Hierdie artikel handel oor die Bengaalse nasionale manskrieketspan. Vir die artikel oor die nasionale vrouekrieketspan, sien Bengaalse nasionale vrouekrieketspan.
Die Bengaalse nasionale krieketspan (Bengaals: বাংলাদেশ জাতীয় ক্রিকেট দল), met die bynaam The Tigers, is die nasionale krieketspan wat Bangladesj in toets- en kitskrieket verteenwoordig. Dit word beheer en geadministreer deur die Bengaalse Krieketraad (BCB, van Engels: Bangladesh Cricket Board) en is ’n volle lid van die Internasionale Krieketraad (IKR) met toets-, EDI- en T20I-status. Bangladesj het sy eerste toetswedstryd in November 2000 teen Indië in Dhaka gespeel en sodoende die tiende land, en die vierde in Asië, met toetsstatus geword.
Bangladesj se eerste vertoning in internasionale krieket was tydens die IKR-trofee 1979 in Engeland. Hulle beëindig dié toernooi met twee oorwinnings en twee nederlae. Sewe jaar later, op 31 Maart 1986 tydens die Asiatiese Beker, speel Bangladesj in sy eerste internasionale eendagwedstryd teen Pakistan. Bangladesj wen die IKR-trofee 1997 in Maleisië. Deur die toernooi te wen het Bangladesj vir die eerste keer ook vir die Krieketwêreldbeker 1999 gekwalifiseer. Tydens dié toernooi het hulle onder andere Pakistan en Skotland verslaan. Oor ’n lang tydperk was sokker die gewildste sport in Bangladesj, maar krieket het geleidelik gewildheid verwerf – veral in stedelike gebiede – en teen die 1990’s sokker verbygesteek. Op 26 Junie 2000 is Bangladesj se vordering in internasionale krieket met toetsstatus beloon.
In 1997 word Bangladesj ’n gereelde lid van die IKR met die reg om internasionale eendagwedstryde te speel. Hulle verwerf op 26 Junie 2000 die status van ’n toetskrieketland. Bangladesj hou die rekord vir die meeste verloorslae agtereenvolgens in toetse (21 tussen 1999 en 2002) en eendagwedstryde (23 tussen 2001 en 2004). Nadat hulle toetsstatus verkry het, moes Bangladesj tot in 2004 vir sy eerste EDI-oorwinning sedert die Krieketwêreldbeker 1999 wag. Die span wat Bangladesj tydens dié geleentheid gewen het, was Zimbabwe, wat Bangladesj ook in hul eerste toetsoorwinning in 2005 verslaan het; nadat hulle die tweede toets geëwenaar het, het Bangladesj sy eerste toetsreeks gewen. In 2009 vertrek Bangladesj vir twee toetse na Wes-Indië en nadat hulle albei gewen het, beklink Bangladesj sy eerste oorsese toetsreeks.
Teen 25 Januarie 2026 het Bangladesj in 156 toetswedstryde gespeel, waarvan hulle 25 gewen het. Hul eerste oorwinning was oor Zimbabwe, en die volgende twee teen Wes-Indië. Veral tuis het hulle reeds goed presteer en onbeslis teen Nieu-Seeland, Pakistan, Indië en Suid-Afrika gespeel, maar ook oorwinnings oor Engeland, Sri Lanka en Australië aangeteken. Tydens hul 2016/17-toer na Sri Lanka het Bangladesj in Maart 2017 sy 100ste toetswedstryd gespeel.
Bangladesj is meer suksesvol wat EDIs betref, hulle het 163 van hul 455 EDI-wedstryde gewen. Bangladesj het ook reeds 212 Twintig20-wedstryde gespeel, waarvan hulle 86 gewen het. Bangladesj is tans (Januarie 2026) negende op die IKR-toetsranglys, tiende op die eendagranglys en negende op die Twintig20-wêreldranglys.
Beheerliggaam
duimnael|links|Ondersteuners van die Bengaalse krieketspan met die Bengaalse vlag tydens ’n krieketwedstryd Die Bengaalse Krieketraad (Bengaals: বাংলাদেশ ক্রিকেট বোর্ড; Engels: Bangladesh Cricket Board, BCB) is in 1972 as die Bengaalse Krieketbeheerraad (Engels: Bangladesh Cricket Control Board, BCCB) gestig en verantwoordelik vir die reël van krieket in Bangladesj. Sedert 26 Junie 2000 is Bangladesj ’n volle lid van die Internasionale Krieketraad (IKR) en mag dus toetskrieket speel. Daarbenewens was die Bengaalse beheerliggaam in 1983 ’n stigtingslid van die Asiatiese Krieketkonferensie (Asian Cricket Conference, ACC; nou Asiatiese Krieketraad).
