Bertrand Retief is 'n Suid-Afrikaanse rolprentregisseur en skrywer. Hy was 'n skakelbestuurder by Krygkor.Oud-fliekmaker skryf sewende boek, Beeld, 31 Maart 1998Aandag troepe! Dis tyd om te skaterlag, Beeld, 26 Oktober 1990

Lewe en werk Bertrand Renaldo Retief is op 29 Maart 1936 op die NG Kerk Sendingstasie Nkhoma in Njassaland (tans Malawi) gebore waar sy pa, Renaldo Leopold Retief, ’n sendingdokter was. Hy begin sy skoolopleiding hier in Malawi en tydens die Tweede Wêreldoorlog maak hy hier as kind die eerste keer kennis met die militêre. In 1945 keer die gesin terug na Suid-Afrika en hy gaan skool op Umtata in Transkei en vanaf 1948 aan Bellville Hoërskool, waar hy in 1953 matrikuleer. In 1954 verhuis die gesin na Pretoria waar hy by die Departement van Justisie werk en by die Universiteit van Pretoria inskryf vir ’n Dip. Iuris, maar hy voltooi slegs sy tweede jaar. Hierna sluit hy in 1959 by die Suid-Afrikaanse Toerismekorporasie (Satoer) aan. Op 4 April 1959 trou hy met die onderwyseres Naudeen du Toit, oorspronklik van Worcester, en hulle het drie kinders, Anell, Müller en Ingrid.

In 1961 word hy deur Satoer na Londen verplaas en hy word in 1963 bestuurder in beheer van hierdie kantoor. Hier bly hy tot 1967 en keer dan terug na Suid-Afrika. In Suid-Afrika werk hy vir ’n jaar by Saambou Bouvereniging en daarna vanaf 1969 by Federale Volksbeleggings se hotelgroep, waar hy Cape Hotels se bemarkingsbestuurder is. In 1973 begin hy werk by Kavalier Films as reklamebestuurder. Hier skryf hy die draaiboek vir die rolprent “Groetnis vir die Eerste Minister” en word dan as regisseur aangestel. Hy is as regisseur betrokke by die maak van verskeie rolprente vir Kavalier Films, onder andere “Seun van die wildtemmer”, “Groetnis vir die Eerste Minister”, “Mirage-eskader”, “Hank Hennery en vriend”, “Ses soldate” en “Boland”. Wanneer Kavalier Films in 1978 tot niet gaan, voltooi hy die rolprent “Pretoria O Pretoria” wat hy by hulle begin het en skep dan verskeie dokumentêre programme vir die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie. Hierdie programme sluit in ’n Vakansieoorde-reeks met Jan Spies as verteller, ’n Engelse dokumentêre program “The Spirit of the Spitfire” oor die vlieënier Larry Bennett wat in Benoni sy eie Spitfire bou en laat vlieg het en die “Opdrag”-reeks oor die Suid-Afrikaanse Weermag en die bosoorlog.

Hy sluit hom intussen ook aan by die Suid-Afrikaanse Weermag, waar hy die Burgermagkursusse by Danie Theron Krygskool in Kimberley deurloop. In 1976 verrig hy grensdiens en in 1982 word hy tot kommandant bevorder. Na sy grensdiens versorg hy ’n aantal oudiovisuele skyfiereekse vir die Suid-Afrikaanse Leër, waar hy beide die draaiboek skryf en die verfilming behartig. In 1978 aanvaar hy ’n pos by die Suid-Afrikaanse Permanente Bouvereniging as reklamebestuurder en in 1982 sluit hy as rekeningebestuurder aan by die reklame-agente McKinstry Schönfeldt en Vennote. In 1983 sluit hy permanent aan by die Staande Mag as Direkteur, Openbare Betrekkinge van die Suid-Afrikaanse Lugmag, met die rang van kolonel. Ná sy aftrede vestig hy hom op Hartenbos en tree hiervandaan op as toerleier vir buitelandse toergroepe wat die slagvelde van die Anglo-Boereoorlog besoek. Hy is volle lid van die Openbare Skakelinstituut van Suid-Afrika, volle lid van die Vereniging van Industriële Redakteurs en lid van die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings (FAK).

Skryfwerk Sy debuut as gepubliseerde skrywer maak hy met die “Drietal” jeugreeks, waarin Kaptein Verster met behulp van sy twee jong vriende Christo van Greunen en Kobus Roux talle avonture beleef. In “Drietal langs die Okavango” ondersoek hulle onheilspellende bedrywighede langs die Okavangorivier. “Drietal langs die Wildekus” speel af langs die Wildekus van Transkei. Hier daag kort-kort ’n duikboot op om wapens af te laai met uiteindelike bestemming êrens in die binneland. Hulle weet waarvandaan die wapens kom, maar waarheen dit gaan is nog ’n geheim. Dit moet egter so spoedig moontlik uitgevind word, want die saboteurs gaan binnekort toeslaan. “Drietal in die Kalahari” is nog ’n gevaarlike sending, hierdie keer in die woestyn.

