Die Sowjetunie (Сове́тский Сою́з, Sowjetski Sojoez, ), amptelik die Unie van Sosialistiese Sowjetrepublieke (USSR) (Сою́з Сове́тских Социалисти́ческих Респу́блик (СССР), Sojoez Sowjetskich Sotsialistitsjeskich Respoeblik (SSSR), ), was 'n staat wat van 1922 tot 1991 bestaan en 'n groot deel van Eurasië beslaan het.

Dit was 'n vlagskip- kommunistiese land en het teen die einde uit 15 nasionale republieke bestaan; in die praktyk was sy regering en ekonomie tot met sy laaste jare in 'n groot mate gesentraliseer. Dit was 'n eenpartystaat wat deur die Kommunistiese Party van die Sowjetunie regeer is, met Moskou as sy hoofstad en ook dié van die grootste republiek met die grootste bevolking: die Russiese SFSR. Ander groot stede het ingesluit Leningrad (Russiese SFSR), Kiëf (Oekraïense SSR), Minsk (Wit-Russiese SSR), Tasjkent (Oezbekistanse SSR), Alma-Ata (Kazachstanse SSR) en Nowosibirsk (Russiese SFSR). Dit was die grootste land ter wêreld, met 'n oppervlakte van 22 402 200 km2 oor 11 tydsones.

Die land se oorsprong lê in die Oktober-rewolusie van 1917. Die Bolsjewiste het die tussentydse regering omvergewerp wat vroeër dié jaar gestig is ná die Februarie-rewolusie en die abdikasie van tsaar Nikolaas II. Dit het die einde van die Russiese Ryk ingelui. Die nuwe regering, onder Wladimir Lenin, het die Russiese SFSR gestig, wat die wêreld se eerste sosialistiese staat was wat in die grondwet gewaarborg is. Volgehoue interne spanning het tot die wrede Russiese Burgeroorlog gelei. Namate die oorlog in die Bolsjewiste se guns beklink is, het die RSFSR begin om grond wat in die oorlog verower is in te sluit in nominaal onafhanklike state, wat in Desember 1922 in die Sowjetunie verenig is.

Ná Lenin se dood in 1924 het Josef Stalin aan die mag gekom. Stalin het 'n tydperk van vinnige industrialisasie en gedwonge kollektivisme begin wat tot aansienlike ekonomiese groei gelei het, maar ook tot 'n hongersnood in 1930-1933 waarin miljoene dood is. Die strafkampstelsel Goelag is ook in dié tyd uitgebrei. Stalin het die Groot Suiwering begin om sy werklike en denkbeeldige teenstanders uit die weg te ruim. Ná die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog het Duitsland die Sowjetunie binnegeval. Die gesamentlike burgerlike en militêre sterftes van die Sowjetunie – wat op sowat 20 miljoen geraam is – was die grootste verlies van die Geallieerde magte. Ná die oorlog het die gebied wat deur die Rooi Leër beset is, verskeie Sowjet-satellietstate gevorm.

In die daaropvolgende Koue Oorlog het die Oosblok van die Sowjetunie die Wesblok van die Verenigde State van Amerika gekonfronteer, met laasgenoemde groepering wat in 1949 onder Navo grootliks verenig is, en eersgenoemde in 1955 onder die Warskouverdrag. Daar was geen regstreekse militêre konfrontasie tussen die twee organisasies nie; die konflik het eerder op 'n ideologiese grondslag en deur oorlog by volmag plaasgevind. Beide Navo en die Warskouverdrag het gelei tot die uitbreiding van militêre magte en hulle integrasie by die respektiewelike blokke. Die Warskouverdrag se grootste militêre operasie was die inval in Tsjeggo-Slowakye, sy eie lidland, in Augustus 1968 (met die deelname van al die ander lidlande buiten Albanië en Roemenië). Die gevolg was dat Albanië minder as 'n maand later aan die verdrag onttrek het. Ná Stalin se dood in 1953 het 'n tydperk van de-Stalinisasie plaasgevind onder die leierskap van Nikita Chroesjtsjof.

Die Sowjetunie het die voortou geneem in die vroeë ruimtewedloop met die lansering van die eerste kunsmatige satelliet, Spoetnik 1; die eerste bemande ruimtevlug, Wostok 1; en die eerste tuig wat op 'n ander planeet (Venus) geland het, Wenera 7.

