duimnael|regs|Gozo-, Comino- en Malta-eilande op 'n kaart deur Arrowsmith (1842). In samehang vorm dit die moderne staat Malta (in swart omlyn) wat in 1964 onafhanklik geword het. Die klein Mediterreense eiland Malta is bewoon sedert dit rondom 5200 v.C. vanuit Sisilië gekoloniseer is, en kan dus op 'n mensegeskiedenis roem wat oor meer as 7 millenia heen strek. Dit is aanvanklik deur antieke boere bewoon, maar is weens sy ligging deur baie ryke regeer. Vername heersers sluit die Romeine, die Arabiere wat die taal gevorm het, die Johannesridders en die Britte in.

Vroeë inwoners het reuse kliptempels gebou, wat vandag steeds besigtig kan word, en ouer as Stonehenge of die piramides van Giza is. Die oudste en mees indrukwekkende voorbeelde is op Gozo-eiland geleë. In 218 v.C. het Rome die argipel oorgeneem. In 60 n.C. het Paulus op Malta-eiland skipbreuk gely en dit word ook as die begin van die Christengeloof op Malta gehuldig. Die 350 kerke wat vandag oor die argipel heen versprei is, getuig van hierdie nalatenskap.

Die Arabiese heerskappy van 870 n.C. af het 'n blywende merk gelaat. Die moderne Maltese taal is 'n unieke mengsel van Arabies en Italiaans. In 1530 het die koning van Spanje Malta aan kruisvaardermonnike gegee wat as die Johannesridders bekend was. Hulle het Europa suksesvol teen die Ottomaanse Turke verdedig in die Groot Beleg van 1565 en die groot hoofstad Valletta gebou. Die Britte het die argipel in 1800 oorgeneem. Tydens die Tweede Wêreldoorlog is Malta hewig deur Duitsland en Italië gebombardeer. Omdat die Maltese mense na Engelse mening so dapper was, het die Britse koning die George-kruis vir heldemoed aan die eiland toegeken.

Die land Malta het in 1964 onafhanklikheid verkry. Die grondwet van 1964 het die Rooms Katolieke Apostoliese Kerk as die staatskerk gevestig, alhoewel dit ook vryheid van geloof waarborg. In 1971 het premier Dom Mintoff se regering NAVO-magte uit die land verdryf en teen 1979 is alle oorblywende Britse militêre basisse gesluit. In 1987 het Malta sy grondwet gewysig om formeel 'n permanent neutrale staat te word wat geen militêre alliansies vorm nie. In 2004 is Malta by die Europese Unie ingelyf.

Geologie en voorgeskiedenis duimnael|links|Die Neolitiese tempel van Mnajdra Malta staan op 'n onderwaterrif wat van Noord-Afrika tot by Sisilië strek. Op 'n sekere stadium in die verre verlede was Malta onder water, soos aangedui deur seefossiele in rotse gevind by die hoogste punte op Malta. Soos die rif opgedruk is en die straat van Gibraltar gesluit het as gevolg van tektoniese aktiwiteit, het die seevlakke gedaal, en Malta het op 'n landbrug geëindig wat tussen die twee kontinente, omring deur massiewe mere, gestrek het. Sommige grotte in Malta het beendere van olifante, seekoeie en ander groot diere opgelewer wat nou in Afrika gevind word, en ander weer diere inheems aan Europa.Hierdie artikel bied onlangse teorieë aan oor hoe die Maltese eilande gelyk het ongeveer 20 000 jaar gelede:Malta 20 000 jaar gelede

Die mens het Malta die eerste keer rondom 5200 v.C. bereik. Hierdie eerste Neolitiese mense het heel moontlik uit Sisilië gekom (omtrent 100 kilometer/60 myl noord), en was hoofsaaklik boerdery- en visserygemeenskappe, met bewyse van jagaktiwiteite. Hulle het blykbaar in grotte en oop wonings gebly. Gedurende die daaropvolgende eeue is daar tekens van kontak met ander kulture, wat hulle invloed op die plaaslike gemeenskap agtergelaat het. Dit word gestaaf deur die erdewerk se ontwerpe en kleure.

