Hierdie artikel handel oor die Wes-Indiese nasionale manskrieketspan. Vir die artikel oor die nasionale vrouekrieketspan, sien Wes-Indiese nasionale vrouekrieketspan.
Die Wes-Indiese nasionale krieketspan (Engels: West Indies cricket team) is die nasionale krieketspan wat Wes-Indië in internasionale krieket verteenwoordig. Die span staan bekend as die Wes-Indiese Eilande of, in die omgangstaal, die Windies, met die bynaam Men in Maroon (“Manne in maroen”). Dit is ’n multinasionale krieketspan in ’n sportkonfederasie wat die onafhanklike lande Antigua en Barbuda, Barbados, Dominica, Grenada, Guyana, Jamaika, St. Kitts en Nevis, St. Lucia, St. Vincent en die Grenadine en Trinidad en Tobago, asook die oorsese gebiede Amerikaanse Maagde-eilande, Anguilla, Britse Maagde-eilande, Montserrat en Sint Maarten verteenwoordig. In die meeste van hierdie eilandstate is krieket die nasionale sport, hetsy de facto of de jure. Vervolgens gebruik die Wes-Indiese krieketspan nóg een van die lande se volksliedere, nóg een van hul vlae as ’n verteenwoordigende simbool; pleks daarvan gebruik die Wes-Indiese nasionale krieketspan sy eie vlag – dié van Krieket Wes-Indië (CWI, van Engels: Cricket West Indies) – en lied. In internasionale krieket is daar net twee ander spanne wat meer as een krieketland verteenwoordig: Engeland (vir beide Engeland en Wallis) en Ierland (vir beide die Republiek Ierland en Noord-Ierland).
Krieket word in Wes-Indië deur Krieket Wes-Indië geadministreer. Hulle is die enigste volle lid van die Internasionale Krieketraad (IKR) in die Amerikas en die vierde oudste nasionale span in toetskrieket. Tydens die 1928-seisoen het hulle hul toetsdebuut gemaak, toe Wes-Indië op Lord’s hul eerste toets teen Engeland gespeel het. Wes-Indië is tans (Februarie 2026) agtste op die IKR-toetsranglys, negende op die eendagranglys en sewende op die Twintig20-wêreldranglys.
Vanaf die middel-1970’s tot die vroeë 1990’s was die Wes-Indiese span een van die sterkstes ter wêreld in beide toets- en EDI-krieket en later in die 2010’s in T20I-krieket. ’n Hele aantal voormalige spelers, beskou as van die beste in die wêreld, is afkomstig van die Wes-Indiese Eilande. 21 voormalige Wes-Indiese spelers is in die Internasionale Krieketraad se Heldesaal opgeneem.
Die Wes-Indiese Eilande kon die krieketwêreldbekertoernooi twee keer wen (in 1975 en 1979, toe dit die Prudentialbeker was), die T20I-wêreldbekertoernooi twee keer (in 2012 en 2016), en beide die Kampioenetrofee (in 2004) en die o/19-krieketwêreldbeker (in 2016) eenkeer. Hulle was die eerste krieketspan om die krieketwêreldbekertoernooi twee keer te wen, maar hul rekord is later deur Australië se ses wêreldbekeroorwinnings verbeter en deur Indië in 2011 geëwenaar. Wes-Indië is ook die eerste span wat twee agtereenvolgende wêreldbekertoernooie gewen het, dit is sedertdien oortref deur drie agtereenvolgende wêreldbekeroorwinnings deur Australië (in 1999, 2003 en 2007). Wes-Indië was die eerste span om in drie agtereenvolgende wêreldbekertoernooieindstryde te verskyn (in 1975, 1979 en 1983), sedertdien oortref deur vier agtereenvolgende wêreldbekertoernooieindstrydverskynings deur Australië (in 1996, 1999, 2003 en 2007). Die Wes-Indiese Eilande het die Krieketwêreldbeker 2007, die T20I-wêreldbeker 2010 en die o/19-krieketwêreldbeker 2022 gehuisves, asook saam met die Verenigde State die T20I-wêreldbeker 2024. In Junie 2019, gedurende die Krieketwêreldbeker 2019, het die Wes-Indiese Eilande in hul 800ste EDI-wedstryd gespeel. Nadat Wes-Indië tydens die Krieketwêreldbekerkwalifisering 2023 nie die eindstryd kon haal nie, was die Krieketwêreldbeker 2023 die eerste toernooi sonder ’n Wes-Indiese deelname.
