Johannes Meintjes (Riversdal, 19 Mei 1923 – Molteno, Suid-Afrika, 7 Julie 1980) was ’n Suid-Afrikaanse kunsskilder, beeldhouer, amateur-geskiedkundige, skrywer en dramaturg.

Meintjes het reeds voor sy 22ste verjaardag bekend geword. Die aantreklike en aangename, maar intense, broeiende jong kunstenaar het die soort openbare ophemeling of heldeverering geniet wat later jare net die jong ikone van die musiek- of rolprentwêreld beskore sou wees. In ’n resensie van John Coetzee se The Message in 1990 skryf Marina le Roux van Johannes Meintjes hy was “byna die ideale bibliotekaris: kundige vakman, kunstenaar, onvermoeide navorser en onderhoudende skrywer, veral oor die Suid-Afrikaanse geskiedenis”. Maar dit was by uitstek as kunsskilder dat hy hom vroeg reeds onderskei het toe hy feitlik oornag roem verwerf. Volgens die kunskenner en skrywer Esmé Berman was so iets ongekend in die Suid-Afrikaanse kultuurgeskiedenis. Vanweë sy voorkoms en sy nonkonformisme word hy soms beskryf as “Molteno se James Dean”.

Helena Theron, ook in Die Burger, sê hy was “merkwaardig” as kunstenaar sowel as letterkundige. Hoewel hy nie in dieselfde asem as groot Suid-Afrikaanse kunsskilders soos Stern, Laubser of Pierneef genoem word nie, word hy beslis as ’n voorste Suid-Afrikaanse skilder van die 20ste eeu beskou. Die hoogste prys wat ’n skildery van Meintjes tot dusver (middel 2014) op ’n veiling behaal het, was R668 400 vir sy Swazi Landscape op ’n veiling deur Strauss & Co in die Vineyard-hotel, Kaapstad, vroeg in Oktober 2012.]

In sy kort leeftyd van net oor die 57 jaar is meer as 1 400 koerantberigte en tydskrifartikels oor hom geskryf. Hy het sowat 1 340 skilderye geskilder, tientalle beeldhouwerke geskep asook honderde sketse, grafiese werke en waterverfskilderye. Sy gepubliseerde werke tel 35, terwyl hy ook tallose ongepubliseerde manuskripte nagelaat het, waarvan talle verlore geraak het. Art Archives South Africa.

Kinderjare duimnael|200px|Johannes Meintjes se vader, Ernest, sit op dié foto van 1896 van die Meintjes-kinders van Grootzeekoegat, distrik Molteno. Staande is Katie, Pieter, Johnny, Cornelis en Faan. duimnael|links|190px|Johannes Meintjes as 13-jarige, waarskynlik afgeneem op Riversdal omdat die gesin eers in 1938 Kaap toe verhuis het. duimnael|230px|Die eertydse opstal op die plaas Grootzeekoegat, waarskynlik die oudste in die distrik Molteno, waar Meintjes sy eerste vyf lewensjare deurgebring het. Hy het in 1949 hierheen verhuis, dit later laat vergroot en die res van sy lewe merendeels hier deurgebring. Sy vrou het nog enkele jare ná sy dood in 1980 hier gewoon, maar eindelik het dit uit die Meintjes-familie se besit gegaan, algaande verval en teen 2012 is dit gesloop.

Johannes Meintjes het reeds op ’n baie vroeë ouderdom begin skets, waarskynlik al tydens die eerste vyf sorgelose jare op die familieplaas, Grootzeekoegat, in die distrik Molteno in Noordoos-Kaapland. Die ligging van die eertydse plaasopstal op Google Maps. URL besoek op 4 Junie 2013. Hier was sy vader, Ernest Frederick Meintjes (1893–1928), skaapboer. Wanneer hy nie met sy tekeninge besig was nie, het hy saam met sy vader veld toe gegaan, in die skaapkrale gespeel of saam met sy vader op sy perd gery. Sy moeder, Valerie Keyter, spruit uit een van die mees verfynde families van Wes-Kaapland en is ’n nasaat van die bekende ds. Meent Borcherds, aanvanklik van 1785 tot 1786 leraar van die NG gemeente Kaapstad en vanaf 1786 leraar op Stellenbosch, maar ook 'n skrywer en amateurkomponis wat beskryf is as 'n ontwikkelde en belese man met 'n digterlike gevoel, literêre talent, 'n historiese sin en 'n lewendige gees. Engelbrecht, prof. dr. S.P. 1952. Die Kaapse predikante van die sewentiende en agtiende eeu. Kaapstad, Pretoria: H.A.U.M.-J.H. de Bussy.