In die 1970's was daar 'n kort détente in die verhouding tussen die Sowjetunie en die VSA, maar spanning het in 1979 weer toegeneem met die Sowjetinval in Afganistan. In die middel 1980's het die Sowjetleier, Michail Gorbatsjof, die land probeer hervorm deur sy beleide van glasnost en perestroika. In 1989, in die laaste fases van die Koue Oorlog, het verskeie lande van die Warskouverdrag hulle Marxisties-Leninistiese regerings omvergewerp, en dit het gepaard gegaan met die ontstaan van sterk nasionalistiese en separatistiese bewegings oor die hele Sowjetunie. In 1991 het Gorbatsjof 'n nasionale referendum uitgeroep, wat geboikot is deur die Sowjetrepublieke Litaue, Letland, Estland, Armenië, Georgië en Moldawië. Dit het daartoe gelei dat die meeste deelnemende burgers gestem het vir die behoud van die land as 'n hernude federasie. In Augustus 1991 het onbuigsame lede van die Kommunistiese Party 'n staatsgreep teen Gorbatsjof gelei. Die poging het misluk, met Boris Jeltsin wat 'n groot rol daarin gespeel het, en die Kommunistiese Party is daarna verbied. Die Russiese Federasie het die opvolgerstaat van die Sowjetunie geword, terwyl die ander republieke almal onafhanklik geword het.

Die Sowjetunie het baie sosiale en tegnologiese prestasies behaal: Dit het die tweede grootste ekonomie in die wêreld gehad en sy weermag was die grootste op aarde. Dit het die grootste arsenaal kernwapens gehad. Dit was 'n stigterslid van die Verenigde Nasies en een van die vyf permanente lede van die VN se Veiligheidsraad. Voor sy verbrokkeling het die land sy status as een van die wêreld se twee supermoondhede gehandhaaf met sy leierskap in Oos-Europa, sy militêre en ekonomiese krag en sy wetenskaplike navorsing.

Etimologie Die woord "sowjet" is afgelei van die Russiese woord совет, sowjet; "raad", "vergadering", "advies"). Die woord sowjetnik beteken "raadgewer".

Die sowjets as werkersrade het die eerste keer tydens die Russiese Rewolusie van 1905 ontstaan. Hoewel hulle vinnig deur die keiserlike weermag onderdruk is, het werkers en soldate se sowjets ná die Februarie-rewolusie deur die hele land verskyn, en hulle het mag met die tussentydse regering gedeel. Die Bolsjewiste, wat deur Lenin gelei is, het geëis dat alle mag na die sowjets oorgedra word en hulle het die steun van die werkers en soldate geniet. Ná die Oktober-rewolusie, waarin die Bolsjewiste die mag van die oorgangsregering in die naam van die sowjets oorgeneem het, het Lenin die stigting van die RSFSR aangekondig.

In 1922 het Lenin 'n beroep gedoen vir die stigting van ander nasionale sowjetrepublieke om 'n groter unie te stig wat hy aanvanklik die Unie van Sowjetrepublieke van Europa en Asië (Russies: Союз Советских Республик Европы и Азии, Sojoez Sowjetskich Respoeblik Ewropi i Aziji) genoem het. Stalin het aanvanklik Lenin se voorstel teengestaan, maar dit eindelik aanvaar. Met Lenin se toestemming het hy die naam verander na die Unie van Sosialistiese Sowjetrepublieke (USSR).

СССР (in die Latynse alfabet "SSSR") is die afkorting van die Russiese naam vir die Sowjetunie in die Cyrilliese skrif. Die Sowjette het die afkorting so dikwels gebruik dat mense wêreldwyd met die betekenis vertroud was. Verder word die Russiese naam Советский Союз (Sowjetski Sojoez, letterlik "Sowjetunie") net so algemeen gebruik, maar net in 'n onafgekorte vorm.

In Afrikaans is die staat die Sowjetunie of die USSR genoem. Dit is in Engels Soviet Union (USSR) genoem, in Frans Union soviétique (URSS) en in Duits Union der Sozialistischen Sowjetrepubliken (UdSSR).

Geskiedenis Rewolusie en stigting Moderne rewolusionêre bydrywighede in die Russiese Ryk het begin met die Desembriste-opstand van 1825. Hoewel lyfeienskap in Rusland in 1861 afgeskaf is, was die terme daarvan ongunstig vir die kleinboere en het dit rewolusionêre aangemoedig. ’n Parlement, die Staatsdoema, is in 1906 gestig ná die Russiese Rewolusie van 1905, maar tsaar Nikolaas II het pogings teengestaan om van ’n absolute monargie na ’n konstitusionele monargie oor te slaan. Maatskaplike onrus is in die Eerste Wêreldoorlog vererger deur militêre terugslae en voedseltekorte in groot stede.

thumb|240px|Lenin, Trotsky en Kamenef vier die tweede herdenking van die Oktoberrewolusie. ’n Spontane opstand in Petrograd weens Rusland se ekonomiese en morele agteruitgang tydens die oorlog het gelei tot die Februarie-rewolusie en die omverwerping van die keiserlike regering in Maart 1917. Die tsaristiese outokrasie is vervang met die Russiese Voorlopige Regering, wat verkiesings sou hou vir die Russiese Grondwetgewende Vergadering en sou aanhou veg in die oorlog aan die kant van die Drievoudige Entente.