Beheerliggaam
duimnael|links|’n Kaart van Krieket Wes-Indië se lidlande: Volle lede vertoon vet, onderlede in gewone skrif en geaffilieerde lede is kursief Krieket Wes-Indië (KWI) is in 1920 as die Wes-Indiese Krieketbeheerraad gestig en is in 1996 in Wes-Indiese Krieketraad hernoem; sedert 2015 dra dié beheerliggaam die amptelike naam Krieket Wes-Indië. Dit is verantwoordelik vir die reël van krieket in Wes-Indië. Sedert 31 Mei 1926 is Wes-Indië ’n volle lid van die Internasionale Krieketraad (IKR).
Krieket Wes-Indië bestuur al die Wes-Indië-verteenwoordigende nasionale spanne, insluitende die mans, vroue en jeug. Hulle is ook verantwoordelik vir die bestuur en organisasie van toets-, EDI- en T20I-reekse teen ander spanne, en die reël van internasionale wedstryde tuis. Daarbenewens is KWI verantwoordelik vir inkomsteverkryging deur die verkoop van kaartjies, borgskappe en uitsaairegte, veral in verband met die Wes-Indiese span.
Kinders en jongmense word reeds op skool aan krieket bekend gestel en na gelang van hul belangstelling en talent begin hulle met hul afrigting. Net soos ander krieketlande beskik Wes-Indië oor ’n o/19-nasionale span wat aan die o/19-krieketwêreldbeker deelneem. Wes-Indië A is die tweede nasionale span van Wes-Indië en van hul wedstryde geniet eersterangse of A-lys-status.
Geskiedenis Invoering van krieket en eerste toere duimnael|links|upright|Learie Constantine, wat in die 1920’s en 1930’s toetskrieket gespeel het, was een van die eerste beste Wes-Indiese spelers Soos in ander dele van die wêreld het Britse kolonisasie die spel krieket na Wes-Indië gebring, waar dit vinnig gewildheid verwerf het. Die Wes-Indiese krieketgeskiedenis het in die 1880’s begin, toe ’n verteenwoordigende span saamgestel is om na Kanada en die Verenigde State te toer. Die eerste bekende krieketwedstryd wat in Wes-Indië gespeel is, was tussen plaaslike spanne, hoofsaaklik bestaande uit “wit” spelers, en Engelse toeriste – die Middlesex-speler Robert Slade Lucas het in 1894/95 met ’n span na Wes-Indië getoer, en twee jaar later het Arthur Priestley ’n span na Barbados, Trinidad en Jamaika gelei, wat vir die eerste keer teen ’n “All West Indies”-span gespeel het, maar deur die gasheer verslaan is. Lord Hawke se Engelse span, insluitende verskeie Engelse toetsspelers, het as gevolg van ’n misverstand terselfdertyd getoer en teen Trinidad, Barbados en Brits-Guiana (nou Guyana) gespeel. In 1900 het die “wit” Trinidadse Aucher Warner, die broer van die toekomstige Engelse kaptein Pelham Warner, ’n toerende span na Engeland gelei, maar nie aan een van die wedstryde tydens hul toer is eersterangse status toegeken nie. Twee jaar later, in 1901/02, het die Hampshirepaaltjiewagter Richard Bennett se span na Wes-Indië getoer, en drie wedstryde teen ’n span genoem “Wes-Indië” gespeel, wat die gasheer met 2–1 gewen het. In 1904/05 het Lord Brackley se span na die Karibiese gebied getoer en albei hul wedstryde teen Wes-Indië gewen.
Die toere na Engeland is in 1906 voortgesit, toe Harold Austin ’n Wes-Indiese span aangevoer het. Sy span het teen ’n aantal countyspanne gespeel en in die wedstryd teen ’n “Engeland XI” gelykop gespeel. Hierdie Engelse span het egter net een destydse toetsspeler ingesluit – die paaltjiewagter Dick Lilley – wat nie aan Engeland se onlangse toer na Suid-Afrika in 1905/06 deelgeneem het nie. Die Marylebone-krieketklub (MKK), wat die opsig oor alle amptelike Engelse oorsese toere oorgeneem het, het Wes-Indië in 1910/11 en in 1912/13 besoek, maar daar was nie verdere internasionale krieket totdat die Wes-Indiese span in 1923 na Engeland getoer het nie, veral as gevolg van die Eerste Wêreldoorlog. Dié toer het nie ’n wedstryd teen ’n Engelse span ingesluit nie, maar daar was ’n einde-van-die-seisoen-wedstryd tussen HDG Leveson-Gower se span en ’n virtuele Engelse toetsspan op die Scarborough krieketfees, wat Leveson-Gower se span met net vier paaltjies gewen het. In 1925/26 het die MKK weer na die Wes-Indiese eilande getoer.
