Die ploegbreker (Erythrina zeyheri, vernoem na Karl Zeyher) is 'n bladwisselende dwergstruik van Botswana, Lesotho, Suid-Afrika en Zimbabwe wat niks hoër as 60 cm groei nie. Hulle is eintlik ondergrondse koraalbome en hulle naam verwys na die feit dat 'n ploeg dikwels breek indien dit op so 'n ondergrondse boom stoot.

Die peulplante is inheems aan die sentrale plato, waar dit wydverspreid voorkom in grasveld.Verslae uit Botswana en Zimbabwe word betwis, kyk: Hulle groei in kleigrond en soms sandgrond, in die nabyheid van spruite en vleie, waar hulle in kolonies kan voorkom.

Die haarlose, drieledige blare het skerp gekromde stekels langs die hoofas en groter syare, wat aan die ondersy opgehewe is. Die lote en blare word jaarliks uitgestoot, en sterf weg tydens strawwe hoëveldse winters, wanneer die plant oorleef as 'n aansienlike knolagtige wortelstok met kort bogrondse stingels. Bloeiwyses word in die somer voortgebring, van Oktober tot Januarie. Die hangende skarlakenkleurige, of by uitsondering wit, blomme het rooi blomkelke.

Die vrugte is gladde, swart peule, wat elk 'n paar harde, oranjerooi sade bevat.

Dit is 'n voedselplant vir die mot Terastia margaritis.

Verwysings

Eksterne skakels 'n Kolonie ploegbrekers na 'n veldbrand, Operation wildflower

Kategorie:Erythrina Kategorie:Flora van Botswana Kategorie:Flora van Lesotho Kategorie:Flora van Suid-Afrika Kategorie:Flora van Zimbabwe Kategorie:Struike