Jan Scholtz (20 Oktober 1938 – 20 Junie 2015) was 'n Suid-Afrikaanse draaiboekskrywer, regisseur en vervaardiger van rolprente en verskeie TV-reekse. Hy was die skrywer en/of regisseur van 20 vollengte rolprente. Hy is in 2015 in Johannesburg aan longontsteking oorlede.

Hendrik Jan Scholtz is op 20 Oktober 1938 op Kempton Park gebore. Sy pa het op die Spoorweë gewerk en die gesin het gedurende sy kinderjare op onder meer Noupoort, Witbank en Boksburg gewoon. Hy het in 1956 met ’n eersteklasmatriek aan die Hoërskool Voortrekker in Boksburg geslaag.

Van 1957 tot 1959 studeer hy aan die Potchefstroomse Universiteit vir CHO, waar hy ’n B.A.-graad met Duits en kunsgeskiedenis as hoofvakke behaal. In 1960 verwerf hy ook ’n Hoër Onderwysdiploma. Tussen 1961 en 1965 was hy onderwyser in Duits en Engels aan die Hoërskool Linden. Daarna was hy kortliks organiseerder van die ATKV voordat hy in 1967 by die SAUK as radiojoernalis aangesluit het. Hy was onder meer parlementêre verslaggewer en redakteur van nuuskommentaar.

Sy skryfloopbaan het in 1966 begin met die jeugverhaal Skefie van 13A. ’n Jaar later verskyn sy eerste roman vir volwassenes, Man sonder Skaduwee. Daarna volg verskeie jeug- en avontuurverhale, waaronder Kode van die Haai, Die Aanslag op Stalingrad en Wrak by Skua. Vanaf 1969 het hy ook radioverhale geskryf, met reekse soos Die Somer van die Oujaar, Snip en Rissiepit, Kwikstertjie en Môre, Môre wat gewild onder luisteraars was.

In 1973 is hy deur die SAUK aangestel as die eerste regisseur vir Suid-Afrikaanse televisie. Die volgende jaar het hy die korporasie verlaat om hom voltyds op skryfwerk, rolprente en televisieproduksies toe te lê. Hy stig Kasteel Films in 1974 en later Scholtz Films.

Scholtz was as skrywer, regisseur of vervaardiger betrokke by meer as twintig vollengte-rolprente. Onder die bekendstes was Diamant en die Dief, Die Winter van 14 Julie, Ter wille van Christine, ’n Beeld vir Jeannie, Die Eensame Vlug, Herfsland, Kiepie en Kandas en The Emissary. Sommige van sy rolprente het destyds botsings met sensuurbeamptes veroorsaak.

Hy het ook ’n belangrike rol in die ontwikkeling van Afrikaanse televisie gespeel. Hy het die eerste Afrikaanse televisiereeks, Keertyd, geskryf en geregisseer. Daarna volg reekse soos Gazette, Sterretjie, Skoppensboer, Cul de Sac, Binnekring, Sonkring, Triptiek, Die Laksman, Die Vierde Kabinet, Arsenaal en Song vir Katryn. Hy het ook bygedra tot die sepie Egoli: Plek van Goud.

Benewens sy beroepsloopbaan het Scholtz ’n groot belangstelling in tuinmaak gehad en oor jare heen honderde bome op sy eiendom buite Johannesburg geplant. In 1983 is hy met Michelle getroud, wat hy tydens die verfilming van Sterretjie ontmoet het. Hulle het tweelingseuns, Carl en Maynard, gehad. Uit ’n vorige huwelik het hy ’n seun, François, en ’n dogter, Ingrid, gehad.

Tydens sy loopbaan het hy talle toekennings ontvang, waaronder Rapport-Oscars, Artes-toekennings, ATKV-eerbewyse en erepennings van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Sy loopbaan het die Afrikaanse radio-, televisie- en rolprentbedryf van die 1960's tot die vroeë 2000's oorspan.

Filmografie As draaiboekskrywer: Song vir Katryn 2, 2005 (TV-reeks) Song vir Katryn, 2003 (TV-reeks) Triptiek, 1993 (TV-reeks) Die Sonkring, 1991 (TV-reeks) The Emissary, 1989 Paradise Road, 1988 Dada en die Flower, 1986 Magic Is Alive, My Friends, 1985 Die Eensame Vlug, 1979 Wat Jy Saai, 1979 Diamant en die Dief, 1978 'n Beeld vir Jeannie, 1976 Springbok, 1976 Daar Kom Tant Alie, 1976 Ter wille van Christine, 1975 Liefste Veertjie, 1975 Kwikstertjie, 1974 Môre, Môre, 1973 Snip en Rissiepit, 1973

As regisseur: Song vir Katryn 2, 2005 (TV-reeks) Triptiek, 1993 (TV-reeks) The Emissary, 1989 Paradise Road, 1988 Dada en die Flower, 1986 Magic Is Alive, My Friends, 1985 Kiepie en Kandas, 1980 Die Eensame Vlug, 1979 Herfsland, 1979 Skelms, 1979 Diamant en die Dief, 1978 Die Winter van 14 Julie, 1977 'n Sondag in September, 1976

As vervaardiger: Triptiek, 1993 (TV-reeks) The Emissary, 1989 Paradise Road, 1988 Dada en die Flower, 1986 April '80, 1980 'n Beeld vir Jeannie, 1976 (mede-vervaardiger) 'n Sondag in September, 1976

Kategorie:Suid-Afrikaanse rolprentregisseurs Kategorie:Suid-Afrikaanse rolprentvervaardigers Kategorie:Geboortes in 1938 Kategorie:Sterftes in 2015