Die perd (Equus ferus caballus) is 'n mak hoefdier uit die onewehoewige diere-orde. Dit is een van slegs twee bestaande subspesies van dierspesie Equus ferus, of die wildeperd. Die perd is een van die ongeveer tien huidige spesies van die familie Equidae.
Sebras en donkies behoort ook tot die perdegenus. 'n Manlike perd is 'n hings en 'n vroulike perd is 'n merrie. Die algemene term vir 'n jong perd is 'n vul. 'n Gekastreerde hings is 'n reun.
Die mens het reeds in 4000 v.C. perde begin mak maak en teen 3000 v.C. was dit 'n algemene en wydverspreide gebruik. Perde in die subspesie caballus is mak, hoewel sommige mak bevolkings in die natuur soos wildeperde leef. Hierdie wilde bevolkings is nié ware wildeperde nie. Die term "wildeperd" word gebruik om perde-subspesies wat nog nooit mak was nie, soos die bedreigde Przewalski se perd, 'n aparte subspesie, en die enigste oorblywende ware wildeperd te beskryf.
Eienskappe Die perd het oor die afgelope 45 tot 55 miljoen jaar van 'n klein dier met vyf tone tot 'n enkeltonige dier ontwikkel. Die perd se hoef is eintlik die vergrote nael van die middeltoon.
Perde se liggaamsbou stel hulle in staat om hul spoed te gebruik om van roofdiere te ontsnap. Hulle het 'n goedontwikkelde sin vir balans en 'n sterk veg-of-vlug-instink. Perde is in staat om beide te staan of te lê wanneer hulle slaap. Vroulike perde, merries genoem, se dragtydperk is ongeveer 11 maande. 'n Vul kan reeds kort na sy geboorte staan en loop. Die meeste mak perde begin opleiding onder saal of in die tuig tussen die ouderdomme van twee en vier jaar. Hulle bereik volle volwasse ontwikkeling op die ouderdom van vyf jaar en het 'n lewensverwagting van tussen 25 en 30 jaar.
Perderasse word losweg in drie kategorieë ingedeel gebaseer op algemene temperament: "warmbloed" met spoed en uithouvermoë, "kouebloed", soos trekperde en sommige ponies, wat geskik is vir stadige swaar werk, en kruisings tussen warmbloed en kouebloed,
Tans is daar is meer as 300 perderasse in die wêreld wat vir baie verskillende gebruike geteel word.
Ontwikkeling Die ontwikkeling van die perd deur die eeue tot sy huidige voorkoms is 'n voorbeeld van die evolusie van klein, woudbewonende plantvreters met 'n aantal tone aan die pote tot groot grasvreters met 'n enkele toon en 'n hoef waarmee hulle vinnig oor die harde grasvlaktes kan beweeg. Teenswoordig word algemeen aanvaar dat die genus Hyracotheriurn (ook Eohippus), wat in die Eoseen (sowat 54 miljoen jaar gelede) in Europa en Noord-Amerika voorgekom het, die voorloper van alle perdagtiges was.
Dit was klein diertjies wat skaars 30 cm hoog was en so as 'n agoeti ('n Suid-Amerikaanse knaagdier) gelyk het. Teen die einde van die Eoseen het groter spesies (genera Orohippus en Epihippus) ontwikkel. Die bou van hul pote het nog baie met dié van hul voorgangers ooreengestem, maar hulle het ʼn ingewikkelder stel maaltande gehad. 'n Nuwe groep perdagtiges, die subfamilie Anchitheriinae, het in die Oligoseen (sowat 38 miljoen jaar gelede) ontwikkel.
Die diere het net 3 tone per poot gehad, maar waarskynlik nog geen hoewe nie. Gedurende die Mioseen (sowat 26 miljoen jaar gelede) het die tropiese klimaat van die Noordelike Halfrond na 'n droër klimaat met wisselende seisoene verander. As gevolg daarvan het baie woude verdwyn en oop grasvlaktes ontstaan. 'n Groot aantal tone aan die voet is nadelig op die vlakte omdat die groot aanrakingsoppervlak vaart belemmer.
