Pole (Pools: Polska, [ˈpɔlska], ), amptelik die Republiek Pole (Pools: Rzeczpospolita Polska, [ʐɛt͡ʂpɔˈspɔlita ˈpɔlska], ), is 'n land in Sentraal-Europa. Dit grens aan Duitsland, Tsjeggië, Slowakye, Oekraïne, Wit-Rusland, Rusland en Litaue. In administratiewe opsig word Pole in 16 woiwodskappe (pl. województwo, enkelvoud województwa) verdeel.

duimnael|links|Die Morskie Oko in die Hoë Tatra, Tatra- Nasionale Park Sy geografiese ligging het 'n beduidende invloed op Pole se dikwels onstuimige historiese ontwikkeling uitgeoefen. Magtige buurlande soos Rusland en Duitsland het verskeie kere geleenthede waargeneem om Pole binne te val en te beset. Die Tweede Wêreldoorlog het die mees onlangse grensveranderings meegebring – terwyl Pole in die ooste gebiede met swak grond aan die destydse Sowjetunie moes afstaan, het Duitse gebiede met ryk landbougrond en 'n goed ontwikkelde infrastruktuur in die weste en noordooste onder Poolse administrasie gekom. Sedert 1945 vorm die Oder- en Neiße-riviere die westelike grenslyn met Duitsland.

Aangesien die geografiese sentrum van Europa naby Vilnius in Litaue geleë is, maak Pole deel uit van Sentraal-Europa. Dikwels word na lande soos Pole, Tsjeggië en Hongarye as oostelike Sentraal-Europa verwys – 'n term wat ook benadruk dat al hierdie state voormalige Oosbloklande is en almal in die 1990's 'n proses van politieke en ekonomiese hervormings begin het.

Pole is 'n stigterslid van die Verenigde Nasies en die OVSE en het in 1996 by die OESO, op 12 Maart 1999 by die NAVO en op 1 Mei 2004 by die Europese Unie aangesluit.

Etimologie duimnael|Ljech, Tsjech en Roes-eiekebome in Rogalin Die inheemse Poolse naam vir Pole is Polska. Dié naam is ontleen aan die Polane, 'n Wes-Slawiese stam wat die Wartabekken in die huidige Groot-Pole-streek bevolk het (6de–8ste eeu n.C.). Dié stam se naam is ontleen aan die Protoslawiese selfstandige naamwoord pole wat "akker" beteken en op sy beurt ontleen is aan die Proto-Indo-Europese woord *pleh₂- wat na "platteland" verwys. Die etimologie sinspeel die topografie van die streek en die plat landskap van Groot-Pole. In die Middeleeue is die Latynse naam Polonia wyd gebruik in Europa om na Pole te verwys.

Die land se alternatiewe argaïese naam is Lechia en sy lettergreep-wortel bly in amptelike gebruik in verskeie tale, waaronder Hongaars, Litaus en Persies. Dié eksoniem is dalk ontleen aan óf Ljech, 'n legendariese leier van Ljechië, óf van die Ljache, 'n Wes-Slawiese stam wat gebly het in die mees suidoostelike hoek van Klein-Pole. Die oorsprong van dié stam se naam is die Ou Poolse woord lęda ("eenvoudig"). Aanvanklik is albei name, Lechia en Polonia, uitruilbaar gebruik wanneer Middeleeuse kroniekskrywers verwys het na Pole.

Geografie Hooflandskappe duimnael|links|Topografiese kaart van Pole duimnael|Nasa-Satellietbeeld van Pole in Februarie 2003 Pole word in geografiese opsig in vyf hooflandskappe verdeel: die Oosseekus in die noordweste wat vanuit die Pommerse tot by die Baai van Gdańsk strek, die laagliggende gebiede van die Sentraal-Europese Vlakte met vier groot mereplato's (die Mereplato van Masurië, die Kasjoebiese, Pommerse en Groot-Poolse Mereplato) wat almal deel uitmaak van die golwende Baltiese Heuwelland, die riviervalleie van Silesië en Masowië suid van die vlakte, die bergreekse van Suid-Pole met die Krakows-Częstochowase Jura, die Heiligkruis-gebergte, die Beskiede, die Woudkarpate of Bieszczady, die Sudete en die Hoë Tatra, wat die hoogste bergreeks in hierdie streek vorm.

Driekwart van Pole se huidige oppervlakte word deur vlaktes beslaan wat tydens die laaste Ystydperk (die sogenaamde Weichsel-ystydperk) gevorm is en grotendeels laer as 200 meter bo seevlak is. Die kusgebiede langs die Oossee word deur talle skoorwalle en strandmere gekenmerk, terwyl twee baaie, die Pommerse Baai in die weste en die Baai van Gdańsk in die ooste, diep na die binneland in strek.

