Die bontroklaksman (Nilaus afer) is 'n algemene standvoël van doringboomsavanne en oop breëblaarboomveld soos miombo. Die voël word 14 cm groot en weeg dan 24 gram. Dit is die enigste spesie in die genus Nilaus. In Engels staan dit as die brubru bekend.

Subspesies Effense verskille in die verepatroon en liggaamsgroottes stem met verskillende ekologiese nisse ooreen. Ras N. a. hilgerti word tans as 'n sinoniem van N. a. minor beskou. Die subspesies sluit in: Nilaus afer afer — Wes-Afrika, met kenmerkende veerpatroon by mannetjies Nilaus afer massaicus — Oos-Afrika, insluitend noordoostelike Oeganda Nilaus afer minor — Oos-Afrika, insluitend Kenia en Tanzanië Nilaus afer nigritemporalis — Katangastreek van DRK en aanliggende Zambië Nilaus afer solivagus — Suidelike Afrika en suidelike Zambië

Roep Die duetsang is nie baie luid nie, maar is op redelike afstand hoorbaar. Die mannetjie uiter 'n prrrrruuu-klank, wat deur die wyfie met 'n ieeeu beantwoord word.

Gedrag Hierdie boslaksman word alleen of in pare aangetref; dit is 'n rustelose maar onopvallende boomveldspesie wat insekte in die blaredak jag. Hul behoefte aan redelik groot bome om in te voed beteken dat dit 'n buitengewoon groot territorium vir 'n voël van hul grootte het, tipies 35 hektaar. In die winterseisoen wanneer die blaredak oper en insekte skaarser is, sal hulle by gemengde spesieswerms aansluit. Dit bied die voordeel van meer versteuring van verskuilde prooi, benewens meer oë om dit betyds te gewaar, en beter waaksaamheid teen roofdiere.

Broeigedrag Die dun koppie-nes word van takkies, gras en sydrade van spinnekopwebbe in 'n boomvurk gebou. Dit word met korsmos versier en is baie goed gekamoefleer. Die wyfie lê gewoonlik twee troebelwit eiers, wat groenerig, gryserig of bruin gevlek is. Albei geslagte broei op die legsel totdat dit na sowat 19 dae uitbroei. Na 22 dae verlaat die kuikens die nes, maar bly vir 'n verdere agt weke of wat afhanklik. Hierdie spesie takel dikwels hul eie neste af, veral wanneer daar 'n steurnis om die nes is.

Parasiete Twee veerskagmyte, Neoaulonastus malaconotus en Syringophiloidus nkaii, is as ektoparasiete op hierdie boslaksmanspesie aangeteken. Hulle behoort tot die Syringophilinae wat verskillende boslaksmanspesies infekteer.

Galery

Sien ook

Alfabetiese lys van Suid-Afrikaanse voëls Lys van Suid-Afrikaanse voëls (gegroepeer) Lys van Suider-Afrikaanse voëls volgens wetenskaplike name

Verwysings

Bron Sasol Voëls van Suider-Afrika. Struik Nature. Vierde Uitgawe 2011.

Kategorie:Boslaksmanne Kategorie:Voëls van die Krugerwildtuin