duimnael|links|170px|Dr. J.J. Kotzé, predikant van die NG gemeente Richmond, het die gemeentevergadering in Julie 1876 gelei waarop besluit is om die gemeente Britstown te stig. duimnael|regs|240px|Die NG kerk op Britstown se hoeksteen is in 1892 gelê. Die bouwerk het sowat vier jaar geduur sodat die kerk eers in 1896 ingewy is. Die argitek was George Murray Alexander (1851–1904), wat na Suid-Afrika geëmigreer het uit Skotland. Artefacts.co.za. URL besoek op 12 Oktober 2013. Sy twee ander ontwerpe vir NG kerkgeboue was dié van die NG gemeente Rondebosch in 1891 en Tafelberg in 1893.
Die NG gemeente Britstown is 'n meer as 130 jaar oue gemeente van die Nederduitse Gereformeerde Kerk op die Noord-Kaapse dorp Britstown in die hart van die Karoo. Die dorp is geleë aan die N12, halfpad tussen Beaufort-Wes en Kimberley. Dit was vroeër jare die middelpunt van 'n groot en vooruitstrewende boerderygemeenskap, maar ontvolking van die platteland het ook hier sy tol geëis. Teen 2013 was dit ’n klein gemeente met nagenoeg 200 belydende lidmate wat in vier dorps- en vier plaaswyke ingedeel is. Die plaaslike ouetehuis is as ’n aparte wyk bedien. Die gemeente adverteer in Junie 2013 op die Kerkbode se webtuiste vir 'n predikant. URL besoek op 13 Oktober 2013. In die Jaarboek van die NG Kerke 2016 word die getal dooplidmate aangegee as 19 en die belydende lidmate as 127. In 1985 was dit onderskeidelik 497 en 217; dus 'n afname van amper 80 persent in die sieletal in net meer as 30 jaar.
Agtergrond duimnael|links|260px|Ds. C.J. en mev. Grobler. Onder sy leiding is die halfeeufees van die gemeente in September 1928 gevier. By dié geleentheid het 'n gedenkboek uit die pen van die eerste argivaris van die Kaapse Kerk, eerw. Andries Dreyer, verskyn met die titel Jubelfees-gedenkboek van die Gemeente Britstown, 1877–1927/8.
duimnael|160px|regs|Ds. John Jackson, van 1930 tot 1937 die negende leraar, het tydens die vreeslike droogte van 1932 tot 1933 baie vir die gemeente opgeoffer. Hy het hierheen gekom uit die sendingveld van Njassaland en aan die sending moes die gemeente hom afstaan toe hy op 6 Junie 1937 van Britstown afskeid neem en na Salisbury in Suid-Rhodesië vertrek.
260px|links|duimnael|Ds. en mev. P.A. Alheit was van 1937 tot 1943 die tiende leraarspaar van Britstown.
Thomas Philippus Theron het hom in 1870 gevestig op 'n deel van die plaas Gemsbokfontein, bekend as De Put, waar hy as privaat skoolmeester in diens getree het van J.J.F. Britz, algemeen bekend as Hans Brits, die destydse plaaseienaar. In 1875 het Theron die tweede keer in die huwelik getree, met Aletta A. Blomerus, 'n plaaslike bruid en lid van 'n familie wat later 'n belangrike aandeel in die gemeente Britstown sou hê. Dié ondernemende man, wat intussen ook begin boer het, het hom uit die staanspoor beywer vir die welsyn van die plaaslike gemeenskap en was later 'n Kaapse parlementslid en gesiene lid van die Afrikanerbond.
Theron was oortuig van die noodsaaklikheid van die stigting van 'n dorp wat ook as die middelpunt van 'n NG gemeente kon dien en so stig hy in 1876 'n komitee waarin hy, Johannes van Zijl, Jozua Loots, G. du Preez, H. Nieuwoudt, F. Viljoen en C. Viljoen gedien het. Theron het die onderhandelinge gelei vir die aankoop van die nodige grond en so word die koopbriewe op 27 September 1876 opgestel. Op hierdie datum het die komitee twee stukke grond van N.J.S. van der Merwe aangekoop teen 'n bedrag van £4 750. Terselfdertyd het Hans Brits £2 750 ontvang vir 'n kwart van die plaas Gemboksfontein. So het die dorpskomitee in besit gekom van 'n stuk grond van meer as 9 800 ha. Die dorp Britstown is aangelê op die gedeelte van De Put wat van Hans Brits aangekoop is, vandaar dan ook die plek se naam. Een van die eerste erfhouers op die pas gestigte dorpie was Thomas P. Theron en hy het volgens oorlewering ook die eerste dorpshuisie hier opgerig.
