duimnael|250px|Klere deur die eeue heen.
Klere of kleding is die bedekking wat mense oor hulle liggame dra om hulle naaktheid te bedek. Mense is die enigste diere wat klere dra. Verskillende kledingstukke word gebruik om verskillende dele van die liggaam te bedek. So kan die lyf met ’n hemp of rok, arms met moue, bene met ’n langbroek of romp, hande met handskoene, voete met kouse en die kop met ’n hoed of mus bedek word. Klere word van verskeie materiale vervaardig. Katoen, wol, leer en poliëster word dikwels hiervoor ingespan.
Alle mense dra klere. In ’n kouer klimaat dra mense gewoonlik meer klere om hulle teen die koue te beskerm. Mense in warm tropiese lande dra soms klere om die warm son af te weer. Klere kan ook vir beskerming gedra word, en kan selfs mense teen insek- en slangbyte beskerm. Klere word ook soms vir modieuse redes of as ’n statussimbool gedra.
Bybehore soos beursies, kieries, juwele, brille en sambrele word saam met klere gedra
Geskiedenis Dit is bykans onmoontlik om te bepaal hoe lank mense al klere dra. Die bestudering van luise dui daarop dat die luise wat in klere leef ongeveer 107 000 jaar gelede van kopluise ontstaan het."...Lice Indicates Early Clothing Use ...", Mol Biol Evol (2011) 28 (1): 29-32. Klere moes dus in dié tyd reeds in gebruik gewees het. ’n Ander teorie is dat die moderne mense die enigste oorlewendes van verskeie spesies van primate is wat klere kon gedra het en dat klere so lank as 650 duisend jaar gelede reeds in gebruik was. Ander luisgebaseerde beramings stel die tydperk op ongeveer 42000-72000 v.C.
In die kleredraggeskiedenis word die ontwikkeling van kleredrag onder verskillende volke en groepe bestudeer, met die klem op Wes-Europa. Oor die algemeen het die basiese klere-ontwerpe eeue lank dieselfde gebly, behalwe in Wes-Europa, waar die modes sedert die Middeleeue vinnig verander het. By talle volke kan uit iemand se klare afgelei word wat sy status in die samelewing is. So byvoorbeeld dui ’n lang gewaad wat beweging aan bande lê, altyd op hoë status. Kleredraggeskiedenis is ’n belangrike hulpwetenskap vir die etnologie (volkekunde), kultuurgeskiedenis en kunsgeskiedenis.
Algemeen Ou kledingstukke wat bewaar gebly het, vorm maar ’n klein deel van die kennis oor die geskiedenis van klere. Klere is gewoonlik nie gebêre nie, maar gedra totdat dit verslete was. Tekstiel is buitendien baie verganklik. Veral uit die tyd voor die 16de eeu het min oorspronklike kledingstukke bewaar gebly. ’n Mens is dus sterk aangewys op tekste waarin klere beskryf word en op die beeldende kuns.
Sedert die 18de eeu is modetydskrifte ’n belangrike bron van inligting. In die vroeë geskrifte en in die beeldende kuns word egter hoofsaaklik die klere van die hof en die welvarende burgers uitgebeeld en word daar maar min aandag gegee aan die klere van die groot massa mense van die laer sosiale klasse. Hulle klere was eenvoudiger en het ook uit minder onderdele bestaan.
Hulle het die rykes se kleredrag egter sover moontlik probeer navolg en daarom kan die verskillende modestyle in tot die eenvoudigste kledingstukke herken word. Kleredrag was eeue lank aan voorskrifte onderworpe. Vir elke stand was daar voorskrifte oor die soort materiaal, die aantal kledingstukke en die bykomstighede soos juwele, handskoene, handtasse, sjaals en skoene wat gedra moes word.
Mense se sosiale status was dus duidelik herkenbaar aan hul kleredrag. Onpraktiese en duur klere het aangedui dat die persoon nie tot die werkersklas behoort het nie. Mense met ’n lae sosiale status kon dit nie bekostig nie en is ook nie toegelaat om duur en deftig aan te trek nie. Alle duur klere is deur snyers en kleremakers volgens hul klante se mate gemaak. Die gebruik het met die opkoms van voorafvervaardigde klere teen die einde van die 18de eeu (eers in Frankryk) geleidelik tot ’n einde begin kom. Meer mense kon toe meer en beter klere teen ’n billiker prys koop. Die onderskeid tussen ryk en minder welvarende mense se klere het veral na die Tweede Wêreldoorlog minder opvallend geword.
