Marokko (Arabies: المغرب, al-maġhrib, letterlik "plek waar die son sak", "plek van sononder" of "die weste"; Berbers: ⵍⵎⵖⵔⵉⴱ, lmeɣrib; Frans: Maroc), amptelik die Koninkryk Marokko (Arabies: المملكة المغربية, al-mamlakah al-maghribiyah, letterlik "die westelike Koninkryk"; Berbers: ⵜⴰⴳⵍⴷⵉⵜ ⵏ ⵍⵎⵖⵔⵉⴱ, tageldit n lmaɣrib; Frans: Royaume du Maroc), is 'n land in Noordwes-Afrika. Dit het 'n lang kuslyn aan die Atlantiese Oseaan wat verby die Straat van Gibraltar strek tot in die Middellandse See. Die land grens aan Algerië in die ooste. Die suidgrens met Wes-Sahara en Mauritanië is omstrede. Die Spaanse eksklawes Ceuta en Melilla word ook deur Marokko opgeëis.
duimnael|links|Nasa-Satellietbeeld van Marokko duimnael|links|Kaart van Marokko. Die kaart sluit nie Marokko se aanspraak op Wes-Sahara in nie. Kaarte uit Marokko wys Wes-Sahara as deel van Marokko duimnael|links|Topografiese kaart van Marokko Wes-Sahara is grotendeels onder die gesag van Marokko, die gebiede wat nie deur Marokko beset word nie, vorm deel van die Arabiese Demokratiese Republiek Sahara wat deur die Polisario gelei word. Weens die konflik om Wes-Sahara het Marokko op 12 November 1984 van die Organisasie vir Afrika-eenheid onttrek en daarmee die enigste land van Afrika geword wat nie 'n lidland van die Afrika-unie was nie. In 1987 het Marokko vir lidmaatskap by die Europese Gemeenskap, die voorganger van die huidige Europese Unie, gevra, maar is weens sy ligging in Afrika afgewys. Op 30 Januarie 2017 het Marokko ondanks die Wes-Sahara-konflik 'n lid van die AU geword.
Marokko het 'n oppervlakte van 446 550 (sonder Wes-Sahara) of 710 850 (met Wes-Sahara) en 'n bevolking van 33 250 000 in 2014 gehad. Die hoofstad is Rabat en die grootste stad is Casablanca. Ander groot stede sluit in Fes, Marrakesj en Tangier. Marokko se sentrale streek word deur die Atlasgebergte beheer.
Algemene gegewens duimnael|links|Die 12 amptelike administratiewe streke van Marokko, insluitende die omstrede Wes-Sahara Die Koninkryk Marokko is die westelikste staat in Noord-Afrika en word daarom deur die Arabiere Djezirat Al Maghrib ("Eiland van die Weste") of Al Maghrib Al Aqsa ("Uiterste Weste") genoem.
In die noorde het die land 'n uitgestrekte kusgebied aan die Middellandse See en die Atlantiese Oseaan. Die grens van Marokko met Algerië in die suide lê in die woestyngebied van die Sahara. Grensafbakeninge word nie baie noukeurig gehandhaaf nie en gevolglik is die presiese oppervlakte van die staat nie bekend nie; amptelik word dit egter aangegee as 446 550 km².
Skermutselings tussen Marokko en Algerië is in 1963 gestaak, maar die grenskwessie word steeds betwis. Die vroeëre Spaanse provinsies Ifni en Tarfaja ('n noordelike provinsie van die voormalige Spaans-Wes-Afrika) in die suidweste van Marokko is by die amptelike oppervlaktebepaling ingesluit, maar nie die byna twee derdes van Spaans-Sahara wat Marokko op 14 April 1976 in besit geneem het nie.
Die oorblywende deel is ingevolge 'n ooreenkoms aan Mauritanië afgestaan. Langs die Middellandse See-kus besit Spanje nog 5 enklaves: die Chafarina-eilande aan die monding van die Moeloejarivier; Melilla, ’n ysterertshawe; Ceuta, 'n militêre pos; Al Hoceima, en 35 km verder wes, Penón de Vélez de la Gomera.
Atlasgebergte duimnael|links|Toubkal, die hoogste bergspits van Noordwes-Afrika met 'n hoogte van 4 167 m (13 671 vt) duimnael|links|Rif-gebergtes in noordelike Marokko duimnael|links|'n Gedeelte van die Anti-Atlas naby Tafraout Die landskap van Marokko word oorheers deur die hoogste gedeelte van die Atlasgebergte, wat oor die hele Noordwes-Afrika uitgestrek is. In Marokko bestaan die Atlasgebergte uit vier bergkettings wat gedeeltelik omring en ook geskei word deur lae vlaktes. Die bergkettings is die Rifgebergte, die Middel-Atlas, die Hoë Atlas en die Anti-Atlas.
