duimnael|regs|Details van die loof, blomme en peule Die msasa (Brachystegia spiciformis) is 'n groot boom en belangrike komponent van miombo-boomveld wat tot die Fabaceae-familie behoort. Dit kom baie plaaslik in die oostelike Soutpansberg voor, en is inheems vanaf die suide van Mosambiek tot in die oorgrote deel van Zimbabwe. Kenmerkend van die boom is dat die blare in die lente baie kleurryk vertoon.
Verspreiding Die msasa het 'n tropiese tot subtropiese verspreiding en groei die beste in oop boomveld waar daar 'n skerp onderskeid tussen die nat en droë seisoene is. Die noordelike punt van sy gebied is naby Tabora in Tanzanië (sowat 5° S) en sy mees suidelike omvang is naby Quissico aan die kus van Mosambiek (sowat 25° S).
Msasas benodig 'n minimum van sowat 500 mm reën, hoewel die hoeveelheid reën in die somergroeiseisoen belangriker as die totale jaarlikse reënval is. Dit benodig 'n gemiddelde jaarlikse temperatuur van ongeveer 19 tot 20 °C. Dit floreer nie onder 'n kombinasie van koue en nat toestande nie, en soos baie tropiese plante benodig dit 'n warm droë tydperk voor die aanvang van die groeiseisoen.
Voorkoms Die boom bereik tipies 'n hoogte van ongeveer 16 meter, hoewel dit minder hoog is in meer droogtegevoelige gebiede. In sentraal-Zambië en oostelike Angola is manjifieke eksemplare van ongeveer 18–19 meter algemeen danksy die betroubaarheid van swaar reën gedurende die groeiseisoen. Dit gedy in binnelandse situasies op 'n hoogte van ongeveer 1000–1400 meter (weens die skerp verskil tussen dag- en nagtemperature), hoewel dit in die suidelikste voorkomsgebied tot op seevlak groei.
Die boom ondergaan 'n reeks veranderinge volgens die seisoene. Dit begin die blare (ietwat traag) te wissel namate die koel seisoen aan die einde van Mei aanbreek, en vroeg in Augustus is dit kaal of byna kaal. Aan die einde van Augustus, wanneer temperature weer styg, word die nuwe blare voortgebring. Dié is dikwels helderrooi van kleur, maar wissel van byna pers tot bruinerig in verskillende individue. Die blare verkleur tot diepgroen oor 'n tydperk van 10–20 dae. Die onopsigtelike blomme verskyn ná die nuwe blare en dit word in April deur die losstaande peule (sowat 12–15 cm lank) gevolg. Soos met baie peulgewasspesies splyt die peule plofbaar oop wanneer dit uitdroog, en die plat sade (sowat 2 cm deursnee) word 'n entjie van die ouerboom af geslinger.
Sinonieme Die spesie het twintig sinonieme:
B. bragaei Harms B. edulis Hutch. & Burtt Davy B. euryphylla Harms B. hockii De Wild. B. hockii var. papyracea De Wild. B. hockii var. pilosopedicellata De Wild. B. itoliensis Taub. B. mpalensis Micheli B. mpalensis var. latifoliolata De Wild. B. oliveri Taub. B. randii Baker f. B. spiciformis var. glandiflora Benth. B. spiciformis var. kwangensis Hoyle B. spiciformis var. latifoliolata (De Wild.) Hoyle B. spiciformis var. mpalensis (Micheli) Hoyle B. spiciformis var. parviflora Benth. B. spiciformis var. schmitzii Hoyle B. taubertiana Hutch. & Burtt Davy B. trijuga R.E.Fr. B. venosa Hutch. & Burtt Davy
Galery
Bronne Watter Boom is dit? Eugene Moll 2013 Plants of the World Online REDLIST Sanbi
Sien ook Alfabetiese lys van Suid-Afrikaanse bome
Eksterne skakels
Kategorie:Bome van Afrika spiciformis Kategorie:Flora van Mosambiek Kategorie:Flora van Suid-Afrika Kategorie:Flora van Zimbabwe