Mode Die mens bedek sy liggaam in die eerste plek om dit teen koue en hitte te beskerm. Behalwe die klimaat het godsdiens ook ’n invloed op kleredrag uitgeoefen, wat by die primitiewe mens dikwels tot uiting gekom het in tekeninge en tatoeëermerke aan die liggaam. Estetiese oorwegings het deur die loop van eeue ’n al hoe groter rol begin speel, en hieruit het die verskynsel "mode" ontwikkel, naamlik klere wat in die eerste plek nie op grond van funksionele of godsdienstige oorwegings gekies is nie, maar wat gekies is om die liggaam te vlei of te tooi.
Klere het nou ’n luukse of versiering geword, hoewel nog hoofsaaklik vir hooggeplaastes. Mode as sodanig het vir die eerste keer in Antieke Egipte na vore getree. In Wes-Europa was daar in die tyd van die Germane, die Franke en die Karolingers nog nie eintlik sprake van mode nie: Klere het geen spesiale snit gehad nie en het hoofsaaklik uit die tradisionele wye tuniek met aangesnyde moue en mantels bestaan. Van die 12de eeu af het klere in Wes-Europa modieus begin word, gedeeltelik onder invloed van die nuwighede wat deur middel van die Kruistogte uit die Ooste na die Weste gebring is. Die liggaam is hier en daar beklemtoon en die materiaal is volgens die lyne van die liggaam gesny en aanmekaargestik.
Tydens die Romaanse en Gotiese tydperk was die mode internasionaal; in die 15de eeu het Boergondië die toon aangegee en in omstreeks 1500 Duitsland. Die Italiaanse kleredrag het in die 15de tot 16de eeu ’n eiesoortige karakter gehad en was een van die min kulturele aspekte van die Renaissance wat nie in die hele Europa nagevolg is nie. In die tweede helfte van die 16de eeu het Spanje die modetoon in Europa aangegee en van die 17de eeu af Parys. Dit het so gebly, hoewel die invloed van Londen aan die einde van die 18de eeu al hoe groter geword het.
Deesdae is Parys, Rome, Londen en New York die belangrikste modesentra. Vroeër het die koninklike hof die modetoon aangegee; deesdae doen ontwerpers dit, terwyl die rolprent- en vermaakwêreld ’n rol speel in die ontstaan van nuwe modestyle. Die eerste belangrike modeontwerper, dit wil sê skepper van ’n nuwe styl, was Charles Frederic Worth (1825-1895), wat sy modehuis omstreeks 1860 in Parys geopen het.
duimnael|240px|links|'n Baba in warm klere toegedraai. Van die eeuwisseling tot 1924 was Paul Poiret ’n beroemde ontwerper, terwyl Christian Dior na die Tweede Wêreldoorlog met sy "New Look" die toon aangegee het. In die jare vyftig en sestig was Coco Chanel, André Courrèges en Nina Ricci belangrike modeontwerpers. Die mode in Wes-Europa en in die lande onder Europese invloed het die meeste en ingrypendste stylwisselings ondergaan. Die klere van die Asiatiese volke berus sterk op tradisie en het eeue lank feitlik dieselfde gebly.
Dieselfde geld vir die klere in die uiters warm of uiters koue gebiede, waar die mense tradisionele klere dra wat by die klimaatstoestande aangepas is. Van omstreeks die 16de eeu af het daar verskille ontstaan tussen die kleredrag van die stadsmens en die meer tradisionele kleredrag van die plattelander.
Die kenmerkendste style van die meeste hedendaagse klere dateer nie verder terug as die 18de eeu nie. Die plattelanders het net enkele aspekte van die "stedelike fratse" oorgeneem.
Ook in militêre kleredrag is talle tradisioneel geskiedkundige aspekte gehandhaaf, soos byvoorbeeld die epoulette, wat voorheen ’n funksionele onderdeel van die uniform was (dit moes voorkom dat koorde waaraan daar byvoorbeeld beuels vasgemaak is, afval), maar wat nou net as onderskeidingsteken dien.
Materiale Klere is aanvanklik uit natuurlike stowwe, sowel dierlik (velle, wol, sy) as plantaardig (vlas, katoen, hennep en jute wat tot garing verwerk is) vervaardig. Tande, skulpe en horings is onder meer as versiering gebruik. Die plantaardige materiale kon weer deur verskillende bewerkingsprosesse in nuwe stowwe soos batis, brokaat, seildoek, crêpe, damas, fluweel, moeselien, satyn, vilt en talle ander omskep word. Metale soos yster en brons is vir verstewiging, versiering en vashegting in klere gebruik. Sedert die 20ste eeu is sintetiese stowwe, byvoorbeeld nylon, dacron en orlon, wat duursamer is as byvoorbeeld wol of sy, vervaardig.