In die gebied van die voormalige Spaanse protektoraat in die noorde van Marokko word die Rif-Atlas of Rifgebergte gevorm deur 'n digte reeks berge. Die berge is gemiddeld 2500 m hoog en strek van die Rots van Gibraltar aan die Middellandse See tot in die Moeloeja-vallei.
Hierdie berge, wat hoofsaaklik uit kalk- en sandsteen bestaan, is moeilik oorkombaar en vorm 'n versperring in die verbindinge tussen oos en wes. Die Middel-Atlasgebergte lê reg suid van die Rif, waar dit deur die Taza-pas geskei word. Die nou Taza-pas is die enigste maklike verbinding tussen die weste van Algerië en die deel van Marokko wat aan die Atlantiese Oseaan geleë is.
Hoewel die bergreeks nie juis hoër as gemiddeld 1 500 m is nie, bereik die Middel-Atlas in die Djabal Boe Nasr of Djabal Boe Iblane, wat uit die Taza-vlakte stu, 'n hoogte van sowat 3 200 m. Die gebergte word ingesluit deur die stroomgebied van Marokko se belangrikste riviere, naamlik die Oem Al Rbia, die Boe Regreg en die Seboe.
Die Seboe vloei in die weste in die Atlantiese Oseaan in, terwyl die Moeloeja in die noordooste in die Middellandse See uitmond. 'n Groot deel van die Middel-Atlas bestaan uit 'n kalksteenvlakte, wat deur die riviere in ravyne verdeel word. Hier en daar is kraters van vulkane wat nog aktief is. Die ketting van die Middel-Atlas loop oor in die Hoe Atlas, waarvan die pieke tot 4 000 m hoog en in die winter met sneeu bedek is.
Hierdie bergkettings loop van suidwes na noordoos en styg vanuit die Atlantiese Oseaan in die noorde en die Sahara in die suide steil omhoog. In die noorde is die berghellings deur woude en ander gewasse bedek, terwyl die suide feitlik net kaal rotse vertoon. In die ooste neem die Hoe Atlas in hoogte af en loop dit oor in die Sahara-Atlas, wat oor die hele Algerië uitgestrek is.
Daar is geen maklike begaanbare paaie deur die Hoë Atlas nie, maar 'n aantal bergpaaie maak die goedereverkeer per pakdier tussen die gebied rondom die Atlantiese Oseaan en die Sahara moontlik. In die suidweste gaan die Hoe Atlas oor in die Anti-Atlas. Hierdie gebergte is die laagste en word deur 'n massa vulkaniese lawa van die suidelike rand van die Hoë Atlas geskei. Deur hierdie gebied vloei die rivier Soes, wat wes van Agadir in die vlakte met dieselfde naam in die Atlantiese Oseaan uitmond.
Klimaat duimnael|Klimaatsones in Marokko volgens die Köppen-klimaatklassifikasie Groot dele van Noord- en Sentraal-Marokko het 'n Middellandse See-klimaat: warm, vogtige winters en baie warm, droë somers. Langs die Atlantiese Oseaan is die temperature ietwat laer vanweë die relatief koue Kanariese Seestroom.
In die gebied van die Rif-Atlas en in die noordelike gedeelte van die Middel-Atlas is die jaarlikse neerslag meer as 750 mm en die somerdroogte duur hier nie langer as drie maande nie. In die res van die Middel-Atlas, in die Hoë Atlas en in die noordelike deel van die vlakte wissel die jaarlikse reënval tussen 380 en 750 mm. Die somerdroogte duur hier minstens vier maande.
Gedurende die somermaande waai daar vanuit die Sahara ’n besonder droë, warm wind, die sirokko, oor die berge na die vlakte. Die suidelike deel van die vlakte en die Anti-Atlas is droog en onvrugbaar, en die jaarlikse reënval is hier tussen 200 en 400 mm.
Riviere wat in die sand verdwyn duimnael|Monding van die Sebou-rivier in die Atlantiese Oseaan duimnael|Die Oum er Rbia-rivier Die kusstreke van Marokko kry hul meeste reën in die winter en die hoë berge kry dan sneeu. Die totale jaarlikse reënval is egter baie laag, nl. gemiddeld 230 mm, sodat die riviere net vir kort rukkies vloei. Die smeltende sneeu verskaf die meeste water aan die riviere wat van die Atlasgebergte na die Atlantiese Oseaan afloop en besproeiingsboerdery kan op die kusvlaktes beoefen word.
