61 Cygni is ’n dubbelster in die sterrebeeld Swaan en een van die naaste sterre aan die Aarde. Dit bestaan uit twee Klas K-dwergsterre wat om mekaar wentel in 'n periode van sowat 659 jaar. Teen die 5de en 6de skynbare magnitude is hulle van die mees onopsigtelike sterre aan die naghemel vir iemand sonder ’n optiese instrument.
61 Cygni het die eerste keer die aandag van sterrekundiges getrek met sy groot eiebeweging. In 1838 het Friedrich Wilhelm Bessel sy afstand van die Aarde af geraam op 10,4 ligjare, baie naby aan die werklike afstand van sowat 11,4 ligjare. Dit was die eerste afstand van ’n ster naas die Son wat geraam is, en die eerste ster waarvan die parallaks gemeet is. Deur die 20ste eeu het verskeie sterrekundiges gemeen daar is ’n planeet met ’n groot massa om een van die twee sterre, maar onlangse hoëpresisie-waarnemings het getoon dit is nie die geval nie. Tot op datum is geen bevestigde planeet nog in die stelsel gevind nie.
Eienskappe links|duimnael|250px|Die grootte van die Son (links) in vergelyking met 61 Cygni A (onder) en 61 Cygni B. Die helderste ster van die stelsel, 61 Cygni A, se magnitude is 5,2, en 61 Cygni B is 6,1. Dit lyk of albei ouer as die Son is.
Die stelsel het ’n netto ruimtesnelheid van 108 km/s met betrekking tot die Son, en dit het die hoë eiebeweging oor die lug tot gevolg. Die stelsel is nou net meer as 11 ligjare van die Son af en sal in omstreeks 20000 n.C. die naaste daaraan wees – sowat 9 ligjare.
Die twee sterre draai in ’n periode van 659 jaar om hul massamiddelpunt. Hulle het ’n groot wentelbaanafwyking en is met hul periapsis sowat 44 AE van mekaar (sowat 44 keer die afstand tussen die Son en die Aarde) en met hul apoapsis sowat 124 AE. Die lang wentelperiode maak dit moeilik om hul onderskeie massa vas te stel.
Die sterwind van komponent A skep ’n borrel in die lokale interstellêre wolk wat 30 AE ver strek terwyl die stelsel deur die Melkweg beweeg.
Verwysings
Eksterne skakels
15px Hierdie artikel is vertaal uit die Engelse Wikipedia
Kategorie:Flamsteed-voorwerpe Kategorie:Swaan (sterrebeeld) Kategorie:Dubbelsterre Kategorie:Gliese-voorwerpe Kategorie:Henry Draper-voorwerpe Kategorie:K-tipe hoofreekssterre