duimnael|regs|250px|Comrades-huis in Pietermaritzburg, die administratiewe sentrum van die maraton. Die argitek vir die gebou se herontwerp was Wynand Claassen, eertydse Springbok rugbykaptein, wat ook hierdie ultramaraton 10 keer voltooi het. duimnael|regs|250px|Borsbeeld van Vic Clapham by Comradeshuis, Pietermaritzburg.

Die Comrades-maraton is die wêreld se oudste en grootste ultramaraton wat elke jaar oor 'n afstand van ongeveer 90 km gehardloop word. Die wedloop vind plaas tussen Pietermaritzburg en die kusstad Durban. Die rigting van die wedloop word elke jaar gewissel tussen die op-wedren vanaf Durban en die af-wedren vanaf Pietermaritzburg.

Ontstaan Die wedloop is begin as 'n idee van Vic Clapham ('n treindrywer van die Suid-Afrikaanse Spoorweë en veteraan van die Eerste Wêreldoorlog wat in 1918 uit Oos-Afrika teruggekeer het) as herdenking aan die Suid-Afrikaanse soldate wat gedurende die oorlog gesneuwel het.Van Wyk, Alta: Die Comrades-ervaring. In: Suid-Afrikaanse Panorama, volume 33, nommer 9 (September 1988), bl. 39 Clapham is op 16 November 1886 in Londen gebore en het in sy jeug na SA geëmigreer. Met die uitbreek van die oorlog het Clapham in die 8ste Suid-Afrikaanse Infanteriebataljon geveg en oor die 1 700 myl in Afrika gemarsjeer. Die pyn, smart en moeilike tye van sy medesoldate het so 'n groot indruk op hom gemaak dat hy besef het iets spesiaals moet gedoen word om dit te herdenk. Aangesien die Olimpiese maraton nog altyd sy verbeelding aangegryp het, het hy besluit om 'n herdenkingsmaraton te hou en die Pietermaritzburgtak van die oudsoldate-organisasie The League of Comrades of the Great War genader om die saak te bespreek. Die organisasie het egter geweier om só 'n wedloop onder hul beskerming te hou, en Clapham is selfs uitgelag.Van Wyk (1988), bl. 39

Clapham het nie moed opgegee nie, en in 1921 het die organisasie sy toestemming verleen om 'n wedren van 56 myl tussen Pietermaritzburg en Durban te hou met die naam Comrades-maraton as 'n lewende monument vir die soldate van die wêreldoorlog. Die organisasie het aan Clapham een pond vir sy koste geleen wat terugbetaal moes word. Die eerste Comrades-maraton het plaasgevind op 24 Mei 1921 – Ryksdag (Engels: Empire Day) – vanaf die Stadsaal van Pietermaritzburg met 34 deelnemers. Tot in die 1950's het die maraton op Ryksdag plaasgevind.

Die roete regs|duimnael|400px|Die wedlooproete Die wedren word oor 'n strawwe roete afgelê wat vyf heuwels insluit, naamlik Cowies Hill, Fields Hill, Botha's Hill, Inchanga en uiteindelik die berugte Polly Shortts. Met die afwaartse wedloop is daar 'n ewe uitdagende stel heuwels en word baie drawwers verras deur die styl heuwels wat hulle teëkom in 'n ren wat as 'n af-wedloop beskryf word.

Reëls Atlete word tans 12 uur gegun om die wedloop te voltooi. Dit is verleng vanaf die 11 uur wat voor 2003 gegeld het. Daar is 'n aantal afsnypunte langs die roete wat die drawwers voor 'n voorgeskrewe tyd moet bereik as hulle nog in die wedren wil bly.

'n Deelnemer wat 9 maratons suksesvol afgelê het, dra 'n geel nommer, terwyl diegene wat meer as 10 wedrenne kon aflê 'n groen nommer dra wat permanent aan die drawwer vir alle toekomstige wedlope toegeken word.

Medaljes word toegeken aan al die drawwers wat die wedloop in minder as 12 uur aflê. Medaljes wat tans toegeken word, is as volg:

Goue medaljes: Die eerste 10 mans en eerste 10 vroue.

Die Wally Haward-medalje: Vanaf die 11de posisie tot onder 6 uur en 00 minute.

Silwermedaljes: 6 uur en 00 minute tot onder 7 uur en 30 minute

Die Bill Rowan-medaljes ('n bronsmedalje met silwer omring): 7 uur 30 minute tot onder 9 uur 00 minute.

Bronsmedaljes: 9 uur en 00 minute tot onder 11 uur en 00 minute.

