Alpha Centauri (afgekort as Alpha Cen of α Cen) is die naaste stelsel van sterre en eksoplanete aan die Sonnestelsel. Die stelsel van drie sterre wat deur hulle swaartekrag verbind word, is sowat 4,37 ligjare (1,34 parsek) van hier en lê in die suidelike sterrebeeld Sentour (Centaurus). Die drie sterre is α Centauri A (amptelik Rigil Kentaurus), α Centauri B (amptelik Toliman) en die naaste ster, α Centauri C (amptelik Proxima Centauri).

Alpha Centauri A en B is songroottesterre, onderskeidelik 'n G-tipe en K-tipe hoofreeksster, en saam vorm hulle die dubbelster Alpha Centauri AB. Met die blote oog lyk die twee hoofkomponente soos 'n enkele ster met 'n skynbare magnitude van -0,27 – dit is die helderste ster in Sentour en derde helderste ster aan die naghemel (naas Sirius en Canopus).

Eersgenoemde het ’n massa en ligsterkte van onderskeidelik 110% en 151,9% van die Son s’n en laasgenoemde onderskeidelik 90,7% en 44,5%. Tydens die twee sterre se wentelbaan om hulle massamiddelpunt, wissel die afstand tussen hulle van omtrent die afstand tussen die Son en Pluto tot die afstand tussen die Son en Saturnus.

Alpha Centauri C, of Proxima Centauri, is 'n dowwe rooidwerg (M-tipe). Hoewel dit nie met die blote oog gesien kan word nie, is dit die naaste ster aan die Son op 'n afstand van 4,24 ligjare (1,3 parsek). Dit is sowat 0,21 ligjare (0,06 parsek) van Alpha Centauri AB af (sowat 430 keer die radius van Neptunus se wentelbaan).

Proxima Centauri het drie bekende planete: Proxima b, 'n aardgrootte-eksoplaneet in die bewoonbare sone wat in 2016 ontdek is; Proxima c, 'n Superaarde 1,5 AE van die ster af wat moontlik 'n groot ringstelsel het en wat in 2019 ontdek is; en Proxima d, 'n kandidaat-subaarde wat baie naby aan die ster is en waarvan die ontdekking in 2022 aangekondig is.

Alpha Centauri A het moontlik 'n planeet so groot as Neptunus in die bewoonbare sone, maar dit is nog nie as 'n planeet bevestig nie. Alpha Centauri B het geen bekende planete nie: Planeet Bb, wat na berig is in 2012 ontdek is, was 'n vals alarm.

Name duimnael|180px|links|Alpha Centauri (links bo) is die helderste voorwerp in die sterrebeeld Sentour.

"α Centauri" is die naam wat Johann Bayer in 1603 aan die stelsel gegee het. Die tradisionele naam is "Rigil Kentaurus", wat die Latynse vorm is van die Arabiese naam (رجل القنطورس, Rijl al-Qinṭūrus, "Voet van die Sentour"). Die naam word dikwels afgekort tot "Rigil Kent" of selfs "Rigil", hoewel laasgenoemde naam eintlik gebruik word vir β Ori (Rigel).R.H. Allen, Star Names and their Meanings

'n Alternatiewe naam wat in Europese bronne aangetref word, is "Toliman", min of meer 'n Latynse vorm van die Arabiese الظليمان (aẓ-Ẓalīmān, "die Twee Volstruise").ظليم ذ, in Edward William Lane, An Arabic–English Lexicon

Alpha Centauri C is in 1915 ontdek deur Robert T.A. Innes, wat voorgestel het dit word genoem "Proxima Centaurus" ("die naaste ster van Centaurus"). Die naam Proxima Centauri is later algemener gebruik en is nou opgeneem op die Internasionale Sterrekundige Vereniging (IAU) se lys sterre met eiename.

In 2016 het die IAU se werkgroep oor stername besluit om eiename aan individuele sterre te gee in plaas van aan veelvoudige sterre, of sterregroepe. Die naam Rigil Kentaurus is vir Alpha Centauri A goedgekeur en Proxima Centauri vir Alpha Centauri C.

Op 10 Augustus 2018 is die naam Toliman goedgekeur vir Alpha Centauri B.