Een van die merkwaardigste tydperke in die eilande se geskiedenis is die tempel-era wat omtrent 3600 v.C. begin het. Die Ggantija prehistoriese tempel in Goza is die oudste vrystaande gebou in die wêreld.foto Die naam van die kompleks stam af van die Maltese woord ġgant, wat die omvang van die tempel se grootte reflekteer. Baie van die tempels is in die vorm van vyf halfsirkelvormige kamers wat in die middel met mekaar verbind is. Daar is al geopper dat dit die kop, arms en bene van 'n godheid voorstel, aangesien die algemeenste beeldjies wat in die tempels gevind is die van 'n vet vrou – 'n vrugbaarheidsimbool is. Die Tempelperiode het tot omtrent 2500 v.C. geduur, waarna die beskawing wat hierdie massiewe strukture opgerig het skynbaar verdwyn het. Daar is heelwat spekulasie oor wat moontlik kon gebeur het en of hulle totaal en al uitgewis is of geassimileer is.

Na die Tempel-era volg die Bronstydperk. Daar het 'n paar nedersettings en dorpies vanuit hierdie era behoue gebly, asook dolmens – altaarstrukture gemaak uit baie groot steenblokke. 'n Oorblywende menhir, wat gebruik is vir die bou van tempels, staan nog steeds by Kirkop; een van min nog in goeie kondisie. Onder die mees interessante geheimsinnige oorblyfsels vanuit die tydperk is die sogenaamde waspore wat by 'n plek genaamd Clapham-kruising op Malta gesien kan word. Dit is ewewydige slote wat in die oppervlakte van die rots ingesny is, en oor groot afstande in 'n presiese reguit lyn strek. Hulle gebruik is nie bekend nie. Een voorstel is dat lasdiere die waens getrek het en die slote die waens op koers gehou het sodat die diere nie kon afdwaal nie. Die samelewing wat hierdie strukture gebou het, het met die tyd uitgesterf of verdwyn.

Antieke tydperk Fenisiërs en Grieke Fenisiërs uit Tirus het die eilande omstreeks 1000 v.C. gekoloniseer en as 'n buitepos benut vanwaar hulle hul ontdekkings- en handelsreise in die Middellandse See kon uitbrei. Hulle noem die eiland Maleth/Malat wat "veilige hawe" beteken, en bewoon die gebied waar die huidige stad Mdina en die voorstad Rabat nou geleë is.

Teen die einde van die 8ste eeu v.C. is 'n Griekse kolonie met die naam Μελίτη (Melite) op die hoofeiland gestig. Dit is die Dories-Griekse woord vir heuningby, en daar word vermoed dat dit na 'n plaaslike by-spesie en die kenmerkende heuning wat dié maak verwys.

Kartago en Rome Die eilande kom later onder die beheer van Kartago (400 v.C.) en ook die Romeinse Republiek (218 v.C.). Die eilande het onder Romeinse heerskappy floreer, en was mettertyd as 'n Municipium en 'n Foederata Civitas bekend. Heelwat Romeinse oudhede bestaan vandag nog, wat getuig van noue bande tussen die Maltese inwoners en mense van Rome.

In 60 n.C., dokumenteer die nuwe Testament dat Paulus skipbreuk gely het op 'n eiland genaamd Melite, wat heelwat Bybelkenners en Maltese met Malta vereenselwig; daar is 'n tradisie dat die stranding by die baai plaasgevind het wat nou gepas "Sint Paulusbaai" genoem word.

Vandale en Bisantyne Die eiland is in 440 deur die Vandale verower, wat op daardie stadium kort van tevore die Romeinse provinsie Africa beset het. Dit is herower deur die Bisantynse generaal Belisarius in 533, tesame met die ander Vandaalse eiendom en het vir die volgende 340 jaar deel van die Bisantynse provinsie van Sisilië gevorm.

Middeleeue Arabiese tydperk Malta is vanaf 870 tot 1090 deur die Fatimidiese Kalifaat beset, wat vir 220 jaar hul invloed op die destydse inwoners uitgeoefen het. Buiten hulle taal (Sisiliaanse-Arabies) is katoen, lemoene, suurlemoene en heelwat nuwe tegnieke van besproeiing bekend gestel. Sommige hiervan soos die noria (waterwiel), is vandag steeds onveranderd in gebruik. Baie plekname in Malta dateer uit hierdie tydperk. Die Fenisiese stad Mdina is gedurende dié tyd omvangryk verander.

Normandiese Koninkryk van Sisilië duimnael|300px|Kaart van Malta in die 16de eeu, toe Italiaans tot amptelike taal verklaar is deur die Ridders van Malta. Tussen 1194 en 1530 het die Koninkryk van Sisilië oor die eilande regeer en het die proses van algehele Romanisering in Malta begin.

