duimnael|regs|230px|Die kerkgebou van die NG gemeente Meyerton-Oos. Ds. L.D. Delport het die hoeksteen op 22 Maart 1968 gelê. Die argitek was Ockie van Schalkwyk.
Die NG gemeente Meyerton-Oos is 'n gemeente van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in die Sinode Goudland (voorheen Wes-Transvaal).
Die gemeente is gestig in 1966. Die gemeente het sy ontstaan te danke aan ’n Kerkraadsvergadering van die Kerkraad van Meyerton Moedergemeente wat gehou is in Junie 1966. Die aantal lidmate van Meyerton was op daardie stadium 1 183.
Ouderling JL du Toit het op versoek van die lidmate van die Riversdale-omgewing, nou Meyerton-Oos, ’n voorstel ingedien dat daar ’n nuwe gemeente afgestig moet word in Riversdale. Hierdie voorstel is aanvaar. Die afstigtings vergadering is bepaal vir 25 November 1966 by die ou Laerskool Voorwaarts. Die NG Meyerton-Oos gemeente is toe gestig met ’n ledetal van 382 lidmate. Die gemeente het twee erwe en ’n bedrag van R4000-00 as bruidskat van Meyerton Moedergemeente ontvang. Die konsulent was Ds. LD Delport. ’n Kerkraad van 15 ouderlinge en 15 diakens is saamgestel. Die byeenkomste sou in die saal van Laerskool Voorwaarts plaasvind. Die gemeente se eerste diens is gehou op 11 Desember 1966. Die eerste mylpaal vir die nuwe gemeente was die oprigting van die pastorie. Terwyl die pastorie in aanbou was het Ds. Delport sy Kombi op die erf langs die pastorie parkeer en vanuit sy “Kombi–kantoor” die gemeente bedien. Met die voltooiing van die pastorie se buitegeboue het dit die plek van die Kombi ingeneem
Tydens die Kerkraadsvergadering van 12 Mei 1967 het ouderling A.H. Jordaan ’n voorstel ingedien om ’n kerkgebou te bou. Tydens die gemeente vergadering wat gehou was op 14 Mei 1967, is daar op ’n voorstel van Mnr. A. Marx en gesekondeer deur Mnr. J. Nolte, besluit om wel die kerk te bou.
Op 23 Februarie 1968 is daar begin met die oprigting van die kerk se staalkonstruksie. Die voltooide gebou is op 22 Maart 1969 in gebruik geneem. Lidmaat getal in 1967—382
Ons eerste kantoorpersoneel Koster—Gert Erasmus
Skriba—Kallie Weyers (tydelik)
Kassier—Gert Boucher (tydelik)
Orrelis—Koos McGallaghan (tydelik)
In 1967 word At Scholtz as kassier en Tommie Louw as skriba aangestel. Tommie se eerste kerkraadsvergadering was ‘n dag voor sy troue! Vandag is die gemeente steeds sy eerste prioriteit.
Meyerton-Oos se eerste skenking
Na 50 jaar is ons steeds dankbaar vir die grond wat oom Manie en tannie Marietjie Spamers aan die kerk geskenk het. Hulle het elf jaar na hul huwelik in 1953 op die gronde gewoon.
Na die afstigting van die gemeente en die beplanning van ‘n kerkgebou, het oom Manie die grond (die groot hekpaal na Vilette straat se kant) aan die kerk geskenk.
Oom Manie is op die hoë ouderdom van 79 jaar, 4 maande en 11 dae oorlede. Tannie Marietjie is steeds een van ons lidmate. Van hulle kinders, Manie & Christine Spamers, Johan & Hettie Strydom en hulle kinders is ook nog lidmate van ons gemeente
Meyerton-Oos se tweede skenking Die stuk grond waarop die jeug saal vandag staan (vanaf die groot hekpaal na Jan Neethling straat se kant), het aan wyle oom Pretorius behoort. Tommie en Corrie Louw het na hul huwelik die jeug saal (wat as huis gedien het) vir n jaar lank by hom gehuur. Tommie se enigste uitgawe was om die basiese water se koste per maand te betaal—’n volle R2-50! In 1968/1969 het oom Pretorius daardie stuk grond ook aan die kerk geskenk met die oog op latere uitbreiding van onder meer die saal en kategese lokale. Die kerkgebou is geleë op die hoek van Mentz- en Jan Neethlingstraat, Meyerton-Oos. In 2013 was die leraar ds. J.A. Burger. Daar was in daardie jaar 102 doop- en 394 belydende lidmate.
Enkele leraars Lourens Daniël Delport, 1967–1977 (oorgekom van die NG gemeente Meyerton) Op 25 November 1966 is die gemeente Meyerton-Oos gestig in die saal van laerskool Voorwaarts (op die oorspronklike terrein). Ds I Retief het by die geleentheid as voorsitter opgetree. Die eerste kerkraad wat by die geleentheid gekies is, het bestaan uit 15 ouderlinge en 15 diakens. Die eerste erediens is op 11 Desember 1966 deur die konsulent, ds LD Delport, gelei. Ds Delport is op n kerkraadsvergadering, gehou op 20 Januarie 1967, onder voorsitterskap van ds C van N Pretorius, beroep as die eerste leraar. Hy het dan ook die beroep aangeneem. Gedurende ds. Delport se tyd in die gemeente is die pastorie en die kerk gebou. Ds. Delport het die gemeente vir 10 jaar lank bedien en het daarna ‘n beroep na NG Bloemhof aanvaar.
Ds Helgaardt v Rensburg 1978—1982. Op 6 Augustus 1978, het ek na my bevestiging as leraar die vorige aand, my intreepreek in Meyerton-Oos gelewer. By dié geleentheid het ek die Woord bedien aan die hand van Hand 16:11 – 15 en 30 – 34 en Fil 1:1 – 11 met die klem op vers 6: “Ek is veral ook daarvan oortuig dat God, wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom.” Ná die Woordbediening het ek die voorreg gehad om die doop te bedien aan 4 verbondskinders - een van hulle my oudste seun. Nou bykans 38 jaar later, kyk ons saam met julle terug na 50 genadejare. Deur die jare was daar baie lief en leed in die lewens van die lidmate van die gemeente. Al is daar vandag heelwat minder belydende- en dooplidmate as voorheen en al het omstandighede in baie opsigte totaal verander, weet ons dat die Here getrou was en dat Hy steeds besig is met Sy goeie werk in Meyerton-Oos. Ons kyk ook na die onbekende toekoms met 'n vaste vertroue en hoop op Hom, die Christus wat self Sy kerk in stand hou – vergeefs die hel se woede. As Here aan Gods regterhand regeer Hy ons ten goede.... (Lied 477:1). Al die dank en eer aan die Here vir die tydjie wat ek en my gesin deel kon wees van die geloofsgemeenskap in Meyerton-Oos. Ons koester steeds wonderlike herinneringe aan wonderlike mense en kosbare ervaringe. Ons bid u die Here se seën toe op die jare wat voorlê. Mag dit altyd u ideaal en strewe wees om 'n gemeente van Christus te wees tot eer van God alleen - Soli Deo Gloria.