Terselfdertyd het werkersrade, in Russies bekend as "sowjets" (советы, sowjeti), dwarsoor die land ontstaan. Die Bolsjewiste, onder leiding van Wladimir Lenin, het in die sowjets en op straat voorspraak gemaak vir ’n sosialistiese rewolusie. Op 25 Oktober (7 November volgens die Gregoriaanse kalender) 1917 het die Bolsjewiste die belangrikste regeringsgeboue in Petrograd sonder veel teenstand beset. Ook die Winterpaleis in Petrograd is oorgeneem en die bewind van die Voorlopige Regering is so beëindig. Alle mag was nou in die hande van die sowjets. Hierdie gebeure sou later amptelik in die Sowjetunie bekend word as die Groot Sosialistiese Oktober-rewolusie. In Desember het die Bolsjewiste ’n wapenstilstandsooreenkoms met die Sentrale Moondhede onderteken, hoewel gevegte teen Februarie 1918 hervat is. In Maart het Sowjet-Rusland sy betrokkenheid in die oorlog finaal beëindig en die Verdrag van Brest-Litofsk onderteken.

’n Lang en bloedige burgeroorlog het hierop gevolg tussen die Rooi Leër en die Wit Leër. Dit het in 1917 begin en in 1923 geëindig met die Rooi Leër se oorwinning. Die oorlog het ingesluit buitelandse inmenging, die moord op die tsaar en sy gesin en die hongersnood van 1921, waarin sowat vyf miljoen mense dood is.

In Maart 1921, ná ’n verwante konflik met Pole, is die Vrede van Riga onderteken, waarvolgens betwiste gebiede in die huidige Belarus en Oekraïne tussen Pole en Sowjet-Rusland verdeel is. Laasgenoemde moes ook soortgelyke konflikte in die nuwe republieke Finland, Estland, Letland en Litaue oplos.

Vereniging van republieke Op 28 Desember 1922 is ’n konferensie van gevolmagtigde afgevaardigdes van die Russiese SFSR, die Transkaukasiese SFSR, die Oekraïense SSR en die Wit-Russiese SSR gehou waar die verdrag vir die stigting van die SowjetunieRichard Sakwa The Rise and Fall of the Soviet Union, 1917–1991: 1917–1991. Routledge, 1999. . pp. 140–143. en die verklaring van die stigting van die USSR onderteken is, en daarmee is die Unie van Sosialistiese Sowjetrepublieke gestig.Julian Towster. Political Power in the U.S.S.R., 1917–1947: The Theory and Structure of Government in the Soviet State Oxford Univ. Press, 1948. p. 106.

Op 1 Februarie 1924 het die Verenigde Koninkryk die USSR erken. In dieselfde jaar is die Sowjetgrondwet aanvaar, wat die Desember 1922-vereniging gewettig het.

’n Intensiewe restrukturering van die land se ekonomie, nywerheid en politiek het in die vroeë dae van Sowjetmag in 1917 begin. ’n Groot deel daarvan is gedoen volgens die Bolsjewistiese Aanvanklike Verordenings, regeringsdokumente wat deur Lenin onderteken is. Een van die prominentste deurbrake was die groot restrukturering van die Sowjetekonomie gebaseer op die totale elektrifisering van die land.

Die plan is in 1920 ontwikkel en het ’n tydperk van 10 tot 15 jaar behels. ’n Netwerk van 30 kragstasies, insluitende 10 groot hidroëlektriese kragaanlegte, en verskeie nywerheidsprojekte is aangepak. Dit het die prototipe geword van daaropvolgende vyfjaarplanne en is teen 1931 voltooi. On GOELRO Plan — at Kuzbassenergo.

Stalin-era Van sy stigting af was die regering van die Sowjetunie geskoei op die eenpartyregering van die Kommunistiese Party (Bolsjewiste). Ná die ekonomiese beleid van "oorlogskommunisme" tydens die burgeroorlog, as ’n voorspel tot die volle ontwikkeling van sosialisme in die land, het die Sowjetregering in die 1920's sommige privaat ondernemings toegelaat om saam met die genasionaliseerde nywerheid te bestaan volgens die Nuwe Ekonomiese Beleid.