Hierdie artikel handel oor die Sri Lankaanse nasionale manskrieketspan. Vir die artikel oor die nasionale vrouekrieketspan, sien Sri Lankaanse nasionale vrouekrieketspan.
Die Sri Lankaanse nasionale krieketspan (Singalees: ශ්රී ලංකා ජාතික ක්රිකට් කණ්ඩායම; Tamil: இலங்கை தேசிய கிரிக்கெட் அணி), met die bynaam The Lions (Engels vir: „die leeus“), is die nasionale krieketspan wat Sri Lanka in toets- en kitskrieket verteenwoordig. Dit word beheer en geadministreer deur Sri Lanka Krieket (SLC) en is ’n volle lid van die Internasionale Krieketraad (IKR) met toets-, EDI- en T20I-status. Die span het sy eerste internasionale krieketwedstryd in 1926/27 (as Ceylon) gespeel en in 1981 toetsstatus verkry, wat van Sri Lanka die agtste toetsland, en die derde in Asië, maak. Sri Lanka is tans (Februarie 2026) sesde op die IKR-toetsranglys, sesde op die eendagranglys en agtste die Twintig20-wêreldranglys.
Die Sri Lankaanse nasionale krieketspan het in die vroeë 1990’s hul grootste sukses behaal, toe hulle die 1996-krieketwêreldbeker tuis kon wen. Sedertdien het die span tot ’n krag in internasionale krieket ontwikkel. Sri Lanka het ook die eindstryde van die 2007- en 2011-toernooie gehaal, maar hulle het by albei dié toernooie as naaswenners geëindig.
Sri Lanka het die krieketwêreldbekertoernooi in 1996 gewen, die Kampioenetrofee 2002-titel met Indië gedeel en die T20I-wêreldbeker 2014 beklink, is agtereenvolgende naaswenners in die krieketwêreldbekertoernooie van 2007 en 2011 en naaswenners in die T20I-wêreldbekertoernooie in 2009 en 2012. Die Sri Lankaanse krieketspan hou op die oomblik ’n paar wêreldrekords, waaronder die rekord vir hoogste spantotale in al drie vorms van die spel: toets-, eendag- en Twintig20-wedstryde. Vier voormalige Sri Lankaanse spelers is in die Internasionale Krieketraad se Heldesaal opgeneem.
Die kolfwerk van Sanath Jayasuriya, Aravinda de Silva, Mahela Jayawardene en Kumar Sangakkara gerugsteun deur die boulwerk van Muttiah Muralitharan, Chaminda Vaas en Lasith Malinga, asook baie ander talentvolle spelers, ondersteun die sukses van Sri Lanka se krieket gedurende die laaste twee dekades.
Beheerliggaam
duimnael|links|Kaart van die Lanka Premierliga se T20-spanne Sri Lanka Krieket (SLC) is op 30 Junie 1975 as Raad van Krieket vir Sri Lanka (BCCSL) gestig en verantwoordelik vir die reël van krieket in Sri Lanka. Op 21 Julie 1981 het Sri Lanka ’n volle lid van die Internasionale Krieketraad (IKR) geword en mag dus toetskrieket speel, wat na die belangrikste en vernaamste internasionale krieketwedstryde verwys. Daarbenewens was die Sri Lankaanse beheerliggaam in 1983 ’n stigtingslid van die Asiatiese Krieketkonferensie (Asian Cricket Conference, ACC; nou Asiatiese Krieketraad).
Sri Lanka Krieket bestuur al die Sri Lanka-verteenwoordigende nasionale spanne, insluitende die mans, vroue en jeug. Hulle is ook verantwoordelik vir die bestuur en organisasie van toets-, EDI- en T20I-reekse teen ander spanne, en die reël van internasionale wedstryde tuis. Daarbenewens is die SLC verantwoordelik vir inkomsteverkryging deur die verkoop van kaartjies, borgskappe en uitsaairegte, veral in verband met die Sri Lankaanse span.
Kinders en jongmense word reeds op skool aan krieket bekend gestel en na gelang van hul belangstelling en talent begin hulle met hul afrigting. Net soos ander krieketlande beskik Sri Lanka oor ’n o/19-nasionale span wat aan die o/19-krieketwêreldbeker deelneem. Sri Lanka A is die tweede nasionale span van Sri Lanka en van hul wedstryde geniet eersterangse of A-lys-status.
