (voor 800 v.C.) duimnael|links|Nederland in 5500 v.C. duimnael|links|Bronstydperkkulture in Nederland Met die einde van die laaste Ystydperk het die huidige tydperk begin, die Holoseen (9700 v.C. – hede). Gedurende hierdie tydperk het die temperatuur en daarmee saam die seevlak gestyg, wat tot die oorstroming van die Noordseebeken gelei het. Die moerasagtige rivierdelta wat later Nederland genoem sou word, was egter nog min aantreklik en die bewoning daarvan bly aanvanklik beperk op aangepaste jagter-versamelaars. Vanuit Suidwes-Asië het tussen 8000 en 6700 jaar gelede landbou oor die hele Europa begin versprei. Aangesien die deltagebied 'n randgebied was, het die Neolitikum relatief laat begin en was veral beperk op die hoër loessgronde. Nedersettings het begin vorm, maar stede, soos hulle in die sentrum van die Ou Wêreld begin vorm het, was nog heeltemal onbekend.
Die voorgeskiedenis van die huidige Nederland is gekenmerk deur die see en riviere wat die laagliggende gebied gereeld oorspoel het. Die oudste menslike oorblyfsels (Neanderdaller) is in hoërliggende gebiede gevind, naby Maastricht, en volgens ramings sowat 250 000 jaar oud. Aan die einde van die Weichsel-Ystydperk het die Nomadiese laat Neopaleolitiese Hamburg-beskawing (ca. 13 000–10 000 v.C.) in die gebied rendiere met spere begin jaag, maar die latere Ahrensburg-beskawing (ca. 11 200–9500 v.C.) het van pyl en boog gebruik gemaak. Van die Mesolitiese Maglemose-beskawing (ca. 8000 v.C.) is die wêreldwyd oudste kano in Drenthe gevind.
Die inheemse laat Mesolitiese jagter-versamelaars van die Swifterbantbeskawing (ca. 5600 v.C.) was verbind aan die Suid-Skandinawiese Ertebølle-beskawing en sterk geheg aan riviere en oop water. Tussen 4800 en 4500 v.C. het die Swifterbant-mense van die naburige Bandkeramiese beskawing die gebruik van veetelt begin oorneem, en vanaf 4300 tot 4000 v.C. die gebruik van landbou. Die Tregterbekerbeskawing (ca. 4300–2800 v.C.), wat verwant was aan die Swifterbantbeskawing, het dolmen, groot steengraafmonunente in Drenthe, opgerig. Daar was 'n vinnige en gladde oorgang van die Tregterbekerlandboubeskawing na die pastoralistiese Pan-Europese Toubekerbeskawing (ca. 2950 v.C.). In die suidweste het die Seine-Oise-Marne-beskawing — wat verwant was aan die Vlaardingenbeskawing (ca. 2600 v.C.), 'n skynbaar meer primitiewe beskawing van jagter-versamelaars — tot in die Neolitiese tydperk voortbestaan, voordat hulle ook met die Toubekerbeskawing vervang is.