Sterregroep Alpha Centauri is 'n groep van drie sterre met sy twee hoofsterre, Alpha Centauri A en Alpha Centauri B, wat saam 'n dubbelster vorm. Die term "AB" dui op die massamiddelpunt van 'n hoofdubbelster relatief tot ander sterre in 'n groep van veelvoudige sterre. "AB-C" verwys na die komponent Proxima Centauri in verhouding tot die hoofdubbelster, en is dus die afstand tussen AB se massamiddelpunt en die afgeleë metgesel. Omdat die afstand tussen Proxima (C) en beide Alpha Centauri A en B dieselfde is, word die AB-dubbelstelsel soms beskou as 'n enkele swaartekragvoorwerp.

duimnael|220px|links|Die skynbare en ware wentelbane van Alpha Centauri. Die A-komponent is stilstaande, en die relatiewe wentelbaan van die B-komponent word gewys. Die skynbare wentelbaan (dun ellips) is die vorm van die wentelbaan soos van die Aarde af gesien. Die ware wentelbaan is die vorm van die wentelbaan soos gesien loodreg tot die vlak van die wentelbeweging. Volgens die radiale snelheid teenoor tyd het die radiale skeiding tussen A en B met die gesigslyn langs in 2007 'n maksimum bereik, toe B verder as A van die Aarde af was. Die wentelbaan word hier in 80 punte verdeel: elke stap verwys na 'n tydsverskil van 0,99888 jaar, of 364,84 dae. Wenteleienskappe Alpha Centauri se komponente A en B het 'n wentelperiode van 79 762 jaar. Hulle wentelbane is gematig eksentriek, want dit het 'n eksentrisiteit van byna 0,52. Hulle naaste afstand van mekaar af, of periastron, is 11,2 AE, of omtrent die afstand tussen die Son en Saturnus. Hulle verste afstand, of apastron, is 35,6 AE, omtrent die afstand tussen die Son en Pluto. Die mees onlangse periastron was in Augustus 1955 en die volgende een sal in Mei 2035 wees. Die mees onlangse apastron was in Mei 1995 en dit sal weer in 2075 voorkom.

Soos van die Aarde af gesien, beteken hulle skynbare wentelbane dat hulle skeiding en posisiehoek (PH) voortdurend verander gedurende hulle geprojekteerde wentelbane. Waargenome sterposisies in 2019 is geskei deur 4,92 boogsekondes deur die PH van 337,1°, en dit het toegeneem tot 5,49 boogsekondes deur 345,3° in 2020. Die naaste onlangse afstand was in Februarie 2016, by 4 boogsekondes deur die PH van 300°. Die waargenome maksimum skeiding van die sterre is sowat 22 boogsekondes, terwyl die minimum afstand 1,7 boogsekondes is. Die grootste skeiding was in Februarie 1976, en die volgende een sal in Januarie 2056 wees.

Alpha Centauri C is sowat 13 000 AE van Alpha Centauri AB af, wat gelyk is aan sowat 5% van die afstand tussen Alpha Centauri AB en die Son. Tot in 2017 was die metings van sy snelheid en wentelbaan te onakkuraat en te kort in jare om vas te stel of dit aan Alpha Centauri AB verbonde is of nie.

Metings van sy radiale snelheid in 2017 was presies genoeg om te toon dat Proxima Centauri en Alpha Centauri AB swaartekraggebonde is. Proxima Centauri se wentelperiode is sowat 511 000 jaar, met 'n eksentrisiteit van 0,5 – baie eksentrieker as Mercurius s'n. Proxima Centauri kom binne 4 100 AE van AB met periastron, en sy apastron geskied by 12 300 AE.

Fisiese eienskappe duimnael|links|220px|Die relatiewe grootte van die Alpha Centauri-stelsel in vergelyking met die Son.

Asteroseismologiese studies, chromosferiese aktiwiteit en sterrotasie (girochronologie) dui alles daarop dat die Alpha Centauri-stelsel net so oud, of effens ouer, as die Son is. Asteroseismologiese ontleding dui op 'n ouderdom van sowat 4,85 miljard, 5 miljard, 5,2 miljard, 6,4 miljard en 6,52 miljard jaar.

Die ouderdom van die sterre geskoei op chromosferiese aktiwiteit gee 'n ouderdom van 4,4 miljard jaar en girochronologie 'n ouderdom van 5 miljard jaar. Volgens die sterevolusieteorie is albei sterre effens ouer as die Son teen 5 miljard tot 6 miljard jaar, soos afgelei van hulle massa en spektrale eienskappe.

Volgens hulle wentelelemente is Alpha Centauri AB se gesamentlike massa sowat 2 sonmassas. Die gemiddelde individuele stermassas is onderskeidelik sowat 1,08 en 0,91 sonmassas, hoewel stermassas wat in onlangse jare gemeet is, effens verskil, soos 1,14 en 0,92 sonmassas, wat 'n gesamentlike massa van 2,06 sonmassas gee.

Alpha Centauri A en B het 'n absolute magnitude van onderskeidelik 4,38 en 5,71.

Alpha Centauri A, ook bekend as Rigil Kentaurus, is die primêre komponent van die dubbelster. Dit is 'n sonagtige hoofreeksster met dieselfde geel kleur. Dit is van spektraaltipe G2-V en is sowat 10% swaarder as die Son. Sy radius is sowat 22% groter. Wanneer dit beskou word as een van die individuele helderste sterre in die lug (buiten die Son), is dit die vierde helderste met 'n skynbare magnitude van 0,01 (effens dowwer as Arcturus met 'n skynbare magnitude van -0,05).

