220px|thumb|Charles Piazzi Smyth: The Great Comet of 1843.

Die Kreutz-sonskeerders is ’n familie komete wat baie na aan die Son verbybeweeg tydens hul perihelium. Hulle is vermoedelik fragmente van een groot komeet wat verskeie eeue gelede opgebreek het en is genoem na die Duitse sterrekundige Heinrich Kreutz, wat eerste aangedui het dat hulle verwant is.

'n Kreutz-sonskeerder se afelium (verste punt van die Son af) is sowat . Hulle kom uit 'n verafgeleë deel van die Sonnestelsel in die sterrebeeld Groot Hond na die binneste Sonnestelsel, maak 'n nabydraai om die Son en keer dan terug na hulle afelium.

Verskeie lede van die Kreutz-groep het Groot Komete geword; sommige was in daglig naby die Son sigbaar. Die mees onlangse een was Komeet Ikeya-Seki in 1965, wat moontlik een van die helderste komete in die laaste 1 000 jaar was. Daar is al berig dat nog ’n groep helder Kreutz-sonskeerders binne die volgende paar jaar tot paar dekades in die binneste Sonnestelsel sal verskyn.

Meer as 4 000 kleiner lede van die familie van net ’n paar meter breed is al ontdek sedert die lansering van die SOHO-satelliet in 1995. Nie een van hierdie kleiner komete het hulle perihelium oorleef nie. Groter sonskeerders, soos die Groot Komeet van 1843 en C/2011 W3 (Lovejoy), het dit wel oorleef.

Ontdekking en historiese waarnemings thumb|150px|links|'n Illustrasie van die Groot Komeet van 1843, soos gesien uit Tasmanië.

Die eerste aangetekende komeet waarvan die wentelbaan uiters naby die Son verbybeweeg het, was die Groot Komeet van 1680 (C/1680 V1). Daar is bereken hy het net 200 000 km (0,0013 AE) van die Son se oppervlak verbybeweeg, wat omtrent 'n sewende van die Son se deursnee is, of die helfte van die afstand tussen die Aarde en die Maan. Dit was die eerste bekende sonskeerderkomeet.

Sterrekundiges, onder andere Edmond Halley, het gespekuleer dié komeet was dieselfde een wat in 1106 naby die Son verbybeweeg het. Altesaam 163 jaar later het die Groot Komeet van 1843 verskyn en ook baie na aan die Son verbybeweeg. Ondanks berekenings van sy wentelperiode as verskeie eeue, het sommige sterrekundiges gewonder of dit nie die komeet van 1680 was wat teruggekeer het nie. 'n Helder komeet wat in 1880 gesien is, het met 'n feitlik identiese wentelbaan langs beweeg as die een in 1843, en so ook die daaropvolgende Groot Komeet van 1882. Sommige sterrekundiges het voorgestel hulle is almal dieselfde komeet, waarvan die wentelperiode op die een of ander manier met elke perihelium korter raak – dalk deurdat dit deur 'n digte material om die Son beïnvloed word.

'n Alternatiewe voorstel was dat hulle almal fragmente van 'n vroeëre sonskeerderkomeet is. Die idee is die eerste keer in 1880 voorgestel, en het geloofbaarder geword toe die Groot Komeet van 1882 in verskeie fragmente opbreek nadat hy sy perihelium bereik het. In 1888 het Heinrich Kreutz 'n geskrif gepubliseer waarin hy voorstel die komete van 1843 (C/1843 D1, die Groot Maartkomeet), 1880 (C/1880 C1, die Groot Suidelike Komeet) en 1882 (C/1882 R1, die Groot Septemberkomeet) almal fragmente was van 'n reusekomeet wat verskeie besoeke aan die Son tevore opgebreek het. Daar is bewys die komeet van 1680 was nie aan dié fragmente verwant nie.

Nog 'n Kreutz-sonskeerder is in 1887 gesien (C/1887 B1, die Groot suidelike Komeet van 1887); die volgende een het eers 1945 sy verskyning gemaak. Nog twee sonskeerders het hulle opwagting in die 1960's gemaak: Komeet Pereyra in 1963 en Komeet Ikeya-Seki in 1965, wat ná sy perihelium in drie stukke opgebreek het. Die verskyning van twee Kreutz-sonskeerders so kort ná mekaar het gelei tot verdere studies oor die dinamika van die groep.

Die groep het gewoonlik 'n baanhelling van rofweg 140 grade en 'n periheliumafstand van sowat 0,01 AE.