Gemeentestigting Omdat hy en sy medekomiteelede kerkmense was, wou hulle ook 'n gemeente hier stig. Tot in daardie stadium het die lidmate van die NG Kerk in die omgewing kerklik onder die gemeente Richmond (gestig in 1843), Victoria-Wes (1844) en Hopetown (1854, as Hoopstad) geval, maar toe die dorpskomitee eers die grond vir 'n nedersetting bekom het, het hulle sterk gevoel vir 'n eie kerk en gemeente, nader aan hul woonplek. Op 'n gemeentevergadering op 10 Julie 1876 onder voorsitterskap van dr. J.J. Kotzé, die predikant van Richmond, waarskynlik op De Put in Hans Brits se opstal, is besluit om 'n nuwe gemeente op te rig en transport van dié plaas, wat vir £7 500 gekoop is, aan die kerkraad te gee. 'n Kommissie sou hiertoe benoem word.
Op dieselfde vergadering is vir die salaris van die predikant, wat nog beroep moes word, £185 ingeteken met die vooruitsig om dit binne vyf jaar na £200 op te skuif. Die kerkraad van Richmond, binne wie se ressort die meeste lidmate van die te stigte gemeente gewoon het, en die kommissie vir die vermeerdering van gemeentes van die Ring van Beaufort is van die vergadering se besluit verwittig.
Tydens die Sinodesitting van 1876 het die Ringskommissie besluit om te voldoen aan die versoek en oorgegaan tot die stigting van 'n nuwe gemeente, met De Put as middelpunt, en bestaande uit lidmate van die gemeentes Richmond, Victoria-Wes en Hopetown. Op Donderdag 25 Januarie 1877 het die Ringskommissie vir die vermeerdering van gemeentes op die plaas De Put onder voorsitterskap van ds. H.C.V. Leibbrandt van Victoria-Wes byeengekom, saam met die belangstellende lidmate van die te stigte gemeente en verteenwoordigers van die drie kerkrade van die moedergemeentes. Op hierdie vergadering, weer blykbaar in Hans Brits se plaaswoning, is besluit om die gemeente Britstown te stig. Die eerste ses kerksraadlede is benoem, maar eers op 13 Mei 1877 in hul amp bevestig; daar was twee ouderlinge en vier diakens. Op daardie dag het ds. Andrew Murray (wat tydelik op Richmond waargeneem het en in 1899 oorgegaan het na die Nederduitsch Hervormde Kerk) ook die eerste kinders, naamlik 12, gedoop. Die eerste lidmate is op 30 April 1878 aangeneem, 'n maand nadat ds. Gerrit van Niekerk, die eerste leraar, bevestig is.
Op sy vergadering in Oktober daardie jaar het die Ring van Beaufort tydens sy vergadering op Prins Albert die stigting van die gemeente Britstown bekragtig en ook besluit om die finale bepaling rakende die grense, waaroor daar nog nie eenstemmigheid was nie, in die hande van die Ringskommissie oor te laat. Op dié Ringsvergadering is Britstown verteenwoordig deur oudl. P.J. van der Merwe.
Grenslyne duimnael|links|Die kerkgebou einde 2017. In opdrag van die Ring van Beaufort het die Ringskommissie vir die vermeerdering van gemeentes, bestaande uit ds. W.P. de Villiers (Carnarvon), A.A. Louw (Murraysburg) en oudl. H.S. van der Merwe van Richmond, op 11 Maart 1878 onder voorsitterskap van ds. W.P. de Villiers op "Britztown" byeengekom saam met afgevaardigdes van die kerkraad van Victoria-Wes, Carnarvon en Britstown en die grense van die gemeente vasgestel.
Eerste kerkraad Die eerste kerkraad van Britstown het bestaan uit ouderlinge Frans Viljoen en P.J. van der Merwe en diakens Gerrit du Preez, Johannes Britz, Charl Viljoen en die reeds genoemde Thomas Philippus Theron. Ds. Andrew Murray (21 Februarie 1852 – 10 Mei 1930, 'n seun van prof. John Murray) wat in 1877 enkele maande waargeneem het as konsulent van die nuutgestigte gemeente, het dié broer in Mei 1877 in hul amp bevestig. In latere jare het hy na ouderling Viljoen verwys as "een innig vroom man". Met stigting het die gemeente onder die Ring van Beaufort geressorteer, maar vanaf 1881 onder die Ring van Colesberg, nog later onder die kortstondige Ring van Britstown, maar van toe af onder die Ring van Hopetown.
