duimnael|Piktogram wat krieket aandui duimnael|’n Kriekettoets in spel duimnael|Die Suid-Afrikaanse Shaun Pollock boul na die Australiese Michael Hussey tydens die Welwillendheidsdag 2005 op die Melbourne-krieketveld
Krieket is ’n boul-en-kolf-, asook spansport wat gespeel word tussen twee spanne met elf spelers elk op ’n krieketveld met ’n 22-jaart-kolfblad (20 meter) in die middel met paaltjies aan weerskante wat bestaan uit twee dwarsbalkies op drie houtpenne. Twee spelers van die kolfspan, die aktiewe en onaktiewe kolwer, staan elk met ’n kolf in hulle hande voor elke paaltjie, terwyl ’n speler van die veldwerkspan, die bouler, die bal van die teenoorliggende kant van die kolfblad na die aktiewe kolwer se paaltjies boul. Die aktiewe kolwer probeer die geboulde bal met sy kolf slaan en ruil dan sy plek met die onaktiewe kolwer om, waarby die kolfspan met elkeen van dié bewegings ’n lopie aanteken. Lopies word ook aangeteken wanneer die bal die veldgrens raak of wanneer die bal onwettig geboul word.
Die veldwerkerspan probeer lopies voorkom deur die kolwers uit te haal (hulle is “uit”, hulle het hul paaltjies verloor). ’n Uithaal kan op verskeie maniere behaal word, waaronder uitgeboul, wanneer ’n geboulde bal ’n paaltjie tref en die dwarsbalkies afval, wanneer die veldwerkspan ’n geslane bal vang voordat dit die grond raak, of om die paaltjies met ’n bal te tref voordat ’n kolwer sy kolfkampie voor die paaltjies bereik om ’n lopie aan te teken. Sodra tien kolwers uitgehaal is, eindig die kolfbeurt en die spanne verander van rolle. Tradisioneel speel krieketspelers in ’n volledige wit uitrusting, maar in korter formate dra hulle klub- of spankleure. Bykomend tot die gewone uitrusting dra sommige spelers beskermende uitrusting om moontlike beserings deur die bal te verhoed. Die bal is ’n harde, soliede sferoïed, gemaak van saamgeperste leer met ’n effens verhewe toegewerkte naat uit ’n styf gewikkelde tou wat ’n kurkkern omsluit. Die wedstryd word deur twee skeidsregters beheer, ondersteun deur ’n derde skeidsregter en ’n wedstrydbeampte in internasionale wedstryde. Krieketformate sluit in tradisionele toetswedstryde wat oor vyf dae gespeel word, internasionale eendagwedstryde (EDI) oor 50 boulbeurte oftewel een dag, tot Twintig20 (T20), met elke span wat vir 20 boulbeurte kolf en ’n wedstryd wat gewoonlik drie uur neem. Elke boulbeurt bestaan uit ses wettiglik geboulde balle wat die kolfspan die geleentheid bied om lopies aan te teken.
Die vroegste bekende verwysing na krieket dateer uit die middel-16de eeu in Suidoos-Engeland. Dit het met die uitbreiding van die Britse Ryk wêreldwyd versprei, met die eerste internasionale wedstryde wat in die tweede helfte van die 19de eeu gespeel is. Die sport se beheerliggaam is die Internasionale Krieketraad (IKR), wat in 1909 gestig is en nou meer as ’n 100 lede het, waarvan twaalf volle lede toetswedstryde mag speel. Die speelreëls, die krieketwette, word deur die Marylebone-krieketklub (MKK) in Londen behartig. Die sport is veral in Suid-Asië, Australasië, die Verenigde Koninkryk, Suider-Afrika en Wes-Indië gewild. Krieketwêreldbekertoernooie is van die gewildste sportkompetisies wêreldwyd en word in die EDI-vorm gespeel, maar ook T20I-wêreldbekertoernooie en Kampioenetrofeë geniet ’n groot ondersteuning. Hoewel krieket in die verlede veral deur mans beoefen is, het vrouekrieket in die 21ste eeu aansienlik gegroei met beide Vrouekrieketwêreldbeker- en T20I-vrouewêreldbekertoernooie wat nou ook groot toeskouerskare lok.