Van vaderskant bevind Meintjes se voorgeslagte hulle reeds byna drie en ’n half eeue in Suid-Afrika. Meintjes se vader is skielik op 35-jarige leeftyd oorlede. Volgens Pieter Marincowitz is "dit begryplik dat dit vir die seun die verlies was van 'n vader wat in hoofsaak die held was, en as sodanig was dit 'n groot slag". Marincowitz, Pieter in: 1948. Liriese Werk / Lyrical Work: Johannes Meintjes. Cape Town: The Anreith Press. Mev. Meintjes het noodgedwonge met haar vier kinders, drie seuns en 'n dogter, na haar tuisdorp, Riversdal, verhuis waar Johannes ook vyf jaar tevore gebore is omdat sy moeder telkens vir ’n bevalling daarheen gegaan het. Hier sou hy tot sy vyftiende jaar in 'n een van die oudste huise op die dorp woon, in latere jare die De Doornkraal Boutique Hotel. Greenwoodguides.com . URL besoek op 3 Junie 2013. Op Riversdal het hy hom al hoe meer in teken- en skilderwerk verdiep, veral in studies van mense. Terselfdertyd was skoolgaan vir die jong Meintjes buitengewoon onaangenaam omdat dit inbreuk gemaak het op sy tekenwerk waarin hy merkwaardig bedrewe geword het. Die skool het ook inbreuk gemaak op 'n suiwer verbeeldingswêreld wat sy geloof en vertroue geword het, 'n eensame en private wêreld, maar slegs eensaam weens sy groot skugterheid, as gevolg waarvan hy nie maklik vriende gemaak het nie.

Die bejaarde kunsskilder Jan Volschenk het toe nog gelewe (hy is in 1936 oorlede) en die jong knaap het dikwels by die oubaas se ateljee ingeloer. Volschenk was toe reeds baie oud, met ’n spierwit kop. Johannes het graag na hom en sy landskappe sit en kyk, maar Volschenk is oorlede toe die seun nog baie jonk was. "My eie werk het ek vir almal gewys wat daarna wou kyk,” het Meintjes in 1963 aan die tydskrif Lantern vertel. “Tot my verbasing moes ek ontdek dat ek beter as my onderwyseres kon teken. Ek het my werk op die kunsafdeling van die jaarlikse landbouskou begin uitstal en feitlik al die pryse verower, ’n prestasie wat my in staat gestel het om my eerste olieverf te koop.”

In mnr. Viljoen het hy ’n goeie kunsonderwyser gehad van wie hy baie kon leer en wat hom deurgaans aangemoedig het. Toe hy vyftien was, het hy met olieverf begin werk, al sukkelend omdat hy tot in daardie stadium hoofsaaklik met waterverf en potlood gewerk het, en met sy twee jongste sussies as onwillige modelle. Mev. Meintjes het in 1938 besluit om met haar kinders - ’n seun en drie dogters – na Kaapstad te verhuis. Hier het die jong Johannes se lewe ingrypend verander. Kaapstad sou ook jare daarna sy woonplek bly.

Mnr. H.A. Rust, later Suid-Afrika se ambassadeur in Nederland, was destyds skoolhoof van die Hoërskool Jan van Riebeeck in Tamboerskloof, en hy het spesiaal gereël dat Meintjes kuns as skoolvak kon neem. Die paar skoliere aan wie dié vergunning gemaak is, het kunsklasse van Florence Zerffi in haar ateljee in Wynberg ontvang. Sy was ’n kunstenares van naam, weduwee van die briljante impressionis Strat Caldecott, en ’n baie bekwame dog strenge onderwyseres. So het Meintjes se eerste akademiese onderrig op 15-jarige ouderdom begin. Zerffi het sy talent uitgeken, want sy het aangebied om hom kosteloos ekstra klasse te gee wat niks met die skoolwerk te doen sou hê nie. Sy het sy vordering krities gevolg. Van haar het Meintjes later gesê: “Zerffi was ’n ongenadige onderwyseres, maar deeglik soos min en ek het baie van haar geleer. Haar goeie smaak, vurige opvattings, skerp kritiese sin en wye belesenheid sou my blywend beïnvloed, hoewel haar werk my koud gelaat het."