Beginjare Die eerste diens waarvan die gemeente vandag nog seker is, is op 24 Januarie 1877 op De Put gehou deur 'n lid van die Ringskommissie wat die volgende dag die gemeente sou stig. Die eerste dienste is in die opstal op dié plaas gehou óf deur die konsulent, dr. J.J. Kotzé, óf deur sy hulpprediker, ds. Andrew Murray. Toe dr. Kotzé in 1877 besoek bring aan Europa en Palestina, het ds. Murray as waarnemende konsulent die dienste ses maande lank waargeneem, die sakramente bedien en die voorsitterstoel ingeneem op die eerste drie kerkraadsvergaderings.
Vir die hou van dienste was die voorhuis van die plaashuis veels te beknop. So byvoorbeeld moes ds. Murray met die bevestiging van die eerste kerkraadslede in Mei 1877 op die stoep staan en preek terwyl die vroue in die huis gesit en die mans buite gestaan het en dit terwyl die wind kwaai gewaai en dit baie droog was. Toe hy twee maande later vir die eerste nagmaal op 15 Julie 1877 daar was, het die prediker en Nagmaalgangers darem meer ruimte gehad, want die kerkraad het intussen binnemure van die plaashuis afgebreek sodat, volgens ds. Murray, "wij op stigtelijke wijze des Heeren dood kon vieren". Ten spyte van die gure wintersweer was die opkoms taamlik goed.
Aan die einde van die eerste Nagmaalnaweek het 'n ouderlings namens die kerkraad ds. Murray versoek om op Britstown aan te bly as hul predikant, maar destyds was alles, volgens ds. Murray, "nog onklaar op Britstown en het water was te brak om my erheen te lokken". Sy eerste indrukke van die gemeente was nietemin "zeer gunstig".
Naas die gewone godsdiensoefeninge wat elke Sondag op De Put waargeneem is, is ook begin met bidure: elke Vrydagaand op die dorp asook enkele plase in die omgewing. In die eerste godsdiensverslag, wat melding maak van die bidure, word ook gesê: Alles is hier nog in sy eerste wording. Daar moet nog vir 'n pastorie gesorg word, en spoedig dink mense om met die bou van 'n sogenaamde noodkerk te begin.
Op die heel eerste kerkraadsvergadering van 4 Junie 1877 is Thomas Theron as skriba-kassier aangestel en op die tweede en derde kerkraadsvergadering is verdere besluite oor die administrasie van die gemeente geneem. Byvoorbeeld is sitplekke in die tydelike plaashuis-kerk uitgegee volgens jare en stappe is gedoen om 'n doopvont en Nagmaalservies uit die Kaap te bestel, wat £35 gekos het en eers in September 1878 op Britstown aangekom het. Die tydelike kerk is ook by die Midland & Trust Company van Graaff-Reinet vir £400 verseker. In al dié administratiewe besluite is die hand van die deeglike en bedagsame diaken Thomas Theron duidelik te sien, aldus ds. A.P. Smit.
Eerste leraar: Gerrit van Niekerk duimnael|regs|260px|Ds. Gerrit van Niekerk en sy eggenote was die eerste leraarspaar van Britstown en het in die gemeente gestaan van 1878 tot 1884. Sy eerste standplaas was die NG gemeente Hopetown van 1861 tot 1877, toe hy afgetree het. Van 1884 tot sy eindelike aftrede in 1903 was hy leraar van die NG gemeente Middelburg, Kaap. Hy is oorlede op 20 Augustus 1920.
Op 18 Februarie 1878 het die kerkraad onder voorsitterskap van dr. Kotzé ds. Gerrit van Niekerk, wat 'n jaar vantevore uitgetree het as die NG gemeente Hopetown se leraar weens swak gesondheid, beroep. Buiten 'n jaarlikse salaris van £400 is 'n gratis woning hom ook aangebied. Hy het die beroep aangeneem. Met ds. Van Niekerk se bevestiging op 20 Julie 1878 het die jong gemeente 'n nuwe fase in sy ontwikkeling betree. Die gemeente het besonderse probleme gehad, waarna ds. Van Niekerk ook in sy eerste godsdiensverslag na die Ring verwys het. Die gemeente is gestig uit die lidmate van drie gemeentes en dit sou 'n ruk duur voordat die gemeentelede hul "selfstandigheid as 'n afsonderlike gemeente" sou verstaan en besef. Ook was daar 'n protes hangende teen die grenslyn tussen Britstown en Victoria-Wes, waardeur die kerkraad, aldus ds. Van Niekerk, in die uitvoering van hul pligte in vele opsigte gestrem is.
Daar was darem ook ligpunte, want sedert die koms van ds. Van Niekerk was daar 'n lewendige belangstelling in die bywoning van die eredienste en daar het 'n mooi gees van samewerking geheers, onder meer vir die bou van 'n noodkerk.