Die MKK was gretig om krieket in die hele Britse Ryk te bevorder en 31 Mei 1926 het die Wes-Indiese beheerliggaam saam met sy Indiese en Nieu-Seelandse eweknieë volle lede geword van die Imperiale Krieketkonferensie (IKK; nou Internasionale Krieketraad, IKR) wat voorheen slegs uit die Marylebone-krieketklub (MKK) en verteenwoordigers uit Australië en Suid-Afrika bestaan het. Ná hul toetrede tot die IKK kon Wes-Indië nou amptelike toetswedstryde speel, wat na die belangrikste en vernaamste internasionale krieketwedstryde verwys, en die Wes-Indiese span het op 23 Junie 1928 die vierde span geword wat ’n amptelike toetswedstryd gespeel het, toe hulle teen Engeland op Lord’s in Londen te staan gekom het. Hulle het egter nie onmiddellike sukses behaal nie – die Wes-Indiese span het al drie driedaagse toetse in daardie 1928-toer swak verloor en versuim om 250 lopies in al hul ses beurte aan te teken. Hulle het ook nie daarin geslaag om Engeland onder 350 lopies vas te bind nie en Engeland het dié reeks heeltemal oorheers.
Die vroeë toetse (1930’s en 1940’s) duimnael|links|Die Wes-Indiese span wat in 1930/31 na Australië getoer het duimnael|Die Australiër Bill Hunt gesels met die Wes-Indiër Learie Constantine tydens die 1930/31-toer na Australië duimnael|Wes-Indiese werknemers gedurende die Tweede Wêreldoorlog in die Verenigde Koninkryk, waaronder die krieketspeler Learie Constantine duimnael|links|Die Wes-Indiese krieketspelers George Francis, Learie Constantine en Herman Griffith tydens die 1930/31-toer na Australië Die Wes-Indiese span het in die 1930’s 19 toetse tydens vier reekse teen Engeland en een reeks teen Australië gespeel. Die eerste vier daarvan was teen ’n Engelse span wat in 1929/30 onder Freddie Calthorpe getoer het. Gelyktydig het Harold Gilligan ’n ander Engelse span na Nieu-Seeland aangevoer, waarvolgens die Engelse span in Wes-Indië nie ’n volstoomspan was nie. Die reeks eindig een-elk en die Wes-Indiese span het op 26 Februarie 1930 hul eerste toetsoorwinning behaal. Die Wes-Indiese George Headley het die meeste lopies (703) aangeteken en Learie Constantine die meeste paaltjies (18) geneem.
Die Wes-Indiese span het in 1930/31 vir die eerste keer na Australië getoer. Hulle het dié toetsreeks egter met 1–4 swak verloor. Die vyfde en laaste toets het die een of ander verrassing gesien – die Wes-Indiese span het eerste begin kolf en die eerste drie dae ’n voorsprong van 250 lopies met nog vyf paaltjies oor in hul tweede beurt aangeteken. Hul boulers het ’n groot opskudding behaal, nadat Herman Griffith vier paaltjies geneem en Wes-Indië met 30 lopies hul eerste oorsese toets gewen het. Toe die span huis toe trek, het hulle ’n goeie indruk onder die Australiese publiek gelaat, alhoewel die span aan die begin verskeie kulturele verskille in die gesig gestaar het – byvoorbeeld het hul gasheer oorspronklik nie besef dat hul Rooms-Katolieke gaste sou weier om gholf op Sondae te speel of om by ’n meer ruwe gedrag aan te sluit nie. Die Wes-Indiese spanne is altyd deur “wit” spelers aangevoer, en die toerspan het sewe “wit” spelers en elf “inheemse” ingesluit, en die Wes-Indiese Krieketraad het aan hul Australiese eweknie geskryf “dat almal in dieselfde hotelle sal bly”. Australië het destyds sy “Wit Australië”-beleid gehad, waarvolgens die Australiese Krieketraad vir die Australiese regering moes verseker dat die “niewit” spelers Australië na die toer sal verlaat. Toe die Wes-Indiese span in Sydney aankom, is die “wit” spelers in ’n ander hotel as die “swart” spelers gehuisves. Hulle het protes aangeteken en daarna is aan hul wense voldoen. Die toer was duur en destyds was Australië ook deur die Groot Depressie geraak. Die Wes-Indiese span het vier van hul 14 eersterangse wedstryde gewen en agt verloor.