Franco Smith (* 29 Julie 1972, Lichtenburg) is ’n voormalige Suid-Afrikaanse Springbokrugbyspeler wat as losskakel en senter gespeel het. Hy speel sy eerste toets op 6 Desember 1997 teen Skotland. Sy laaste toets was teen Nieu-Seeland op 7 Augustus 1999. Smith is sedert 2006 ’n rugbyafrigter. Tussen 2020 en 2021 het hy as hoofafrigter van die Italiaanse nasionale rugbyspan gedien en beklee sedert 2021 die pos as hoof van hoë prestasies by die Italiaanse Rugbyfederasie.

Loopbaan Speler Jeug Smith was ’n leerling aan die Hoërskool Sand du Plessis en is in 1990 gekies vir die Vrystaatse o/18-Cravenweekspan. In 1991 en 1992 het hy in talle wedstryde vir die Vrystaatse o/20-span asook vir die Shimlas van die Universiteit van die Oranje-Vrystaat uitgedraf. As student was hy kaptein van die Suid-Afrikaanse Universiteitespan wat teen ’n Suid-Afrikaanse Weermag-XV gespeel het.

Vrystaat Cheetahs In September 1992 het Smith sy eersterangse debuut gemaak toe hy as senter vir die Vrystaat teen die Wes-Transvaal uitgedraf het in die tweede ronde van die 1992 Lionbekertoernooi. Hy het tot 1995 in Bloemfontein gebly waar hy hoofsaaklik vir die Vrystaat se B-span gespeel het of as plaasvervanger vir die A-span.

Griekwas In 1996 het Smith hom by die Griekwas in Kimberley aangesluit. Na slegs een seisoen by die Griekwas is Smith by die 36-man Springbokoefengroep ingesluit vir die jaareindtoer na Suid-Amerika en Europa. Hy het saam met die Springbokke na Argentinië, Wallis en Frankryk getoer en in ’n aantal toerwedstryde gespeel maar nie in enige toets nie.

Bulls/Blou Bulle Aan die begin van 1998 het Nick Mallett, Springbokafrigter, versoek dat Smith van die Cats aan die Bulls geleen word vir die Super 12-seisoen. Hy het homself vinnig in die span gevestig en was op ’n punt in die kompetisie die Suid-Afrikaner met die meeste punte voordat ’n kniebesering hom vir die laaste vier rondtes van die veld af gehou het. Hy het besluit om permanent in Pretoria te bly en het die Blou Bulle in 1998 se Curriebekerseisoen verteenwoording, asook die volgende jar se Superrugby- en Curriebekerseisoene.

Newport In Augustus 1999 is aangekondig dat Smith hom by Newport in Wallis sou aansluit. Hy het in 27 wedstryde vir hulle gespeel en 38 punte aangeteken.

Terugkeer na Bulls/Blou Bulle Na slegs een seisoen in Walles het Smith na Suid-Afrika teruggekeer en weer by die Blou Bulle aangesluit waar hy in die 200 Curriebekerseisoen en die 2001 Super 12-seisoen gespeel het.

Pumas/Bologna/Bulls Van Pretoria af is Smith na Witbank waar hy in die 2001 Curriebekerseisoen vir die Pumas gespeel het, voor ’n kort loopbaan by Bologna. Hy het na Suid-Afrika teruggekeer om vir die Pumas in die 2002 Curriebekerseisoen te speel en het ook vir die Bulls in die 2002 Super 12-seisoen gespeel.

Treviso Smith het na Italië teruggekeer om aan die einde van 2002 vir Treviso te speel. Hy het vir vier seisoene daar gebly en het in 60 wedstryde vir die span gespeel. Gedurende sy tyd by hierdie klub het die span die Nasionale Kampioenskap van Uitmuntendheid in 2002–2003 en die Coppa Italia in 2005 gewen.

Terugkeer na Vrystaat Cheetahs In 2005 het Smith na Suid-Afrika teruggekeer en hom by die Vrystaat aangesluit en is hy by die Curriebekerspan ingesluit. Hy het egter nie vir die span uitgedraf nie. Aan die einge van 2005 het Smith sy rugbystewels opgehang en die Vrystaat se agterlynafrigter geword.

Suid-Afrika Smith het in 9 toetse vir die Springbokke gespeel. Hy het sy debuut op 6 Desember 1997 teen Skotland gemaak en sy laaste wedstryd was op 7 Augustus 1999 teen Nieu-Seeland.

Afrigter Vrystaat Cheetahs Smith se toetrede tot afrigting was toe hy die agterlynafrigter vir die Vrystaat Cheetahs in 2006 geword het.

Treviso Na 18 maande by die Vrystaat het Smith na Italië teruggekeer om oor te neem as hoofafrigter van Treviso vir wie hy voorheen gespeel het. Hy het Treviso gelei na twee Nasionale Kampioenskap van Uitmuntendheid, in 2008–2009 en 2009–2010, die Coppa Italia in 2010 en die Italiaanse Superbeker in 2009. Smith het in Desember 2013 die pos as hoofafrigter by Treviso bedank.

Shimlas/Vrystaat Cheetahs/Cheetahs Met sy terugkeer na Suid-Afrika is Smith weer aangestel as agterlynafrigter van die Cheetahs. Hy is ook aangestel as hoofafrigter van die rugbyklub van die Universiteit van die Vrystaat en het hulle gelei na ’n eerste kampioenskapsoorwinning in die Varsitybeker in sy eerste seisoen as afrigter.

In Mei 2015 is aangekondig dat Smith sou oorneem as hoofafrigter van die Vrystaat Cheetahs. Vier dae na hierdie aankondiging het Naka Drotské bekend gemaak dat hy sou bedank as hoofafrigter van die Cheetahs en dat Smith aangewys is in Drotské se plek.

Italië Op 21 November 2019 is Franco Smith as Italië se voorlopige afrigter benoem, nadat Conor O’Shea uit dié pos bedank het. Smith het die span tydens die Sesnasies-toernooi in 2020 en 2021 afgerig, maar Italië het nie een wedstryd gewen nie. Sy aanstelling is op 1 Junie 2020 permanent gemaak. Sedert Mei 2021 beklee Franco Smith die pos as hoof van hoë prestasies by die Italiaanse Rugbyfederasie, terwyl die Nieu-Seelander Kieran Crowley as nuwe hoofafrigter aangestel is.

Verwysings

Eksterne skakels

Kategorie:Springbokrugbyspelers Kategorie:Bulls rugbyspelers Kategorie:Geboortes in 1972 Kategorie:Lewende mense Kategorie:Rugbyafrigters