Die Aarde is die derde naaste planeet aan die Son. Dit is die vyfde grootste planeet in die Sonnestelsel en die grootste rotsplaneet wat deursnee, massa en digtheid betref. Die Aarde is die tuiste van miljoene spesies, waaronder die mens, en is die enigste plek in die heelal waar sover bekend lewe bestaan. Die planeet het 4,54 miljard jaar gelede ontstaan en lewe het binne die volgende miljard jaar op sy oppervlak verskyn. Dit het die Aarde se atmosfeer en oppervlak beïnvloed, wat weer gelei het tot die florering van aërobiese en anaërobiese organismes en tot die vorming van die osoonlaag. Dié laag en die Aarde se magneetveld blokkeer die skadelikste straling van die Son en maak so lewe op land moontlik. Die Aarde se fisiese eienskappe, geologiese geskiedenis en posisie in die Sonnestelsel maak die volgehoue bestaan van lewe moontlik; daar word verwag dat die planeet vir die volgende 1,5 miljard jaar lewende organismes sal onderhou, waarna die stygende ligsterkte van die Son die biosfeer sal vernietig.

Die Aarde se buitenste laag word in verskeie segmente, of tektoniese plate, verdeel. Hierdie plate beweeg oor miljoene jare langsamerhand oor die oppervlak. Ongeveer 71% van die oppervlak word deur oseane bedek en die res deur kontinente en eilande. Lopende water is noodsaaklik vir alle bekende lewensvorme en sover bekend bestaan daar geen lopende water op enige ander planeet se oppervlak nie.Ander planete in die Sonnestelsel is óf te warm óf te koud om lopende water te onderhou. Daar is egter bevestig dat lopende water in die verlede op Mars se oppervlak voorgekom het en moontlik steeds vandag voorkom. Sien:

Met die ingang van 2008 is waterdamp in die atmosfeer van slegs een ander planeet buite die Sonnestelsel bespeur, maar die planeet is 'n gasreus. Sien: Die Aarde se binnekant is steeds aktief, met 'n dik en relatief soliede mantellaag, 'n vloeibare buitekern wat die magneetveld skep en 'n binnekern wat uit soliede yster bestaan.

Die Aarde is in wisselwerking met ander voorwerpe in die ruimte, soos die Son en die Maan. Tydens elke omwenteling om die Son draai die planeet ook ongeveer 365,26 keer om sy eie as;Hierdie "as" is 'n denkbeeldige lyn wat van die Noord- na die Suidpool loop. hierdie tydperk staan as 'n sterrejaar bekend.Die aantal sonnedae in 'n jaar is 1 minder as die aantal sterredae, omdat die wentelende beweging van die Aarde om die Son 'n ekstra omwenteling van die planeet om sy eie as tot gevolg het. Die Aarde het 'n skuins as: dit lê teen 'n helling van 66,6º ten opsigte van sy sonnebaan (die baan waarin die planeet om die son wentel). Dié helling het die verskillende seisoene tot gevolg. Die Aarde se enigste werklike natuurlike satelliet is die Maan. Dié vergroot die getye van die oseane, stabiliseer die Aarde se as en vertraag stadigaan die planeet se draaiing.

Geskiedenis Hoofartikel: Geskiedenis van die Aarde. Wetenskaplikes het deur middel van verskeie vakgebiede 'n gedetailleerde weergawe van die Aarde se geskiedenis saamgestel. Die oudste materie in die Sonnestelsel is ongeveer 4,5672 miljard jaar oud en omstreeks 4,54 miljard jaar gelede het die Aarde en ander planete in die Sonnestelsel gevorm uit die newel van die Son, 'n skyfvormige massa stof en gas wat ná die vorming van die Son oorgebly het. Die aanwas van die Aarde uit hierdie newel is in die volgende 10 tot 20 miljoen jaar grotendeels voltooi. Die buitenste laag of skil van die Aarde was aanvanklik gesmelt, maar nadat water in die atmosfeer begin ophoop het, het dié laag begin afkoel en 'n soliede kors gevorm. Nie lank daarna nie, ongeveer 4,53 miljard jaar gelede, is die Maan gevorm, waarskynlik die gevolg van 'n impak met 'n voorwerp so groot soos Mars met ongeveer 10% van die Aarde se massa. 'n Deel van hierdie voorwerp sou met die Aarde saamgesmelt het, terwyl 'n ander deel die ruimte ingeskiet sou word. 'n Derde deel sou nie genoeg snelheid gehad het om die ruimte in te skiet nie, maar sou eerder deur die Aarde se swaartekrag in 'n wentelbaan om die Aarde vasgevang gewees het, waar dit sou verenig om die Maan te vorm.Daar is ook ander teorieë wat die skepping van die Maan probeer verduidelik, maar die impakteorie geniet voorkeur onder wetenskaplikes.