Geskiedenis Beginjare Krieket is deur die Britte tydens die Britse koloniale tydperk na Sri Lanka, destyds Ceylon genoem, gebring. Daar word aangeneem dat krieket in die vroeë 1800’s in Sri Lanka gespeel is en die eerste bekende spelverslag het op 5 September 1832 in The Colombo Journal verskyn. Die Colombo Krieketklub is kort daarna gestig en vanaf November 1832 is die eerste krieketwedstryde gereël. Teen 1880 is die eerste nasionale krieketspan saamgestel, destyds onder die naam „Ceylon“, en vanaf die 1920’s het hulle eersterangse wedstryde begin speel.
In Oktober 1882, op pad na Australië om „die As teruggekry“, het Ivo Bligh se Engelse span in ’n wedstryd in Colombo gespeel. In 1888/89 het ’n Engelse span, aangevoer deur George Vernon, na Ceylon en Indië getoer en ’n Elf-per-kant-wedstryd teen ’n „All-Ceylon“-span in Kandy gespeel. In 1890 het die Australiese span op pad na Engeland in Colombo gespeel. Die Marylebone-krieketklub (MKK) het Ceylon sedert 1911/12 by 23 geleenthede besoek, mees onlangs in 2000/01. Teen 1911 het reeds vyf Engelse spanne Ceylon besoek. Die kapteine was Ivo Bligh (in 1882/83), George Vernon (in 1889/90), W. G. Grace (in 1891/92), Lord Hawke (in 1892/93) en Andrew Stoddart (in 1894/95). Die Bligh-, Grace- en Stoddart-spanne was op pad na Australië, terwyl die Vernon- en Hawke-spanne tydens hul Indiese toere in Ceylon aangedoen het.
Op pad na volle lidmaatskap Ceylon het in 1927 sy eerste eersterangse wedstryd onder dié naam teen die MKK op Nomads Ground, Victoriapark, Colombo met ’n beurt verloor. In 1933 het die eerste oorwinning oor Patiala op Dhruve Pandove-stadion gevolg. Aanvanklik is in Ceylon eersterangse krieketwedstryde net gespeel as toerende spanne dié eiland besoek het. Dit was veral die geval as Engelse en Australiese spanne tydens die wedersydse toere se lang reis die eiland as ’n tussenhalte gebruik het. Douglas Jardine se berugte „lyfkrieketspan“ het tydens hul Australiese 1932/33-toer in Ceylon aangedoen. By geleentheid het verteenwoordigende spanne van Ceylon wedstryde oorsee gespeel, veral in Indië. Sir Julien Cahn se Engelse span het Ceylon in 1936/37 besoek. Die Indiese nasionale krieketspan het Ceylon in April 1945 besoek en een eersterangse wedstryd teen Ceylon op die Paikiasothy Saravanamuttu-stadion in Colombo gespeel. Dié wedstryd het as gevolg van slegte weer onbeslis geëindig. Die Indiese span was ’n volstoomspan aangevoer deur Vijay Merchant en het noemenswaardige spelers ingesluit. Daarna het verskeie Australiese spanne op pad na Engeland en terug Australië toe vir wedstryde in Ceylon aangedoen. In die nadraai van die Tweede Wêreldoorlog het die Australiese Dienstespan in 1945/46 na Ceylon en Indië getoer, waartydens Keith Miller ’n honderdtal in Colombo aangeteken het. Miller het in 1948 met die Australiese span op pad na Engeland teruggekom en in ’n wedstryd in Colombo gespeel.
In Februarie 1949 het die Wes-Indiese nasionale krieketspan vir die eerste keer Ceylon besoek en twee eersterangse wedstryde gespeel. Wes-Indië het die eerste wedstryd op die Paikiasothy Saravanamuttu-stadion in Colombo met ’n beurt en 22 lopies gewen, nadat hulle 462/2 met honderdtalle deur Allan Rae, Everton Weekes en Clyde Walcott aangeteken het. Prior Jones het in dié wedstryd tien paaltjies geneem. Die tweede wedstryd op dieselfde stadion het in ’n gelykop geëindig, en Rae het ’n verdere honderdtal vir Wes-Indië aangeteken. In Augustus 1949 het Pakistan vir twee eersterangse wedstryde Ceylon besoek. Albei wedstryde is op die Paikiasothy Saravanamuttu-stadion in Colombo gespeel. Pakistan, aangevoer deur Mohammad Saeed, het die eerste wedstryd met ’n beurt en 192 lopies gewen, Saeed self het 93 aangeteken. Die Pakistanse sterbouler Fazal Mahmood het 4/15 geneem en Ceylon is op net 95 lopies in hul tweede beurt uitgeboul. Pakistan het die tweede wedstryd met tien paaltjies gewen, ondanks soms goeie kolfwerk deur Ceylon in hul eerste beurt.