By die laagliggende kusvlakte sluit die golwende jonger morenelandskap van die Baltiese Heuwelland met sy talle mere aan. Hierdie landskap word deur die Weichsel-riviervlakte in twee plato's, die Pommerse Mereplato in die weste en die Mereplato van Masoere in die ooste, verdeel. Wye sanderige riviervalleie, wat tydens die Ystydperk deur smeltwater gevorm is, lei oor na die laagliggende ouer morenelandskap van die Sentraal-Poolse Vlakte.

Verder suidwaarts is die noue Sudete-bergreeks in die weste geleë, wat met sy hoogste bergspits, die Śnieżka (Tsjeggies Sněžka, Duits Schneekoppe) in die Reusegebergte, tot 1 602 meter bo seevlak rys, asook die Klein-Poolse Hoogplato en die Lublinse Bergland in die ooste. In die uiterste suide strek die uitlopers van die Wes-Karpate tot by Poolse grondgebied, met die Beskide-bergreeks in die ooste en – verder weswaarts – die bergreeks Hoë Tatra.

Landsgrense duimnael|Grensveranderings ná die Tweede Wêreldoorlog het die Poolse staatsgebied weswaarts verskuif Die grense van Pole se staatsgebied was in die verlede dikwels onderhewig aan veranderings. Terwyl sommige geweste net tydelik deel uitgemaak het van Pole, is daar ook gebiede langs die Warta- en Wisła-riviere en tussen die Karpate-bergreeks en die Oossee wat voortdurend die kernland van Pole gevorm het.

In die tydperk tussen die 16de en 18de eeu het Pole se oppervlakte sowat een miljoen vierkante kilometer beslaan. Voor die Poolse Delinge in die laat 18de eeu het dit nog 733 000 vierkante kilometer beloop. Nadat Pole in 1795 deur Rusland, Pruise en Oostenryk geannekseer is, het die land 123 jaar lank van die politieke landkaart van Europa verdwyn. Toe Pole ná die Eerste Wêreldoorlog in 1918 as 'n selfstandige nasie herstel is, het sy oppervlakte 388 000 vierkante kilometer beloop.

Die huidige grense van Pole is ná die Tweede Wêreldoorlog deur die geallieerde moondhede – die Verenigde Koninkryk, die Verenigde State en die Sowjetunie – tydens die vredeskonferensies van Jalta en Potsdam vasgelê. Pole moes destyds sowat 'n vyfde van sy oppervlakte aan die Sowjetunie afstaan. Die Poolse landsgrense is in noordelike en westelike rigting verskuif – die noordelike grens tot by die Oossee, Warmia (Ermland) en Mazury (Masurië), die westelike grens tot by die riviere Odra en Nysa Nysa Łużycka. In die ooste het die Bugrivier die nuwe grenslyn met die Sowjetunie gevorm.

Danksy die inlywing van Duitse gebiede – Warmia en Mazury, die Pommerse Mereplato (Pojezierze Pomorskie), die gebied van Lubusk, Dolny Sląsk (Neder-Silesië) en 'n gedeelte van Górny Sląsk (Opper-Silesië) het gebiede met 'n totale oppervlakte van sowat 100 000 vierkante kilometer onder Poolse administrasie gekom, terwyl die land gebiede in die ooste (Wileńszczyzna, Polesie, Wołyń, Podole) met 'n oppervlakte van 180 000 vierkante kilometer aan die Sowjetunie afgestaan het. As gevolg van hierdie grensveranderings kom die huidige Poolse staatsgebied met dié van sowat 1 000 jaar gelede grootliks ooreen. poland.gov.pl: Geografie – Landsgrense

Riviere duimnael|Die samevloeiing van Boeg, Narew en Wisła in Modlin Die langste riviere in Pole is die Wisła met 1 022 km, die grensrivier Oder (Odra) met 840 km, die Warta met 795 km en die Boeg met 774 km. Die Boeg vloei langs die Poolse oosgrens. Wisła en Oder vloei vanuit die suide deur die hele land in noordelike rigting en mond net soos talle kleiner riviere in Pommere in die Oossee uit. Hierdie twee groot riviere oorheers die hidrografies-fluviatiele struktuur van die land. Friedhelm Pelzer: Polen: eine geographische Landeskunde. Darmstadt: Wissenschaftliche Buchgesellschaft 1991, bl. 53

Die Łyna- en Angrapa-riviere mond via die Pregel en Hańcza in die Nemunas en uiteindelik die Oossee. Daarnaas mond 'n aantal kleiner riviere soos die Jizera in die Sudete-bergreeks via die Elbe in die Noordsee uit. Die Orawa-rivier uit die Beskiede-bergreeks mond net soos enkele kleiner riviere uit die Woudkarpate via Waag, Donau en Dnister in die Swartsee uit.