Vulkaniese aktiwiteit en gasse wat uit die jong planeet ontsnap het, het 'n oeratmosfeer geskep. Gekondenseerde water, aangevul deur ys en lopende water wat deur asteroïdes en komete na die Aarde gebring is, het die planeet se oseane geskep. Alhoewel die Son toe slegs 70% van sy huidige ligsterkte gehad het, het die oseane nie gevries nie.Volgens berekenings sou die Son nie genoeg hitte afgegee het om die oseane in 'n vloeibare toestand te hou nie. Daar is egter bewyse dat die oseane nie bevrore was nie, wat gelei het tot die "swak, jong son"-paradoks. 'n Kombinasie van kweekhuisgasse en hoër vlakke van sonaktiwiteit het waarskynlik daartoe bygedra dat die Aarde se oppervlaktemperatuur gestyg het, en dit het gekeer dat die oseane vries.

Die eerste oseane het die hele planeet gedek, waarna die eerste kontinente begin vorm het namate die aardkors afgekoel en gesteentes begin vorm het wat bo die wateroppervlak uitgesteek het. Daar is twee modelle wat die ontstaan en groei van die kontinente probeer verduidelik. Die eerste stel voor dat die kontinentale oppervlak, dus die hoeveelheid land wat bo die water uitsteek, stadig maar seker gegroei het tot die huidige landoppervlak. Volgens die tweede model het hulle 'n proses van uiters vinnige aanwassing vroeg in die Aarde se geskiedenis ondergaan (laasgenoemde teorie word deur huidige navorsing ondersteun), gevolg deur 'n stabiele langtermyn kontinentale oppervlak.Let daarop dat die teorieë nie die vorming van die kontinente in hul huidige vorm (d.w.s. Afrika, die Amerikas, Eurasië, ens.) behandel nie, maar die spoed waarteen die eerste kontinente aangewas het. Oor geologiese tydperke van miljoene jare het die Aardoppervlak homself voortdurend hervorm, soos kontinente gevorm en uiteengeskeur het. Die kontinente het oor die oppervlak beweeg en nou en dan gebots en saamgesmelt om 'n superkontinent te vorm. Rodinia, een van die eerste bekende superkontinente, het ongeveer 750 miljoen jaar gelede uiteengeskeur. Die resulterende kontinente het later weer byeengekom om Pannotia (600-540 miljoen jaar gelede) en later Pangea te vorm. Pangea het 180 miljoen jaar gelede uiteengeskeur. Sien:

Evolusie van lewe Hoofartikel: Evolusie. Op die oomblik is die Aarde die enigste voorbeeld van 'n omgewing waar die evolusie van lewe moontlik was. Hoogs energieke chemie het vermoedelik ongeveer 4 miljard jaar gelede 'n selfrepliserende molekule geskep wat in die oseaan voorgekom het. Eenvoudige organiese stowwe het ontwikkel tot aminosure en nukleotides, wat later gegroei het tot proteïene en ribonukleïensuur, die boustowwe vir lewe. Daar word geglo die laaste gemeenskaplike voorouer van alle huidige lewensvorme het 'n halfmiljard jaar ná die eerste selfrepliserende molekule gelewe, ongeveer 3,4 miljard jaar gelede.

Die ontwikkeling van fotosintese het beteken dat die Son se energie direk deur lewensvorme gebruik kon word. Fotosintese het gelei tot die produksie en opgaring van suurstof in die atmosfeer en 'n laag osoon ('n vorm van molekulêre suurstof, O3) in die boonste atmosfeer. Die osoonlaag het lewe teen skadelike straling beskerm, wat beteken het dat organismes groter as bakterieë kon ontstaan, soos eukariotiese selle. Werklike veelsellige organismes het gevorm namate die selle binne-in 'n kolonie toenemend gespesialiseerd geword het. Met die beskerming wat die osoonlaag gebied het, kon hierdie veelsellige organismes hulself oor die aardoppervlak versprei.