Die Vic Clapham-medalje ('n kopermedalje): 11 uur 00 minute tot onder 12 uur en 00 minute.

Voor 2000 is slegs goud, silwer- en bronsmedaljes toegeken. 'n Nuwe medalje, die Bill Rowan-medalje wat vernoem is na die wenner van die eerste Comrades in 1921, is in 2000 ingestel. Die medalje word toegekan aan deelnemers wat tye van tussen 7 uur en 30 minute en 9 uur en 00 minute opstel (voor 2000 sou hierdie deelnemers almal die bronsmedalje ontvang het). Bill Rowan se wentyd in die eerste wedren was 8 uur 59 minute en daarom sou enige wenner van die Bill Rowan-medalje die wedloop in 'n vinniger tyd vinniger afgelê het.

'n Nuwe kopermedalje, die vyfde in die reeks, is in 2003 bygevoeg. Die Vic Clapham-medalje, wat vernoem is na die stigter van die wedren, word toegeken aan diegene wat met 'n tyd van tussen 11 uur 00 minute en 12 uur en 00 minute. Dit stem ook ooreen met die tyd wat na 2000 bygevoeg is om die wedloop te voltooi.

Tradisies

Die Comrades-marathon het verskeie langdurige tradisies wat sentraal staan tot sy identiteit. Een van die noemenswaardigstes is die jaarlikse afwisseling tussen die "op"- en "af"-hardloop, met elke roete wat verskillende fisieke uitdagings bied.

By die beginstreep neem hardlopers deel aan 'n vaste volgorde: eerstens word die Volkslied van Suid-Afrika gespeel, Shosholoza word gesing, Chariots of Fire deur Vangelis word gespeel, 'n opname van Max Trimborn se hanekraai word gespeel, en dan word die afsitterspistool gevuur.

Ongeveer halfpad deur die wedloop gaan hardlopers verby Arthur's Seat, 'n klein uitgrawing in die wal naby Drummond. Daar word geglo dat dit 'n rusplek op die wedloopdag was vir die vyfmalige wenner Arthur Newton. Volgens tradisie bring die groet van "Arthur" of die plasing van 'n blom daar goeie geluk vir die tweede helfte van die wedloop.

Soos hulle die laaste pylvak binnegaan, ontvang die voorste man en vrou elk 'n boekrol met 'n welwillendheidsboodskap van die burgemeester van die beginstad aan die burgemeester van die eindstad, wat die skakel tussen Durban en Pietermaritzburg simboliseer. Daarbenewens kry elk van die top-10- manlike en top-10- vroulike voltooiers 'n rooi roos wanneer hulle die eindpylvak binnekom.

Aan die einde word die 12-uur-afsnytyd streng toegepas. 'n Pistool word presies op die tydsbeperking afgevuur, en hardlopers wat nog nie oor die eindstreep is nie, word nie as amptelike voltooiers getel nie. Onmiddellik daarna word The Last Post deur 'n eensame trompetblaser gespeel om die einde van die byeenkoms aan te dui.

Geskiedenis Die wedren was die idee van Vic Clapham, 'n veteraan van die Eerste Wêreldoorlog om die Suid-Afrikaanse soldate te herdenk wat tydens die oorlog gesneuwel het Clapham, wat 'n mars van 2 700 km mars deur die versengende hitte van Duits-Oos-Afrika verduur het, wou hê die herdenking moet 'n unieke toets van fisieke deursettingsvermoë vir die deelnemers wees. Die grondwet van die wedloop bepaal dat die hoofdoel daarvan is om die gees van die mensdom in tye van swaarkry te vier. Die eerste wedren het 24 Mei 1921 plaasgevind en buiten vir 'n onderbreking tydens die Tweede Wêreldoorlog het dit elke jaar sedertdien plaasgevind. Die maraton in 2015 was die 90ste wedloop.

Van 1962 tot 1994 het die wedloop op Republiekdag, 31 Mei, plaasgevind. Nadat hierdie openbare vakansiedag in die na-apartheidse Suid-Afrika afgeskaf is, is die wedloopdatum verander na Jeugdag, 16 Junie. In 2007 het die wedrenorganiseerders egter op omstrede wyse geswig onder politieke druk deur die ANC-jeugtak, wat gevoel het die wedren lei die aandag van die betekenis van Jeugdag af, en die wedloopdatum vir 2007 na die Sondag 17 Junie verander.