Die soort magnetiese aktiwiteit op Alpha Centauri A is vergelykbaar met dié van die Son – dit toon koronaveranderlikheid vanweë stervlekke as gevolg van die rotasie van die ster. Sedert 2005 het die aktiwiteitsvlak egter tot 'n minimum gedaal, wat soortgelyk kan wees aan die Son se historiese Maunderminimum. Anders het dit 'n baie lang steraktiwiteitsiklus en herstel dit stadigaan van 'n minimumfase.

Alpha Centauri B, ook bekend as Toliman, is die dubbelster se sekondêre komponent. Dit is 'n hoofreeksster van spektraaltipe K1-V en het daarom 'n oranjeriger kleur as Alpha Centauri A. Sy massa is omtrent 90% van die Son s'n en sy deursnee is sowat 14% kleiner. Hoewel dit 'n laer ligsterkte as A het, straal Alpha Centauri B meer energie in die X-straalband uit. Sy ligkurwe wissel op kort termyn en dit het minstens een waargenome opvlamming gehad. Dit is magneties aktiewer as Alpha Centauri A en het 'n siklus van 8,2 jaar, in vergelyking met die Son s'n van 11 jaar. Alpha Centauri B het 'n skynbare magnitude van 1,35, effens dowwer as Mimosa (Beta Crucis).

Alpha Centauri C, beter bekend as Proxima Centauri, is 'n klein hoofreeksster van spektraaltipe M6-Ve (rooidwerg). Dit het 'n absolute magnitude van 15,6, meer as 20 000 keer dowwer as die Son. Sy massa is bereken op 0,1221 sonmassas. Dit is die naaste ster aan die Son, maar te dof om met die blote oog te sien.

duimnael|upright=5|center|Die relatiewe posisies van die Son, Alpha Centauri AB en Proxima Centauri. Die grys kolletjie is 'n projeksie van Proxima Centauri, wat ewe ver van Alpha Centauri A en B lê.

Waarneming duimnael|280px|links|Die ligging van Alpha Centauri in die Sentour.

duimnael|240px|Die twee helder sterre regs onder op die foto is Alpha Centauri (regs) en Beta Centauri. 'n Lyn wat deur hulle getrek word, wys in die rigting van die Suiderkruis, net regs van die koepel van die Deense 1,54 m-teleskoop by die La Silla-sterreweg in Chili.

Met die blote oog lyk Alpha Centauri AB na een ster, en wel die helderste in die suidelike sterrebeeld Sentour. Hulle skynbare hoekskeiding wissel oor sowat 80 jaar tussen 2 en 22 boogsekondes, en deur 'n groot deel van hulle wentelbane kan hulle met 'n verkyker of klein teleskoop as aparte sterre gesien word.

Met 'n gesamentlike skynbare magnitude van -0,27 is Alpha Centauri net dowwer as Sirius en Canopus. 'n Lyn deur die sterre wys na die sterrebeeld die Suiderkruis. Met dié lyn kan 'n duidelike onderskeid getref word tussen die ware Suiderkruis en die dowwer asterisme bekend as die Valskruis.

duimnael|240px|Alpha Centauri AB in daglig afgeneem. Die aparte sterre is duidelik sigbaar. Suid van omtrent breedtegraad 29° S is Alpha Centauri sirkumpolêr en verdwyn dit nooit onder die horison nie. Noord van omtrent breedtegraad 29° N kom Alpha Centauri nooit bo die horison nie.

Soos van die Aarde af gesien, is Proxima Centauri 2,2° suidwes van Alpha Centauri AB (dit is omtrent vier keer die skynbare grootte van die Maan). Proxima Centauri lyk soos 'n dieprooi ster met 'n skynbare magnitude van 11,1 in 'n gebied met min sterre, en 'n teleskoop van gemiddelde grootte is nodig om dit te sien. Dit word gelys as V645 Cen in die General Catalogue of Variable Stars weergawe 4.2. Dit is 'n UV Ceti-tipe opvlamster en kan onverwags met 'n magnitude van tot 0,6 helderder word by sigbare golflengtes en 'n paar minute later weer dowwer word. Sommige amateur- en professionale sterrekundiges monitor die ster gereeld met óf optiese óf radioteleskope vir opvlammings.

Alpha Centauri kan binne die G-wolk van die Plaaslike Borrel lê, en die naaste bekende groep sterre daaraan is die dubbele bruindwergstelsel Luhman 16 teen 3,6 ligjare (1,1 parsek).

Eiebewegings duimnael|240px|links|Die naaste sterre aan die Son.