Tussen 750 en 580 miljoen jaar gelede het gletseraktiwiteit tot 'n groot ystydperk gelei, waartydens die planeetoppervlak van die pole tot by die ewenaar bevrore was; 'n sogenaamde "sneeubalaarde". Toe die klimaat ná die ystydperk weer warmer word, het lewe baie vinnig ontwikkel. Kort hierna tydens die Kambriese ontploffing (ongeveer 535 miljoen jaar gelede), het organismes 'n uiters vinnige ontwikkelingsperiode ondergaan, waartydens nuwe groepe organismes (diere, plante ens.) ontstaan het. Sedertdien het evolusie steeds nuwer en ingewikkelder soorte lewe voortgebring, 'n ontwikkeling wat soms onderbreek is deur kort periodes van massa-uitwissings.

Ongeveer 500 miljoen jaar gelede het die eerste plante en insekte op land verskyn en sowat 380 miljoen jaar gelede het visse in vlak water pote begin ontwikkel, waarmee hulle uit die water en oor die land kon kruip. Hierdie diere was amfibies en het longe in plaas van kieue gehad. Uit die amfibieë het die reptiele en later ook die soogdiere ontwikkel. Die laaste massa-uitwissing was ongeveer 65 miljoen jaar gelede. In hierdie tyd was die dinosourusse (reptiele) reeds 'n paar honderd miljoen jaar die oorheersende lewensvorm op Aarde. Die waarskynlike rede vir die massa-uitsterwing was die impak van 'n reuse-meteoriet wat alle dinosourusse en ander groot reptiele (behalwe die voëlagtige dinosourusse) uitgewis het. Dit staan bekend as die Kryt-Paleogeen-uitwissing.

Kleiner diertjies, soos soogdiere, wat so groot soos skeerbekmuise kon wees, het ook die uitwissing oorleef. Sonder die bedreiging van reusagtige karnivoriese reptiele het hulle die volgende 65 miljoen jaar vinnig ontwikkel en gediversifiseer, totdat 'n aapagtige soogdier in Afrika 'n paar miljoen jaar gelede die vermoë ontwikkel het om regop te staan,Let daarop dat mense nie uit huidige ape ontwikkel het nie, maar dat ape en mense 50 miljoen jaar gelede 'n gemeenskaplike voorouer gehad het. Die mens en groot ape (orang-oetangs, gorillas en sjimpansees) se gemeenskaplike voorouer het ongeveer 5 miljoen jaar gelede geleef. en hieruit het die mens ontwikkel.

Deur die ontwikkeling van spraak, die ontdekking van landbou en die tem van diere kon die mens relatief vinnig oor die wêreld versprei en, ná die ontstaan van beskawings, binne 'n kort tyd 'n groot invloed op die biosfeer, hidrosfeer, atmosfeer en die landgebruik en indeling van die aardoppervlak uitoefen.

Die Aarde verkeer op die oomblik in 'n ystydperk, wat ongeveer 40 miljoen jaar gelede begin en sowat 2,5 miljoen jaar gelede versterk het. Die poolkappe het sedertdien siklusse van 40 000 – 100 000 jaar ondergaan, waartydens dit aangroei en dan weer smelt. Die laaste glasiale tyd (of koue tydperk, soms ook foutiewelik "die laaste ystydperk" genoem) het ongeveer 10 000 jaar gelede geëindig.

Toekoms Hoofartikel: Toekoms van die Aarde. upright=2|senter|Die Son se lewensiklus. Die Aarde se toekoms is nou verbind aan dié van die Son. Helium is stadig maar seker besig om by die Son se kern op te gaar, wat sal veroorsaak dat die Son se ligsterkte stadigaan sal toeneem. Oor die volgende 1,1 miljard jaar sal die Son se ligsterkte met 10% toeneem en oor die volgende 3,5 miljard jaar met 40%. Die toenemende ligsterkte beteken dat die straling wat die Aarde bereik ook sal toeneem en klimaatmodelle dui daarop dat dit rampspoedige gevolge vir die planeet sal inhou, waaronder die moontlike verlies van die planeet se oseane.

Deur die Aarde se toenemende hoë temperatuur sal die hoeveelheid anorganiese koolstofdioksied in die atmosfeer afneem tot 'n konsentrasie waarby C4-fotosintese onmoontlik sal wees. Dit beteken die meeste plantsoorte sal nie oorleef nie en die suurstof sal uit die atmosfeer verdwyn. 'n Suurstoflose atmosfeer sal beide menslike en dierlike lewe onmoontlik maak.Ward and Brownlee (2002). Binne die daaropvolgende miljard jaar sal alle oppervlakwater verdwyn en die gemiddelde wêreldwye temperatuur sal 70 °C bereik.

Oor ongeveer 5 miljard jaar sal die Son 'n rooireus word en uitsit tot ongeveer 250 maal sy huidige radius, ongeveer 150 000 000 km.Sien ook