Invloed van Maggie Laubser duimnael|links|240px|“Young Lovers”, 1949. Volgens ’n berig op 26 Julie 1952 in die Evening Post (’n destydse middagblad in Port Elizabeth) het ’n jong paartjie dié werk, wat sommige mense destyds as “pornografies” beskryf het, vir 60 ghienies (een ghienie was £1 1s.) gekoop. duimnael|200px|Selfportret van Maggie Laubser (1928). Meintjes het gesê sy het hom teruggelei tot die bron van haar werk, die Duitse Ekspressionisme, wat hom gehelp het om sy eie styl te vind. Meintjes vertel in dieselfde onderhoud met Lantern van sy ontdekking van Irma Stern en Maggie Laubser: “Instinktief het ek geweet dat dit die rigting was waarin ek moes werk. Irma Stern se kleurgevoel en Maggie Laubser se komposisie het ’n nuwe wêreld vir my oopgesluit – die Ekspressionisme, waarvan ek toe nog maar min geweet het. Ek het geleer hoe om met olieverf te werk en een na die ander doek voltooi – wild en koorsig. Zerffi het haar bes gedoen om my in toom te hou en te dissiplineer. Aan haar kritiek het ek soveel waarde geheg dat ek elke stuk wat sy goedgekeur het, dadelik geraam het.”

Hy het hom veral aangetrokke tot Maggie Laubser se werk gevoel en was sowat 17 jaar oud toe hy ’n bewonderaarsbrief aan haar geskryf het. Uiteindelik het hulle ontmoet aan die huis van die kunsskilder Cecil Higgs op Stellenbosch. Dit was die begin van ’n groot vriendskap. Meintjes het sy hart en siel in die stryd gewerp om erkenning vir Laubser te verkry. Mettertyd het hy baie oor haar geskryf, artikels en ’n boek (toe hy maar 19 was) en radiopraatjies. (Dié boek het die hoogste prys vir 'n werk deur Meintjes behaal toe dit in 2010 op 'n veiling vir R11 200 van die hand gesit is. www.johannes-meintjes.co.za.)

Meintjes het gesê dit het daartoe gelei dat mense verkeerdelik gedink het sy werk is deur haar beïnvloed, maar dat hy eintlik teruggegaan het na haar bron, die Duitse Ekspressionisme. Dit het hom sy eie styl help vind en sou, volgens ’n skrywer in Die Burger, hom “in staat stel om ’n persoonlike simboliek te ontwikkel om uiting aan sy psigo-seksuele fantasieë te gee”.

Eerste jare ná skool duimnael|links|230px|’n Selfportret uit 1951, toe hy 26 of 27 was. Nadat hy die matriek-eksamen afgelê het, was dit ’n probleem om te weet wat om te doen omdat hy eintlik net wou skilder. Destyds was daar min goeie kunsskole en Meintjes se kunstenaarsvriende het hom aangeraai om hom voorlopig liewer aan sy tweede liefde te wy, naamlik die letterkunde. Hy het na die Universiteit van Kaapstad gegaan met Afrikaans-Nederlands en Engels as hoofvakke en hom as letterkunde-student onderskei.

Tog het hy intensief met sy skilderwerk voortgegaan, in so ’n mate dat hy later sou sê hy weet nie hoe hy ooit sy graad behaal het nie. Tydens sy studie aan die U.K. het hy sy werk vir tallose gesiene kunstenaars in Kaapstad gaan wys, onder wie Lippy Lipshitz, Ruth Prowse, Charles Peers, Gregoire Boonzaier, Jean Welz, Nerine Desmond, Freida Lock en May Hillhouse. Zerffi se invloed het geleidelik begin afneem, Maggie Laubser s’n het toegeneem, nie wat styl en onderwerp betref nie, maar werkmetode. Nietemin sou hy later sê: “(D)ie een van wie ek die meeste geleer het, was May Hillhouse”. Hillhouse was destyds ere-sekretaresse van die K-klub en Meintjes het gemeen dat hy die jongste lid was wat die klub nog ooit gehad het. Sy was ’n aantreklike, donker vrou met ’n diepgaande tegniese kennis van die skilderkuns. Soos in die geval van Zerffi, het May Hillhouse se werk hom “koud gelaat”, maar hy het geglo hy het die meeste van almal by haar geleer. Sy het jare lank elke skildery gesien wat hy gemaak het en elkeen deeglik gekritiseer.

Daar was ook Cecil Higgs van wie hy baie aangaande verfhantering en tekstuurwaarde geleer het.

Na Johannesburg