Die Bengaalse Krieketraad bestuur al die Bangladesj-verteenwoordigende nasionale spanne, insluitende die mans, vroue en jeug. Hulle is ook verantwoordelik vir die bestuur en organisasie van toets-, EDI- en T20I-reekse teen ander spanne, en die reël van internasionale wedstryde tuis. Daarbenewens is die BCB verantwoordelik vir inkomsteverkryging deur die verkoop van kaartjies, borgskappe en uitsaairegte, veral in verband met die Bengaalse span.
Kinders en jongmense word reeds op skool aan krieket bekend gestel en na gelang van hul belangstelling en talent begin hulle met hul afrigting. Net soos ander krieketlande beskik Bangladesj oor ’n o/19-nasionale span wat aan die o/19-krieketwêreldbeker deelneem. Bangladesj A is die tweede nasionale span van Bangladesj en van hul wedstryde geniet eersterangse of A-lys-status.
Geskiedenis Krieket in Bengale Krieket is in die 18de eeu deur die Britse Oos-Indiese Kompanjie na Bengale gebring en die eerste bekende krieketwedstryde is in 1792 in Calcutta gespeel, maar wedstryde is dalk ’n dekade voorheen gespeel. Die spel het vinnig gewildheid in Wes-Bengale en die aangrensende Bihar verwerf. In Oos-Bengale, die huidige Bangladesj, het krieket stadiger ontwikkel, aangesien dié gebied tot in die tweede helfte van die 19de eeu nie ’n groot aantal Europese settlers gelok het nie. Eers later het Europeërs hulle hulle in Dhaka begin vestig en net soos in die aangrensende Indië het krieket vinnig een van hul gunsteling ontspanningsaktiwiteite geword. In 1876 het ’n Europese XI ’n Inheemse XVIII in Dhaka verslaan (die syfers verwys na die aantal spelers). Roy Morgan, Encyclopaedia of World Cricket, SportsBooks Limited (2007), bl. 31.
Tydens die eerste besoek van ’n Engelse span op die Indiese subkontinent het in 1889/90 ’n verteenwoordigende Bengaalse span teen G. F. Vernon’s XI gespeel. In Januarie 1923 het Bengale tydens die Nagpur Provinsiale Toernooi teen ’n keurspan uit Bombay en ’n Sentrale Provinsies XI te staan gekom. In 1934 het die Raad vir Beheer van Krieket in Indië die Ranji-trofee van stapel gestuur, maar Bengale het nie aan die eerste 1934/35-toernooi deelgeneem nie. In Desember 1934 het Bengale eersterangse status verkry, toe hulle teen die toerende Australië gespeel het, maar met nege paaltjies verslaan is. In Januarie 1936 het Bengale aan die Ranji-trofee deelgeneem en in die Oostelike sone gespeel, maar hulle is deur Madras in die halfeindstryd verslaan. In 1937 het Bengale as naaswenner geëindig en in 1939 het hulle die Ranji-trofee ingepalm. Destyds was Bengale as ’t ware ’n Wes-Bengaalse span. Hulle was in Calcutta gesetel en het al hul tuitswedstryde op Eden Gardens gespeel. In Februarie 1941 is die eerste belangrike wedstryd in Dhaka gespeel, toe ’n Bengaalse Goewerneurs XI teen die Bengaalse Gymkhana op die Bangabandhu Nasionale stadion – destyds die Dacca-stadion genoem – gespeel het.
Krieket in Oos-Pakistan Tussen die 1954/55- en 1970/71-seisoene het 13 Oos-Pakistanse eersterangse spanne aan Pakistan se plaaslike kriekettoernooie – die Quaid-i-Azam- en die Ayub-trofee – deelgeneem, baie van die spanne egter net in ’n enkele seisoen of twee. Van die mees aktiewe spanne was Oos-Pakistan (nege seisoene), Dhaka-universiteit, Oos-Pakistan Greens en Oos-Pakistan Whites (drie seisoene elk). Chittagong is ’n goeie voorbeeld van die sporadiese manier waarvolgens spanne van Oos-Pakistan in die nasionale kompetisies betrokke was. Dié plaaslike span sou tussen 1959/60 en 1965/66 in drie wedstryde gespeel het, maar al drie wedstryde moes afgelas word. Van die Oos-Pakistanse spanne het eersterangse wedstryde teen die toerende Indië (in 1954/55) en Marylebone-krieketklub (in 1955/56) gespeel. Vanaf Januarie 1955 het Oos-Pakistan toetskrieket begin huisves, toe ’n wedstryd tussen Pakistan en Indië op die Bangabandhu Nasionale stadion in Dhaka aangebied is. Dié stadion is regdeur die 1960’s vir verskeie belangrike wedstryde, insluitende toetse, gebruik. Die M. A. Aziz-stadion in Chittagong word sedert 1954 ook vir eersterangse wedstryde gebruik, maar die eerste toets is eers in 2001 in dié stadion aangebied, toe Bangladesj teen Zimbabwe gespeel het.