Oudheid
thumb|180px|'n Antieke Egiptiese koningin. Egipte Uit die talle afbeeldings wat bewaar gebly het, kan ’n goeie beeld gevorm word van die klere wat die Ou Egiptenare van 4000 tot 1000 v.C. gedra het. Hulle het hoofsaaklik linne gebruik; wol is net in enkele gevalle gebruik. Die mans het ’n lendedoek, die schenti, ’n tuniek, die kalasiris, en ’n sjaal, die sindon, gedra. Die slawe het net die schenti gedra, terwyl die welgestelde Egiptenare die sindon oor hul lendedoeke gedra het. Die sindon het van die heup of van die oksels af tot by die onderbeen gestrek.
Die kalasiris was ’n lang, geplooide gewaad wat om die liggaam gedrapeer is. Van omstreeks die 16de eeu v.C. af het alle welgestelde Egiptenare ’n breë, los kraag gedra wat tot oor die skouers geval het. Die klaft, ’n linne-hoofbedekking, is dikwels deur mans gedra. Dit het bestaan uit ’n doek wat in ’n punt op die rug gehang en oor die ore 2 breë flappe gevorm het wat tot op die skouers gereik het. Die hooftooisel het dikwels ’n simboliese betekenis gehad.
Die verskillende Egiptiese gode kan byvoorbeeld aan hul hoofbedekkings herken word: die farao se kroon is byvoorbeeld saamgestel uit twee vroeëre krone wat onderskeidelik die benede- en die boryk voorgestel het. Die saamgestelde kroon het simbolies daarop gedui dat die farao oor albei ryke geheers het. Die Egiptiese vrou het, net soos haar man, die ryklik geplooide katasiris gedra, asook ’n lang, regaf kleed wat van die oksels af gestrek het en deur een of twee skouerbande bo gehou is. Die vroue het ryklik van grimering gebruik gemaak: Die oë en wenkbroue is met swart beklemtoon, die lippe is rooi gemaak en die naels is geverf. Ryk vroue het dikwels ’n pruik van menshare of skaapwol gedra. Mans en vroue het sandale van gevlegte riet of leer gedra.
Mesopotamië Die welgestelde Babiloniër van omstreeks 1700 v.C. het ’n lang kleed met kort moue gedra, terwyl die vroue lang moue gedra het. Bo-oor is ’n lang stuk materiaal gedra wat oor die skouer na agter gegooi is sodat dit ’n soort mantel gevorm het. By plegtighede is die kanaukes gedra, ’n lang wolrok wat tot by die enkels gereik het. Die gewone man, veral by die Mede, die Hetiete en die Semiete, het net ’n lendedoek gedra. Die Assiriërs (omstreeks die 9de eeu v.C.) het ’n moulose tuniek gedra met ’n mantel wat op dieselfde manier as die Babiloniërs s'n gevou was.
Die klede is dikwels met borduurwerk van blomme, diere of geometriese patrone versier. Onderaan die soom was daar ’n swaar fraiing. Die Perse (omstreeks 500 v.C.) het bonkige wolklere by lang, nousluitende broeke en hoë hoede met wangflappe gedra. Die kandes was ’n lang, wye hofkleed met sogenaamde vals moue, dit wil sê geplooide skouerstukke, terwyl die rok uit gedrapeerde plooie bestaan het. Al die Mesopotamiërs het hul hare en baarde goed versorg. Hulle het ook sandale van gevlegte riet of leer gedra.
Kreta en Micene Die Minoïes-Kretensiese klere (omstreeks 1500 v.C.) het van die ander klere van die Oudheid verskil omdat geen gedrapeerde kledingstukke voorgekom het nie. ’n Kenmerk van die klere was dat die slanke middellyf beklemtoon is. Die man het ’n linne-lendedoek met ’n stywe seintuur gedra, terwyl die vrou ’n lang, klokvormige rok met ’n klein ronde voorskootjie gedra het. Die halslyn was laag gesny sodat die borste volkome sigbaar was. Die mans sowel as die vroue het hul hare lank en loshangend gedra.
Griekeland thumb|150px|'n Antieke Griekse vrou in 'n peplos.