Die 1920's Altesaam 48 drawwers het ingeskryf vir die eerste wedloop in 1921, maar toe die wegspringskoot knal, was daar slegs 34 drawwers wat kans gesien het vir die moordende wedloop, veral gesien in die lig daarvan dat slegs die laaste paar kilometers daarvan na Durban toe geteer was. 'n Tydsbeperking van 12 uur is daargestel en Bill Rowan het die eerste wenner geword met 'n tyd van 08:59, wat 41 minute vinniger was as dié van Harry Phillips wat tweede geëindig het. Van die 34 deelnemers het slegs 16 die wedloop voltooi.

Arthur Newton het die wedloop vir die eerste keer in 1922 gewen. Hy het daarna nog vier wedlope gewen om die oorheersende drawwer van die 1920's te word. Toe hy die af-wedloop in 'n tyd van 06:56 in 1923 voltooi, was daar beswaarlik 'n handjievol mense om sy oorwinning te aanskou aangesien niemand geglo het dat dit moontlik was om die afstand so vinnig af te lê nie. Die eerste vrou wat aan die wedloop deelgeneem het, was Frances Hayward in 1923, maar haar inskrywing is van die hand gewys en dus was sy 'n nieamptelike deelnemer. Sy het die wedloop in 'n tyd van 11:35 voltooi en alhoewel sy nie 'n Comrades-medalje verower het nie, het 'n aantal drawwers en toeskouers haar met 'n silwer teestel en bak vir haar moeite beloon. In 1924 het die Comrades die minste drawwers nog gehad met net 24 deelnemers. Vier jaar later, in 1928, is die tydsbeperking vir die voltooiïng van die wedloop met 'n uur na 11 uur verminder.

Die 1930’s In die 1930's was Hardy Ballington die oorheersende deelnemer met vyf oorwinnings in 1933, 1934, 1936 en 1938. Die wenner van die 1930-wedloop, Wally Hayward, sou egter een van die wedloop se grootste legendes word en het nog vier keer gewen in die 1950's. Hy was ook in 1989 die oudste man wat die wedloop voltooi het. In 1932 was Geraldine Watson, ook 'n nieamptelike deelnemer, die eerste vrou wat beide die op- en die af-wedloop voltooi het.

Die 1940’s Na Ballington se oorheersing van die 1930's is die Comrades gestaak tydens die oorlogsjare vanaf 1941 tot 1945. In hierdie tydperk is twee van die vorige wenners van die wedloop, Phil Masterson-Smith en Frank Sutton, dood. In 1948 is nog 'n Comrades-tradisie gebore toe die wedloopbeampte Max Trimborn in plaas van die gewone afsitpistool 'n hoenderhaan se kraai nagemaak het. Die tradisie duur tot vandag toe voort met Trimborn se stem wat op band teruggespeel word.

Die 1950's In die 1950's het Wally Hayward sy tweede wedloop 'n volle 20 jaar na sy eerste oorwinning gewen en dit toe gevolg met oorwinnings in 1951, 1953 en 1954. Hy sou waarskynlik in 1952 ook gewen het, maar het verkies om Suid-Afrika by die Olimpiese Spele van 1952 in Helsinki te verteenwoordig, waar hy die 10de plek in die maraton behaal het. Ironies genoeg was dit eers na Wally Hayward se aftrede van die Comrades en nadat hy rekords vir die op- en afwedlope opgestel het en daarmee Newton Ballington se aantal oorwinnings geëwenaar het, dat sy prestasies die publiek se verbeelding aangegryp het en die aantal atlete verdubbel het na 100 atlete. In 1958 is die wedloop vir die eerste keer gewen deur Jackie Mekler, wat die maraton vyf keer sou wen, twee keer die tweede plek sou behaal en drie keer in die derde plek sou eindig.

Die 1960's Die 1960's was 'n betekenisvolle tydperk vir die Comrades-maraton met die aantal atlete wat gegroei het van 104 in 1960 tot 703 in 1969. As gevolg van die groter getal atlete is afsnypunte ingestel by Drummond en Cato Ridge. Mekler het 'n mylpaal behaal deur in 1960 die eerste man te word wat in minder as ses uur klaarmaak deur die wedloop in 'n tyd van 5:56:32 te voltooi. Die wenner in 1961 was George Claassen, 'n skoolhoof en vader van Wynand Claassen, die bekende Springbokrugbykaptein, wat ook die Comrades later 10 keer voltooi het.

In 1962 het buitelandse deelnemers vir die eerste keer aan die wedloop deelgeneem toe die Road Runners Club van Engeland vier van die beste langafstandatlete in Brittanje gestuur het. Een van die vier, John Smith, het die wedloop gewen tydens die op-wedloop in minder as ses uur en die rekord met 'n skamele 33 sekondes misgeloop.