Noemenswaardige lede Die helderste lede van die Kreutz-sonskeerders was asemrowend en was maklik bedags te sien. Die drie indruwekkendstes was die Groot Komeet van 1843, die Groot Komeet van 1882 en X/1106 C1. Die bron van die Kreutz-sonskeerders wat tot dusver gesien is, kan die Groot Komeet van 371 v.C. wees, of komete wat in 214 v.C., 423 n.C. of 467 n.C. gesien is. Nog 'n merkwaardige Kreutz-sonskeerder was die Eklipskomeet van 1882.

Groot Komeet van 371 v.C. Dié Groot Komeet is gesien in die noordelike winter van 372-371 v.C. en was volgens baie die bron van die hele familie Kreutz-sonskeerdes. Dit is gesien deur Aristoteles en Eforos in die tydsperk toe dit met die blote oog gesien kon word. Volgens berigte was dit uiters lank en uiters helder, met 'n prominente stert met 'n rooierige kleur sowel as 'n kern wat helderder as enige ster in die naglug was.

Eforos het ook berig die komeet het in twee dele opgebreek: 'n groter fragment, wat vermoedelik in 1106 n.C. teruggekeer het, en 'n kleiner fragment. Dié komeet het vermoedelik in al hoe meer stukke opgebreek onder invloed van die Son en was die bron van alle Kreutz-sonskeerders wat tot dusver gesien is. Die reusekomeet moes 'n kern gehad het van meer as 120 km breed.

Groot Komeet van 1106 n.C. Die komeet X/1106 C1 was 'n reusekomeet wat oor die hele wêreld gesien is. Op 2 Februarie 1106 n.C. is berig 'n ster het langs die Son verskyn, sowat 'n graad van hom af. Daarna het dit blykbaar dowwer geword, met 'n dowwe kern ná perihelium. Sy stert het egter baie groter geword en op 7 Februarie het Japannese waarnemers gesê die uiters helder, wit stert het sowat 100 grade ver oor die naglug gestrek. Die stert het na berig word ook in verskeie dele vertak. Op 9 Februarie het dit effens dowwer geword, maar die stert was steeds besonder helder, 60 grade lank en 3 grade breed.

In Europese tekste het die tyd dat die komeet met die blote oog gesien kon word, gewissel van 15 tot 70 dae. Onlangse berekenings dui daarop dié komeet was die bron van 'n hele subgroep Kreutz-sonskeerders, insluitende die besonder helder skonskeerderkomete van 1882, 1843 en 1965. Warnemings dui daarop dat die grootste fragment van die Groot Komeet van 371 v.C., wat in twee dele gebreek het, later teruggekeer het as die Groot Komeet van 1106 n.C.

Groot Komeet van 1843 Die Groot Komeet van 1843 is vroeg in Februarie dié jaar die eerste keer gesien, net meer as drie weke voor sy perihelium. Teen 27 Februarie was dit maklik in die daglig sigbaar. Waarnemers het gesê hulle sien 'n stert van 2 tot 3 grade lank wat weg van die Son af strek voordat dit in die helder lug verdwyn. Ná sy perihelium het dit in die oggendlug herverskyn en 'n uiters lang stert ontwikkel. Dit het op 11 Maart 45 grade lank deur die lug gestrek en dit was meer as 2 grade breed. Die stert was volgens berekenings langer as 300 miljoen kilometer (2 AE). Dit was die langste komeetstert wat gemeet is tot in 2000, toe Komeet Hyakutake se stert op 550 miljoen kilometer bereken is. Die maksimum skynbare magitude van dié komeet was . (Die afstand tussen die Aarde en die Son – 1 AE – is net 150 miljoen kilometer.)

Die komeet was die hele Maart lank besonder prominent voordat dit in April dowwer geword het en skaars met die blote oog sigbaar was. Dit is op 20 April die laaste keer gesien. Die komeet het 'n groot indruk op die publiek gemaak en baie mense laat vrees die oordeelsdag is ophande.

Eklipskomeet van 1882 duimnael|220px|Die Groot Komeet van 1882, soos gesien uit Suid-Afrika.

'n Groep waarnemers wat op 17 Mei 1882 in Egipte byeengekom het om na 'n sonsverduistering te kyk, was baie verbaas toe hulle 'n helder streep naby die Son sien toe dit byna verduister was. Heel toevallig het die sonsverduistering saamgeval met die perihelium van 'n Kreutz-sonskeerder. Die komeet sou andersins ongesiens verbygegaan het – die waarneming daarvan tydens die sonsverduistering was die enigste keer dat dit gesien is.