In 1091 het Graaf Rogier I van Sisilië 'n aanvanklike poging aangewend om Normandiese heerskappy te vestig en is hy deur 'n paar van die plaaslike Christene begroet. In 1127 het sy seun, Rogier II van Sisilië, daarin geslaag. Dit merk die geleidelike oorgang van 'n Arabiese kulturele invloed na 'n Europese een. In 1191 is Tancred van Sisilië aangewys as Margaritus van Brindisi, die eerste Graaf van Malta. Tot met 1224 het daar egter 'n sterk Moslem-segment in die samelewing oorgebly.

Na die Normandiese verowering styg die bevolkingsgetalle op die eilande hoofsaaklik as gevolg van immigrasie vanaf die noorde (Sisilië en Italië), met die ballingskap na Malta van die totale manlike bevolking van Celano (Italië) in 1223, die uitplasing van 'n Normandiese en Sisiliaanse garnisoen op Malta in 1240 en die vestiging van adellike families uit Sisilië op Malta tussen 1372 en 1450. As gevolg hiervan het 'n vername akademiese studie gevind dat "die hedendaagse mans van Malta mees waarskynlik van Suidelike Italië, insluitende Sisilië en hoër op tot by Calabria afkomstig is".C. Capelli, N. Redhead, N. Novelletto, L. Terrenato, P. Malaspina, Z. Poulli, G. Lefranc, A. Megarbane, V. Delague, V. Romano, F. Cali, V.F. Pascali, M. Fellous, A.E. Felice, and D.B. Goldstein; "Population Structure in the Mediterranean Basin: A Y Chromosome Perspective," Annals of Human Genetics, 69, 1–20, 2005.

Vir amper 440 jaar was Malta 'n anneks van Sisilië. Gedurende dié tydperk is Malta verkoop en herverkoop aan verskeie leenhere en baronne, en is opeenvolgend oor geheers deur die heersers van Swabe, Anjou, die Kroon van Aragon, die Kroon van Kastilië, en Spanje. Die Kroon van Aragon, wat op daardie stadium oor Malta regeer het, het in 1479 uiteindelik by Kastilië aangesluit en Malta sodoende deel van die Spaanse Ryk gemaak. Malta se administrasie beland hierdeur in die hande van plaaslike adellikes wat 'n beheerliggaam genaamd die Università op die been bring.

Moderne era Hospitaalridders regs|duimnael|250px|Heropvoering van 'n 16de eeuse militêre dril uitgevoer deur die Johannesridders. Fort Saint Elmo, Valletta, Malta, 2005. Vroeg in die 16de eeu het die Ottomaanse Ryk in die streek begin uitbrei en Suidoos-Europa bereik. Die Spaanse koning Karel V het gevrees dat as Rome voor die Turke val dit die einde van Christelike Europa sou beteken. In 1522 verdryf Süleyman I die Hospitaalridders van Rhodos af. Hulle onttrek terug na hulle gesagsgebiede in Europa. Ten einde Rome teen 'n inval vanuit die suide te beskerm, gee Karel V in 1530 die Maltese eilande aan die Ridders.

Vir die volgende 275 jaar maak die bekende "Ridders van Malta" die eiland hulle domein en vestig Italiaans as die amptelike taal. Hulle bou dorpe, paleise, kerke, tuine en verskansings, verfraai die eiland met talle kunswerke en vergroot die kulturele nalatenskap.

Die orde van die Ridders van Johannes is aanvanklik op die been gebring om voorposte langs die roete na die Heilige Land op te rig, om pelgrims by te staan wat in albei rigtings reis. As deel van die vele skermutselings wat plaasgevind het was een van hul belangrikste take om mediese bystand te verskaf, en tot vandag nog word die agtpuntige kruis algemeen deur ambulanse en eerstehulporganisasies gebruik. As vergoeding vir die baie lewens wat hulle gered het, het die Orde heelwat nuut verowerde gebiede bygekry wat verdedig moes word. Tesame met die behoefte om die pelgrims in hulle sorg te verdedig, het dit gesorg vir die totstandkoming van die sterk militêre vleuel van die Ridders. Mettertyd het die Orde sterk en ryk geword. Die prioriteite van versorgers in eerste instansie en militariste tweedens het namate omgeruil. Omrede baie van die gebiede wat hulle moes beskerm rondom die Middellandse See was, het hulle vername seevaarders geword.