Gedurende hierdie tyd het ook talle groter diere met 3 tone en sterk hoewe ontstaan. Hulle het egter hoofsaaklik op die middelste hoef gesteun. Die gebit is ook aangepas by die harde, taai gras; die krone het breër en vlakker geword en 'n emaljebedekking bygekry. Afgesien van die bykomende tone het die perde van die Mioseen al baie soos die huidige perde en sebras gelyk. Die genus wat die beste verteenwoordig was, was Hipparion. duimnael|regs|'n Afgietsel van die bloedvatstruktuur in 'n perdehoef Die eerste egte perde, met een toon en 'n hoef, het in die Bo-Mioseen (sowat 10 miljoen jaar gelede) ontwikkel. Die voorlopers van die moderne perdagtiges het almal in Noord-Amerika ontstaan en het van daar af na Eurasië versprei via die landbrug wat in die prehistoriese tyd tussen die 2 kontinente bestaan het. Hipparion het van Asië verder na Europa en Afrika versprei. In Suid-Afrika het daar 'n miljoen jaar gelede naas egte sebras ook nog die genus Stylohipparion met 3 tone voorgekom.
Die egte perde het ook in Noord-Amerika ontstaan. Een spesie (Equus andium) het na Suid-Amerika versprei en het eers in vroeg-historiese tyd in die Pampas van Argentinië uitgesterf. Egte sebras en perde het nog lank in Noord-Amerika oorleef en die laaste spesie (Equus scotti) het nog 8 000 jaar gelede daar voorgekom. Toe Columbus die Nuwe Wêreld ontdek het, was daar egter in geeneen van die Amerikas meer perde nie. Hulle het toe nog net in Asië en Europa voorgekom.
Wildeperde duimnael|regs|'n Przewalski-perd wat in die Khomyn Tal-streek van Mongolië hervestig is Ondanks die groot aantal verskillende rasse behoort alle moderne perde tot dieselfde takson, naamlik Equus (f.) caballus. Van die oorspronklike wildeperde waaruit hierdie rasse ontstaan het, is uit historiese tyd net 2 subspesies bekend: die tarpan (Equus caballus gmelini) en die Przewalski-perd (Equus caballus przewalskii). Die tarpan was 'n klein muisgrys perd met swart strepe oor die knieë en nek. Soos alle ander wildeperde het hy ook 'n donker dwars streep (aalstreep) oor die rug gehad.
Die tarpan was in Wes-Europa reeds in die 13de eeu uitgeroei, maar het in Pole nog tot omstreeks 1814 oorleef. Die sogenaamde tarpans wat in dieretuine besigtig kan word, is teelprodukte wat net uiterlik soos die egte tarpan lyk. Die Przewalski-perd is vernoem na sy ontdekker, die Russiese ontdekkingsreisiger Nikolai M. Przewalski (1839-1888). Die perd het tot onlangs nog wild in die grensgebied tussen China en Mongolië voorgekom, maar is teenswoordig waarskynlik heeltemal uitgeroei of met huisperde vermeng.
Sedert die begin van die eeu, toe Carl Hagenbeck (1844-1913) 'n aantal vullens na Hamburg gebring het, oorleef die subspesie in enkele dieretuine. Om van die teelresultate boek te hou, word inskrywings in 'n stamboek in Parys gedoen. Hoewel daar tans sowat 200 diere in die stamboek aangeteken is, is hul voortbestaan nie verseker nie. Hulle is nie baie vrugbaar nie en aangebore afwykings as gevolg van inteling kom dikwels voor. Die wildlewende perde van Suid-Afrika (te Kaapsehoop), Namibië (wes van Aus), Argentinië, Noord-Amerika en Australië is verwilderde afstammelinge van gedomestikeerde perde wat deur die koloniste ingevoer is.
Domestikasie duimnael|regs|Perde word ook in sportsoorte soos polo benut. Aanvanklik was die perd 'n gewilde jagdier vir die mens. Dit blyk uit perdereste wat by prehistoriese nedersettings gevind is, asook uit grottekeninge in Frankryk en Spanje. Perde is in omstreeks 2000 v.C. as trekdiere vir strydwaens gebruik, maar dit kan wees dat die eerste pogings om perde te tem, reeds vroeër aangewend is. Die feit is dat die domestikasie van die perd op verskillende plekke in Asië en Europa onderneem is; vandaar die verskillende tipes van die moderne perd wat voorkom.
Die subspesies waaruit hulle afstam, kan in 3 ot 4 groepe ingedeel word. Die Exmoorponie en die Poolse konik is onder meer moontlik afstammelinge van die noordse ponies, waartoe ook die tarpan en die Przewalski-perd gereken word. Die tweede groep, bestaande uit groter, swaardertipes, het in die noordelike toendras geleef en waarskynlik min tot die huidige rasse bygedra. Die wildeperde wat tydens die laaste ystyd in Europa voorgekom het, is waarskynlik belangriker. Hulle was ook groot en swaar en het moontlik 'n rol gespeel by die ontstaan van die koudbloedrasse (groot, swaar perde met 'n groot skedel, lang liggaam en bedaarde geaardheid).