Op foto's van die verduistering kan gesien word die komeet het aansienlik beweeg in die 1 minuut 50 sekondes van die verduistering – soos verwag kan word van 'n liggaam wat teen byna 500 km/s by die Son verbyskiet.

Groot Komeet van 1882 Die Groot Komeet van 1882 is onafhanklik deur baie waarnemers ontdek, want dit was reeds maklik met die blote oog sigbaar vroeg in September 1882, net 'n paar dae voor perihelium, toe dit 'n skynbare magnitude van sowat -17 bereik het: verreweg die helderste komeet wat nog aangeteken is en helderder as die volmaan met 'n faktor van 57.

Dit het vinnig helderder geword en was eindelik so helder dat dit twee dae lank (16-17 September) met die blote oog in die dag sigbaar was, selfs deur ligte wolke. Ná sy perihelium het die komeet verskeie weke lank helder gebly.

In Oktober is gesien sy kern breek op in eers twee en toe vier stukke. Die tempo waarteen die fragmente uitmekaargespat het, was so vinnig dat hulle omtrent 'n eeu uitmekaar sal terugkeer – tussen 670 en 960 jaar ná die verbrokkeling.

thumb|220px|Komeet Ikeya-Seki se stert op 30 Oktober 1965. Foto deur James W. Young (Tafelbergsterrewag/JPL/Nasa).

Komeet Ikeya-Seki

Komeet Ikeya-Seki is die mees onlangse baie helder Kreutz-sonskeerder. Dit is op 18 September 1965 onafhanklik ontdek deur twee Japannese amateursterrekundiges, binne 15 minute van mekaar, en is gou herken as 'n Kreutz-sonskeerder. Dit het oor die volgende vier weke vinnig helderder geword teryl dit die Son genader het, en het teen 15 Oktober 'n skynbare magnitude van 2 bereik.

Die komeet het sy perihelium op 21 Oktober bereik en waarnemers oor die hele wêreld heen kon dit maklik in die daglig sien. 'n Paar uur voor perihelium het dit 'n sigbare magnitude van gehad, omtrent so helder soos die eerste kwartier van die Maan en die helderste komeet sedert 1882. 'n Dag ná perihelium het die magnitude tot net afgeneem.

Japannese waarnemers wat 'n koronagraaf gebruik het, het gesien hoe die komeet 30 minute voor perihelium in drie stukke opbreek. Toe die komeet daarna weer verskyn, is twee van dié kerns bespeur en die derde een vermoed. Die komeet het 'n baie lang stert ontwikkel, sowat 25 grade lank, voordat dit in November verdof het. Dit is in Januarie 1966 die laaste keer gesien.

Dinamiese geskiedenis en evolusie thumb|350px|links|Die benaderde verhoudings tussen die grootste Kreutz-sonskeerders. Die periheliums waarby fragmentasie voorkom, is nie oral goed vasgestel nie.

'n Studie in 1967 deur Brian G. Marsden was die eerste poging om die wentelgeskiedenis van die groep na te speur om die bron vas te stel. Alle bekende lede van die groep tot in 1965 het 'n feitlik identiese baanhelling van sowat 144 grade gehad, sowel as baie eenderse waardes vir die lengtegraad van perihelium by 280-282°.

Marsden het bevind die Kreutz-sonskeerders kan in twee groepe verdeel word, met wentelelemente wat effens verskil, wat daarop dui die familie het ontstaan uit fragmentasies by meer as een perihelium.

Deur die wentelbane van Ikeya-Seki en die Groot Komeet van 1882 terug te speur het Marsden gevind die verskille tussen hulle wentelelemente by hulle vorige perihelium, was van dieselfde orde van magnitude as verskille tussen die elemente van die fragmente van Ikeya-Seki nadat hulle verbrokkel het. Dit beteken dit is veilig om aan te neem hulle is twee dele van dieselfde komeet wat een perihelium gelede opgebreek het. Verreweg die beste kandidaat vir die bron was dié wat in 1106 gesien is (die Groot Komeet van 1106): Ikeya-Seki se afgeleide wentelperiode gee 'n vorige perihelium amper pesies op die regte tyd. Hoewel die Groot Komeet van 1882 se afgeleide wentelbaan dui op 'n vorige perihelium van 'n paar dekades later, sou dit net klein aanpassings verg om die berekenings te laat klop.