Die laaste voltooide eersterangse wedstryd in Oos-Pakistan was vanaf 26 Februarie tot 1 Maart 1971 tussen ’n Pakistanse Krieketraad XI en die toerende Internasionale XI in Dhaka gespeel. Dié wedstryd het onbeslis geëindig en sy laaste dag het met die ontbinding van die nasionale vergadering deur Yahya Khan saamgeval, wat tot die uitbreek van die Bengaalse Oorlog gelei het. Die Internasionale XI het Dhaka die volgende dag op pad na Lahore toe verlaat en ’n verdere wedstryd gespeel, voordat hul toer geëindig het. Twee wedstryde wat vir Maart tydens die Quaid-i-Azam-trofee in Dhaka beplan was, is weens die nasionale noodtoestand geskrap.
Geassosieerde lid van die IKR duimnael|Bangladesj het sy volle debuut in internasionale krieket tydens die Asiatiese Beker in 1986 gemaak Tot in 1947 was Bangladesj ’n deel van Brits-Indië en vanaf 1971 ’n deel van Pakistan, en het as deel van hierdie lande oor toetsstatus beskik. Ná sy onafhanklikheid moes die span op nuut herbou. In 1972 het die regering die Bengaalse Krieketraad (Bangladesh Cricket Board, BCB), destyds die Bengaalse Krieketbeheerraad (Bangladesh Cricket Control Board, BCCB) genoem, gestig. Dié beheerliggaam het die taak gehad om krieket in die nuwe land te reël. In die nadraai van die Derde Indies-Pakistanse Oorlog was dit egter nie maklik nie. Volgens Barclays World of Cricket was die nasionale stadion in Dhaka in ’n vervalle toestand in die lente van 1975. Barclays World of Cricket, E. W. Swanton (redakteur), Willow Books (1986), bl. 75. Nadat die probleme van die naoorlogse fase opgelos is, het krieket in Dhaka toenemend gewildheid verwerf en in Februarie en Maart 1973 is die eerste belangrike kompetisie op klubvlak, die Dhaka Metropolis Uitspeeltoernooi, aangebied. ’n Nasionale klubtoernooi is in 1974/75 geloods en tot in 2015 gedurende die meeste seisoene aangebied. Dit is in 1983/84 deur die tabakmaatskappy W.D. & H.O. Wills en toe in 1993/94 deur Pepsi geborg, maar dit was nooit ’n eersterangse kompetisie nie. Dit het oor ’n soortgelyke status as dié van ligakrieket in Engeland of graadkrieket in Australië beskik.
Die beheerliggaam het die ergste van hierdie probleme aan die begin van die 1976/77-seisoen aangepak. In Januarie 1977 is die eerste Bengaalse nasionale krieketspan vir ’n wedstryd teen die toerende Marylebone-krieketklub (MKK of MCC in Engels) op die Bangabandhu Nasionale stadion saamgestel. Die MKK het ook teen die Noordsone, Oossone en Suidsone gespeel, waarvolgens dié deelnemers aan die Bengaalse Krieketliga vir die eerste keer in internasionale wedstryde gespeel het. Hoewel die MKK-span bekende county-krieketspelers ingesluit het, het hul wedstryde tydens die 1976/77-toer nie oor eersterangse status beskik nie. Bangladesj het die MKK nogtans beïndruk en in 1977 het die land ’n assosiaatlid van die Internasionale Krieketraad geword. Die eerste nasionale span wat Bangladesj besoek het, was Sri Lanka in Januarie 1978. Sri Lanka was op die punt om ’n toetsland te word (wat in 1982 gebeur het) en het sy hoër vlak met verskeie beurtoorwinnings in die drie wedstryde oor Bangladesj onderstreep. Die wedstryd in Dhaka, wat op 13 Januarie 1978 begin het en deur Sri Lanka met ’n beurt en nege lopies gewen is, was Bangladesj se internasionale krieketverskyning, maar as gevolg van die laer vlak van krieket in Bangladesj het dit nie eersterangse status geniet nie.