__NOTOC__
Die spitsstertglansspreeu (Lamprotornis acuticaudus) is 'n seldsame standvoël wat tot die Sturnidae behoort. Dit is 'n sosiale spesie wat inheems is aan die subtrope van Afrika suid van die ewenaar. Die voël is 26 cm groot van snawel- tot stertpunt, en weeg 61 tot 76 gram. In Engels staan dit as die sharp-tailed starling bekend.
Subspesies Daar is twee subspesies: L. a. acuticaudus – noord en noordoostelik, meer tropiese boomveld L. a. ecki – droër boomveld na die suidweste
Habitat en verspreiding Dit is 'n plaaslike nomade in digte of oop breëblaarboomveld (veral miombo- en kiaatveld) en droë rivierbeddings, wat dikwels in klein swerms voorkom. Dit is aangeteken in Angola, noordelike Botswana, die suidelike DRK, verre noordelike Namibië, westelike Tanzanië, en Zambië.
Voorkoms duimnael|links|'n Illustrasie deur Keulemans wat die uniek gespitste stertvorm duidelik toon Die veredos is die tipiese glansende blougroen kleur van die Lamprotornis-spreeus, maar die stert is uniek gepunt. Die oogkleur van mannetjies is rooi, en dié van wyfies is oranje. Die oogkleur van jongvoëls is geel.
Gewoontes Hulle vreet hoofsaaklik vrugte, soos vrugte van die bloubos, maar vang ook insekprooi. Hulle maak in boomholtes nes, en benut ook ou neste van ander voëls soos dié van houtkappers en spegte. In die suide strek die nesperiode van Augustus tot Oktober. Die sang is 'n warboel van kwetterklanke en die roep is 'n stygende "sweeit".
Sien ook Alfabetiese lys van Suid-Afrikaanse voëls Lys van Suid-Afrikaanse voëls (Groepeer) Lys van Suider-Afrikaanse voëls volgens wetenskaplike name
Bron Sasol Voëls van Suider-Afrika. Struik Nature. Vierde Uitgawe 2011.
Verwysings
Eksterne skakels
Kategorie:Spreeus