Terwyl hy in Londen is, verskyn sy eerste kortverhale in die Byvoegsel van Die Burger, met die onderwerp die Britte se snaakse gewoontes. Hierna spits hy hom toe op kortverhale oor die grensoorlog, gegrond op die werklikheid soos hy dit beleef het, wat hy in “Tweede prys is ’n houtjas” en “Half boom, half mens” bundel. “Tweede prys is ’n houtjas” is grensstories uit Ovamboland, waarin die taal van die gewone soldaat die lewe in die bos skets soos dit is. Die titel verwys na wanneer die soldaat in ’n doodskis huis toe kom. Die verhale behandel die sielkundige impak van die stryd, die uitputting, vrees en moed en ook van die durende teenwoordigheid van die dood.Van Zyl, Ia “Tydskrif vir Letterkunde” Jaargang 25 no. 2, Mei 1987 “Half boom, half mens” se verhale is almal gegrond op werklike gebeure tydens die grensoorlog, waarin beide die dramaties spannende en die humoristiese gebeure ’n plek vind. Verhoudinge is sentraal in hierdie bundel, insluitende verhoudinge tussen range, tussen soldate en hulle families, tussen moediges en lafhartiges en tussen wit en swart. Al die fasette van die lewe in die oorlogsone word aangeraak. Benewens die geweld en kontak met terroriste is daar ook die soldate se verlange en hulle stryd teen vrees en fisieke uitputting en ontbering.Uys, Thys “Beeld” 9 November 1998“Sieketroosters”Vosloo, Johan “Rapport” 30 Augustus 1998 bevat benewens grensverhale ook verhale oor meer alledaagse temas. Die sketse in die boek is gebaseer op werklike ervarings en getrou aan die titel is daar lering en stigting, maar toegedien met ’n goeie skeut humor. “Humor in SA Uniform” bevat grappige anekdotes uit die weermaglewe. Van sy kortverhale word in versamelbundels opgeneem, waaronder “A great-a pleasure” en “Ons Britse Boertjie” in “Op hulle stukke” onder redaksie van Jeanette Ferreira en “Blêrriekat” in “Ses wenverhale”.

Bibliografie Boeke wat hy gepubliseer het: JaarPublikasiesNotas1964Drietal langs die Okavango1966Drietal langs die Wildekus1967Drietal in die Kalahari1983Tweede prys is ’n houtjas: grensstories uit WambolandVan Schaik Uitgewers, 1983, , 1986Half boom, half mensVan Schaik Uitgewers, 2004, , 1990Humor in SA UniformPerskor, 1990, , 1997SieketroostersPerskor-Kagiso, 1998, ,

Filmografie As regisseur: Pretoria O Pretoria!, 1979 Hank, Hennery en Vriend, 1976 My Liedjie van Verlange, 1975 Mirage Eskader, 1975 Boland!, 1974 Ses soldate, 1974 Seun van die Wildtemmer, 1973 Groetnis vir die Eerste Minister, 1973

Draaiboeke: Ses soldate, 1974 Groetnis vir die Eerste Minister, 1973

Bronnelys

Boeke Kannemeyer, J.C. “Die Afrikaanse literatuur 1652-2004” Human & Rousseau Kaapstad en Pretoria  Eerste uitgawe 2005

Tydskrifte en koerante Grobler, Hilda “Filmmaker, reisiger, skrywer is dol oor geskiedenis” “Vrydag” 26 Junie 1998 Nieuwoudt, Stephanie “Oud-fliekmaker skryf sewende boek” “Plus” 31 Maart 1998 Retief, Bertrand “Reis” Rooi Rose” 18 Oktober 2000

Internet Esaach: http://www.esaach.org.za/index.php?title=Retief,_Bertrand Springbokboeke: http://www.springbokboeke.co.za/html/bertrand_retief.html Worldcat: http://www.worldcat.org/search?q=au%3ARetief%2C+Bertrand.&qt=hot_author

Ongepubliseerde dokumente Retief, Bertrand Lewenskets Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum  (NALN) Bloemfontein

Verwysings

Kategorie:Suid-Afrikaanse skrywers Kategorie:Suid-Afrikaanse rolprentregisseurs Kategorie:Geboortes in 1936