'n Vierde groep, wat uit fossiele egter nouliks bekend is, sou die voorloper gewees het van die Arabierperd en ander warmbloedrasse (slank perde met 'n smal skedel en 'n lewendige temperament). Die afstammingsgeskiedenis van perde berus egter steeds meer op gissings en gedragstudies as op fossielbewyse.
Perdeteelt duimnael|regs|'n Afbeelding van 'n perdekop gevind te Achet-Aton, wat uit die Amarna-periode van die 18de Dinastie van Egipte dateer Perde word in feitlik alle lande van die wêreld geteel, maar die aantal stoeterye het in die loop van die 20ste eeu algaande afgeneem, veral weens die meganisasie in die weermag en die landbou. Sedert die sewentigerjare neem die perdestapel egter in baie lande weer toe as gevolg van die vraag na perde vir perdesport en ontspanning. Teling met uitgesoekte perde het waarskynlik al in Babilonië en in antieke Egipte plaasgevind.
Deur die eeuelange doelbewuste seleksie en teling het die perderasse ontstaan waaraan die betrokke gemeenskap die grootste behoefte gehad het. Hingste kan met merries van 'n ander ras gekruis word, maar die beste resultate word gewoonlik verkry wanneer daar met hingste en merries van dieselfde ras geteel word. Vir teeldoeleindes word slegs perde gebruik wat so min moontlik gebreke het en so veel moontlik van die eienskappe besit wat in die nageslag aanwesig moet wees.
In baie lande moet die hingste waarmee geteel word, amptelik goedgekeur word, hetsy deur die owerheid of deur inskrywing in 'n stamboek (register waarin die afstamming en kenmerke van ʼn bepaalde ras aangeteken word). In sommige lande, byvoorbeeld Frankryk, word die stoeterye ook onder staatstoesig gedryf.
Bekende rasse Die Arabier is die oudste erkende perderas en word oor die algemeen ook as die edelste beskou. Daar is feitlik geen moderne ras wat nie deur die Arabier beïnvloed is nie. Volgens oorlewering het die ras regstreeks afgestam van die 5 (of 7) legendariese merries wat Mohammed van sy aanhangers ontvang het. Die perde is oorspronklik in die hoogland van Nedzjd in Saoedi-Arabië geteel, maar teenswoordig is die vernaamste stoetery in Egipte.
Die rasegtheid van Arabierperde, wat as ry-, tuig- en renperde gebruik word, word deur die World Arabian Horse Organization (WAHO) op peil gehou. Die Engelse Volbloed (Thoroughbred) het ontstaan uit 3 Oosterse hingste, naamlik die Byerley Turk, die Darley Arabian en die Godolphin Barb, wat tussen 1689 en 1730 na Engeland ingevoer en met Engelse merries gekruis is. Die ras word sedert die einde van die 18e eeu suiwer geteel met hingste wat in die General Stud Book, die eerste stamboek vir perde, geregistreer is. Die Engelse Volbloed is by uitstek 'n renperd en die belangrikste stoetery is in Newmarket in Engeland. 'n Ander ou, bekende ras is die Lipizzaner. duimnael|regs|265px|'n Jong Lipizzaner wei by die Lipica-stoetery wat in 1580 deur die Habsburgse aartshertog Karel II gestig is Die perde het beroemd geword deurdat hulle die enigstes was wat by die Weense Hofryskool (in 1729 deur keiser Karl VI gestig) vir hoërskoolry gebruik is. Lipizzaners is oorspronklik uit onder meer die Spaanse Andalusiër op 'n landgoed te Lipica (Lipizza in Italiaans) in Slovenië geteel. Teenswoordig is daar ook stoeterye in Oostenryk en Hongarye. Van die gewildste rasse wat die VSA geteel word, is die Amerikaanse saalperd, die Amerikaanse Standard Bred en die Amerikaanse Kwartmyler, wat ontstaan het deurdat Engelse Volbloedhingste met plaaslike merries gekruis is. Eersgenoemde 2 rasse is gewilde ryperde met hoë gange wat hoofsaaklik vir skoudoeleindes gebruik word.