’n Internasionale toetskrieket kan, in een vorm van die spel, vir ses of meer uur per dag vir vyf dae aanhou, en nog steeds nie ’n uitslag lewer nie – die verskeidenheid intervalle tussen middagete en tee en die ryk terminologie is kenmerkende aspekte wat maklik dié persone wat nie met die spel vertroud is nie, deurmekaar maak. Vir sy ondersteuners hou die spel uitstaande sportmylpale en intense mededinging tussen topkrieketlande in. Dit het selfs al op kere gesorg vir diplomatieke spanning met die berugste geval tydens die sogenaamde lyf-reeks (Engels: Bodyline series) tussen Engeland en Australië in 1932/33 om die As. Wedstryde tussen aartsvyande soos Indië en Pakistan met die doel van politieke ontspanning staan as “krieketdiplomasie” bekend.
Krieketwedstryde is al tydens internasionale sporttoernooie soos die Olimpiese Somerspele 1900 in Parys en die Statebondspele 1998 in Kuala Lumpur beslis. In 2019 het die Internasionale Krieketraad ’n ooreenkoms bereik, waarvolgens ’n Twintig20-toernooi met agt vrouespanne tydens die Statebondspele 2022 in Birmingham beslis is. Daarbenewens het die IKR onderhandel met die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) oor die hertoelating van krieket vir die Olimpiese Somerspele 2028 in Los Angeles. In Oktober 2023 is dit op die kortlys vir dié Olimpiese Somerspele geplaas met die T20I-formaat wat deur die IOK goedgekeur is.
Geskiedenis Oorsprong duimnael|’n Middeleeuse “klubbal”-wedstryd met ’n onderarmaflewering na ’n kolwer. Balvangers probeer ’n bal vang. Detail uit die Cantigas de Santa Maria, 13de eeu. Krieket is een van baie spele in die “klubbal”-sfeer wat veral daaruit bestaan het om ’n bal met ’n toestel in die hand te probeer slaan. Van die ander sluit in bofbal (wat baie ooreenkomste met krieket toon, albei behoort aan die slaan-en-bal-spele ), gholf, hokkie, tennis, muurbal, pluimbal en tafeltennis. Wat krieket betref is die belangrikste verskil die vaste mikstruktuur, die paaltjie (oorspronklik was dit glo ’n “paaltjiepoort” waardeur skape gelei is), wat die kolwer moes verdedig. Die kriekethistorikus Harry Altham beskryf drie “groepe” “klubbal”-spele: die “hokkiegroep”, waarby die bal tussen twee doele gespeel word; die “gholfgroep”, waarby die bal na ’n onverdedigde doel beweeg word (die putjie); en die “krieketgroep”, waarby “die bal ’n mikpunt (die paaltjie) probeer tref en weggeslaan word”.
Volgens algemene siening het krieket uit ’n kinderspeletjie in die Middeleeuse suidoostelike grafskappe van Engeland ontstaan. Hoewel daar moontlik ’n vroeëre datering kan wees, dateer die oudste bekende verwysing na krieket uit ’n hoofsaak in Guildford in Januarie 1597 (Ou Styl), volgens die moderne kalender in Januarie 1598. Dié saak handel oor die besit van ’n bepaalde hoeveelheid grond en die hof het die getuienis van ’n 59-jaar oue lykskouer, John Derrick, aangehoor, wat soos volg getuig het:
Being a scholler in the ffree schoole of Guldeford hee and diverse of his fellows did runne and play there at creckett and other plaies.
“As ’n skolier by die vrye Skool Guldeford het hy en sekere van sy maats daar rondgeloop en krieket en ander spele gespeel.”
Derrick se ouderdom in ag geneem was dit sowat ’n halwe eeu vroeër wanneer hy skool gegaan het, waarvolgens krieket rondom 1550 deur seuns in Surrey gespeel is. Die aanname dat dit oorspronklik ’n kinderspeletjie was, word ondersteun deur Randle Cotgrave se Engels-Frans-woordeboek uit 1611, waarin hy die selfstandige naamwoord “crosse” as “die skewe staf waarmee seuns krieket speel” en die werkwoord “crosser” as “om krieket te speel” beskryf het.
