Die groentinker (Pogoniulus simplex) is 'n Oos-Afrikaanse standvoël in die houtkapper-familie. Hulle soek kos in die blaredak van kuswoude en digte boomveld, en word in tropiese en subtropiese laelande aangetref. Die voëltjie is 10 cm groot en weeg van 8 tot 10 gram. In Engels staan dit as die green tinkerbird bekend.

Status Tot in die 21ste eeu is dit as 'n swerwer of baie seldsame standvoël in Suider-Afrika beskou. Ekspedisies na Mosambiek sedert 2011 het egter meer betroubare inligting rakende die habitat, getalle en verspreiding meegebring.

Verspreiding Dit is inheems aan die Keniaanse en Tanzaniese kusstrook, tot aan die voetheuwels van die Usambara-gebergte. In Suider-Afrika is die spesie tot Malawi en Mosambiek beperk, en veral in Mosambiek was die status en verspreiding vir jare lank net gebrekkig bekend. Die eerste waarnemings en versamelde eksemplare is naamlik nie noukeurig aangeteken of gepubliseer nie.

Tot en met 1958 was die spesie slegs sover suid as Mangochi-berg in die ooste van Malawi bekend. In daardie jaar is dit egter naby Chicomo in Inhambane-provinsie van suidelike Mosambiek ontdek, waar dit deur Rui Quadros vir die museum te Lorenço Marques versamel is. Van 1969 tot 1972 het K.L. Tinley die spesie gereeld teëgekom aan die suidweshange van die Gorongosa-gebergte in Mosabiek se Sofala-provinsie.

Versamelaars van die Durbanse Natuurhistoriese Museum het in 1966 en 1971 ekspedisies na die Sitila-Massinga droë-woudruigtekompleks in Inhambane-provinsie onderneem. Tydens een of meer van hierdie ekspedisies is weereens eksemplare van die spesie versamel. Rondom 2005 het Vincent Parker die spesie in Mosambiek se noordelike Niassa-provinsie aangetref, en vanaf Januarie 2013 is 'n populasie wat in die lae duisende tel, deur G.P.B. Davies en H.N. Chittenden in die Sitila-Massinga-kompleks herondek.

Sien ook Alfabetiese lys van Suid-Afrikaanse voëls Lys van Suid-Afrikaanse voëls (gegroepeer) Lys van Suider-Afrikaanse voëls volgens wetenskaplike name

Bron Sasol Voëls van Suider-Afrika. Struik Nature. Vierde Uitgawe 2011.

Verwysings

Eksterne skakels

Kategorie:Afrika-houtkappers