Van 1953/54 tot 1975/76 het die Ceylon Krieketvereniging eersterangse wedstryde teen Madras (later Tamil Nadu genoem) vir die M. J. Gopalan-trofee gereël. Dié trofee is amper al om die twee jaar in Colombo, afwisselend met die wedstryd in Madras, uitgespeel, met een bykomende wedstryd in 1982/83. In November 1956 het Indië vir twee eersterangse wedstryde op die Paikiasothy Saravanamuttu-stadion in Colombo Ceylon besoek. Albei wedstryde het onbeslis geëindig. Toe hulle vir volle lidmaatskap aansoek gedoen het, het Ceylon van 1965 tot 1981 ’n geassosieerde lid van die Internasionale Krieketkonferensie (IKK; nou Internasionale Krieketraad, IKR) geword. In 1964/65 het Ceylon ’n Pakistanse A-span tuis en ’n Indiese volstoomspan in Indië verslaan. In Januarie 1967 het Wes-Indië vir een eersterangse wedstryd op die Paikiasothy Saravanamuttu-stadion in Colombo Ceylon besoek. Die wedstryd het onbeslis geëindig. Wes-Indië is aangevoer deur Gary Sobers, wat 115 lopies in sy span se enigste beurt aangeteken het. Ander honderdtalle is deur beide Basil Butcher en Clive Lloyd aangeteken.
In 1968 het Ceylon ter verbetering van sy kanse op toetsstatus ’n toer na Engeland beplan. Tussen Junie en Augustus is 19 wedstryde gereël, waaronder ’n wedstryd teen die MCC op Lord’s, nege eersterangse wedstryde teen countyspanne en vyf bykomende eersterangse wedstryde. Wisden 1968, bl. 1069. Die Raad vir Beheer van Krieket in Ceylon het egter gesukkel om geld vir dié toer te verkry en vervolgens moes privaat skenkings ingesamel word. Buitendien het die regering gehuiwer, om die nodige valutareserwes vry te stel, omdat hulle probleme met die betaling van belangrike invoere gehad het. ’n Bykomende probleem was die spankeuring in April 1968. Chandra Schaffter, een van die vier keurders, het bedank, aangesien hy van mening was, dat die ander twee keurders, Herbert Fernando en Dhansiri Weerasingh hulle mekaar in die span sou keur, met een van hulle as kaptein. Die daaropvolgende opstand het in Mei tot die kansellasie van die toer gelei, net dae voor die beplande vertrekking na Engeland.
In 1969/70 het weer ’n Australiese span die eiland besoek. Dié span het een eersterangse wedstryd teen Ceylon gespeel, voordat hulle vir ’n vyf-toetsreeks na Indië getoer het. In November 1972 het Pakistan Sri Lanka (dié jaar van Ceylon na Sri Lanka herdoop) besoek en een eersterangse wedstryd op die Paikiasothy Saravanamuttu-stadion in Colombo gespeel. Die wedstryd het onbeslis geëindig nadat dit deur reën geraak is. Pakistan, aangevoer deur Intikhab Alam, het onderskeidelik 262/8 en 48/3 aangeteken; Sri Lanka het in antwoord daarop 133 en 120/3 aangeteken. In Januarie en Februarie 1974 het Indië na Sri Lanka getoer. Hulle het twee eersterangse, twee eendaagse wedstryde teen Sri Lanka en twee bykomende eersterangse wedstryde teen die Sri Lankaanse Raadspresidentspan gespeel. Indië het Sri Lanka op die Singalese Sportklub-krieketveld met ses paaltjies verslaan, maar die ander drie eersterangse wedstryde is deur die weer geraak en het onbeslis geëindig. In Februarie 1975 het Wes-Indië as deel van ’n groter toer na Indië en Pakistan Sri Lanka besoek. Aangevoer deur Clive Lloyd het hulle twee eersterangse wedstryde teen Sri Lanka, wat albei onbeslis geëindig het, en een eendaagse wedstryd gespeel wat Wes-Indië met agt paaltjies gewen het.
Tydens die Krieketwêreldbeker 1975 in Engeland het Sri Lanka in sy eerste EDI-wedstryd gespeel en hulle is op Old Trafford in Manchester deur die latere kampioen Wes-Indië met nege paaltjies verslaan. Nadat hulle ook in die ander twee groepwedstryde deur Australië en Pakistan verslaan is, is hulle vroeg uitgeskakel. Enkele dae ná die wêreldbekertoernooi is op 30 Junie 1975 die beheerliggaam Raad vir Beheer van Krieket in Sri Lanka gestig.