Die belangrikste rivier, hoewel nie die langste nie, is die Sebou, wat ook water van fonteine ontvang sodat dit standhoudend is. Naby die mond van die rivier is die groot hawe Mina Hassan Tani (vroeër Port Lyautey). Die 550 km lange Oum er Rbia is die langste rivier wat in die Atlantiese Oseaan uitmond.
Die langste rivier wat in die Middellandse See uitmond, is die Moulouya (515 km). Die oostelike deel van die land is 'n droë woestyn en van die vier riviere wat van die hoe berge suidwaarts na die Sahara vloei, verdwyn drie heeltemal omdat die droë sand die water absorbeer en omdat baie van die water net eenvoudig deur die hitte verdamp word. Die ondergrondse water word egter deur die “verdwynende" riviere aangevul, sodat heelwat produkte rondom oases gekweek kan word.
Visryke see en vrugbare plato Die see rondom Marokko is baie ryk aan vis – onder meer sardyne, ansjovis, tongvis, krewe, oesters en tunas – en Safi is die belangrikste vishawe. Die kusvlakte is gelyk en sanderig, en die kusstreke is vrugbaar. In die weste, tussen die Atlasgebergte en die see, is 'n groot, uitgestrekte plato, die Meseta, wat uiters vrugbaar is.
Die land styg vinnig van die see na die platorand, wat tussen 150 en 180 m hoog is, en daarvandaan styg die plato tot 'n hoogte van tussen 250 en 600 m. Die meeste van Marokko se belangrikste dorpe en stede, bv. Rabat (die hoofstad), Casablanca (die grootste hawe en belangrikste stad), Fez, Meknès, Mina Hassan Tani, El Jadida, Assaouira, Agadir en Marrakesj is of op hierdie plato of aan die Atlantiese kus geleë.
Sosiale gegewens duimnael|Die historiese binnestad van Fes duimnael|Die Kasbah van Aït Benhaddou, gebou deur die Berbers vanaf die 14de eeu In die vroeë tagtigerjare het Marokko na raming meer as 19 miljoen inwoners gehad, van wie sowat 1% Franse, Spanjaarde, Marokkaanse Jode en ander immigrante was. Na onafhanklikwording in 1956 het hulle getalle baie afgeneem. Volgens afkoms en taalgebruik kan die res van die bevolking soos volg ingedeel word: Marokkane met Arabiese voorouers; Marokkane van gemengde Berber-Arabiese herkoms; Berbers wat net Arabies praat; Berbers wat 'n Berbertaal praat.
Meer as 35% van die totale bevolking behoort tot die oorspronklike nie-Arabiese bevolkingsgroep van Noord-Afrika, die Berbers). Vanweë die volksverhuisings van die platte land na die stede en die uitbreiding van die onderwys op die platteland self, is die Arabisering van die groep versnel.
Hulle was oor die hele Marokko versprei in tientalle stamme wat geen geskrewe taal geken het nie, hul eie gebruike en regte gehad het en 'n verskeidenheid van verskillende Berbertale gepraat het. Die proses van Arabisering het in die Middeleeue al begin, wat dit moeilik maak om te onderskei tussen Arabiere en Berbers. Die amptelike taal is Arabies, maar in die noorde word daar ook nog baie Frans en Spaans gepraat. In die stede, wat al sedert die 7de eeu deur 'n Arabiessprekende meerderheid bevolk word, is Arabies die omgangstaal.
Stede Tussen 1925 en die vroeë tagtigerjare het die stedelike bevolking toegeneem van 10% van die totale bevolking tot meer as 35%. Die getal stede met meer as 25 000 inwoners het van ag tot 20 toegeneem, en met verloop van tyd het elke stad sy eie karakter gekry.
Casablanca (met 'n bevolking van meer as drie miljoen), die voormalige hoofstad van die suide, het die grootste hawe van Marokko en is ook die grootste stad in die Maghreb Fes was altyd 'n religieuse en kuns-sentrum, terwyl Rabat (meer as 750 000 inwoners), die huidige hoofstad en bestuursentrum van die land, saam met Tetuan bekend is om sy Andalusies-Moslemse kultuur. Marrakesj het 'n sterk Afrikakarakter en was veral bekend om sy eksotiese naglewe. Die mees Europese stad is Tangier, vroeër ’n vryhawe onder internasionale beheer wat in 1956 by Marokko ingeskakel is.
Onderwys duimnael|Al Akhawayn Universiteit in Ifrane Na onafhanklikwording is Marokko deur groot onderwysprobleme gekonfronteer. Die land het 'n dringende behoefte aan geskoolde arbeiders gehad en daar was 'n snel groeiende bevolking met baie analfabete (sowat 75% van die groep tussen 15 en 19 jaar). Verskillende onderwysstelsels is gelyktydig gebruik, onder meer 'n Franse, 'n Spaanse en 'n Islamitiese stelsel.