Die Klein Handgewignewel (ook bekend as Messier 76, NGC 650/651 of die Kurknewel) is ’n planetêre newel in die sterrebeeld Perseus. Dit is in 1780 deur Pierre Méchain ontdek en Charles Messier het dit in sy katalogus van komeetagtige voorwerpe opgeneem.

Heber Curtis het dit in 1918 eerste as ’n planetêre newel geïdentifiseer. Daar is egter teenstand teen dié feit aangesien Isaac Roberts in 1891 al gesê het M76 is dalk soortgelyk aan die Ringnewel (M57), maar word van die kant af gesien. M76 se afstand word geraam op sowat 2 500 ligjare (780 parsek), wat beteken sy deursnee is sowat 1,23 ligjare (0,378 parsek).

Die newel het ’n skynbare magnitude van 10,1 en sy sentrale ster is 15,9 mag. Die ultravioletlig van die ster reik buite die buitenste lae wat die huidige newel vorm en het ’n oppervlaktemperatuur van sowat 88 400 kelvin. Die newel beweeg teen −19,1 km/s−1 in die rigting van ons sonnestelsel.

Die Klein Handgewignewel kry sy naam van sy ooreenkoms met die Handgewignewel (M27) in die sterrebeeld Vos. Daar is oorspronklik gedink dit bestaan uit twee aparte emissienewels en dit het dus twee katalogusnommers gekry in die New General Catalogue, NGC 650 en NGC 651. Dit word deur sommige beskou as een van die flouste en moeiliks sigbare Messier-voorwerpe.

Verwysings

Eksterne skakels NightSkyInfo.com SEDS: Messier 76

15px Hierdie artikel is vertaal uit die Engelse Wikipedia</small>

70076 Kategorie:NGC-voorwerpe Kategorie:Planetêre newels