Die NG gemeente Veranderde Lewens is 'n gemeente van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in die Sinode Goudland (voorheen Wes-Transvaal). Die kerkgebou is geleë by Hambergweg 61a, Hamberg, Roodepoort.
Roodepoort-Oos Die gemeente is in 1965 gestig as Roodepoort-Oos. Ds. Zacharias Wilhelmus (Gys) De Beer was 18 April 1965 as die eerste leraar bevestig. In 2014 was die leraar ds. Pieter Nel Klopper, wat bygestaan is deur dr. Berrie de Vos, ’n pastorale leraar en berader. Daar was in daardie jaar 730 doop- en 1 829 belydende lidmate.
Samesmelting en nuwe naam Die NG gemeente Ontdekkerskruin is op 1 Oktober 2015 ingelyf by hierdie gemeente. Indertyd het die Roodepoort Record as volg oor die eenwording berig: "Onlangs is ‘n eenwordingsooreenkoms tussen NG Veranderde Lewens en NG Ontdekkerskruin gemeentes bereik. Hierdie gesamentlike gemeente sal vanaf 1 September as NG Veranderde Lewens bekend staan. Die huidige Veranderde Lewens wat tans in Albertina Sisulu Straat 61A geleë is, het hulle kerkkompleks aan ‘n ander Christelike instansie verkoop en sal vanaf Sondag 18 Oktober eredienste vanuit die nuwe kerkkompleks te 17 Philipslaan, met hulle huidige leraars hervat.
Hulle bediening te Hamberg sal egter nog onverpoos voortgaan tot in Oktober wanneer die verbeterings aan die nuwe kerk voltooi is. Hierdie gemeentes verbind hulle tot ’n gesamentlike doel, naamlik ‘n groeiende bediening met beide ‘n vernuwende en ’n behoudende styl. Voortans sal die eredienstyd van 8 vm Sondagoggende vir ’n vernuwende styl erediens gebruik word en die 10 vm gleuf vir ’n behoudende styl erediens. Daar sal ook saans ‘n multikulturele diens gehou word. Die leraars van hierdie nuwe bediening is Ds. Pieter Nel Klopper, wat bygestaan sal word deur Dr. Berrie de Vos, ’n pastorale leraar en berader, asook Ds. Hennie Lombard wat hoofsaaklik die behoudende styl sal behartig." Twee gemeentes smelt saam. Nuwe gemeente hoop om alle behoeftes te vul, Roodepoort Record, 7 Julie 2015.
Galery
Bronne Small, Mario (samesteller). 2013. Jaarboek van die NG Kerke. Wellington: Tydskriftemaatskappy van die NG Kerk NPC - 'n divisie van Bybel-Media.
Verwysings
Eksterne skakels Die gemeente se kerkgebou soos te sien op Google Maps.
Kategorie:Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika