Die albatros is 'n familie voëls wat aan die orde Procellariiformes behoort. Die voëls is groot met lang vlerke waarmee hulle dinamies kan sweef. Hulle spandeer meeste van die tyd oor die see en kom selde naby land. Daar is drie hoofgroepe wat aan die Suid-Afrikaanse kus voorkom, naamlik: grootalbatrosse (Diomedea), malmokke (Thalassarche) en die bruinalbatrosse (Phoebetria). In die Stille Oseaan word 'n vierde groep (Phoebastria) aangetref.

Albatrosse bly getrou aan hul broeimaats, en deel die broeipligte. Dit neem sowat twee maande om 'n eier uit te broei, waarna die kuiken nog vir weke van die ouers afhanklik bly. Albatrosse tel ook onder die langslewende voëls. In die vrye natuur troef hulle miskien die kondors, ara-papegaaie en flaminke, en bly ook lank vrugbaar. 'n Laysan-albatroswyfie wat op Midway-atol broei, het in 2024 op ongeveer 74-jarige leeftyd nog 'n eier gelê. Albatrosse spandeer minstens 90% van hul tyd ter see, en voed onder meer op inkvis en viseiers. Die grootste albatros-broeikolonie ter wêreld is op Midway-atol geleë, waar na raming twee miljoen albatrosse van twee spesies broei.

Sien ook

Alfabetiese lys van Suid-Afrikaanse voëls Lys van Suid-Afrikaanse voëls (Groepeer) Lys van Suider-Afrikaanse voëls volgens wetenskaplike name

Bron Sasol Voëls van Suider-Afrika. Struik Nature. Vierde Uitgawe 2011.

Verwysings

Kategorie:Seevoëls