Vanweë Pole se oorgangsklimaat tussen see- en vastelandse klimaat deel baie Poolse riviere tipiese kenmerke met Russiese riviere. Hulle bevries in die winter, terwyl die lente vanweë swaar sneeusmelting 'n hoogwaterseisoen is waartydens riviere dikwels hul walle oorstroom.

Die Poolse riviere, wat vandag deur kanale met mekaar verbind is, het al vroeg as waterweë gedien. So het die Wikings tydens hul rooftogte deur Europa met hul langskepe die Wisła en Oder bevaar. In die middeleeue en die vroeë moderne tydperk, toe Pole-Litaue tot een van die beduidendste Europese graanprodusente ontwikkel het, is agrariese produkte op die Wisła in rigting van Gdańsk en verder na Wes-Europa vervoer. Baie renaissance- en barok-stoorhuise vir graan, wat in stede langs die rivier opgerig is, getuig vandag nog van dié florerende handel.

Mere duimnael|'n Bergmeer in die Tatra-bergreeks, naby die grens met Slowakye Pole is ryk aan mere – meer as 9 300 van hierdie waterliggame het 'n oppervlak van meer as een hektaar. Behalwe vir Finland is daar in geen ander Europese land meer mere per vierkante kilometer as in Pole. Die grootste mere met 'n oppervlak van meer as 100 km² is Śniardwy en Mamry in Masurië en die Lebameer (Jezioro Łebsko) en Jezioro Drawsko in Pommere. Talle mere is deur riviere en kanale met mekaar verbind en vorm sodoende 'n uitgestrekte netwerk van waterweë.

Poolse mere kan rofweg in twee kategorieë verdeel word – die waterliggame in die mereplato's van Noord-Pole (veral in Masurië, Pommere, Kasjoebië en Groot-Pole) en die bergmere in die Tatra-bergreeks waarvan die Morskie Oko die grootste ten opsigte van die oppervlak is. Die diepste mere is die Hańcza-meer (meer as 100 m) in die mereplato van Wigry, oos van Masurië in die woiwodskap Podlachië, Drawsko (83 m) en die bergmeer Wielki Staw Polski ("Groot Poolse Meer") in die "Vallei van die vyf Poolse mere".

Van die vroegste menslike nedersettings in Pole het langs die oewers van mere in die Groot-Poolse Mereplato ontstaan, soos die paalhuise van Biskupin, 'n dorp van meer as 1 000 inwoners wat in die 7de eeu v.C. gestig is. Die voorouers van die huidige Pole, die Polane, het hul eerste forte op meereilande (ostrów) gebou. So was die regeringsetel van die legendariese vors Popiel in die 8ste eeu in Kruszwica by die Gopolomeer geleë. Die eerste histories gedokumenteerde heerser van Pole, hertog Mieszko I, het sy paleis in Poznań op 'n eiland in die Wartarivier laat bou.

Klimaat duimnael|Die Błędów-woestyn, 'n sanderige gebied in die Silesiese Hoogland Pole is in 'n oorgangsgebied tussen die gematigde klimaatsone van Sentraal-Europa met sy maritieme invloede en die kontinentale klimaat van Oos-Europa geleë. Die gematigde klimaat van Pole het dus in die oostelike en suidoostelike landsdele meer kontinentale kenmerke. Die "skeidingslyn" tussen Atlantiese en vastelandse lugmassas loop langs die Parsęta-rivier wat naby Kolobrzeg (Kolberg) in die Oossee uitmond. Die klimaat wes van hierdie rivier is meer gematig, en die gebied ervaar kleiner temperatuurskommelings as die streke oos daarvan.

Die Poolse somers is oor die algemeen matig warm tot warm met gemiddelde temperature tussen 16 en 19 °C, terwyl die kwik tydens die relatief koue winters tot gemiddeldes van tussen 0 °C in die noordweste van die land en –5 °C in die suidooste kan daal. Veral die hoogliggende Karpate-berggebied word deur temperatuuruiterstes gekenmerk.

Reënvalle kom dwarsdeur die jaar voor, waarby die winters in die oostelike landsdele dikwels droër as die somers is. Die gemiddelde jaarlikse neerslae (550 millimeter in Warskou) is in die suidweste hoër as in die noordooste.

Nasionale simbole Staatswapen duimnael|Die Poolse staatsvlag word deur staatsdepartemente en Poolse skepe op see saam met die wapen gehys