’n Moontlike herkoms van die sport se naam is die Ou Engelse woord “cryce” (of “cricc”) wat na ’n kruk of staf verwys. In Samuel Johnson se Dictionary lei hy cricket af van “cryce, Saxon, ’n stok”. In Ou Engels verwys die woord “criquet” blykbaar na ’n soort knuppel of stok. Die sterk Middeleeuse handelskontakte tussen Suidoos-Engeland en die Graafskap Vlaandere in ag geneem, toe laasgenoemde aan die Hertogdom van Boergondië behoort het, is die naam moontlik afgelei van Middelnederlands (wat destyds in Vlaandere gepraat is) “krick(-e)”, wat na ’n stok (skelm) verwys. ’n Ander moontlike bron is die Middelnederlandse woord “krickstoel” wat verwys na ’n lang, lae stoel wat gebruik word om in die kerk te kniel en soos die lang, lae paaltjie met twee stompe in vroeë krieket lyk. Volgens Heiner Gillmeister, ’n Europese taalwetenskaplike by die Universiteit van Bonn, is “cricket” afgelei van die Middelnederlandse frase vir hokkie, met de (krik ket)sen (d.w.s. “met die stok jaag”). Volgens Gillmeister het nie net die naam nie, maar ook die sport as sulks ’n Vlaamse oorsprong.
Groei van amateur- en professionele krieket in Engeland duimnael|Ontwikkeling van die krieketkolf. Toe met aflewerings op die kolfblad begin is, het die oorspronklike “hokkiestok” (links) rondom 1760 in ’n kolf ontwikkel. Hoewel die hoofdoel van die sport nog altyd was om die meeste lopies aan te teken, verskil die vroeë weergawe van die moderne speel in sekere tegniese aspekte; in die Noord-Amerikaanse weergawe van krieket, wicket, het baie van dié aspekte oorgebly. Die bal is deur die bouler onderarm na die grond geboul na ’n kolwer wat toegerus is met ’n kolf wat aan ’n hokkiestok herinner; die kolwer het ’n lae paaltjie met twee dwarsbalkies verdedig; en lopies is kerwe genoem omdat die tellinghouers dit aangeteken het deur telstokke te kerf.
In 1611 is Cotgrave se woordeboek gepubliseer, waarin die kerklike regbank beskryf het, hoe in Sidlesham in Sussex twee gemeentelede, Bartholomew Wyatt en Richard Latter, die kerkdiens op Paasfees versuim omdat hulle krieket gespeel het. Hulle is elkeen met 12 penny beboet en opdrag gegee om boete te doen. Dit is die oudste bekende verwysing na volwasse deelname aan krieket en omtrent dieselfde tyd is die oudste bekende intergemeente of dorpwedstryd gespeel – in Chevening, Kent. In 1624 is ’n speler genaamd Jasper Vinall dood nadat hy tydens ’n wedstryd tussen twee gemeentespanne in Sussex per ongeluk aan die kop getref is.
Krieket was vir ’n groot deel van die 17de eeu ’n plaaslike tydsverdryf. Deur talle verwysings in die rekords van kerklike hofsake is bekend dat dit soms voor en tydens die Gemenebes van Engeland deur die Puriteine verbied was. Die probleem was byna altyd die kwessie van Sondagspel, aangesien die Puriteine krieket as “onheilig” beskou het as dit op ’n Sabbat gespeel is, veral wanneer groot skares of dobbel betrokke was.
Volgens die sosiale historikus Derek Birley was daar in 1660 ’n “groot oplewing van sport ná die restourasie”. Verskeie lede van koning Karel II se hof het gedurende dié tydperk ’n sterk belangstelling in krieket getoon. Dobbelary op sport het ’n probleem geword, erg genoeg vir die Parlement om die Dobbelwet van 1664 goed te keur, wat die insette op £100 beperk het, in elk geval ’n enorme bedrag wat 99% van die bevolking se jaarlikse inkomste oorskry het. Saam met perdewedrenne, prysgevegte en ander soorte bloedsport is krieket as ’n dobbelsport beskou. Ryk beskermhere het wedstryde vir hoë insette gereël en spanne saamgestel, waarmee hulle die eerste professionele spelers betrek het. Aan die einde van die eeu het krieket ontwikkel in ’n groot sport wat dwarsdeur Engeland versprei het en reeds deur Engelse seevaarders en koloniseerders na die buiteland geneem is – die vroegste verwysing na oorsese krieket dateer uit 1676. ’n 1697-koerantberig van “’n groot krieketwedstryd” in Sussex “vir vyftig guineas per stuk” het bewaar gebly – dit is die vroegste bekende wedstryd wat algemeen as ’n eersterangse wedstryd beskou word.